Bloed

  • 1

“Bloed” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

As jy wil deelneem, lees hier meer oor die kompetisie. Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.

*

Bloed

Trix van der Merwe kon net sowel uit die hemel geval het. Om die waarheid te sê, soms het sy haar verbeel dis presies hoe haar lewe begin het. Want niemand het geweet wie haar biologiese ouers was, of waarom hulle haar nie self kon grootmaak nie. En hoewel sy van jongs af probeer navorsing doen het oor haar komvandaan, wou sy nooit régtig uitvind nie. Nee. Sy was die hond wat die kar op ’n drafstappie gejaag het. Want sy was slim genoeg om te besef sy gaan nie weet wat om daarmee te doen as sy dit vang nie. Boonop – en dit het sy sommer vroeg al uitgewerk – gee so ’n newelagtige herkoms vir ’n mens die wonderlike geskenk van genetiese carte blanche. Sy kon haar verlede inkleur nes sy wou. Die voorverhaal van Trix van der Merwe was ’n enorme, blanko seildoek waarop sy met oorgawe en ongebreidelde verbeelding kon verf net wat sy wou hê haar geskiedenis moet wees.

Uit die karige feite wat haar aanneemouers met haar gedeel het, kon sy aflei dat sy voor haar eerste verjaardag hulle s’n geword het, skynbaar haastig en sonder behoorlike dokumentasie. Dié slordige weergawe van wettige mensehandel het in die vroeë sestigs plaasgevind, toe ’n kinderlose paartjie in Suid-Afrika nog redelik moeiteloos ’n baba kon aanneem. Al wat sy vir seker geweet het, is dat haar geboortema se van Carmichael was – ’n familienaam van Skotse of moontlik Engelse oorsprong. Die res, as nuuskieriges haar oor bloedfamilie uitvra, het sy na hartelus opgemaak. Soms was sy die buite-egtelike kind van ’n skatryk Britse sakeman, sonder seremonie of skuldgevoel weggegee by geboorte en sodoende ontneem van die bevoorregte lewe wat hare moes wees. Ander kere was sy die resultaat van ’n verbode romanse, in die ysige oggendure op die trappies van ’n Skotse kinderhuis gelos soos leë melkbottels of ou komberse. Inspirasie vir haar erfenisfantasieë het dikwels gespruit uit haar kompulsiewe fuifkykery van die TV-reekse Downton Abbey en Call the midwife.

Hoe ouer Trix geword het, hoe meer tyd het sy in haar verbeelde verlede spandeer. Die grootste rede vir haar ontsnappingsdrang was Jack, haar eggenoot van baie jare.

Jack van der Merwe was ’n blok van ’n man met wange so bol en rooi soos ’n Oxheart-tamatie. Sy stem was net so hard en intimiderend soos sy gesig, moontlik omdat hy aan erge tinnitus gely het en nie mooi kon hoor nie. Maar meer waarskynlik omdat hy gewoon bombasties en alwetend was. Dan was daar sy paranoia. Die onophoudelike kakofoniese gedruis van sonbesies in sy kop het dit moeilik gemaak om te hoor wat ander mense vir mekaar sê. In die donker labirinte van sy te groot ore het klank verdwaal en niks regtig sin gemaak nie. Die gevolg was dat Jack mense so ver moontlik heeltemal vermy het. Hy het verkies om alleen in sy studeerkamer agter sy rekenaar te sit, waar hy lang en driftige e-posse geskryf het aan mense wat nie dieselfde fanatiese geloofsbeskouing as hy gehad het nie. Nou en dan het hy homself ’n blaaskans gegun om ’n paar minute se gratis internetpornografie te geniet. Jack en Trix het al jare lank afsonderlike slaapkamers gehad en nie een van hulle kon onthou wanneer laas hulle ’n maaltyd gedeel het nie, wat nog te sê ’n bed.

