Boeke vir leeskringe: LAPA se keuse vir 2019

  • 9

Leeskringe is op die oomblik besig met hul jaarbeplanning vir 2019 en LitNet het by uitgewers gehoor watter van hul boeke hulle spesifiek aanbeveel vir leeskringbesprekings. Hier is LAPA se voorstelle.

Kantelpunt
Sophia Kapp

Fiksie
480 bladsye
9780799390919
R315,00
Oktober 2018

’n Feministiese roman vir konvensionele vroue

Kantelpunt is die boekstawing van Nellie van der Merwe (gebore Petronella Jacoba van Aarde) se wederopstanding.

Nellie is pas 50, ’n konvensionele, wit, Afrikaanse vrou wat haar lewe lank gedoen het wat almal van haar verwag – sy het stilgebly. Met haar stilte het sy haar plek gekoop in haar huwelik, haar gesin, haar familie, haar werk, in die kerk, in die land, in die samelewing.

Dan ondergaan sy ’n histerektomie, en haar wêreld kantel. Sy is losgesny van die ding wat van haar ’n vrou gemaak het, en daarmee saam raak sy bevry van die stilte. Sy begin haar stem terugeis, soms met verreikende gevolge, soms teen ’n ontsettende prys. Sy word gedwing om alles wat sy tot dusver as gegewe aanvaar het, te ondersoek, en in die proses moet sy nie net die mense naaste aan haar se aandeel in haar stryd erken nie, maar ook haar eie aandadigheid aan haar lot bepaal.

Met elke insident, elke veldslag en elke gesprek tree sy verder weg van die geskiedenis en die konvensies wat haar stom gehou het, en kom sy nader aan die vrou wat sy van die begin af veronderstel was om te wees – die een met wie sý in vrede kan saamleef.

Wat maak die boek anders?

  • Kantelpunt is protesfiksie, die protes van ’n vrou wat haar regte ontneem is deur ’n patriargale samelewing én dit toegelaat het.
  • Dis nié ’n liefdesroman nie, maar daar is hoop aan teen die einde. Die leser word dus nie in ’n put gelaat nie.
  • Kantelpunt is anders as die skrywer se vorige boeke omdat dit feminisme as tema het.
  • Elke vrou wat al gesukkel het om haar plek te vind, as vrou, as mens, as burger, as ma, as eggenote, en steeds te hou van wie en wat sy is, sal by Nellie aanklank vind.
  • Hipomnemata in die subtitel is ’n Griekse woord, wat “herinneringe” beteken. Dit was ’n erkende genre in antieke tye, en het behels dat mense hulle waarnemings, goed wat hulle gelees het, en aanhalings wat vir hulle iets beteken het, in notaboekies neergeskryf het. Hierdie boek is letterlik Nellie se hipomnemata.

Sophia Kapp | Foto: Naomi Bruwer

Oor die skrywer

Kantelpunt is Sophia Kapp eerste roman wat ’n vrou se verhouding met haar omgewing ondersoek, eerder as net haar verhouding met haar geliefde(s). In hierdie storie skryf Sophia die konvensies oop waaronder ’n middeljarige, wit, Afrikaanse vrou gebuk gaan, en die prys wat sy betaal as sy daardie konvensies uitdaag.

Kapp het op 40 begin skryf – toe sy die lewe se oppe en affe beter leer verstaan het. Sy het haar tot dusver toegespits op liefdesromans omdat dit die genre is wat sy self graag lees, maar sy het nog altyd probeer om die verhoudings waarin haar karakters hulle bevind lewensgetrou te hou. Die liefde is nie net lekker of maklik nie, en haar heldinne was nog altyd vroue wat verstaan het dat die lewe soms meer uit ’n vrou tap as wat sy het om te gee.


 

Losprys
Martin Steyn

Fiksie
384 bladsye
9780799390889
R295.00
Oktober 2018

Kry ryk mense voorkeurbehandeling in kriminele sake?

Die wêreld is nie meer ’n goeie plek nie. Dis maar net hoe dit is.

