Bloed op die duine en ander verhale deur Doc Immelman: ’n resensie

  • 0

Bloed op die duine en ander verhale
Doc Immelman

Protea Boekwinkel
ISBN: 9781485309048

Daniël Ferdinand (Doc) Immelman is op 23 April 1928 gebore. Hy word 91 jaar oud en sterf op 9 Maart 2013. Hy skryf sy eerste kortverhaal op die ouderdom van 23 terwyl hy in die Kaap in die poskantoor werk. Op 25 werk hy as plaasarbeider op ’n afgeleë plaas in die distrik van Tsumeb in Namibië, waar hy die San-taal leer praat. Hy moes wild skiet vir die San-arbeiders en daarna word die woestyn en jag sy groot liefdes. Doc Immelman het meer as 60 boeke die lig laat sien en vele van sy kortverhale, gedigte en artikels is in tydskrifte gepubliseer. Hy kon agt tale praat.

Hierdie boek bevat nege kortverhale wat tussen 1955 en 1963 in Die Huisgenoot en Die Brandwag verskyn het. Die stories speel af in Namibië, oftewel Suidwes-Afrika soos dit nog in die boek genoem word. Suid-Afrika is “die Unie” en Botswana is nog Betsjoeanaland. Dis nog ‘n wilde weste. Luiperds is volop in die berge en leeus word geskiet omdat hulle die vee vang. Families bly op plase wat van geslag tot geslag oorgedra word en almal ly onder die droogte en brande. Prospekteerders is op soek na minerale en smokkelaars na diamante. Dis die tyd voor die Grensoorlog en die struggle.

As jy iemand is wat van verhale met goeie eindes hou, is dié boek vir jou. By voorbaat kan jy ontspan met die wete dat die spanning wat in sommige van die stories voorkom, soos ’n vee-inspekteur wat op sy maag in die woestynduine van Namibië seil om die veediewe op heterdaad te betrap, jou nie in angs en sweet sal laat uitslaan nie. Jy sal dit saam met die bekruiper oorleef, want op die hotel se stoep wag ’n meisie met lang bene en baie hare. Bygesê, soos al die vrouens in die boek. Die mans is gespierd, hulle sweet onder die warm son, dra kakieklere en is toegerus met groot gewere, en elkeen is ongetwyfeld die hoof van die huis.

Dit is ’n lekkerlees, niks uitdagend nie, met voorspelbare eindes. Ek vind my tog nuuskierig oor die verloop in ’n paar stories, sonder dat dit my spanningsvlakke opjaag. In elke storie is daar ’n menslikheidsfaktor en meelewing met die naaste. Jy hoor die skrywer se liefde en kennis van die natuur: “Dit het al amper ’n bygeloof geword. As jy van die reën praat, dan kom dit nie. Die wind sal wel netnou omswaai na die weste. Of die weer sal verbytrek. En vanmiddag sal dit versengend warm en bedompig wees. En droog.”

“Onweer” kon net sowel hierdie jaar geskryf gewees het, alhoewel die einde van dié verhaal ’n heuglike een is wanneer die reën in seëninge afkom en die brand én droogte verdryf.

In “Vergeet van Renate” word die sentiment net te dik opgedis wanneer die boer te veel aandag aan die bure se dogter gee en nie sy vrou se wense wil gehoorsaam om die huis op te knap nie. Wanneer sy hom van die leeus red, is alles vergete, en die boerdery word tydelik gestaak sodat twee nuwe kamers aangebou word. Een natuurlik vir ’n baba.

“Die tyd van die eland” is ’n aangrypende verhaal wat die kultuur van die San uitbeeld. Jy lees van die mense van die Tyd van die Eland wat elke drie jaar suid trek na die grafte van hul voorouers om rook oor die koppe van hul vaders en moeders te blaas. Gedurende dié tyd is die eland ’n heilige dier en mag nie gejag word nie. Om die wet te oortree het die dood beteken. Dit is die enigste storie in dié boek van gelukkige eindes wat in hartseer afsluit.

Die plaaslewe speel ’n groot rol. Die skiet van wild, sommer van die perd af, almal wat help slag en die maak van biltong. Kinders speel in sand en veekrale. In droogtetye word daar met die vee getrek na groener weivelde, hoër op, noorde toe. ‘n Seun word van jongs af man gemaak ongeag of Ma hom wil klein hou. Pa se woord is wet. Die liefde bly nie agterweë nie, soos in “Die Oujaarsdans”. G’n geknyp in die donker nie. Toeka se liefdestories is nie die hede s’n nie, maar gepas vir die medium waarin hulle verskyn: gesinstydskrifte.

Ek lees met die wete dat die verhale ’n spieël is van toentertyd. Toe ons saans by die verwarmer gesit het rondom die radio en na die nuus, Boekevat en die twintig-oor-sewe-storie geluister het. Ma wat lemoene skil en die skyfies vir elkeen aangegee; Pa wat met sy knipmes wat hy op die sementtrap geslyp het, die biltong sny en in elkeen se hand vier repies neersit. En dan die Huisgenoot-storie wat hardop deur iemand in die gesin voorgelees word – en dikwels een van Doc Immelman. Dit was stadiger tye. Sonder fieterjasies en onnodige vertoon, soos die skrywers se stories daarvan getuig.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top