Boeke vir leeskringe: NB-Uitgewers se keuse vir 2019

  • 0

Leeskringe is op die oomblik besig met hul jaarbeplanning vir 2019 en LitNet het by uitgewers gehoor watter van hul boeke hulle spesifiek aanbeveel vir leeskringbesprekings. Hier is NB-Uitgewers se voorstelle.

 

Prooi
Deon Meyer

Fiksie
448 bladsye
9780798177757
R320,00
Oktober 2018

Kapteins Griessel en Cupido wil van meet af aan nie dié docket hê nie. Die een van Johnson Johnson, oud-poliesman, sy lyk gekry langs die treinspoor anderkant Drie Susters. Want die saak is weke oud. Yskoud. Opgeneuk deur die SAPD, afgedwing op die Valke. Twee passasiers op die wêreld se luuksste trein – waaruit Johnson klaarblyklik gespring het – is spoke. En die arrogante beamptes by die BBP-Beskermingseenheid lieg soos tannetrekkers. Oor kardinale inligting.

Negeduisend kilometer noord leef Daniel Darret sy nuwe, eenvoudige lewe in Bordeaux. Tot Ronnie May opdaag, en hom vra om nog een keer te jag. Sy prooi is die staatsgekaapte president van sy tuisland. Want dít is wat Daniel in die ou dae gedoen het, toe hy ’n laksman vir die Stasi en KGB was.

Kan die Valke die gemors betyds ontrafel om die sluipmoord te keer? Kan Daniel die meedoënlose Russiese agente ontglip wat hom tot elke prys wil elimineer? En gaan Bennie dit alles oorleef om eindelik vir Alexa Barnard te vra om te trou? 

Deon Meyer

Oor die skrywer

Deon Godfrey Meyer is op 4 Julie 1958 in die Paarl gebore. Hy matrikuleer in 1976 aan die Hoërskool Schoonspruit in Klerksdorp. Hy studeer aan die PU vir CHO en volg ’n BA-kursus met Engels en Geskiedenis as hoofvakke. Hy behaal later ’n honneursgraad aan die Universiteit van die Vrystaat. 

In die 1980’s het hy as joernalis by Die Volksblad gewerk, die Universiteit van die Vrystaat se skakelburo en in 1989 begin hy by Sanlam in Kaapstad as reklame-kopieskrywer. 

In 1991 word hy aangestel as bestuurder van Interne Kommunikasie en skeppende direkteur van Sanlam se Reklame-afdeling. Hy begin later sy eie maatskappy wat spesialiseer in die skep en bestuur van virtuele gemeenskappe op die internet, en daarna was hy die bestuurder van spesiale projekte van BMW se motorfietsafdeling. Hy is op die oomblik ’n voltydse skrywer.

Deon Meyer se romans het al in meer as 25 tale verskyn. In Frankryk het hy twee groot pryse ingepalm vir die Franse uitgawes van sy spanningsromans. Vir Feniks Le Grand Prix de Littérature Policiére 2003, vir Orion die Prix Mystère de la Critique 2004. Proteus verskyn op die langlys vir die IMPAC literêre toekenning en die Duitse vertaling het in 2006 die Deutsche Krimi Preis in die internasionale kategorie ontvang.


 

Stof
Alettie van den Heever

Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801594
Kategorie: Fiksie
Prys: R 290.00
Formaat: Sagteband, 384pp
September 2018

Twintig jaar ná die Hardskip. Dié wat oor is gelooi deur die groot honger toe al die oeste misluk het, deur die stof en die gluur van die son.

Op Kiefmor wonder Ampersand wat geword het van Wakinyan, die swarthaarman wat als kom deurmekaarroer het. Hier’s min vir haar oor ná haar ouma se dood, so sy vat die pad – met haar saad. Sy moet vir Wakinyan vind, en sy moet sorg dat die saad nie in Meconium – die enklawe wat alle saad wil beheer – se hande val nie, want onverklaarde plantsaad is in 2081 ’n streng taboe en Amper se grootste las.

