Boekbedonnerd 2013: Toppies innie langpad en ’n taal in ’n doodloopstraat

  • 0

Met twee vriende – ’n skrywer en ’n akademikus – ry ek vanjaar op na Richmond om die Boekbedonnerd-fees by te woon. Genoemde skrywer het my genooi en genoemde akademikus het sy motor aangebied. Laasgenoemde was voorheen onderwyser daar – is deesdae ’n Weskusser, soos eersgenoemde. Ek werk in Kaapstad by ’n mediamaatskappy en woon in die noordelike voorstede, wat beteken ek het soos ’n voël vlieg ’n paar ekstra kilometer verder om die dorpie in die Noord-Kaap te bereik.

Maar laat ek eerder name by die gesigloses sit; dit vergemaklik alles immers. Ek is Francois Verster, voormalige onderwyser en nou reeds amper ’n kwarteeu lank argivaris wat ook bietjie skryf en (nog) minder (kan) skilder. Die akademikus is Hennie Smit, dosent by de Militêre Akademie te Saldanha. Die skrywer is Dana Snyman en hy het nie bekendstelling nodig nie.

Dana Snyman, Francois Verster en Hennie Smit (Foto: Francois Griebenow)

Ons is toevallig ewe oud en ons kon die 700 km korter maak deur oor gedeelde ervarings, kultureel en andersins, te gesels. Diensplig, rugby, ons universiteitsdae, boeke, skryf ... die gesels het nooit opgeraak nie. Altans, Dana het meestal ingedut op die agterste sitplek en ek en Hennie het Dire Straits, Leonard Cohen, Anton Goosen, Nana Mouskouri en al die ander musiek wat ek ingepak het, eenvoudig doodgepraat. Ons het lanklaas saam gekuier en is van nature storievertellers. Dana, daarenteen, is nie so sterk op praat nie – hy skryf eerder sy stories. Dis hoekom hy ’n skrywer is en ons ander beginners bly. Selfs nog op 51.

Die baie stop-en-rye (daar was blykbaar elf) het nie ons praatspoed gebreek nie. Ons het een maal gestop om te eet – nie hardgekookte eiers soos in Dana se stories nie, maar lekker toebroodjies wat Hennie se vrou Surana met liefde en toewyding vir ons ingesit het en wat ons geniet het terwyl ons na die ou Engelse blokhuis langs die stopplek gestaar het en onvleiende dinge oor die Kakies kwytgeraak het. En toe, ironies genoeg, toe ons grondvat in Richmond, storm ’n ouerige Engelse dame op ons af en lig almal luidkeels in oor hoe ongeorganiseerd die plek is en as sy dit en dat geweet het, het sy summier gekanselleer. Maar so kry ons toe ons blyplekke – ek en Dana in die dorp en Hennie op ’n plaas by vriende uit sy skoolhoudae. Nie lank nie, toe is dit ook aand en slaaptyd.

Skuins na sonop is ek af na die hoofstraat. Ek wou ene Boris Gorelik se praatjie oor sy biografie van Tretchikoff bywoon. Nie dat ek juis ’n bewonderaar van kitsch is nie, maar dit was die eerste item op die program en ek wou tog hoor hoekom dié Boris die boek geskryf het. Toe tref ek ’n spoedwip: ek weet nie waar die lesing aangebied word nie. Dana het by aankoms in die algemene rigting van die middedorp gewys en gesê “Omtrent alles sal hier gebeur.” Maar ek sien geen skares nie, nêrens eens meer as twee mense bymekaar in die straat nie. Ek haas my regs af tot verby die laaste restaurant, Die Vet Muis, en draai na die volgende straat – miskien hier iewers? Nóg minder mense (en geen verkeer nie) te sien.