“Ek het jou seun. Moenie die polisie bel nie. As julle alles doen wat ek sê, sal ek hom nie seermaak nie. Ek sal weer bel.”

Adjudant Enzo Ariefdien verkies moorde. Dooie slagoffers. Hy wil nie ’n vermiste lewe in sy hande vashou nie, nog minder ’n kind s’n. Maar dis presies wat hy kry en dis boonop ’n ontvoering vir ’n losprys. ’n Hoë-profielsaak met die desperate Amerikaanse ouers aan die een kant en die ambisieuse kaptein Lubambo aan die ander. En almal wil resultate hê.

Intussen trek die onderhandelingspan by die gesin se huis in Llandudno in, adjudant Karla Blanckenberg in die rol van primêre onderhandelaar. Uitgelewer aan die ontvoerders se skedule om kontak te maak – te verbreek – kan sy net wag en dis dan wanneer die handjie met die rooi gaatjie haar bly teister.

Die ontvoerders het duidelik die gesin se roetine geken. Maar is die gesin van buite dopgehou? Of van binne? En hoekom klink dit asof daar iets meer persoonlik agter die ontvoering skuil?

Martin Steyn het twee keer die ATKV-Woordveertjie vir Spanningslektuur ontvang.

Inherent is onregverdigheid die kruks van hierdie storie: Nes ryk moordenaars altyd ’n beter kans sal staan om los te kom, sal ryk kinders altyd voorkeurbehandeling kry wanneer hulle wegraak.

Die roman fokus op twee bene: die naspeur van leidrade, getuies en verdagtes deur die oë van adjudant Enzo Ariefdien van die Ernstige Geweldsmisdaadeenheid en die onderhandeling met die ontvoerders deur adjudant Karla Blanckenberg van die Gyselaaronderhandelingseenheid.

Soos met sy vorige romans het Martin Steyn met die mense gaan praat wat regtig sulke sake ondersoek, insluitend speurders en onderhandelaars. Hy het geloop waar sy karakters loop, van Houtbaai en Imizamo Yethu tot Mitchells Plain. Dit gee die verhaal ’n grinterige realisme.

Martin Steyn | Foto: Naomi Bruwer

Oor die skrywer

Ná sy studies in Sielkunde en Kriminologie, het Martin Steyn reeksmoordenaars en profilering begin bestudeer. Hy het ook sewe ware-misdaadartikels vir die Crime Library-webwerf geskryf, onder andere oor Stewart Wilken, Moses Sithole en die Sizzlers-moorde.

Die droom was egter altyd om fiksie te skryf, veral realistiese misdaadfiksie. Dit het tot heelwat navorsing oor die SAPD en sy forensiese eenhede gelei, met die hulp van persone wat elke dag hierdie werk doen. In 2014 het Donker spoor verskyn, en is in 2015 met die ATKV-Woordveertjie vir Spanningslektuur bekroon. Skuldig het in 2015 verskyn en is in 2016 met dieselfde prys bekroon. Donker spoor is in 2017 in Engels vertaal en is as Dark traces in die RSA en VSA gepubliseer. Die titel verskyn ook eersdaags in Turkye.

Steyn verkies om die storie deur die speurder se oë vertel, daardie persoon met die taak om geregtigheid te soek vir dié wie se naam op ’n moorddossier geskryf word.


 

The Lion’s Binding Oath and Other Stories
Ahmed Ismail Yusuf

Fiction
188 pages
9781946395078
R220,00
September 2018

If one has read Arundhati Roy …

This collection of short stories, written by the Somali author Ahmed Ismail Yusuf, takes the reader into the heart of the Somali caste system. If one has read Arundhati Roy, one would now about the devastation caused by civil wars that had had their roots in a system of casts and religion. Yet, how many people know of the events on our continent that are so chillingly similar?

These stories are deceptively simple. They combine folk tales with everyday events – boys and girls who develop crushes, boys who play soccer and girls who adore poetry… Yet, underneath these storylines lies a web of inter- and intratextual references that combine seemingly haphazard narratives into a tightly-knit unity.

