As jy enige karakter in ’n boek kon wees, wie sou jy wees en waarom?
As ek enige karakter in ’n boek sou kon wees, sou ek in ’n verbeeldingsvlug die gewaagdheid durf om vir ’n rukkie in die skoene te staan van die markiesin van Pescara, Vittoria Colonna, in Titaan, Karel Schoeman se roman oor die lewe van Michelangelo Buonarroti. Dalk net in die tydjie en in hierdie besondere verband om ’n ontmoeting en ’n spesiale verhouding met die meesterkunstenaar te hê. Wat hier beskryf word, is ’n fyn, intens vergeestelike vriendskap van wedersydse respek en waardering.
Michelangelo se vriendskap met haar – “die voortreflikste vrou met wie hy mee in aanraking gekom het” – was ’n ervaring waarop hy altyd gehoop het, waarna hy toenemend gesoek het sonder om dit ooit te vind. Sy word vir hom ’n gees- en gespreksgenoot. Vir hom het hierdie vriendskap “uitgegroei tot ’n vaste punt in ’n wêreld van onsekerheid en twyfel, ’n baken in ’n wêreld van sonde en skuld”. Hulle gesprekke word vervleg met sy werk; “eggo’s van hierdie gesprekke bly hom by waar hy op die steiers (die skildering van die Sistynse kapel) besig is; en die woorde en gedagtes wat sy by hom oproep, groei (...) uit tot iets soos die steierwerk self, waar deur hy in sy werk en lewe gedra word.”
Ook dat dit ’n vennootskap van besonderse mense was – haar werk het hom ook nie verbygegaan nie. Hulle ruil wedersyds gedigte en lees dit aan mekaar voor. In sy gedigte herken sy “persoonlike oorpeinsings oor skoonheid, liefde en die dood, oor kuns en oor God, en oor die moontlikheid om die mag van die dood deur middel van skoonheid, liefde en kuns te oorwin, om die afstand tussen mens en God deur middel van skoonheid, liefde en kuns te oorbrug.”
In haar werk herken hy “beeldspraak wat kring om gebalanseerde teenstellings tussen die onvolmaaktheid van die wêreld en die ewige vreugde van die hiernamaal, die menslike verstand en die Goddelike gees, die geknelde liggaam, die ongebonde gees ...” en ook “die onverwagte flitse van intimiteit” wanneer sy die begeerte uitspreek om met “vleuels na dié ware lig en die liefde te mag opstyg”.
Dit was ’n durende verhouding oor dertien jaar – “die mees vervulde jare van sy lewe” – wat tot met sy dood vir hom ’n kosbare kleinood gebly het. Met haar dood ervaar hy intense hartseer en eensaamheid wat alleen troos vind in sy werk. Hierna, in sy middel-sewentigerjare, onderneem hy sy laaste reuse-opdrag, die afhandeling van die koepel van die Pieterskerk, ’n finale erkenning aan sy “titaniese werk” waarmee hy “die hemel bestorm en die gode uitdaag” én mee seëvier.
Amanda Botha is ’n joernalis en gereelde bydraer tot LitNet se Kuns-afdeling. Lees haar artikel oor die kunstenaar Paul Emsley hier.
• Keer terug na die boekedag-indeksblad.