Toe is ek weer terug hoofstraat toe. Terug na waar Dana gewys het. Ek sien daar staan “Biblioteek” op een gebou en haas my daarheen. Skielik hoor ek ’n motor en iemand sê agter my “Oom!” Ek skrik, want ek is in die middel van die straat en kyk om. Dis Hennie. Hy wys ek moet inklim. En so mis ek vir Tretchikoff, want ek word net daar op ’n besigtigingstoer van Richmond en omstreke geneem. Ons ry self uit tot op die vliegveld, daar waar dit so plat en wyd en ver is dat die Guptas daar kan land. Hulle almal én die President se vroue.

Francois Griebenow en Dana Snyman

Later is ons sommer uit na ’n plaas, gaan ry saam met die boer en bekyk via ’n kamera bo-op die windpomp op sy skootrekenaar hoe sy gemsbokke water drink. Met die terugry staan ek agter op die bakkie (die stadsjapie maak mos altyd die plaashekke oop en toe) en sien hoe kom die reën aan. Blou en bedonnerd om by die boekefees te pas, dink ek en is bly saam met almal, van Eugène Marais se kleinvolk tot die boer, daaroor.

Daarna het ons vir Dana opgespoor en ’n paar praatjies bygewoon, in al drie die eetplekke gekuier en natuurlik boekwinkels besoek. Veral John Donaldson se winkel reg bo in die straat. Wat ’n enigmatiese emporium – van blikbekers tot boeke van enige genre en ouderdom, derduisende van hulle, met die eienaar nie agter as dit by eksentrieke kleurvolheid kom nie. Mens stap huiwerig in, kyk regs in die eerste kamer in en sien net nog kamers, een na die ander, want dis ’n paar huise aaneen wat soos treintrokke aan mekaar gekoppel is. En dis net boeke waar jy kyk: rak na rak, vloer tot dak, met mense wat woordeloos na woorde soek, smaak dit my: woorde op blaaie, geel of wit, duur of goedkoop, maak nie saak nie. Dis ’n fees vir ’n reun en ’n teef, soos die advertensie gelui het. Dog dis ook asof die oordaad mens intimideer, asof jy jou beursie vashou want netnou kom jy op daardie skat af en dan is jou fondse reeds uitgeput. En dan koop jy uiteindelik teen die einde van die tyd daar amper spasmodies – bang jy gaan weg sonder iets.

En so koop ek eers twee blikbekers met die fees se naam daarop en stap in die straat af terug na my slaapplek. Ek merk dat die wind gaan lê het en daar ’n verwagting in die atmosfeer hang. ’n Lou druppel val op my voorkop asof ek gedoop word; die reëngode verwelkom my en seën die fees. Ondertoe sien ek die kerkbasaar is juis in volle swang, reg langs die biblioteek: voedsel vir die vlees langs voedsel vir die gees. Wag, dink ek, kom ek vang ’n bietjie Karooreën op en hou die twee bekers voor my uit. Ek loop vyf treë en plienk, spat een druppel in. Nog ’n paar treë en plonk, land ’n tweede. Karige manna ... sover, maar daar kom nog baie aan. Sommer báie.

Gou leer mens Richmond ken, en etlike van sy inwoners ook. Ek hoor byvoorbeeld dat die dames wat by Die Vet Muis werk, elkeen ’n bynaam het: Streepmuis, Plaasmuis, Mooimuis, ensovoorts. En juis met die instap vir aandete daar roep iemand: “Haai kyk, dis Mariana se broer!” Ons kyk om, en die vreemde vrou wys na my. Ek sê ek weet nie wie Mariana is nie, nog minder wie sy is en die heel minste wie sy dink ek is, maar deur die loop van die aand loop talle mense verby om na my te wys en te glimlag. Ek wis nie wie ek veronderstel is om te wees nie, maar dis skynbaar ’n heel gewilde persoon. Ek verneem ook dat iemand Deon Meyer laas jaar wou geboekdonner het sonder die boek, maar by die restaurant langsaan. Ek voel dus heel veilig, maar verward.