Maar juis in en om Meconium moet sy gaan soek, waar high-tech shit en high-shit tech vennote is. Amper en haar unieke neus wat die groot stof kan deurtas moet haar pad voel-voel baan deur die stank van dié regime.

Stof, Alettie van den Heever se debuutroman, is toekomsfiksie vir vandag. 

Alettie van den Heever | Foto: Retha Ferguson

Oor die skrywer

Alettie van den Heever is ’n boorling van Springbok en tans ’n doktorale student in die Afrikaanse letterkunde aan die US, waar sy ook voorgraads studeer het. Sy het in Kaapstad skoolgehou en woon tans in Bellville. Stof (wat deels afspeel in ’n toekomstige Bellville) is haar eerste roman. 


 

Die dao van Daan van der Walt
Lodewyk G. du Plessis

Uitgewer: Tafelberg
Kategorie: Fiksie
ISBN: 9780624082521
Prys: R 300.00
Formaat: Sagteband, 368pp
April 2018

Toe Daan van der Walt, ’n eerstydse Kalahari-boer, ’n vertigo-aanval kry, laai sy vervreemde seun hom by ’n monnikeklooster in China af. Onder leiding van Meester Yang moet Daan tai chi doen in ’n poging om sy balans te herstel. Maar daar is ook iets anders wat aan Daan vreet, iets wat hy van sy hart móét afkry voor hy sy weg na die hiernamaals kan vind. Dalk is dit tyd dat hy aan Magrieta, sy oorlede vrou, skryf en sê dat hy haar liefgehad het.

Oor die skrywer

Lodewyk G du Plessis is 'n skuilnaam. Hierdie fenomenale debuut én gissings oor die skrywer se identiteit gaan boekliefhebbers vanjaar aan die praat hê.


 

Dors
Marinda van Zyl

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624084365
Kategorie: Algemene fiksie
Prys: R 280.00
Formaat: Sagteband, 304pp
Mei 2018

In die loop van 1876 kom verskeie groepe Transvalers by die samevloei van die Krokodil- en Maricoriviere aan met die idee om na Damaraland te trek – ’n land wat hulle net uit die stories van jagters ken. Om daar te kom, moet hulle ’n stuk waterlose Kalahari, bekend as die Dors, oorsteek. Maar die magstryd tussen die voormanne van elke groep om die hoofleier van die trek te wees laat die trek op ’n ramp afstuur, lank voor hulle die Dorsland binnegaan.

Anderkant die dors wag daar nie ’n land van melk en heuning nie, maar koors, tsetsevlieë, olifante en leeus. ’n Land vir mense wat uit hardekool se hout gesny is. ’n Land vir mense wat die dood kan vat en kan doodmaak sonder om ’n oog te knip.

Oor die skrywer

Marinda van Zyl is op 11 September 1948 te Gobabis (Namibië) gebore. In 2011 was sy die naaswenner in LAPA se romanwedstryd met haar manuskrip Vrypas na Vergenoeg wat as Wilhelmina Radebe kom tuis gepubliseer is. Haar roman Amraal haal in 2015 die kortlys van NB-uitgewers se Groot Afrikaanse romanwedstryd.

Benewens Honeursgrade in Geskiedenis en Biblioteekkunde by Unisa, het sy ook ’n MA in Geskiedenis (UOVS) en MBibl (cum laude) aan die Potchefstroomse Universiteit verwerf en dit opgevolg met ’n PhD in Geskiedenis by Vista Universiteit.

Marinda en haar man, Jan, woon sedert hulle aftrede op Langebaan.

 


 

Die troebel tyd
Ingrid Winterbach

Uitgewer: Human & Rousseau
Kategorie: Fiksie
ISBN: 9780798177665
Datum Vrygestel: 08 
Prys: R 280.00
Formaat: Sagteband, 196pp
Oktober 2018

Magrieta Prinsloo, dierkundige, se kop haak uit op die verkeerde antidepressant. Sy raak vervreem van haar kollegas, beledig haar departementshoof, en haar illustere akademiese loopbaan kom tot ’n einde. 

