Boeke vir leeskringe: Protea Boekhuis se keuse vir 2019

  • 3

Leeskringe is op die oomblik besig met hul jaarbeplanning vir 2019 en LitNet het by uitgewers gehoor watter van hul boeke hulle spesifiek aanbeveel vir leeskringbesprekings. Hier is Protea Boekhuis se voorstelle.

Tebatso gaan see toe
Maya Fowler

Volwasse fiksie
232 bladsye
9781485309475
R190
September 2018

Dis die Desembervakansie van 1983/84. Daar’s troepe in Angola, Lady Di is die mode-ikoon van die dag, Geloftedag word nog met groot toewyding gevier – en vakansie is nie vakansie as daar nie iemand is om die beddens op te maak en die skottelgoed te help was nie. Tebatso, self ’n enkelma van drie kinders (haar man is dood in ’n mynongeluk), is so te sê ’n ekstra lid van die Vrystaatse gesin vir wie sy werk: Sy versorg die vier kinders al van babadae af en ken Mies Engela se susters en hul mans se nukke en grille danksy jare se vakansies op die plaas. Wanneer die uitgebreide familie besluit om ’n strandhuis te huur vir drie weke oor Desember, kry Tebatso vir die eerste keer in haar lewe die geleentheid om haar geografiese horisonne te verbreed (hoewel die “wit” strand danksy apartheidswetgewing vir haar taboe is en sy eintlik maar min van die see te siene kry). Hierdie algehele wegbreek van haar normale milieu is egter ook ’n soort wegbreek uit haar aanvaarde perspektief: Sy sien vir die eerste keer dat daar ánder maniere is om na die wêreld te kyk as dít wat sy as die norm aanvaar het en leer dat daar oor die kleurgrens heen mense is wat ander gebruik en misbruik – en ook dié wat toelaat dat hulle misbruik wórd. Sy ontmoet ’n Xhosa-man wat al haar vertroude denkpatrone uitdaag en haar meteens laat wonder oor die geordende wêreldjie waarin sy nog altyd geborge voel … en sy begin deur die linksgesinde Adriaan (wat protesteer as sy hom “baas” noem) besef dat daar ook andersdenkendes onder die wit Afrikaners te vinde is. 

Hoekom moet jy dit lees?

Boekklubs, leeskringe en liefhebbers van intelligente “chicklit” behoort sterk aanklank te vind by hierdie titel – wat moeilike temas rakende die Suid-Afrikaanse verlede met insig en menslikheid benader.

Maya Fowler | Foto: Joanne Olivier

Oor die skrywer

Maya Fowler het in 2009 gedebuteer met The elephant in the room, wat in daardie jaar op die kortlys verskyn het vir die Herman Charles Bosman-prys. Daarna volg twee jeugromans: As jy ’n ster sien verskiet (Tafelberg, 2011) en Om op eiers te dans (Maskew Miller Longman, 2011). Eersgenoemde verskyn op die kortlys vir sowel die Sanlam-prys as die MER-prys vir jeuglektuur, terwyl laasgenoemde die Maskew Miller Longman-toekenning vir jeuglektuur inpalm. Haar kinderboek Skilpad soek sy huis / Tortoise finds his home is in 2015 met ’n Unicef-prys vir Beste Outeur in Letterkunde vir Vroeë Kinderontwikkeling bekroon. 2018 is ’n groot jaar vir Maya, met die verskyning van haar volwasse roman Patagonia: A fugue (tegelykertyd ook gepubliseer in Afrikaans as Patagonië: ’n Fuga) by Umuzi, en Protea Boekhuis se publikasie van Tebatso gaan see toe.

Maya woon in Vancouver, British Columbia waar sy vryskutredigeer- en vertaalwerk doen en ook groot vreugde put uit klassieke musiek.


Swart pelgrim
FA Venter

Fiksie
252 bladsye
9781485308072
R225
Septeber 2018

“Jy sal nie so wees nie, Kolisile? Wat is jy teen die groot stad van die witman? Jy is soos die gryskat wat baklei met die tier. Die groot plek van die witman vang jou en hy slaan jou neer. Waar is al die ander wat hier was? Waar is hulle wat saam met jou klein was, Kolisile? Waar is hulle? Hulle is weg. En dié wat terugkom, het seergekry, soos die boom wat die hael geslaan het. Ek is oud, ek weet. Ek kyk en ek sien, Kolisile.”

