Bloed, dunner as water deur Charné Kemp: 'n resensie

  • 0

Bloed, dunner as water — Suid-Afrika se berugste familiemoorde
Charné Kemp
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624075462

Die raakvattitel van die boek, Bloed, dunner as water, vertel jou in ‘n neutedop waaroor die inhoud gaan. Die mites en romantiek rondom bloedfamilie word verpletter as van die wreedste moorde op diegene, vir wie mens veronderstel is om die liefste te wees, beskryf word. Hoeveel keer lees mens nie op facebook of in onderhoude met celebs dat familie “alles” is nie?

Suid-Afrika bly een van die moorddadigste lande ter wêreld met geweld wat ‘n subkultuur geword het.

Min mense sal erken dat hulle vriende soms meer vir hulle as bloedverwante beteken. Bitter familievetes, afguns en sibbe-mededinging, asook dwelms en ander wat met jou kop “smokkel” kan ‘n rol in hierdie onbegryplike moorde vertolk.

In ‘n gewelddadige land soos Suid-Afrika waar baie van ons afgestomp raak oor mediaberigte wat ons daagliks met moord en doodslag bombardeer, bly moord op familie egter steeds skokkend. Die laaste taboe. Onverstaanbaar. En ondenkbaar.

Veral as dit ouers is wat hierdie einste kinders vir wie hulle in die lewe gebring het, uitwis. Of andersom.

Wat gee aanleiding daartoe dat ‘n oënskynlik intelligente, bevoorregte en goed opgevoede jong man soos Henri van Breda sy hele gesin een aand tydens ‘n bloedbad met ‘n byl uitwis? Of ‘n ma soos Venolia Siwa wat, volgens kennisse ‘n sorgsame en liefdevolle moeder was, al vyf haar kinders vermoor? En agterna bekommerd was dat mense dink sy is ‘n “slegte mens”?

Dit is nou eenmaal so dat baie mense ‘n morbiede belangstelling in sulke soort moorde toon. Want, hoe anders verklaar ‘n mens die ironiese strekking van die spreekwoord: Bloed is dikker as water? Die knaende vraag wat altyd oor sulke grusame moorde gevra word is: “Hoekom? Hoekom?” Die waarheid is dat menslike gedrag en misdadige gedrag onvoorspelbaar is.

Charné Kemp is ‘n ervare joernalis en topverkoperskrywer van Moord op Griekwastad. Dis opmerklik dat die hoofstukke oor die moorde gepleeg deur Henri van Breda en Don Steenkamp, die langste in die boek is. Waarskynlik omdat dit onder meer van die opspraakwekkendste in ons land se onlangse misdaadgeskiedenis is.

Dis te verstane dat Kemp drie jaar lank aan die boek gewerk het. Sy het intensiewe navorsing gedoen en van ‘n lang lys bronne gebruik gemaak. Sy het ook met talle kenners gesels.

Daar sal egter altyd meer vrae as antwoorde wees na die lees van so ‘n boek. Tog kan emosionele mishandeling, sibbe- jaloesie en -mededinging, dwelms en beïnvloeding nie onderskat word nie.

Dit is egter duidelik dat, soos soveel kere tevore al bevind is, dat daar nie een klinkklare rede vir sulke makabere geweldsmisdade en bloedvergieting is nie. In talle gevalle kan ‘n mens maar net bespiegel oor wat daartoe aanleiding gegee het.

Die mens en die misdadiger se psige is eenvoudig te verwikkeld.

Kemp skryf oor ouers wat ‘n kind se kognitiewe skrif skryf en oor tieners wat besluite in oomblikke neem. Christiaan Bezuidenhout, professor in Kriminologie aan die Universiteit van Pretoria, het al herhaaldelik, soos wat hy ook in hierdie boek aangehaal is, gesê hy glo kinders word as tabula rasa (‘n skoon lei) gebore. Dis die ouers wat die kind se kognitiewe skrifte daarop skryf.Woede — hetsy dit sigbaar is of goed weggesteek is — vertolk ‘n groot rol soos duidelik uit hierdie boek blyk. Mense wat met gevangenes en veroordeelde moordenaars werk, soos Eerwaardes Jennifer en Jonathan Clayton van Hope Prison Ministries, sal jou ook vertel dat hoe meer woede mense het, hoe meer gebroke is hulle. “As iemand baie woede het, moet jy vir hom jammer voel”, sê hulle. So dikwels word dwelms en demone as verweer vir hierdie moorde binne gesinsverband aangevoer. Ja, dwelms vertolk beslis ‘n belangrike rol gedurende geweldsmisdaad (ook tydens plaasaanvalle) maar die rol van satanisme word dikwels oordryf soos ook in die boek blyk in die uitspraak van Angelique Orso (16) wat haar ma, Dawn Orso (38), met die hulp van  haar kêrel, Lawrence van Blerk (18) vermoor het.