Sy aanvaar ’n betrekking by die Buro vir Voortgesette Onderrig, met die enigmatiese Markus Potsdam as hoof van die Kaapse tak. Daar word van haar verwag om te reis om met medewerkers te skakel, onder meer na die Oos-Kaap. Op hierdie reise kom sy heelwat teë – sowel medewerkers as walvisse – wat haar lewe in ’n beduidende ander koers stuur. Wanneer Markus Potsdam boonop op ’n oggend verdwyn, raak haar lewe nog verder gekompliseer.   

In Die troebel tyd bewys Winterbach weer haar merkwaardige vernuf as romansier, met ’n eiesoortige, snydende humor en ’n buitengewone insig in die menslike psige.  

Die roman is as wenner aangewys van NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd in 2018.

Ingrid Winterbach | Foto: Brenda Veldtman

Oor die skrywer

Ingrid Gerda Winterbach is op 14 Februarie 1948 in Johannesburg gebore. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Florida. In 1969 behaal sy ’n BA-graad in die Skone Kunste aan die Universiteit van die Witwatersrand, en in 1970 ’n honneursgraad in Afrikaans en Nederlands aan dieselfde universiteit. In 1974 ontvang sy ’n MA-graad in Afrikaans & Nederlands, onder leiding van DJ Opperman, aan die Universiteit van Stellenbosch. 

Sy is daarna onderwyser, verslaggewer by Die Burger en vir 13 jaar dosent in die kunsdepartement van Stellenbosch Universiteit. Ingrid was daarna ook dosent in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van KwazuluNatal. Sedert 2002 is sy besig om voltyds te skryf en te skilder.

Haar eerste roman, Klaaglied vir Koos, verskyn in 1984 onder die skuilnaam Lettie Viljoen. Sy publiseer ’n verdere vier boeke onder dié naam. Sy ontvang in 1994 die M-Net- en Ou Mutual-prys vir Karolina FerreiraBuller se plan (1999) is die eerste boek wat onder die naam Ingrid Winterbach verskyn. Ingrid ontvang die Hertzogprys vir prosa in 2004 vir Niggie. Haar agtste roman, Die boek van toeval en toeverlaat, is in 2007 met die M-Net-, WA Hofmeyr-, en die UJ-prys vir skeppende skryfwerk bekroon.


 

Die generaal
Hans Pienaar

Uitgewer: Tafelberg
Kategorie: Fiksie
ISBN: 9780624085812
Datum Vrygestel: 22 
Prys: R 290.00
Formaat: Sagteband, 320pp
Oktober 2018

Daar is ’n klop aan die deur. My vinger huiwer op die sneller. My hart hamer die sekondes in my ore om. Wat sal gebeur as die skoot afgaan?

Johan is negentien en in die weermag. Wanneer die adjudant hom inlig dat hy na Seksie C in die Zambezivallei gestuur word om onreëlmatige ontgroening te ondersoek, pak ’n ongekende opgewondenheid hom beet. Maar dit is korte duur, want Johan besef gou hy is nie opgewasse teen die weermag nie. Ter ontvlugting besoek Johan pasnaweke sy ouer neef, Ben, in Pretoria. Ben, die rebelse seun van die generaal. Ben wat sy eie oorlog veg. 

Die Generaal is ’n onthutsende, oorrompelende en aangrypende verhaal wat die absurditeit van die Grensoorlog en die verwoestende impak daarvan op jong mans se lewens met sensitiwiteit teken. 

Hans Pienaar | Foto: Twitter

Oor die skrywer

Hans Pienaar is in 1955 in Stellenbosch gebore maar het dwarsdeur die land grootgeword. Sedert die 1980s woon hy in Johannesburg waar hy sy brood verdien het as joernalis en uitgewer, onder andere as lid van die redaksie van Vrye Weekblad en as direkteur van Taurus. Later het hy veral in die res van Afrika en China gereis in diens van Independent Newspapers se buitelandse sake-eenheid. Hy is getroud met die digter Corné Coetzee. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top