Kolisile, ’n jong Xhosa-man uit die Transkei, kyk na die sukkelende mielies op sy pa se lappie grond en besef dat die bestaansboerdery van sy bawu en dié se bawu voor hom nie langer volhoubaar is nie. Hy besluit om stad toe te gaan waar hy geld kan verdien wat hy weer in hulle boerderytjie sal kan inploeg. Met die belofte dat hy sal terugkom én sy verlore broer Mfazwe, wat jare gelede in die stad weggeraak het, sal saambring, vertrek Kolisile vol moed en geesdrif – net om deur die harde werklikheid van die stad ontgogel, getemper en uiteindelik geknak te word.

Op die Johannesburgse myne beleef Kolisile die armoede en uitsigloosheid van plakkersdorpe, ervaar hy die rassisme en uitbuiting van die apartheidsbestel aan eie lyf, word hy vir die eerste keer met werklike haat vir die ander gekonfronteer en sien hy die aantrekkingskrag van misdaad, leuns en drankmisbruik as ontsnaproete uit die byna ondraaglike werklikheid vanuit sy broer Mfazwe se perspektief. Wanneer hy uiteindelik weer sy weg na die Transkei toe vind, is dit – soos wat sy pa gevrees en voorspel het – as ’n liggaamlik én geestelik gewonde mens.

FA Venter (1916–1997)

Oor die skrywer

FA Venter (1916–1997), wat veral bekend is vir sy Groot Trek-tetralogie (Geknelde land, Offerland, Gelofteland, Bedoelde land) het in 1961 die Hertzogprys ontvang vir Geknelde land én Swart pelgrim. Hoewel hierdie teks vanuit ’n hedendaagse rasperspektief nie onproblematies is nie, was dit destyds grensverskuiwend dat ’n Afrikaanse skrywer die belewenis van “die ander” met soveel insig en empatie probeer verwoord het. In hierdie opsig kan Swart pelgrim in dieselfde asem as Alan Paton se Cry, the beloved country genoem word vir die poging wat dit aanwend om bestaande persepsies uit te daag en die onregverdighede van die apartheidsbestel aan die lig te bring.


Ek kom terug
Adriaan van Dis

Roman
256 bladsye
9781485307679
R220
September 2018

Ons sweer saam: Ek gaan haar ’n papierlewe gee, of nog beter: ’n nuwe lewe. ’n Lewe waarin sy weer maklik kan loop, haar lippe rooi maak, wye rokke dra of haar vuurbestande baadjiepakke. Ek wil ’n dansende moeder uitbeeld, ’n vegtende moeder. Die sterk vrou van my jeug.
“Ek kry ’n lewe by,” – sy grom tevrede – “maar ek wil wel iets in ruil hê.”
“Ek sal al jou inkopies doen, die kombuisvloer mop …”
“Pille. Jy kry ’n storie, ek ’n pil.”

Ná ’n lang lewe van swye en uitsluiting begin ’n moeder skielik met haar seun praat – aarselende ontboesemings oor grensoorskrydende liefde, verraad en drie oorloë. Hy, ’n romanskrywer, mag haar biograaf word, maar daar is ’n voorwaarde: Hy moet haar ’n sagte dood besorg.

Ek kom terug is ’n tragikomedie oor die onstuimige lewe van ’n vrou wat terugkyk op haar eeu.

Adriaan van Dis | Rob Bogaerts (ANEFO)

Oor die skrywer

Adriaan van Dis debuteer in 1983 met Nathan Sid en publiseer in die begin van die 1990’s veral reisromans soos Het beloofde land en In Afrika. In 1994 verskyn Indische duinen wat bekroon word met die Gouden Uil 1995, gevolg deur Dubbelliefde (1999) en Familieziek (2002). In 2007 verskyn die roman De wandelaar en in 2010 Tikkop wat ook in Afrikaans vertaal is. Stadsliefde. Scènes in Parijs verskyn in 2011. Adriaan van Dis se boeke is in verskeie tale vertaal.