Vier dekades en twee kinders nadat Trix op Jack verlief geraak het (in die beginjare het hy nogal baie op Sean Connery getrek), was hulle bloot twee mense wat ’n afgeleefde huis in ’n vaal voorstad van Johannesburg gedeel het. Soos talle Suid-Afrikaanse huise wat tussen 1930 en 1970 gebou is, was die Van der Merwe-woning die toonbeeld van ’n identiteitskrisis. Wat begin het as ’n tipiese fieterjasielose ontwerp in die Depressiejare, het dekades later twee ontoepaslik sierlike gewels bygekry. Daarna het die huis soos ’n lelike strooimeisie in ’n pofmourok gelyk. In die vyftigerjare moes die arme ding weer ’n opknapping deurmaak. Dié keer is die stoep brutaal toegebou met vensters wat met dik, vertikale diefwering ontsier is. Dit het die huis in Kroonstraat 29 laat lyk asof sy ’n massiewe wit bekfluitjie tussen haar flambojante gewels vasknyp.

Trix se huis was baie soos sy. Nie sy óf die huis kon regtig gekategoriseer word nie. Die woning se herkoms was feitlik onnaspeurbaar, nes haar eie, en die argitektoniese DNS daarvan ’n onoplosbare raaisel. Net soos wat sy voortdurend detail en intrige by haar eie storie gelas het, het sy nuwe projekte by haar huis aangepak. Aanmekaar. As dit nie ’n hoekie in die tuin was wat sy met ’n ou pootjiesbad vol kruie opgekikker het nie, was dit ’n porseleinhondjie wat sy vir ’n appel en ’n ei by die hospice-winkel uitgesnuffel het. Ná ’n pandjieswinkel-ekspedisie saam met ’n vriendin (Trix het nie ’n rybewys gehad nie), het sy gewoonlik haar aankope in haar oorvloedige groentetuin weggesteek. Soms het sy dit vir weke daar gelos totdat Jack die Ford uit die motorhuis getrek het om sy maandelikse haarsny te gaan kry. Dan het sy haar tuinskatte gaan opdiep en slim tussen ander huisgoed gebêre sonder dat hy agterkom. Jack het ’n renons in tierlantyntjies gehad. En nog minder daarvan gehou as sy hul pensioengeld op nie-essensiële goed spandeer.

Nadat die twee Van der Merwe-kinders uit die huis is, het hulle verkies om nie by Kroonstraat 29 te kom kuier nie. Dit was die enigste manier waarop hulle hul rooigesig-pa se negatiewe energie eenhonderd persent kon vermy. Sy woede en teleurstelling in hulle, hul ma en sommer die lewe self het amper radio-aktief gevoel. Dit het aan hulle en aan alles in die huis bly kleef, selfs lank nadat hy ’n vertrek verlaat het. En soos die nadraai van die Hirosjima-atoombom, was die uitwerking van Jack se uitbarstings altyd verreikend, met Trix die een wat die ergste gely het.

Soms het die bure Jack woedend hoor bulder oor iets wat Trix verkeerd gedoen het of vergeet het om te doen. Nie genoeg eiers vir sy omelet nie. ’n Onpaar sokkies saamgebondel in die mandjie skoon wasgoed. Alge tussen die stortteëls. Van tyd tot tyd was daar ’n dowwe val- of breekgeluid tydens so ’n uitbarsting. Trix, wat normaalweg ’n vrolike en gereelde figuur in haar spogtuin was en dikwels oor die lae muur met haar bure gesels het, sou dan vir dae verdwyn en eers veel later stil-stil haar opwagting maak om haar kruie of geliefde krismisrose nat te gooi, haar rooi breëbandstrooihoed ekstra laag oor haar voorkop getrek.

Almal in die buurt was dit eens dat Trix van der Merwe ’n lieflike weergawe van eksentriek was. Haar vreemde maniere was kleurvol, vermaaklik en nooit ten koste van enigiemand anders nie. Sy was gefassineer met die Victoriaanse tydperk en het van tyd tot tyd die buurkinders genooi om croquet in haar tuin te kom speel. Sy kon nie wag om vir hulle haar fyn toebroodjies en tuisgemaakte rooslimonade aan te bied nie. Op sulke middae het haar man nie sy neus by sy studeerkamer uitgesteek nie. Jack van der Merwe het kinders verpes soos wat party mense muskiete of slange verpes.

