
Foto: Sidney Gilroy
“Wanneer kom Mike Ballas?”
Die ouerige tannie leun oor die stapels boeke wat uitgestal is vir die Prins Albert Leesfees, sodat die boekverkoper haar mooi duidelik kan hoor. Sy koop nie ’n boek nie, sy gee ook nie om dat my gel-nael afgeval het en dat ’n BBS (baie belangrike skrywer) glo geweier het om die fees by te woon nie. Sy wil net een ding weet: Waar is Mike Ballas!
Sy bedoel Mike Bolhuis. Hy is op die program om sy boek Valskermbataljon-verhale bekend te stel. In die strate van Prins Albert waar wit bakkies soos bose geeste op en af jaag, hang die opgewondenheid dik – die privaat speurder is op pad! Krimiskrywer Sidney Gilroy is laas gesien met sy nuwe tatoes in die Gin Bar! En daar loop ’n vreemde blonde vrou (glo ook ’n skrywer) op en af in die strate en soek na ’n skelpienk nael.

Erla Diedericks (Foto: Verskaf)
My nael val vir die eerste keer die Donderdagaand af terwyl ek en Sidney op Reebok braai. Daar is net een genade, die nael moet vasgegom word – met Super Glue. Die volgende oggend word ek wakker met ’n hangover, koffie en Sidney wat rustig ingestap kom met ’n botteltjie groen gom.

Gom (Foto’s verskaf)
Shoe Glue.
“Wat de hel moet ek maak met Shoe Glue?”
“Waddefok. Ek het gevra vir Super Glue.”
Shoe Glue. Super Glue. Die girl agter die toonbank het duidelik verkeerd gehoor.
Ek druk nael en skoengom teen mekaar totdat my vinger byna blou is. Die nael sit; ons val in die pad. Elfuur is ons op Prins Albert.
Sidney gaan slaap. Ek en Boyfriend vaar die dorp alleen in – ek in ’n luiperdveltop, met stewels van Texas en 10 pienk naels. Dis warm. Die boots druk my. Ek raak bedonnerd. Waar is die hotel? Ek het natuurlik die verkeerde rigting ingestrompel, maar gelukkig vind ek die Lazy Lizard waar ek in hul skaduryke tuin neersyg met ’n yskoue beer shandy. Die lewe is ’n lied.
Totdat ek besef ek het net nége naels.
Ek en Boyfriend soek op Prins Albert se sypaadjies vir ’n verlore skelpienk nael. Ek begin al te dreig dat ek ’n pleister by Spar gaan koop om my skande mee te bedek, toe ons die nael vind – in die gastekamer, op die vloer. ’n Pienk baken van hoop op die wit vloerplanke.
Op die openingsaand ontmoet ons almal in die asemrowende The Showroom Theatre. Ek, Sidney, Tom Dreyer. Ook Martin Steyn. Die ander daag stuk-stuk op: Andrew Wilson, Alex Hamilton, DeWet Bisschoff, Cobus Buys, André Hattingh. Ons hoor van die vlaggiestelsel. As iemand vir ons ’n rooi vlaggie uit die gehoor swaai, beteken dit jy moet ophou praat. ’n Omgekeerde bulgevegstegniek vir boekskrywers. Die bokswyn vloei.
Tydens die openingstoespraak verwys burgemeester Linda Jaquet half moederlik-trots na die “lack of protocol” van die fees. Dan wag ons vir sewe minute vir die “band” om te verskyn. Die Trio met die Brille. Ná al die Afrikaanse en sakkie-sakkie-musiek wat ek in Prins Albert se winkels gehoor het, weet ek nie mooi wat om te verwag nie.
Dis wat opdaag: twee uiters aantreklike mans met kitare. ’n Stillerige violis, al die pad van Switserland. Klara Rüttimann. Elliot Tingley. Waldon Ewerts. Die jonge Klara sit kruisbeen op die bank en speel viool. Waldon se lirieke en passie is vasgevang in rymkletsvorm. Ek is in vervoering.
Hulle is skaars van die verhoog af of die organiseerder, digter en skrywer Hannes Visser kry ’n bevlieging: Hy wil kyk of hy ook kruisbeen op een van die banke op die verhoog kan sit.
Hy kan.