The first story is of a boy who has to face up to wild animals in order to protect his family’s goats and sheep. Then the scene changes: We are transported into the heart of the ongoing caste system in Somalia and we experience first-hand how people conduct themselves worse than any predator ever would, for the ills in Somali society gave way to a civil war that to this day has not been resolved. The stories remain personal, though: A mother tries to save her twin boys on the eve of Somalia’s collapsed state; a newlywed woman tries to save her sister from being raped by soldiers …

Yet, despite the horrors, the author finds beauty in simple, everyday moments. Boys and girls still fall in love. A teacher who has endured the shameful legacy of her outcast heritage encourages a young scholar to understand Somali poetry.

Ahmed Yusuf does not shy away from tragedy, instead he explores both the human limits of endurance and the human limits of love.

Somali folklore flows freely in and out of the fibres of these stories.

In the last story a boy, who flees from the civil war, befriends a lion. Not only does it complete the story cycle, it yet again draws on an old folktale.

Ahmed Ismail Yusuf’s simple narratives belie the fact that he is a masterful storyteller. This book is a must for all those who have appreciated Arundhati Roy’s novel The ministry of utmost happiness.

Ahmed Ismail Yusuf | Photo: LAPA

About the author

After fleeing Somalia, Ahmed Ismail Yusuf lived in several states but has lived in Minneapolis, Minnesota since 1997. He did not speak English when he arrived, he was a high-school dropout, and he was not sure what his actual age was. Today he has two college degrees and is the author of Somalis in Minnesota, published by the Minnesota Historical Society Press, and Gorgorkii Yimi, a collection of stories in Somali, published by Ponte Invisible. In February 2018, The History Theatre of St. Paul, Minnesota produced his play, A Crack in the Sky, a memoir about how Yusuf found inspiration in Maya Angelou and Malcolm X during his early days as an immigrant to the USA.


 

Retoer, Pretoria – Provence
Marita van der Vyver

Niefiksie
160 bladsye
9780799384796
R160,00
Oktober 2018

Die ongelooflike avonture van ’n skrywende ma

Sy het ons oorrompel met Griet skryf ’n sprokie. Hoe kon so ’n jong vrou soveel patos in ’n boek vol Griekse mitologie en Grimm-sprokies pas? Hoe kan enige een so openlik ’n goue voël beskryf sonder om platvloers te wees?

Deur die jare het die karakters in Marita van der Vyver se boeke ook myle bygekry. Sy het selfs al ’n ouma-boek geskryf.

Hoeveel van ons het nie al lees-lees saam met haar gekuier in die huis met die blou deur nie? Volg jy haar op die sosiale media, waar sy baie bedrywig en altyd vrygewig is met haar tyd, dan weet jy hoe lyk haar kinders, haar man en die wêreld van haar hart.

Weet ons egter wat ín haar hart aangaan? Hierdie bundel essays en rubrieke skuif dáárdie deur so effens oop.

Marita sê self:

Ek het altyd gesê, nie heeltemal spottend nie, dat ek vreeslik oud sal moet word voordat ek eendag my memoires aandurf. Daar is net te veel mense wat eers moet doodgaan, van nare onderwysers tot formidabele familielede, voordat ek werklik eerlik oor hulle kan skryf.

En nou is ek eensklaps ‘vreeslik oud’ – of dis altans hoe die sestienjarige meisiekind wat ek lank gelede was, my huidige beleë toestand sou beskryf het. Daarvan is ek doodseker. Ek het onlangs weer daardie tiener se dagboek in dromerige trant gelees, en besef sy sou haar kop in stomme ongeloof geskud het as sy my nou moes sien.

Marita waarsku egter ook: Ek beskou dit beslis nie as ’n amptelike outobiografie nie – daarvoor voel ek steeds te jonk!