Oor die vertaler

Daniel Hugo was ’n spesialisomroeper by Radio Sonder Grense en verantwoordelik vir die literêre program “Leeskring”. Hy is ’n gerekende digter met 13 poësiebundels op sy kerfstok. As vertaler het hy reeds die werke van oa Tom Lanoye, Rutger Kopland, Herman de Coninck, Harry Mulisch, Herman van Veen en Cecily Mary Barker in Afrikaans vertaal.


Die goeie vrou en ander mites
Corlia Fourie

Poësie
84 bladsye
9781485309567
R175
Augustus 2018

Corlia Fourie se debuutbundel Die goeie vrou en ander mites is ’n versameling toeganklike, pretensielose verse met ’n sterk anekdotiese inslag. Die meeste daarvan is satiriese verse wat getuig van ’n fyn intelligente, deurdagte en genuanseerde beleweniswêreld. Die gedigte word in vyf afdelings verdeel. In die eerste afdeling “Die goeie vrou” vind die leser portretstudies van bepaalde vroue, die tweede afdeling “Tuis en uit” handel meestal oor huislike ruimtes, die derde afdeling “Die wye wêreld in” bevat meestal reisverse, die voorlaaste afdeling “Bloeityd” handel oor die digter se kinderjare en latere siekte (kanker) en die slotafdeling “Kierang en ander hebbelikhede” bevat verse wat sosiale kommentaar lewer op die breër gemeenskap.

Hoekom hierdie bundel?

Dit is ’n bundel wat vir ’n paar debuutpryse in Suid-Afrika in aanmerking sal kom. Hoewel Die goeie vrou en ander mites haar debuutbundel is, is die skrywer is ’n gerekende stem in ons letterkunde. Ideaal vir volwasse lesers en liefhebbers van poësie.

Corlia Fourie | Foto: Naomi Bruwer

Oor die skrywer

Corlia Fourie het as joernalis onder meer vir Die Burger, Beeld en Sarie gewerk voordat sy in die tagtigerjare fiksie begin skryf het. Van haar bekendste werk is die drama Moeders en dogters wat deur KRUIK sowel as vir die radio en televisie opgevoer is, asook die kinderboeke Die wit vlinder, Die meisie wat soos ’n bottervoël sing en Die towersak en ander verhale. Vir dié drie boeke het sy etlike literêre pryse ontang. Twee kortverhaalbundels, en Liefde en geweld, het ook uit haar pen verskyn. Laasgenoemde het in 1991 die ATKV-prys vir goeie, gewilde prosa ontvang. Onlangse boeke is die romans Alle paaie lei deur die Strand, Die geheime kamer en Tussen heinings. Tans is sy vryskutjoernalis en verhaalredakteur van Rooi Rose.


Die helaasheid van die dinge
Dimitri Verhulst

Roman
180 bladsye
9781485307112
225 bladsye
September 2018

In Die helaasheid van die dinge keer die skrywer terug na sy geboortedorp in Vlaandere. Ons maak kennis met die pa wat trots op sy fiets van kroeg tot kroeg ry om sy pasgebore seun vir sy drinkebroers te wys, met die ouma wie se nagrus alte dikwels deur die polisie versteur word as hulle een van haar dronk seuns huis toe bring, en met die werklose ooms wat meer belangstel in ’n suipwedstryd as in ’n deugsame lewe.

Dimitri Verhulst se Die helaasheid van die dinge is sowel ’n pragtige ode aan as ’n skreeusnaakse afrekening met die dorp van sy jeug.