Netjies in ’n ry (Foto: Paula Beezhold)
Later is al die skrywers op die verhoog, netjies in ’n ry soos eendjies. “Ek wonder of ons ook kruisbeen op die bank sal kan sit?” fluister Tom Dreyer. Ek hoor hom verkeerd. Ek organise net daar dat ons moet kyk of ons almal op die bank sal kan inpas. Ek is die enigste vrou tussen al die mans. Natuurlik moet ek my posisie misbruik – ek gaan sit op Sidney se skoot.
Lack of protocol. Ons bewys Linda se punt.

Chris, die Wyse Gryse, en Hannes Visser (Foto: Paula Beezhold)
Daardie aand betree Annelie Botes se man Chris, bekend as Die Gryse, die verhoog. Die herinneringe en trane vloei. Almal het ’n Annelie-storie. Selfs ek. Elke week het ek haar rubrieke op Netwerk24 se webwerf geplaas. Sy het Sidney se eerste leesverslag geskryf. Die Gryse mis net sy vrou, almal kan dit aanvoel – en ek sweer ek sien haar langs hom sit op die rooi bank.

Bloederige vodka (Foto: Erla Diedericks)
Dit is moontlik dat haar gees in ons midde is, want Prins Albert is bekend vir sy spoke. Daar is huise en grafte daarvan vol; in die Swartberg-hotel moet jy om vadersnaam net nie in Kamer Vier inboek nie. Selfs die gin word bedien met spookasem wat bloederig in die wit drank smelt.
Ná ’n paar gins is ons gastehuis toe. Die volgende oggend, toe ek wakker word, is die nael weer weg.
Histerie.
Ek vind dit tussen die lakens. Ek plak dit vas – die keer met soveel oorgawe dat ek basies drie vingers aanmekaar vasplak. Ons daag wel betyds op – net om te hoor hoe Sidney vir Martin vra om aan die gehoor die voorkoms te verduidelik van ’n lyk wat al lank in die water was.
Wel – water is nie ’n liggaam se vriend nie.
Dan is dit Tom Dreyer se beurt.

Tom Dreyer die volgende oggend by die Kritikomkoppie (Foto: Paula Beezhold)
Hannes vertel hy het ’n nagmerrie gehad dat hy vergeet het om vir Sidney op die program in te sluit. Daar sit hy toe: so wakker soos ’n akker in Prins Albert en hy besluit net daar om al sy vrae aan Tom te verander. Wanneer Tom ’n gedig lees oor Jaco Botha, onthou ek self my eie vriendskap met hom en die uiters vreemde aanbod (dis ’n storie vir ’n ander dag) wat hy op ’n keer aan my gemaak het.

Erla Diederick en Sidney Gilroy (Foto: Paula Beezhold)
Die dag vlieg verby. Ek voer ’n gesprek met Sidney, en hy praat met my. Uit The Showroom Theatre lek wrede woorde soos ontbinding, psigopate, marteling, reeksmoordenaars. Die reuk van dood hang in die lug. Ek word lus vir pizza.
Ons almal stroom oor die pad na die Langhuis vir middagete. Ons stap deur die donker huis stoep toe. ’n Vrou lê op haar maag op die grasperk.
Sy is darem nie dood nie, maar word afgeneem vir haar verjaarsdag. 21 staan op die silwer heliumballon. Daar is volop wyn en kaas op die pizza. Op pad terug, staan daar ’n bruid op die sypaadjie, die blinkers op haar rok ’n uitspansel sterre op ’n stowwerige stil Saterdag.
In The Showroom Theatre verkoop die boeke en vloei die wyn steeds. Daar is egter net een vraag op almal se lippe: Waar is Bolhuis? Hy het eers die middag van George ingevlieg. Gaan hulle dit betyds maak van die lughawe af?

Johan Coetzee van Naledi en Mike Bolhuis, albei toenmalige valskermsoldate, in gesprek met Hannes Visser (Foto: Paula Beezhold)
Kort voor Bolhuis se toespraak stroom die mense in. Jy kan duidelik die verskil sien tussen sy gehoor en die ander skrywers s’n. Mans klim uit bakkies, steun die trappe op, groet mekaar handklappend op die rug. Ek word vasgevang in die gemaal en kyk angstig op – reg teen die middelste knoop van ’n swart baadjie. Mike Bolhuis is moerse lank. Dis al wat ek kan sê.
In hierdie video gesels Johan Coetzee van Naledi en Mike Bolhuis, albei toenmalige valskermsoldate, met Hannes Visser tydens die Prins Albert Leesfees. Die video is eksklusief aan LitNet beskikbaar gemaak deur Naledi.