Die volgende dag vind ek uit dat die mense gedink het ek is die uitgewer Francois Griebenow, wat toe eers op die dorp aankom om ’n praatjie oor sy vertalings van Herman Charles Bosman se werk aan te bied. Die raaisel is opgelos en almal wat daarvan hoor, lag saam. Sodoende voel ek sommer ook meer tuis, al ken ek minder mense hier as vingers aan een hand.

Die eetplekke het nie juis ambience nie, maar daar is ’n gemoedelikheid en gemaklikheid wat dit moeilik maak om te glo dat bendes en “tik” ook al hier rond kom nes skop het. Of dat die dorp eintlik kunsmatig aan die lewe gehou word deur boeke en feeste, want vandat baie skoolkinders nou na ander dorpe gaan, kom die boeregemeenskap glo al minder in die dorp. Richmond het nie eens meer ’n dokter nie, lamenteer Hennie en vertel hoe anders dit hier was toe hy net ná diensplig hier kom onderwys gee het. Helaas, broers, die goeie ou dae ... Daar was mos so iets, was daar nie?

Later die aand luister ek na die kerkklok net oorkant die straat en dink ek aan hoe dinge eenvoudiger en veiliger gevoel het in die geborgenheid van mens se geheue, hoewel dit nie werklik so was nie. Daar was ’n grensoorlog, boikotte en onrus tuis en in die sogenaamde tuislande, wagte by skole en bomme in motors en briewe. Die toekoms sal nog leer wat ons verruil het vir vryheid. Volgende jaar is dit twintig jaar later, maar met nog ’n verkiesing maar net nóg van dieselfde: die wolwe huil hoogheilig en die skape blêr gedienstig saam.

Ek dink ook aan die fees en aan die lesings. Die eerste dag mis ek toe almal, maar op dag twee werk ek een oor Thomas Pringle by, daarna oor Gerard Sekoto, elkeen ’n tragiese geval op sy eie manier. En toe kom Mariana se broer aan die beurt, opgedress soos oom Schalk Lourens, pyp en twaksak en al, en hy vertel ons sy gunstelingstorie van Bosman, die een oor Abjaterskop en die twee soorte luiperds. ’n Heel vermaaklike eenmansvertoning. Ek wou nog na Archie Dick se “Censorship and book burning” gaan, maar die geur van braaivleis, ironies reg langs die biblioteek, het my verlei. Die kerkbasaar moes goed gevaar het, want vir twee dae lank was dit besig daar. Altyd duidelik dat die mense wat kos verkoop, die beste vaar by enige fees. Nie eens boekwurms kan boeke eet nie.

Op die derde en laaste dag van die fees was ek betyds op vir die eerste item (third time lucky): Elsabe Brits se praatjie oor Emily Hobhouse. Insiggewend en aandoenlik. Ek is nie skaam om te erken ek het etlike male trane weggepink nie. Daarna was Petra Müller aan die beurt – net so insiggewend, maar hoewel nie aandoenlik nie, wel ook vermaaklik. Vir my en die meeste feesgangers sou Francois Griebenow se tweede optrede, ’n gesprek met Dana oor die bundel Namakwalandse verhale Eenkantland deur oorlede oom Theunis Uys, die hoogtepunt van die fees wees. Duidelik oor Dana Snyman se teenwoordigheid, sou mens een rede wou uitsonder.

Darryl David en Petra Müller

Die bibliotekie is reeds stampvol toe ek en Hennie plaasneem. Dana vertel weer sy “Hou Pretoria skoon”-storie en gaan voort om die gehoor te vermaak met sy kenmerkende droogskaam vertelstyl, wat net ’n effense grootgeleentheid-verstelling aan sy normale manier van doen is. Hy het skynbaar net een pas, wat onverstoord lyk: hy praat stadig, stap stadig en skryf stadig. Nadenkend, doelgerig lyk dit te wees. Versigtig, simpatiek ook. Hy neem waar, stoor dit alles iewers en distilleer dit tot die essensie daarvan, verpak dit en verryk dit dan weer tot dit op papier verskyn, dalk eers as rubriek en later in ’n bundel. Maar so bewaar hy sy persepsies vir die latere oorlees, miskien eers vir die plesier en ’n tweede keer vir die dieper oordenking, of andersom, afhangende van die leser se voorkeur.

