Boeke vir leeskringe: Penguin Random House se keuse vir 2019

  • 2

Leeskringe is op die oomblik besig met hul jaarbeplanning vir 2019 en LitNet het by uitgewers gehoor watter van hul boeke hulle spesifiek aanbeveel vir leeskringbesprekings. Hier is Penguin Random House se voorstelle.

Aankoms en vertrek
Pat Stamatélos

Fiksie
9781415210208
R230
September 2018

Die bekende Afrikaanse skrywer Pat Stamatélos, skrywer van die topverkoper Kroes, se nuwe roman, Aankoms en vertrek, verskyn vandeesmaand by Umuzi.

Bailey Kellerman besluit om Suid-Afrika te verlaat wanneer Adam, haar jeugliefde, nie tot trou kan kom nie. In Londen ontmoet en trou sy met ‘n Fransman, maar ook hý laat haar in die steek.

Wanneer ’n tragedie in Johannesburg die lewens van Bailey se ouers eis, daag haar broer in Londen op en dring aan dat sy huis toe kom. Hy is ook woedend omdat sy nie hul ouers se begrafnis bygewoon het nie – sonder om te vra na die rede.

Eindelik terug in Suid-Afrika is Bailey op soek na antwoorde rakende haar ouers se dood. ’n Kluis waarvan die sleutel vermis is, is een van die raaisels wat sy wil oplos. Om sake verder te kompliseer, gooi Adam se herverskyning haar lewe nog meer omver.

In Aankoms en vertrek blaas bobaasstorieverteller Pat Stamatélos met haar gebruiklike humor en ligte aanslag asem in ’n handvol karakters wie se lewens deur omstandighede op die spits gedryf word.

Die roman is ook as ’n e‑boek beskikbaar.

Pat Stamatélos | Foto: verskaf

Oor die skrywer

Pat Stamatélos is in Goodwood in die Kaap gebore. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Hottentots-Holland. Haar debuutroman, die topverkoper Kroes, is in 2005 gepubliseer. Sedertdien het Die val van die dice, Die portier, Vier begrafnisse en ’n troue, Madeliefies van staal, Pastoor en My groot vet Griekse egskeiding ook uit haar pen verskyn. Naas romans het sy verskeie kortverhale en kinderboeke gepubliseer en is haar werk vir die Jan Rabie/Rapport-prys en die ATKV-prosaprys benoem en in Nederlands vertaal.


Kainsmerk
Annelie Botes

Fiksie/kortverhale
9781776093038
R280
Oktober 2018

Annelie Botes het haarself oor en oor bewys as een van die voorste storievertellers in Afrikaans. Die korpus boeke wat uit haar pen verskyn het, staan onweerlegbaar as getuienis van ’n uitsonderlike talent. Deur die jare is ’n magdom tydskrifverhale, ’n genre wat dikwels verkeerdelik onderskat word, in tydskrifte soos Vrouekeur, Rooi Rose en Huisgenoot opgeneem. Kainsmerk bevat ’n keur van dié verhale wat deur die skrywer self uitgesoek is.

Botes se karakters dra dikwels ’n teken van vervloeking wat hulle broos laat, en wat hulle vir die wêreld wil verberg. Van die vrouekarakters wat in die boek uitgebeeld word, sluit die volgende in:

Isabella se ouderlingman verrinneweer haar en sy begin drink. Sy droom van ’n dag waarop sy haar man se lyk in die put op die plaaswerf kan afgooi. Magdaleen bou ’n padstal en werk haar tot eelte terwyl sy haar man afskeep. Totdat sy en haar regterhand Kaatjie tydens ’n vloed op die dak van die padstal vasgekeer word. Dalena het geen behae in haar huwelik nie, maar een nag tydens ’n plaasaanval raak sy en haar man nét op mekaar aangewese. Sophia, ’n huishoudster wat tronkstraf vir diefstal uitgedien het, begin werk vir ’n hoogaangeskrewe man met ’n rare obsessie. Marianna laat haar dominee-man agter en gaan soek rus en heling in ’n grot op haar geboorteplaas.

