Bly: Kortverhale, US Woordfees 2016
Saamgestel deur Anastasia de Vries, Suzette Kotzé-Myburgh en Madri Victor
SUN MeDIA
ISBN: 9780620696302
Slapband, 234 ble
1bly b nw
1 Vrolik, opgeruimd, gelukkig: 'n Bly gesig. Bly wees oor (om) iets. Wees bly met my. Die voëls sing bly. [Die liefde] is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly met die waarheid (1 Kor 13:6).
2 Geluk bringende, blydskap gewende: 'n Blye tyding. 'n Blye boodskap, 'n aangename mededeling. Die Blye Boodskap, die Evangelie. Blye vooruitsigte.
3 Lewenslustig: Die blye jeug.
4 Blyke van blydskap gewende: Met blye haas.
UITDR
Iemand twee maal bly maak, so lank kuier dat die gasheer of -vrou net so bly of blyer is oor die vertrek van die besoeker as oor sy aankoms.
2bly ww, blywend, gebly, geblewe
1 [Onveranderd] voortduur: Die Here se beloftes bly.
2 'n Sekere toestand behou: Siek, kalm, ernstig bly. Die vis sal goed bly. Die skape begin al te bly lê (staan), is so maer dat hulle nie meer kan loop (staan) nie. Die motors bly staan op die nat paaie.
3 'n Sekere plek behou, hom nie daarvandaan verwyder nie: Bly hier tot ek terugkom.
4 Voortgaan met; aanhou: Ek bly maar verlang. Ek bly oom dankbaar.
5 Nie afwyk nie; standhou, volhard: By sy woord, die onderwerp bly. Ek bly daarby.
6 Vertoef, versuim; nie verder gaan nie: Waar bly jy so lank? Dit het by hierdie gunsie gebly. Laat dit onder ons bly.
7 Sneuwel, sterf: In die slag bly.
Vgl SLAG.
8 (weinig gebruiklik) Vergaan: Die skip het op die rotse gebly.
9 Wees: Waar bly jy met jou bewyse?
10 Ten deel val: Vir hom bly die oorwinning.
11 Oorskiet: Een van my drie skape is dood, nou bly daar nog twee.
UITDR
Laat [dit] maar bly, laat dit maar staan, moenie vir jou daaroor bekommer nie, laat dit maar agterweë. (http://www.woordeboek.co.za)
In die voorwoord van dié versameling noem die US Woordfeesdirekteur Saartjie Botha dat die Woordfeesdireksie vir sy “lesende gehoor” graag iets ter herinnering wou gee as net ‘n T-hemp. Derhalwe is besluit om ‘n bundel kortverhale saam te stel van 24 gepubliseerde skrywers se werk. Dank die heelal vir hierdie wyse besluit. Die woorde inskrywings en kompetisie laat elkeen na die rekenaar haas om die een of ander relaas uit die sisteem te kry sonder om die goue oue stukkie raad “show, don’t tell”, enigsins in ag te neem.
Maar: van die gepubliseerde skrywers wat hier opgeneem is, hou hulle nie altyd by die nosie van kortverhaal nie en gooi te veel idees in een verhaal. In “Jakarandablou” van Jeanne Henning Els is daar vir my net té veel indrukke en herinneringe.
Die oorgrote meerderheid verhale handel oor eietydse onderwerpe soos verslawing, gayregte, kindermolestering, die voortslepende gevolge van vigs, kinderloosheid, psigopatologiese versteurings en menseverhoudings op verskillende vlakke. Daar is ook heelwat blydskap in die meeste verhale en voornemende lesers moet nie afgeskrik word deur die opgenome temas nie.
In “Ek is hier en Ma is hier” van Deborah Steinmair – ’n verhaal wat herinner aan Antjie Krog se “beware of the dog” en die klassieke “Waghondjies”-gediggie – word die grens tussen mensdier en niemensdier verken. Hierteenoor is daar Elias P Nel se vertelling oor ant Pieter Belelie en haar hartseer oor haar hondjie Siewie.
Die kompleksiteit van verhoudings tussen kinders en vaders word belig in Marida Fitzpatrick se “Sonde” en Brian Fredericks se “Die cowboy”. Eersgenoemde se wending is verfrissend, terwyl laasgenoemde verhaal redelik voorspelbaar verloop. Tog is die intieme waarneming van die pa iets nuuts – vergelyk die verwysing na die “pie” op sy kneukels.
“Die begrafnisnemer” van Jean-Pierre de Kock is een van die verhale wat die leser aan die raai hou. Let wel, die titel verwys nie na ‘n begrafnisondernemer nie. In hierdie verhaal word genderkwessies belig en dit het ’n verrassende slot. Goeie opbou van die verhaal.
Naas Hennie Aucamp is Abraham H de Vries Afrikaanse se belangrikste kortverhaalskrywer en in sy vintage De Vries-verhaal het ons die kenmerkende postmodernistiese stylgrepe. Aan die einde wonder mens wel: Is dit die waarheid gelieg hierdie? Speel De Vries nou weer parte met sy leser? Ewe geslaagd is Rachelle Greeff in “Die verkeerde kussing”, ’n verhaal wat mens herinner aan die film Amour (2012), waarin sy vernuftig die onderskeie tydsvlakke en onder meer die voorlees uit die Bybel in haar verhaal deureenweef.
Kirby van der Merwe se “spel met ready-mades” vertel ook ’n verhaal aan die hand van gekose sitate uit onder meer Mail & Guardian. Ook Herman Lategan se “Laudate Dominum (Prys die Heer)” is ’n postmodernistiese teks wat in gesprek tree met vigsverwante literatuur soos Adam Mars-Jones se The Darker Proof: Stories from a Crisis (1987).
Gerda Taljaard se verhaal oor Agathe Crinon vat die leser terug na die tydvak na die Eerste Wêreldoorlog en is een van die verhale waarin die spanning goed opgebou word tot die knap slot. “Grys Costume en die roos” van Johann Nell handel oor die verafgoding van sangers – in hierdie geval Gé Korsten.
Ons lewe in die era waarin ons oorspoel word deur misdaadreekse oor televisie, gewoontemisdadigers as helde, en die verheerliking van psigopatologiese vernuf (dink maar aan Dexter of Hannibal), en dit is dus te verstane dat dit ook in verhale gaan opduik. In “Die pop” van Martin Steyn word die jong sadis uitgebeeld, terwyl Martin Labuschagne in “Om die hemel te proe” oor ’n kindermolesteerder skryf. Wat is dit met die Martins?
Gaan lees mens die woordeboekinskrywings in die WAT oor bly, is dit opvallend hoeveel aspekte daarvan reflekteer in die saamgestelde verhale: daar is blywende dinge; dinge wat bly maak; wat oorbly en wat bly pla.
Miskien kan die US Woordfees ook opdragwerke in die toekoms oorweeg en skrywers nader om by te dra? Of dalk iets soortgelyks aan die Boekenweekgeschenk, waar een skrywer spesiaal vir die fees ’n klein novelle of ’n stel kortverhale skrywe? Dit hoef ook nou nie noodwendig by die tema van die Woordfees aan te sluit nie.