Tipies van Dana het hy die vyf eksemplare van sy nuwe bundel, Onder die radar, weggegee voor ons al op Richmond aangekom het (ek is darem een van die gelukkiges), sodat Hennie ná tuiskoms een moes gaan koop om by ’n latere geleentheid ’n handtekening daarin te kan kry. Maar hier gaan dit eintlik oor Eenkantland wat Griebenow ook uitgegee het, al lyk dit asof die meeste mense gekom het om Dana te sien. ’n Bietjie soos ’n advertensie wat so kostelik is dat mense dit as volksbesit beskou, maar niemand onthou watter produk geadverteer is nie? Darem nie: soos met Jan Spies se koffiekapitaal-storie, sal mense vir wyle Jan én die Cremora onthou. Eenkantland is ’n bundel met eie meriete en die skrywer ’n skrywer uit eie reg – só is Dana ook.

Laaste aand op Richmond. Ek en Hennie gaan braai saam met plaaslike mense by die Gryspaleis, ’n soort sportsentrum langs die skool, en kyk met afgryse op ’n groot skerm in die braaikamer hoe WP die Curriebeker verloor. As gevolg van ’n verdagte pastei wat ek die vorige aand geëet het, te veel Jack Daniels en WP se ondergang is ek redelik olik, maar slaag darem daarin om van die vriendelike boere se heerlike skaaptjops te verorber. My maag, die kerkklok en ’n lekeprediker met ’n meneer van ’n luidsprekerstelsel hou my wakker tot sonop. En toe vat ons die pad terug.

Hierdie keer het die Drie Musketiers vier geword: Francois Griebenow (Suiderkruis Uitgewers) se suster kom laai hom af en hy ry saam tot op Touwsrivier, waar sy motorfiets wag. Onderweg soontoe gesels ek en Hennie weer land en sand met goeie ondersteuning van Griebenow, ook ’n entoesiastiese verteller, maar Dana is oudergewoonte stil. Hy herinner my aan my ma se African Grey wat altyd so sedig sit en luister het na die gekwetter van mense en selde iets gesê het. Maar wanneer hy gepraat het, het dit stil geword. Dán het sy gehoor gretig geluister.

Nou weer tuis, terwyl ’n winterreën neersif in die middel van November en ons katte rondom my slaap, vroutjie soos Groet die Grotman se vrou in die winkels met haar mandjie “bessies” versamel, onthou ek die mense, die praatjies, en bowenal daai boeke. Veral dié wat in die agterkamers uitgeskuif is, so stil soos die stof wat hulle versamel op die rakke, en ek wonder wat van hulle gaan word. En van Richmond en van al ons skrywers as die rekenaar oorneem en papier nie eens gesensor hoef te word nie, want dis lankal pulp. En van nostalgie wat net nostalgie is vir ons wat die beskryfde dinge beleef het, maar vir komende geslagte sal dit bewaarde kultuurskatte wees.

Ook dink ek aan dosente soos Darryl David as Afrikaans finaal uitgeskuif is uit ons universiteite. Want toe ons oplaas deur Richmond se hoofstraat ry, het hy alleen op ’n bank voor die biblioteek gesit en na die kerktoring gestaar. Of was dit na die plek waar die straat teen die koppie daaragter doodgeloop het?

En soos die Drie Musketiers raak ons toe vier.

Foto's: Francois Verster

Lees 'n onderhoud met Darryl David oor vanjaar se BoekBedonnerdfees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top