Clint Eastwood van Wyk en die moordenaarsklok
Pieter Verwey
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624073185
Clint Eastwood van Wyk (ja, dis sy volle doopname) is 'n skeptiese, intelligente tiener van Stellenbosch. Hy verpes alles wat voorgeërig en cool is en geniet dit geweldig om andere wat liggelowig is of ly aan die siekte van coolgeit se siele uit te trek. Die primêre teiken van hierdie sieluittrekkery is sy neef Budde, 'n uitgewekene na Amerika wat by Clint Eastwood se gesin aansluit vir 'n tog na die Moordenaarskaroo.
Die voorafskaduwing, wat subtiel verklap dat alles nie so wetenskaplik verklaarbaar en duidelik niemisterieus is soos Clint Eastwood graag wil glo nie, loop sterk in die eerste gedeelte van dié jeugroman. Die tog wat hulle onderneem, is drieledig: (1) 'n lekker "Afrika-vakansie" vir Budde; (2) 'n besoek aan Clint Eastwood se pa, 'n akademikus, wat 'n geheimsinnige dog grootse wetenskaplike ontdekking in dié gebied gemaak het; en (3) 'n geleentheid vir Clint Eastwood se ma, ook 'n akademikus, om navorsing te doen oor spookstories en paranormale aktiwiteit in die Moordenaarskaroo. Laasgenoemde twee behoort die leser reeds 'n idee te gee hier gaan talle kinkels kom wat niemand heeltemal voorsien het nie ...
Veel gewag is gemaak van die feit dat dit die eerste Afrikaanse boek met 'n "steampunk"-inslag is, vernaam in 'n onderhoud waaraan die skrywer op die TV-program Flits deelgeneem het. Agtergrond oor wat presies hierdie verskynsel is, word in sarsies uitgedeel, soos op bladsy 42, waar Budde ('n aanhanger van die genre) dit opsom: "Steampunk. Victoriaanse wetenskapfiksie. Propvol robotte, lugskepe en retro-fantasie ... dis hoe die wêreld sou gelyk het as mense stoomkrag eerder as elektrisiteit ontwikkel het. Dis die tipe tegnologie wat ons sou hê as ons Victoriaans gebly het."
Inderdaad 'n interessante veronderstelling, en een waarvan 'n mens moontlik 'n bietjie meer in die verhaal sou wou sien (hoewel dit 'n belangrike element van die uiteindelike katarsisgedeelte van die roman is en die skrywer sekerlik nie die leser só daarmee wou peper dat dit ten einde, tydens hierdie katarsis- en konflikgedeelte, reeds soos ou nuus sou voel nie).
Die vraag wat onmiddellik opduik wanneer "die eerste Afrikaanse ..." 'n verhaal in enige medium meegaan, is natuurlik of die verhaal – storielyn, karakters, alles – sterk genoeg staan sonder dié trekpleister.
In Clint Eastwood van Wyk en die moordenaarsklok is dit beslis die geval. Die dinamiek – veral die mededinging tussen Clint Eastwood en Budde (en later Kiewiet, ook bekend as JohnnyBGood), asook die spitsvondighede van Oupa Gammie – verloop glad en is besonder vermaaklik. Sommiges kan die spanningsopbou dalk effens uitgerek vind, in terme van die balans tussen "miskien gaan iets gebeur" en "o hel, hier gebeur dinge" wat in volume afgestaan word (dit is immers, op 207 bladsye, 'n betreklik kort roman, maar ook betreklik lank vir 'n jeugroman). Die rykheid van die omgewingsbeskrywings en die geskiedenis – veral spookstories uit die gebied en spookagtige elemente – wat opgeroep word, beteken egter dis geensins 'n moeilike tog tot by die groter aksiepunte nie.
Harde kritiek? Ek het gesukkel met van die dialoog se tasbaarheid. Clint Eastwood – en die meeste van sy familielede – praat in 'n bykans hoogdrawende, werkwoord-altyd-aan-die-einde-van-die-sin-Afrikaans, wat plek-plek die gesprekvoering oneg laat voel. Goed, Clint Eastwood is buitengewoon intelligent en sy ouers is albei akademici, dus kan 'n mens dit nog soortvan regverdig, maar Budde het byvoorbeeld sy Afrikaanse identiteit heeltemal afgesweer teen die tyd dat die verhaal afskop, praat slegs Engels en vereis dat almal hom "Bud" noem. 'n Dag of wat later is hy weer só volledig Afrikaans dat hy sinne soos "Wat het spoke met ons regstelsel uit te waai?" moeiteloos (wyl hy moedeloos is – wat 'n mens juis 'n minder geforseerde register sou laat verwag) en woorde soos "verdeksels" kwytraak. Dié soort taalgebruik is natuurlik nie in sigself problematies nie, maar in sommige van die dialoog, en die konteks waardeur dit omarm word, laat dit die vloei en geloofwaardigheid effens struikel.
Ook het dit my 'n tydjie geneem om vat te kry aan Clint Eastwood. Hy verpes alles wat kwansuis cool is, maar trap met daardie bykans aggressiewe ongeërgdheid van hom in presies dieselfde strik waarvoor hy lag as ander mense daarin trap. Dit verryk wel die hoofkarakter – soms irriteer hy jou en soms geniet jy hom geweldig ... dit vat dalk net 'n klein bietjie geduld om die pad saam met hom te wil stap.
Dié is egter klein kritiekpunte – daar is heelwat om oor opgewonde te raak by die lees van die roman. Die mitiese geskiedenis van die Moordenaarskaroo (en veral die Griekwa-mitologie) wat bots met moderne tegnologie, en dan natuurlik ook met die steampunk-fantasieë, is 'n heerlike goue draad van dié storie.
Pieter Verwey se debuut het báie vleis aan die been. Geen clichés van jeugfiksie (romantiese dilemmas, sosiale druk, ens) stuur die storie nie – die verloop en ontkoping voel hoogs oorspronklik en Verwey kan trots wees op dié debuut. 'n Grysbaard soos ek sal waarskynlik lank en lekker met 'n gladdeken daaroor kan gesels, en dít is 'n baie goeie teken.

