Boekresensie: Die groot Boere-ontsnapping deur Willie Steyn

  • 0


Die groot Boere-ontsnapping
Willie Steyn
ISBN: 9780992201548
Uitgewers: Cederberg
Beskikbaar van Cape Rebel, e-pos contact@caperebel.com

Die groot Boere-ontsnapping deur Willie Steyn, een van die sogenaamde Vyf Swemmers, het oplaas (2015) in Steyn se eie woorde verskyn. Steyn en sy kamerade se sonderlinge verhaal is reeds in 1932 gepubliseer as Terug na kommando deur AL Visagie, en in 1988 het CJ Barnard se Vyf swemmers verskyn. ’n Kenner van hierdie periode, Albert Blake, het ook ’n hoofstuk hieraan gewy in Ontsnap! Boerekrygsgevangenes se strewe na vryheid (2015) en sy weergawe was vir my besonder interessant, aangesien dit nie ’n eerstepersoonvertelling is nie en bykomende inligting bygevoeg was wat van verskillende bronne verkry is.

So vertel Blake van die “moord op ’n gevangene” waaroor Steyn, die persoon wat glo die sneller getrek het, min sê. Hy het nie daarvan vergeet nie, want hy noem dit in die verbygaan, maar het verkies om nie besonderhede te verskaf nie – ’n goeie voorbeeld van hoe ontwykend mense kan wees wanneer hulle sogenaamde egodokumente opstel. Al wat Steyn hieroor sê, is: “Ons het een van hulle gevang en met hom gedoen wat ons onder normale omstandighede nie graag sou wou doen nie maar waaroor ek op die oomblik nie die minste gewetenswroeging ervaar nie. Hulle het dinge gedoen wat die bloed van enige gewone mens sal laat kook. Hierdie dinge kom my altyd oor die gees wanneer ek ’n Engelsman hoor kaf praat oor hulle beskawing – wat hulle nogal lief is om te doen” (bl 66).  

Die leser word ingetrek in Steyn se relaas, en dit is moeilik om te glo dat veral nie Afrikananse lesers met hom sal identifiseer nie en dat hulle nie met hom en sy kamerade sal simpatiseer nie.

Daarom wil ’n mens Steyn se woord hieroor aanvaar: dat hulle ’n oorlogsmisdadiger gefusilleer het en nie bloot uit haat en frustrasie vermoor het nie. Blake noem tereg ook dat Steyn nie doodgeskiet is terwyl hy ’n gevangene was nie en tog skiet hy ’n gevangene dood. Dit skyn ironies en onregverdig te wees, maar wanneer ’n mens Steyn se verhaal lees, kry jy die gevoel dat hy ’n dapper, lojale en eervolle man was. Deneys Reitz het immers ook vir Steyn as een van ons “dapperste burgers” beskryf.

Op hierdie punt is dit dalk gepas om na die verhaal van die Vyf Swemmers te kyk, uit Steyn se perspektief.

Willie Steyn was een van 600 Boerekrygsgevangenes wat in 1900 na die Diyatalawa-kamp op Ceylon gestuur is. Steyn en vier kamerade het egter nooit daardie kamp bereik nie. Hulle was vasberade om te ontsnap en na hulle kommando’s terug te keer – die oorlog was vir hulle nog lank nie verby nie. Steyn was inderdaad uitdagend teenoor die Britte en dis verstommend dat majoor Bishop, die bevelvoerder van die troepe aan boord van die Catalonia, gekrenk was omdat Steyn hom bedrieg het – wat het hy dan verwag? Steyn het reeds drie maal probeer ontsnap voordat hy aan boord van die skip gegaan het, en in die openbaar gesê hy sal weer probeer. Elke keer is hy en sy medepligtiges   deur medegevangenes verraai, ’n sware swaard wat dwarsdeur die oorlog bokant hulle koppe sou hang.

Vir my is die spannendste deel van Steyn se verhaal waar hulle op die Russiese skip, die Gerson, gekom het. Heelwat gebeur daarna, maar om daaroor te berig, sal die storie vir die voornemende leser bederf.

Die Groot Boere-ontsnapping beslaan 168 bladsye, waarvan 81 in Afrikaans is (met agt bladsye foto’s) – daarna volg die oorspronklike vertelling deur Steyn in Nederlands. In die geheel beskou is hierdie verhaal ’n waardevolle byvoeging tot die oorlogsontsnappingsgenre, en boonop oplaas reg uit die perd se bek.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top