Boonop is fiksie haar gekose medium:

Wanneer fiksieskrywers ’n outobiografie skryf, word daar soms meer gelieg as wanneer hulle ’n roman skryf. Dis nie doelbewuste bedrog nie, bloot ’n beroepsrisiko – as jy heeldag en aldag jou verbeelding moet gebruik om die pot aan die kook te hou, kan dit moeilik wees om daarmee op te hou en jou tot die vervelige waarheid te beperk.

Ten spyte van al die waarskuwings, is Retoer, Pretoria – Provence; Die ongelooflike avonture van ’n skrywende ma, ’n opregte manier om aan ’n waarderende gehoor die retoerrite van Marita van der Vyver se hart en lewe te openbaar.

Die boek is ingedeel in afdelings, en elke afdelings se naam is die titel van een van haar boeke. Al lesende gaan die leser dus op reis saam met Marita van der Vyver, van Pretoria tot Provence; en terug.

Die reis is nie altyd maklik nie. Een van die stukke wat in hierdie bundel verskyn, is ’n rubriek oor seksuele teistering waarvoor sy in 2018 met ’n ATKV-Mediaveertjie vereer is.

Dié “meisie van die suburbs”, soos sy haarself beskryf, neem die leser op ’n toer deur haar lewe en wêreld: Van haar jeugherinneringe – haar oumas, haar eerste juffrou en die kind wat sy was – tot haar dae op Stellenbosch, Pretoria en natuurlik die Franse platteland. Sy raak nostalgies oor ’n tiekieboks, die karre van haar kleintyd (’n bruin Opel en ’n geel kewer), en laat die leser tegelyk skater en verlang.

Met haar kenmerkende humor, deernis en eerlikheid, skryf sy oor die ouderdom, tienerstreke, Calvinisme, David Bowie, vegetariërs en die verskriklike vrees vir “verdagte knoppies”.

Maak vas julle veiligheidsgordels. Op hierdie reis is daar soms turbulensie te wagte.

Marita van der Vyver | Foto: Naomi Bruwer

Oor die skrywer

Marita van der Vyver is gebore in Kaapstad en het ’n meestersgraad in joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch. Tussen die ouderdom van 20 en 30 publiseer sy drie jeugromans voordat haar eerste volwasse roman, Griet skryf ’n sprokie, in 1992 ’n blitsverkoper en ’n literêre sensasie word.

Sedertdien het sy ’n heeltydse en veelsydige skrywer vir alle ouderdomme geword, met ’n tiental romans, ’n bundel kortverhale, twee versamelings humoristiese essays, prenteboeke vir kleuters, talle kortverhale en essays in versamelbundels, en gereelde rubrieke in koerante en tydskrifte. Sy het reeds verskeie pryse vir haar skryfwerk gewen.

Haar volwasse romans word deurgaans in Engels, Hollands en Duits vertaal, terwyl Griet skryf ’n sprokie in sowat ’n dosyn tale gepubliseer is. Dit was ook die eerste Afrikaanse roman ooit wat in Chinees vertaal is, en het meer onlangs ook in Yslands verskyn. Marita woon op ’n klein dorpie in die suide van Frankryk saam met haar Franse man, Alain Claisse. Hulle het drie seuns en ’n dogter.


 

Bloedlelie
Jeanette Ferreira

ISBN, prys en bladsye nog nie bekend
Verskyn in Maart 2019

In die somer van 1838 vertrek die Voortrekkerleier Piet Retief en sowat honderd man na die Zoeloekoning Dingaan om oor grond vir die trekkers te onderhandel. In die laer by Doornkop wag sy vrou Magdalena op hulle terugkeer.

Byna honderd en tagtig jaar later gaan Hanna en haar man op soek na wat ook al Magdalena nagelaat het. Vroeg-vroeg in hierdie soektog loop Hanna haar vas in ’n plaasmoord waarvoor sy nie antwoorde het nie.