 

Dit was ’n tipiese bewolkte Hoëveld-somersmiddag toe die geroggel van donderweer in die weste begin het. Kort daarna het ’n geweldige elektriese storm losgebars wat mens en dier vir skuiling laat soek het. Die Van der Merwes se bure kon daardie middag glad nie die gille en geluid van breekgoed wat stukkend gegooi word, bo die klank van donderweer en gietende reën hoor nie. Toe Trix dus ná die storm vir verskeie trietsige, nat dae nie in haar tuin werk nie, het hulle aangeneem dis oor die aanhoudende sagte reën. Geelperskereën, het hulle vir mekaar gesê terwyl hulle toekyk hoe damme water in Trix se pragtige tuin vorm en die perfekte Victoriaanse simmetrie daarvan in ’n moeras verander.

Op die eerste sonnige dag ná amper twee weke se sagte motreën het Trix se rooi Zanzibar-strooihoed vir die eerste keer weer in haar tuin verskyn. Dit het op- en afbeweeg terwyl sy die gewillige, deurdrenkte grond reg langs haar krismisrose metodies omdolwe. Die buurmense aan albei kante van haar huis het veronderstel dat sy die grond vir saailinge voorberei. Terwyl hulle deur hul kantgordyne toegekyk het hoe Trix ’n buitengewoon lang, reghoekige bedding voorberei, het hulle deernisvol geglimlag. Trix was ’n vrou wat opregte plesier uit eenvoudige dagtake kon put. Dit was een van die redes waarom hulle so lief was vir haar.

In die weke ná die groot storm het niemand opgelet dat Jack se lang figuur nooit op die Van der Merwes se voorstoep verskyn het nie. Niemand het agtergekom dat hy nie een keer luidkeels gegil het dat dit al verby middagete was en dat toebroodjies waaragtig nie hulself gaan maak nie. In daardie tyd het hy nooit woedend na die heining gemarsjeer om die haweloses wat kom kyk het wat Trix vir hulle in die Checkers-sak op die hekpaal gelos het, te verjaag nie. Maar dit het nie een van die buurmense opgeval nie.

Snags, alleen in haar kamer, het Trix na Puccini geluister en goedkoop kersiesigare gerook wat sy by die vulstasie op die hoek gekoop het. Sy kon nie glo dat niemand in die buurt agtergekom het dat hulle Jack nou al vir weke nie met ’n oog gesien het nie. Dat so ’n groot man met so ’n harde stem geen merkbare leemte in enigiemand se leefwêreld kon laat nie, was verbysterend.

Weke het maande geword en maande seisoene. Die daaropvolgende somer het almal kommentaar gelewer op Trix van der Merwe se manjifieke krismisrose. Hulle was regtig besonders daardie jaar – lank, dig en sterk, met ’n buitengewone dieppienk kleur. Dit was vir haar heerlik om die yslike blomme aggressief terug te snoei en armsvol daarvan na haar bure te vat. Nog lekkerder was wanneer hulle gesê het sy kan die blomme sommer self in potte rangskik. En dat sy kon besluit waar dit die mooiste in hul huise sal vertoon. Dan het sy die vertrek gekies waar daar die meeste gelag en gekuier word. Niemand het ooit na Jack uitgevra nie.

Nou en dan wou iemand weet of sy al van die British Registry Office of die Genetic Society of Scotland gehoor het oor haar moontlike bloedlyn. Dan het Trix ’n pffft-geluid met haar lippe gemaak terwyl sy die vraag wegklap soos ’n vlieg. Wat is bloed in elk geval? Niks meer as ’n vervoermiddel vir suurstof van die longe na liggaamselle nie.

Een keer, toe haar buurman oor die heining loer en duidelik beïndruk vra hoe op aarde Trix haar krismisrose so donkerpienk kry, het sy vir ’n oomblik geaarsel. Maar net vir ’n oomblik.

“Yster,” het sy gesê asof dit voor die hand liggend was. Dit is immers iets wat elke tuinier behoort te weet.

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top