’n Mens verwelkom hierdie stelling want dis seker menslik dat die publiek graag wil hoor dat satanisme en dwelmmisbruik die oorsaak is, want dan is sulke moorde mos net’n tikkie minder ondenkbaar — of hoe? Om iets te blameer, maak dit immers meer verteerbaar. Soos in die boek beskryf word, is dit egter eerder ‘n “smeermiddel” wat dit net makliker maak om te moor.

In die geval van pa’s wat hul hele gesinne uitwis, word aanleidende faktore, oor waarom ouers hul kinders vermoor, beskryf as: gesinsverbrokkeling, manlike seksuele jaloesie, ‘n behoefte daaraan om in beheer te wees en ‘n obsessiewe besitlikheid. Om jou kinders te vermoor, is, soos in die gevallestudies voorkom, die uiterste vorm van wraak teenoor jou vrou.

Ander redes wat aangevoer word is depressie, mishandelende kinderjare, die blootstelling aan middelmisbruik, seks, manipulasie, geestesafwykings en dalk selfs psigoses. Party word deur vryheid geïnspireer en wil dít wat in hul pad na geluk staan, uitwis.

En ja, baie van die moordenaars word as narsiste, psigopate en sadiste beskryf. Gewilde beskrywings in die volksmond. Maar nie almal word so geklassifiseer nie, wat dalk party mense sal verbaas, maar aan die hand van verduidelikings van kenners nie vergesog is nie.

Waarskuwingstekens

Dis verblydend dat die boek waarskuwingstekens uitwys, soos in die geval van Bezuidenhout, wat na ouerskap verwys as dat dit “ ’n gebalanseerde benadering” moet wees.  Dis van uiterste belang om vir jou kinders grense te kan stel en soms “nee” te sê. Dit benadruk weereens die ontsaglike en selfs vreesaanjaende verantwoordelikheid wat ouerskap bring. Daar moet ‘n morele kompas wees. Jou gedrag tel meer as jou woorde.

Tog word die feit dat kinders hul ouers vermoor as veel komplekser beskou as ander familiemoorde. ’n Tiener kan stil en afgesonderd voorkom en net eendag “breek”. Plaas dit nie maar net weereens ouers in die beskuldigdebank nie?

Een van die hoofstukke gaan oor Nicolette en Hardus Lotter en Matthew Naidoo en die wrede moorde op die Lotter-kinders se ouers, Johnny en Riekie Lotter.

Daar is bevind dat Nicolette aan mishandeldevrousindroom gely het en selfs haar destydse vriend, die manipulerende Naidoo, se urine moes drink. Hier en in ander gevalle word erge breinspoeling en manipulasie deur die jong vroue se kêrels beskryf.

Met Don Steenkamp (toe 15) wat sy ouers Deon (44) en Christel (43) en suster Marthella (14) vermoor het, blyk sibbe-jaloesie ‘n rol te vertolk het. Marthella was glo ‘n uitblinker en hy het gesmag na sy pa se goedkeuring. Wat ‘n mens veral ontstel, is die feit dat hy ná die moorde besonder onemosioneel en behep met sy efporsie was. Hoe gewetenloos kan ‘n tiener wees? Is dit dan nie kenmerkend van ‘n psigopaat nie?

Hy moes egter ‘n goeie akteur gewees het, want, soos wat die geval in soveel gevalle van jong mans is wat moord gepleeg het, het sy Ouma Bettie in sy onskuld bly glo. Daar was voor die tyd geen teken dat hy ‘n wrede of emosielose kind met gedragsprobleme was nie. Tog het hy glo baie gelieg. Hoe dan nou?