Hierdie is maar enkele van die karakters waarmee Botes Suid-Afrikaanse tydskriflesers deur die jare meegevoer het. As spesiale bonus is die immergewilde “Duiwelsbrood”, wat geruime tyd reeds uit druk is, ook in Kainsmerk opgeneem.

Annelie Botes se aanhangers sal saamstem: Hierdie is vertelkuns op sy beste.

Annelie Botes | Foto: verskaf

Oor die skrywer

Annelie Botes is gebore in die winter van 1957 in die Kammanassie naby Uniondale. Sy en haar man, die ou gryse, bly die afgelope sewentien jaar in Port Elizabeth. “Ek sal skryf tot ek die dag seniel is, of dood neerslaan. Want ek wíl skryf.” Lugkasteel het by Penguin Random House verskyn, en haar gewilde roman, Raaiselkind, is onlangs as ’n rolprent vrygestel.


Patagonië
Maya Fowler

Fiksie
9781415209288
R220
Mei 2018

Fassinerende roman onder andere oor die Afrikaanssprekendes in Suid-Amerika

Die skrywer en vertaler Maya Fowler se nuwe roman, Patagonië, neem die leser op reis na die hinterland van Patagonië, waar Afrikaans tot vandag toe nog gepraat word.

Tertius de Klerk is ’n afgeleefde professor wat geskiedenis aan verveelde studente doseer. Wanneer sy dronk eskapade met ’n student op sosiale media verkondig word, konfronteer hy haar in haar woonstel. ’n Gruwelike ongeluk dwing hom om te vlug.

Net soos sy oupagrootjie Basjan jare tevore, gaan soek Tertius uitkoms in Patagonië, die dorre streek aan die suidelikste punt van Suid-Amerika.

Basjan se optrede tydens die Anglo-Boereoorlog het hom ook genoop om te vlug. Hier het honderde boere ná die oorlog hul plase gaan vestig.

Nou hoop Tertius om sy lankverlore familiebande daar op te tel en sodoende dalk weer sy verbintenis met die grond en sy manlikheid te maak.

Tertius en Basjan leef dalk in verskillende eras, maar hulle het nie met hul vurige en vasberade vroue rekening gehou nie. Alta laat haar nie so maklik agterlaat nie en sy sit die lamsakkige Tertius agterna. Salome, Tertius se oumagrootjie, reis per skip en op die rug van ’n muil deur die woestyn na die man waarmee sy uiteindelik sou trou.

Die roman beweeg naatloos tussen 1902 en 2015 met ’n skeut avontuur, empatie en humor. “Oorspronklik en selfversekerd” sê Marita van der Vyver van hierdie roman wat ook as ’n e-boek en in Engels as Patagonia beskikbaar is.

Maya Fowler | Foto: Joanne Olivier

Oor die skrywer

Maya Fowler is ’n skrywer en vertaler, onder meer van Karin Brynard se roman Plaasmoord. Sy is die outeur van The Elephant in the Room (benoem vir die Herman Charles Bosman-prys) en die twee jeugromans As jy ’n ster sien verskiet en Om op eiers te dans (wenner van ’n Maskew Miller Longman-prys vir jeuglektuur). Haar kinderboek, Skilpad soek sy huis, het ’n Unicef-toekenning vir vroeëkindontwikkeling gewen en verskyn ook in Engels. Sy het grootgeword in Stellenbosch en Graaff-Reinet en voltooi ’n meestersgraad in linguistiek aan die Universiteit Stellenbosch. Sy woon en werk in Kanada.


The Enumerations
Máire Fisher

Fiction
9781415209646
R280
August 2018

Heartfelt drama that gets under the skin of what it means to live with OCD

The Enumerations tells the story of seventeen-year-old Noah Groome, who suffers from Obsessive Compulsive Disorder. Counting in fives as a means to cope, Noah is caught up in a personal prison, unable to tell anyone about a dark force that is threatening to engulf him.

But it is not only Noah who is suffering, and the author has created a touching family drama that includes Noah’s mother, Kate, who tries her best to help her son. There is also Dominic, Noah’s successful but emotionally blank father, who is secretly dealing with demons of his own lurking in his past, and Noah’s sister Maddie, his ally and protector, but also someone who is profoundly affected by her brother’s disorder.

