Bloemfonteinse Skrywersvereniging: nasionale skryfwedstryd 2016

  • 2

Bloemfontein - Loch Logan (bron: southafrica.net)

Skrywers en digters, dis alweer tyd om die pen in ink te doop of om die rekenaarsleutels te kielie dat die rook daaruit trek. Dis natuurlik alweer tyd vir die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse nasionale skryfwedstryd 2016 in vennootskap (al vir dekades lank) met die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN). Die wedstryd word weer vanjaar met R18 000 geborg deur ons gewaardeerde borg, die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat. Die afdelings waarin deelgeneem kan word met ‘n kortverhaal, kortkortverhaal, skets/vertelling, ‘n opstel/essay en poësie, is die skoleafdeling (juniors, gr 8 en 9) en seniors (gr 10 tot 12) en ope-afdelings (B vir ongepubliseerde skrywers en C vir gepubliseerde skrywers). Buiten vir die prysgeld, wisseltrofeë, sertifikaat en die publikasie van die wenbydrae in Inkvars 2016, is daar ook ‘n gratis slypskool vir alle kategoriewenners, ook vir ‘n niemoedertaalwenner, by ‘n gerekende skrywer op die spel. Beoordeling geskied anoniem deur ‘n paneel kundige beoordelaars. Omkring dus ook solank nou reeds die nasionale BSV-Slypskooldatum, Saterdag, 20 Augustus 2016 met die uiters kundige digter, resensent en akademikus, Joan Hambidge, in u dagboeke  – buiten vir die wenners, kan die publiek ook die slypskool bywoon. Met so ‘n kundige slypskoolaanbieder, gaan die beskikbare plekke beslis vlieg! Die inskrywingsvorms en die wedstrydpamflet (met heerlike prosa- en poësie-onderwerpe wat elke skoolgaande of volwasse skrywer se verbeelding sal kielie) is beskikbaar op die BSV-webwerf vir selfaflaaidoeleindes, en ook hieronder.  Wedstrydnavrae (en slypskoolbesprekings): Corlietha Swart (Voorsitter: BSV) by bloemsv@gmail.com of Lelani Fourie (Sekretaresse/Tesourier: BSV) by sel 0733883377. U kan die inskrywingsvorms ook self aflaai van die BSV-webwerf. Die sluitingsdatum van die skryfwedstryd is 13 Mei 2016.

Lekker skryf!

Corlietha Swart

Voorsitter: BSV

  • Laai die wedstrydpamflet hier af.
  • Laai die inskrywingsvorm vir die junior- en seniorfafdeling hier af.
  • Laai die inskrywingsvorm vir die opeafdeling hier af.

 

 

  • 2

Kommentaar

  • Goeie dag!

    Is hierdie wedstryd selfs vir Afrikaanse skrywers? In die Junior- en Seniorafdeling - mag ek as 55 jarige deelneem? Ek het nog nooit gepubliseer nie. In die Opeafdeling, mag ek dus enige onderwerp kies? Ek sal dus seket in Opeafdeling (b) kategorie val? Jammer vir onnosel vra, dit het net geklink asof julle reëls streng is en ek wil nie van die begin af n fout maak wat my diskwalifiseer nie.
    Baie dankie.

    • Hallo Agnetha, kontak asseblief die Bloemfonteinse Skrywersvereniging met navrae oor hulle kompetisie. Groete, Naomi Meyer, inhoudsbestuurder

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top