In die Irish Bush Pub (Foto: Verskaf)
Ons woon nie sy gesprek by nie, maar kies koers na die Irish Bush Pub waar die res van die middag verdwyn in ’n waas van Bloody Muff Dive shooters (don’t ask).
Dis ’n soel lenteaand as ek en Boyfriend hotel toe stap om te gaan eet. Die liggies werp ’n goue lig op die tafels en hou die spoke weg, maar darem nie vir Bolhuis nie. Dié daag op met sy uitgewer-entourage. Hy praat saggies, hy is doodernstig, baie beleefd. In een stadium kyk hy wel in my rigting. “Jy mors,” sê hy.
Dis malvapoeding. Mens mag maar mors.
Later wil hy by die kelnerin weet of hulle “regte” mousse bedien. Dit moet wees, want ná die tyd is hy die ene glimlagte en komplimente.
Teen die tyd dat hulle opstaan om te loop, is ek al die trappe op – om te gaan kyk of ek iets deur die sleutelgat van Spookkamer no 4 kan sien. Deur die sleutelgat kyk die donker terug. Ek skrik my gat af. Steier agteruit reg teenaan ’n man en twee vroue.

Hier word gelees (Foto: Erla Diedericks)
“Jammer, ek wou kyk of ek die spoke kan sien,” maak ek verskoning.
“Ghosts?” Die man se aksent is rou Engels. “My mother is in Room Five. I don’t want any problems.”
Nee wat, verseker ek hulle. Daar sal nie probleme wees nie. Afrikaans is nie dood nie – net die spoke – en die boeke verkoop.
En ek stel die man gerus. “You have nothing to fear. Mike Bolhuis is here.”


Kommentaar
Klink kronies ‘n opwindende jollyfikasie as jy jou bevind in so ‘n mannaland van spierlike potsierlikheid… Aanskoulike vroetelpappies in oordaad. You lucky fish!
Waar het Bolhuis toe die nael gekry?
hahahahaha
Bolhuis het nog nie die verlore nael gevind nie, maar hy het my laat weet dat die nael Sondag in 'n bar in De Aar laas gesien is waar dit in talle mense se slaai gekrap het ...
Ten minste nie in 'n bolla of holla nie! Jy weet, De Aar kan pols sonder ’n gekrap, want die aar is 'n junk-s’n.
Wat ’n ongelooflike, suksesvolle boekbekenstelling daar in Prins Albert moes dit nie wees nie! Baie geluk aan elkeen betrokke!
Ja, Mike Bolhuis-Ballas! 🤣
Soos die tannie sê, is hy my medespringgekwalifiseerde parabatbroer en, ja, beide van ons is opgeroep na Grahamstad en is daarvandaan na streng keuring en toetse na 1 Valskerm bn “Tempe”, Bloemfontein, en daar is die kaf van die koring geskei tydens die strawwe pt-kursus & springkursus! So is beide ek en Mike ook gekwalifiseerde ops medics!
Tydens grensdiens in Angola met ops Askari was ons 2 valke wat in ’n mynslagveld beland het! Elke valk het een ops medic gehad! Hartseer 😢 maar drie van die manne het daar ’n been verloor en een sy linkeroog met die aftrap van antipersoneelmyne, black widows. Ek was die ops medic van valk 3 en valk 2 se ops medic was Alwyn Rawlinson wie se een been toe ook weggeblaas is met die aftrap van ’n myn en, dank die vader, ek was toe enigste ops medic en kon daai 4 slagoffers se lewens red. 🙏
Dit was baie traumaties en ’n hartseerdag wat ek nooit sal vergeet nie!
Daai jare het jy teruggekeer van die grens (sommiges nie,) maar ons het nooit sielkundige of traumabehandeling ontvang nie. Dit is baie jammer, want dit het ’n groot en nadelige uitwerking op ’n man se lewe!
Vandag kan ons as medeveterane en gewalifiseerde parabats ons silwer wing & maroon berets met trots dra (wat ons ook doen) omdat ons deel was van ’n elite eenheid met van die strafste opleidingskursusse ter wéreld. 🦅💪💪💪
Ae as airborne brothers will stick together till we die. 🦅♥️🙌
Baie dankie Mike en ook aan elkeen van julle wat betrokke was by die boekbekendstelling en ook vir al die goeie humor. 😅😅😅 👌
Ek spreek die seën oor elkeen uit en mag julle elke dag van krag tot krag gaan. 🦅🙏🙌