Sy gedrag, het ‘n kenner bevind, stem ooreen met die waarskuwingstekens van psigopatiese eienskappe wat later kan ontwikkel.

Henri van Breda is as ‘n alleenloper met gemoedskommelinge beskryf. ’n Eenkantkind wat moontlik deur sy pa verneder en verkleineer is. Hy was doodkalm toe hy die nooddienste ure na die moorde gebel het en het boonop soos ‘n tandetrekker in die hof gelieg. Dit word so raak in die boek beskryf; “Hy het drie mense uitgewis, maar hy Henri van Breda, het ook eiehandig homself uitgewis.”Weereens was daar familielede wat in sy onskuld bly glo het, want, is heel ironies aangevoer: “Bloed is dikker as water.”

Die goeie nuus in die boek (iets wat ek al waargeneem het) is dat jeugdiges se kanse op rehabilitasie beter met berading en die regte huishoudelike omgewing is. Hulle is meer vatbaar en plooibaar vir rehabilitasie. En dit gee ’n mens hoop. ’n Mens moet natuurlik realisties wees en besef dat dit nie ’n waarborg is dat hulle nie weer sal moor nie.

Dis byna meer skokkend wanneer ouers hul kinders vermoor as andersom, soos wat Kemp in die boek beskryf. Kinders is mos impulsief en vol storm en drang. Die redes waarom ouers hul kinders vermoor, word aan onder meer verskeie sielkundige, genetiese en omgewingsfaktore toegeskryf. Party ouers is brandarm, verloor alles en sien die dood van die hele gesin as ‘n uitweg. Die vernedering van bankrotskap is te groot.

Nog tekens wat ’n mens nie by mans kan verontagsaam wat hul gesinne uitwis nie, is tekens soos erge depressie, jaloesie teenoor sy vrou, soos in die geval van Marius van der Westhuizen wat sy kinders Bianca (16) Marius Junior (5) en Antoinette (21 maande), binne twee minute berekend en doelgerig doodgeskiet het. Die feit dat Charlotte, sy vrou, selfs vroeër ‘n beskermingsbevel teen hom gekry het, kon dalk as ‘n tikkende tydbom beskou word. So’n bevel kan dalk net vir party mense ‘n wake-up call wees.

Die hartseerste hoofstuk, vir my altans, is die een oor Venolia Siwa (35) wat al vyf haar kinders ‘n mengsel van koeldrank en remvloeistof ingegee het en hulle daarna verdrink en gesteek het om seker te maak dat hulle dood is. So ‘n vrou moet mos ‘n monster wees, kan lede van die publiek dink.Sy het egter aan depressie gely, haar jongste kind was serebraal gestrem, en haar verhouding met die pa was stormagtig. Hy het ook geweier dat sy geboortebeperking gebruik.

Hoewel daar nooit verskonings vir sulke grumoorde is nie, is daar oorsake. ‘n Psigiater het haar gediagnoseer met akute psigose, psigologiese stresfaktore en met postpartum-depressie. Sou daar ‘n ander uitkoms gewees het as haar toestand betyds gediagnoseer is?

Kemp skryf feitlik, helder en nugter. Die boek is leersaam en insiggewend. Dit lees maklik soos wat ’n mens van ‘n ervare joernalis verwag en probeer nie onnodig wetenskaplik of akademies te wees nie. Sy vertel net die storie, maar probeer terselfdertyd agter die kap van die spreekwoordelike byl te kom.

Bloed dikker as water? Nie noodwendig nie. Dis diegene wat veronderstel is om hul geliefdes te wees, wat party mense tot moord dryf en oor die afgrond stoot.

En hierdie komplekse tendens waarop die boek lig werp, sal vir talle lesers boeiend, tragies en onverklaarbaar bly.

Ek sal dit veral aanbeveel vir mense wat van misdaadboeke, gegrond op ware gebeure, hou.

Carla van der Spuy is die skrywer van ‘n aantal niefiksie misdaadboeke waaronder Sielsiek (2017) LAPA-uitgewers saam met Dr Henk Swanepoel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top