En Retief se vrou was ’n gewone mens, haar spore verdwyn telkens soos ’n kwartel in kreupelbos. Geskiedenis is ’n storie wat elke mens anders vertel en niks is soos dit vir ons lyk nie. Al wat ons het, is vandag. Op prinse sal die mens nie vertrou nie.

“Vee af u trane, Eerwaarde.”
Dit is al waaroor die Woord gaan ... Dat ons mekaar se trane sal afvee. En ons eie.”

Jeanette Ferreira | Foto: Facebook

Oor die skrywer

Jeanette Ferreira publiseer ’n digbundel, twee kortverhaalbundels en is die samesteller van verskeie kortverhaalbundels. Sy publiseer nege romans, waaronder drie oor die Anglo-Boereoorlog en een oor die Groot Trek. Bloedlelie is haar tiende roman.


 

Dowe gode
Dibi Breytenbach

Fiksie
304 bladsye
9780799389814
R265,00
Julie 2018

Wanneer het lewe so goedkoop geword en genade so duur?

Masjiengeweervuur skeur deur die stilte van die nag in die distrik van Opathe in die Natalse bosveld. Dit verander die lewe van een boeregesin vir altyd, want twee geslagte word in ’n oogwink koelbloedig op hulle plaas deur gesiglose aanvallers uitgewis.

Aella O’Malley, die ondersoekbeampte, sukkel om sin te maak uit ’n reeks leidrade wat deur politiek, afguns, vrees, geloof en bygeloof tot ’n verwarrende mengelmoes van inligting deurmekaar geroer word. Om sake te kompliseer kry sy ’n boodskap: “Onthou die pad na Opathe,” wat in gewone omgangstaal ’n doodsdreigement is. Net daarna wórd sy inderdaad raakgeskiet.

Wat is die motief? Is dit net nog ’n sinlose plaasmoord, waarom wil iemand Aella uit die weg ruim, en sit daar iets meer agter hierdie slagting?

Haar eerste verdagte word wreed aangerand deur ’n gefrustreerde jong boer, en nou het die oorwerkte polisie hóm ook in hegtenis geneem.

Die roman bied ’n sonderlinge blik op die polisie se werkwyse. Breytenbach werk daagliks in ons strafregstelsel en sy beskryf die polisieprosedures in detail, maar só dat die leser voel jy stap saam in die aanklagkantoor in. Die lykskouings, die vorms, die klagteboeke, alles word deel van die storie. Hier is ’n kenner se hand aan die werk. Wat meer is, die roman toon hoe sekere ondersoekbeamptes steeds probeer funksioneer in ’n disfunksionele stelsel en ondanks politieke inmenging in hulle werk.

Moord, verraad en hoop: Watter een van hierdie drie sal uiteindelik oorwin?

Eers teen die einde, wanneer Aella besef sy is bedrieg, verstaan sy dat die pad na Opathe ’n verraderlike pad is wat met groot omsigtigheid gestap moet word.

Wat maak die boek anders?

  • Die konflik onder die ou en nuwe lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens op grondvlak word ontgin;
  • Dit word ook blatant gekoppel aan die persepsie van rasgeïnspireerde plaasaanvalle;
  • Die polisiekultuur word lewensgetrou uitgebeeld;
  • Die roman word geweef rondom ’n oënskynlike plaasaanval waarin die lot van die slagoffers sowel as die misdadigers aangespreek word.

Dibi Breytenbach | Foto: LAPA

Oor die skrywer

Dibi Breytenbach is ’n regsgeleerde wat saam met haar gesin op die platteland van KwaZulu-Natal woon. Sy het ’n passie vir kinders en kinderregte en spesialiseer op daardie gebied in haar professionele hoedanigheid.

Dowe gode is die skrywer se vierde boek. Saliger, Vrediger en Heiliger was die eerste drie. Hierdie roman het ’n nuwe hoofkarakter, Aella, wat ’n kaptein in die polisie is.

  • 9

Kommentaar

  • Monica Hammes

    Baie dankie vir hierdie waardevolle inligting. Ek sien ook uit na die ander uitgewers se voorstelle.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top