Boekresensie: Blessed by Bosasa: Inside Gavin Watson’s state capture cult deur Adriaan Basson

  • 0

Blessed by Bosasa: Inside Gavin Watson’s state capture cult
Adriaan Basson

Publisher: Jonathan Ball
ISBN: 9781776190027

Die eindresultaat van Adriaan Basson se 14 jaar lange ondersoekende joernalistiek het ’n outopsie van die berugte Bosasa-maatskappy opgelewer wat my en talle ander lesers ’n naar kol op die maag besorg het.

Indien iemand my sou vra om Blessed by Bosasa kortliks op te som, sou ek verduidelik dat dit nie net jou "common garden variety" joernalistieke verhaal oor ’n korrupte individu en sy span is nie. Dit is eerder die geboekstaafde tentoonstelling van die skisofreniese, selfs psigopatiese taal van korrupsie in postapartheid Suid-Afrika.

Blessed by Bosasa is opgedeel in vier hoofstukke en 51 korter snelvuur-newehoofstukkies wat die ingewikkelde patrone van geldwassery, tenderbedrog en die gepaardgaande menslike verhale baie gemaklik en leesbaar uiteensit. Die semikronologiese uiteensetting herinner ook aan ’n tipe dagboek, so asof Basson week vir week sy nuwe onthullings in ’n geheime persoonlike joernaal neergepen het.

Die boek het, oorhoofs beskou, ’n deeglik-ontwikkelde spanningslyn, wat getuig van Basson se goeie beplanning en skryfvernuf. Te dikwels verval ondersoekende joernalistieke werk in langdradige en oorgekompliseerde dossiere wat nie net moeilik leesbaar is nie, maar die erns van die ondersoeksaak ondermyn deur ’n vervelige gedraal en ’n eentonige uitstippeling van inligting. Joernaliste kry dit dikwels nie reg om aan hul baanbrekersnavorsing ’n verteltrant te gee nie, en sonder ’n behoorlike verhaalbou word talle boeke oor ons ongelukkige staatskapingsgeskiedenis net nog ’n ongeleeste Kersfeesgeskenk op ’n stowwerige rak.

Ek het aanvanklik gevrees dat Blessed by Bosasa ook nie verder sou kom as ’n ougattitel met treffende illustrasies van voorste skelms soos Gavin Watson en Linda Mti nie. Die eerste deel het beslis ’n goeie dosis vreesaanjaende verhale oor Bosasa se ontstaan (eens die SEB-baba Dyambu) en die Watson-broers met hul lojale ANC-wortels, maar ek het die gevoel gekry dat hierdie uiteensetting bloot ’n vertaling van die getuienis voor die voortslepende Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping is. Gelukkig balanseer Basson se snelvuur-newehoofstukke met hierdie lang skeppingsverhaal en die leser word gou bekendgestel aan die binnewerking van Bosasa, ’n pseudogodsdienstige bedrogspul met Gavin Watson as hoofpriester. Die selfvertroue waarmee Watson en sy trawante straffeloos staatsgeld op onreëlmatige en onwettige maniere inpalm, sorg vir koue rillings.

Soos wat Watson se selfvertroue deur die verhaalbou groei, so groei Basson se skrywersvertroue. In die eerste hoofstuk kry Basson dit reg om homself as ’n jong, versigtige en oor-die-skouer-kykende ondersoeker te illustreer, en vanaf omtrent bl 50 ("The smoking gun") is dit asof sy joernalistieke selfvertroue ’n groot sprong vorentoe neem. Van daar is dit bladsy vir bladsy goedgestaafde onthullings. Basson het soos ’n wafferse patoloog stadig deur die lae vet gesny, tot die punt waar ’n mens verwag om belangstelling te verloor, maar kort voor die breekpunt bereik hy die vleeslaag en trek jou daarna saam tot in die diepste vlakke van Bosasa se jare lange korrupte binnewerking.

Die verhale van godsdienstige skynheil en kultisme as bolaag en regverdigingsmiddel vir die kaders se selfverrottende hebsug word in verhouding geplaas met die tragiese held van hierdie staatskapingstorie, te wete die onkreukbare ouddirekteur van korrektiewe dienste Vernie Petersen. Basson suggereer versigtig dat Petersen se aftakeling en dood met sy rowwe termyn as nasionale direkteur verband hou, maar is verantwoordelik genoeg om hierdie aantygings, vermoedens en spekulasies nie die hoofsaak van Petersen se verhaal te maak nie. Petersen word in die motto vereer as die een aan wie Blessed by Bosasa opgedra word, siende dat hy en talle anonieme fluitjieblasers vanuit die regering en Bosasa die ratwerke agter die openbaarmaking van grootskaalse korrupsie is. Petersen vergestalt ook die oudvryheidstryder wat gekies het om nie gekompromitteer te word deur selfverryking tot nadeel van die demokratiese staat of die belang van die burgery nie, en sy integriteit staan in skrille kontras met dié van sy mede-oudstryders oudminister Ngcondo Balfour, die Watson-broers en Linda Mti. Met Petersen as morele fakkeldraer slaag Basson daarin om die problematiese ANC-mite uit te dop dat oudvryheidstryders noodwendig op een of ander buitengewone vlak van selfverryking geregtig is, so asof die hele land ’n banale belasting moet betaal aan die mense wat aan die voorpunt van anti-apartheidsprotes was.

Deur Petersen wys Basson dat die keuse om onselfsugtig op te tree steeds die verantwoordelikheid van elke kader bly. Die gruwelike vlakke van selfverryking is eenvoudig die uiteinde van kriminele keuses en is geensins die regverdigbare logiese gevolgtrekking van ’n voorafgaande vryheidstryd nie. Geen vlak van betrokkenheid by die anti-apartheidstryd regverdig die metamorfose van ANC-ondersteuningswebbe tot patronaatskapnetwerke en uiteindelik tot kriminele sindikate nie.

Dit is hierdie nuwe vermoë om straffeloos te lieg wat seker Basson se grootse onthulling is. Sy getuienis skets die bankrotskap van politieke taal en performance in 21ste-eeuse Suid-Afrika, en dalk die ganse wêreld: ’n omgewing waar politieke sentimente en slagkrete wat eens beginselsake was – soos transformasie, rassisme, swart bemagtiging, en bevryding – die gereedskap van ’n siniese klas kriminele politici geword het. Elke beskuldiging van staatskaping word weggehamer en afgesaag met een of meer van hierdie ideologies-gelaaide trefwoorde, wat die gesprek heeltemal van koers stuur en die burgery verdeel sodat die skelms kan weghol. In Bosasa se geval, dokumenteer Basson, het direkteure soos Watson en Angelo Agrizzi ’n skisofrenie van naakte private rassisme aan die een kant en openbare swartbemagtigingskampvegters aan die ander kant gelewe.

En so is die rasse- en godsdienstige skynheil wat in Bosasa en ander politieke kringe met ANC- en EFF-bande bestaan, nie ’n  onbewuste stand van sake gedryf deur onkunde nie. Dit is eerder ’n berekende selfverrykingstrategie, gewortel in ’n siniese beginselloosheid.

Geniet hierdie boek, maar hou ’n Fisherman's Friend byderhand vir die onafwendbare naarheid wat jou gaan oorval. As jy oor ’n korrupte see wil vaar, moet jy weet die golwe klots rof.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top