The novel begins when Noah, an obvious target for classroom bullies, injures a fellow pupil after being severely taunted, and is sent to a treatment centre. New challenges await as he starts to work with a psychologist – and come into contact with the other patients at the facility – while his family tries to find ways of moving forward.

A book about mental health and familial bonds, The Enumerations is a sensitive, warm-hearted novel that will appeal to a wide readership.

Máire Fisher | Photo: Nardus Engelbrecht

About the author

Máire Fisher is the author of the novel Birdseye. A writer and editor, she is a member of The Grail Writing Retreats and her work has been published in anthologies and on various websites. She lives in Fish Hoek with her husband and two sons.


Die skilpad se laaste traan
Carol Campbell

Fiksie
9781415210093
R240
Januarie 2019

Hierdie onsentimentele en outentieke verhaal speel af in die Karoo en vertel die verhaal van Siena, Boetie en Kriekie, wie se lewens sedert kinderdae nou verweef is. Soos wat Siena hardloop ontmoet lesers die mense in haar lewe: Boetie is verwilderd en verwaarloos, altyd besig met kattekwaad. Sy vriendskap met Siena laat hom egter sy selfwaarde besef. Kriekie is ’n wrak. Sy ma is ’n prostituut wat by die stilhouplekke langs die N1 werk en hy het skaars ’n huis. Wanneer sy ma, Dolly, nie terugkom nie, beland hy deur een vrou se goedhartigheid ook by Seekoegat Primêre Skool.

Oor die skrywer

Carol Campbell debuteer in 2013 met haar hoogaangeskrewe roman Karretjiemense (My Children Have Faces in Engels). Daarna het sy ’n Huis vir Ester (Esther’s House in Engels) in 2014 by Umuzi gepubliseer. Sy het as joernalis vir die Argus, die Cape Times en die Mercury gewerk. Sy woon tans in die Verenigde Koninkryk saam met haar gesin.

Carol Campbell | Foto: verskaf


Wrok
Beyers de Vos

Fiksie
9781485903321
R250
Julie 2018

Volg wraak se bloedspoor deur die lewens van vyf mense.

In dié aweregse misdaadroman, breek die opwindende nuwe stem van Beyers de Vos alle reëls. Die roman speel in Pretoria af en volg vyf karakters in hul soeke na wraak en vergelding.

Freya Rust glo dat sy en haar tweelingbroer Ben geen geheime vir mekaar het nie, maar wanneer hy vermoor word, besef sy dat hy dinge vir haar weggesteek het. Geheime wat tot sy dood gelei het. Sy sweer om sy dood te wreek, al kos dit wat.

Die onderwyser en rugby-afrigter meneer Abraham Oktober is ʼn wewenaar-pa wat sukkel om sy wilde tienerdogter in toom te hou. Sy eie duister verlede spook egter ook by hom en noop hom om snags in Pretoria met ’n gelaaide vuurwapen rond te dwaal.

Die dwelmhandelaar, Slick, het by Mama Afrika se wrede mentorskap geleer dat moord en mag hand aan hand loop. Hy regeer sy dwelmkoninkryk met ’n ystervuis en duld geen inmenging of dwarsboming nie.

Inspekteur Nolwazi Mngadi word aangesê om Benjamin Rust se moord te ondersoek. Maar sy loop haar vas in meer vrae as antwoorde en moet boonop korrupte kollegas en ʼn oorwerkte sisteem hanteer.

Hoekom is Ben dood? Wie het hom vermoor? En wat is vergelding se prys?

Die roman word nie net deur die raaisel van Ben se dood voortgedryf nie, maar ook deur pragtige simboliese beskrywings van die stad, Pretoria, soos lesers dit nog nooit beleef het nie.

Wrok is ook as e-boek en in Engels as Talion beskikbaar.

Beyers de Vos | Foto: Joanne Olivier

Oor die skrywer

Beyers de Vos is ’n skrywer, redakteur en joernalis. Hy was die prosaredakteur van die literêre tydskrif New Contrast en het ’n meestersgraad in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Kaapstad onder leiding van Etienne van Heerden behaal.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top