“Hy is een van die grootste en wildste talente in die Vlaamse letterkunde … ’n Groot stilis, met ’n genadelose kyk op sake.” — NRC Handelsblad

Oor die skrywer

Dimitri Verhulst (g. 1972) debuteer in 1999 met die versameling De kamer hiernaast, gevolg deur Niets, niemand en redelijk stil (2001) en De verveling van de keeper (2002). Sy romans Problemski Hotel (2003) en De helaasheid der dingen (2006) is baie suksesvol in verskeie tale vertaal. In 2008 is De helaasheid der dingen omskep in ’n film wat bekroon is met die Prix Art et Essai-toekenning by die Cannes Filmfees se Quinzaine des Réalisateurs, asook drie Golden Starfish-toekennings by die 17de Hamptons International Filmfees.Ander werk sluit in: Mevrouw Verona daalt de heuvel af (2006), Godverdomse dagen op een godverdomse bol (2008), De laatste liefde van mijn moeder (2010), en ’n digbundel getiteld Liefde, tenzij anders vermeld (2001).

Dimitri Verhulst | Foto: Michiel Hendryckx, Wikimedia Commons

Oor die vertaler

Daniel Hugo was ’n spesialisomroeper by Radio Sonder Grense en verantwoordelik vir die literêre program “Leeskring”. Hy is ’n gerekende digter met 16 poësiebundels op sy kerfstok. As vertaler het hy reeds die werke van oa Tom Lanoye, Rutger Kopland, Herman de Coninck, Harry Mulisch, Herman van Veen en Cecily Mary Barker in Afrikaans vertaal.


Your people will be my people: The Ruth Khama story
Sue Grant-Marshall

Biography
380 pages
9781485308898
R250
October 2018

Your people will be my people: The story of Ruth Khama gives a personal account of an extraordinary woman – the English wife of Botswana’s first president, Seretse Khama, who had the courage of her convictions to marry the man she loved and accept his country and people as her own.

Lady Khama, whose love story defied two governments and rocked a world wearied by war in 1948, was like a mother to the writer of this book, Sue Grant-Marshall. Sue’s father was the assistant district commissioner of Serowe when the Khama couple returned to Seretse’s home after their London marriage. Sue’s family played their part in making the Khamas feel more at home, Sue grew up with the Khama children and when her sister was dying of cancer in London in 2000, Ruth, who was having treatment for cancer as well, comforted her as she stayed with them in their family home.

Before her death in 2002, Ruth herself kept pressing Sue to continue with the biography. This is a biography, extensively researched, personally motivated and compelling written, that gives full weight to the personality and life of Ruth Khama.

Why this book?

The love story of a middle-class white Englishwoman and an African chief-to-be in the late 1940s, that of Ruth and Seretse Khama, has been made into a compelling film that was released in South Africa in November 2016. Other publications have focused on the relationship of the Khamas, whereas this publication concentrates on Ruth Khama herself. The book also contains pictures of Ruth in the writer’s personal archive. Lovers of biographies of extraordinary people and those interested in the history of Botswana, colonialism, eventual independence and racial discrimination in southern Africa at the time are the ideal readers.

Sue Grant-Marshall | Photo: Twitter

About the author

Sue Grant-Marshall is a multi-award-winning journalist who writes for Business Day, the Financial Mail and the Sunday Independent, focusing mainly on author interviews, book reviews, health, lifestyle and personality profiles. She hosts her popular weekly book show, "Reading Matters", on Radio Today. She has co-authored two bestselling books published by Penguin. Mind the Gap – topping over 25 000 in sales – and Mind over Money, also a best seller.

Sue regularly gives talks about the gap between the generations, she trains journalists, having worked in senior editorial positions for many years on The Star, The Argus and Fairlady before freelancing.


Lees ook:

Boeke vir leeskringe: LAPA se keuse vir 2019

  • 3

Kommentaar

  • Monica Hammes

    Interessante verskeidenheid. Ek sal beslis Swart Pelgrim weer wil lees. Die helaasheid van die dinge het my nogal aan John Steinbeck se Cannery Row laat dink.

    Mabel Malherbe Leeskring het die Nederlandse weergawe van Ek kom terug verlede jaar bespreek - ons besit drie kopieë van die boek en sal dit graag uitleen aan 'n Pretoriase leeskring.

  • Laurette Kluever

    Goeiedag Monica. Ek weet dis twee jaar later, maar indien julle steeds 'n kopie van 'Ek kom terug - Adriaan van Dis' het om uit te leen, sal ons boekklub dit baie graag wil doen. Ons is in Faerie Glen.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top