Boekbekendstelling: Ctrl Z my lewe deur Cheréne Pienaar

  • 0

Titel: Ctrl Z my lewe
Skrywer: Cheréne Pienaar
Uitgewer: NB Uitgewers
ISBN: 9780796318022

Koop Ctrl Z my lewe by Kalahari.com

Saam het ons geswoeg deur ons eerste jaar van die graad MPhil in vertaling aan die Universiteit Stellenbosch. Aan die einde van die jaar spat almal toe uitmekaar, behou hier en daar kontak via Facebook en op ‘n dag ontdek jy dat jou klasmaat nie net haar graad lank voor jou voltooi het nie, maar ook ‘n debuutroman skuins voor haar dertigste verjaardag die lig laat sien het. En dan vat jy die pad na My Basaar toe om haar persoonlik geluk te wens by haar Kaapse boekbekendstelling op 7 Augustus (goeie Vrystater wat sy is, was die eerste bekendstelling reeds die vorige naweek in Bloemfontein).

Roché Kester, sleutelklantbestuurder: Skole by NB Uitgewers, het die gesprek gelei en Cheréne het haar vrae soos ‘n ervare skrywer beantwoord. ‘n Jeugroman met ‘n Christelike inslag is nie iets wat aldag verskyn nie, en met haar besorgdheid oor jongmense wat op al hoe jonger leeftyd met moeilike kwessies soos dwelms, seks en verbrokkelende gesinstrukture gekonfronteer word, was die jeug ’n logiese teikengehoor vir haar verhaal. Verder voel sy dat die Christentiener ’n krities-denkende persoon is en wou dit veral deur die een karakter uitbeeld. Sy put ryklik uit haar eie ervarings in Bloemfontein en Barcelona en betree ook, danksy haar betrokkenheid by Straatwerk, die donker wêreld van prostitusie. Tog was die skryfproses nie vir haar maklik nie, maar die feit dat sy ’n sperdatum gehad het, het gehelp om die manuskrip in slegs vier maande te voltooi.

Die uittreksel wat Cheréne voorlees, is boeiend en net genoeg om jou te oortuig dat jy eenvoudig moet weet wat volgende met Lucky gaan gebeur.

Foto: Anél de Stadler

Van hierdie boek sê die skrywer Maya Fowler-Sutherland:

Cheréne skryf met deernis en humor. In Lucky van der Veen skep sy ’n ronde karakter op wie die leser dadelik verlief raak. Lucky het haar foute: hardkoppigheid, vir een! Maar dit maak haar net meer geloofwaardig, en lei haar natuurlik na gevaar …

Hierdie is ’n verhaal van twee avontuurbelaaide reise: die reis na die fantastiese stad Barcelona (‘n beeldskone maar soms donker sprokieswêreld) en die reis na binne.

En Anchien Troskie se opinie oor die verhaal:

Ek het dié boek gelees en gelees tot dit klaar was! Eietydse verhaal met hart. En geloof en hoop en liefde. So kleurryk soos die stad waarin dit afspeel. Awesome!

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top