Blindemol, melk en diakens

  • 0

Foto: Canva

Blindemol, melk en diakens

Dit was knap voor brekfis die oggend toe die tienjarige Vroegwaan en sy pa op die rooi stoep staan en ’n roomkleurige kar sien aankom. Dit hou buite die werf stil.

“Watse kar is hierdie, Pa?”

“’n Stasiewa,” sê Pa.

Vroegwaan het gedog dat die goederetrokke wat op die spoorlyn naby die opstal verbyry, stasiewaens is. Pa en seun loop kar toe.

“Môre, manne,” groet Pa.

“Goeiemôre, oom,” groet beide.

Die skoongeskeerde jong mans is netjies aangetrek. Grys flannels, bruin sportbaadjies, wit hemde en dasse, blink bruin skoene. Die bestuurder van die stasiewa klim uit die kar en loop na die passasierskant, maak die deur oop en help sy vriend uitklim. Hy begin hom aan die elmboog lei.

“Sê my, neefs, wat kom julle so vroeg hier maak?” vra Pa.

“Ons is handelsreisigers van die Baai af, oom. Kan ons asseblief ons goed vir oom en tannie wys?”

“Dis reg so, maar kom eet eers saam met ons brekfis.”

Vroegwaan merk op dat die man wie se maat hom help loop het se oë iets makeer. Hulle is vaalblou. Hy staar strak en uitdrukkingloos voor hom uit. Dit is die eerste keer dat hy ’n blinde sien. Aan die brekfistafel hou Vroegwaan die blinde fyn dop. Hy voer homself redelik maklik met die mieliepap, maar toe sy bord met twee sagte eiers en boerewors voor hom neergesit word, is dit ’n ander storie. Hy sukkel om die stukkies eier op sy vurk gebalanseer te kry. Op pad na sy mond toe val ’n stuk eier van sy vurk af. Eindelik kry hy die eier en al die wors geëet, maar nie voordat strepe eiergeel sy das versier nie. Arme man, dink Vroegwaan.

Na ete is Vroegwaan se pa, ma en die blinde sonkamer toe. Vroegwaan loop saam met die blinde se maat na die stasiewa. Agter in die kar is ’n groot spasie waarin kartonbokse gepak is. Die man haal drie bokse uit. Hy gee een vir Vroegwaan. Dis swaar. Hy loop sukkel-sukkel. Hulle loop sonkamer toe. Die ou wat kan sien, pak sy ware op die tafel uit. Vroegwaan vergaap hom aan al die goeters. Dis rolle bont rokmateriaal, naalde, spelde, tolletjies gare – wit, kakie en grys. En hemps- en baadjieknope, ook kakie, wit en grys. Ook bolle groenpienk en grys breiwol en -naalde sit hy op die tafel neer, maar ongelukkig geen albasters nie. Sy ma, meer uit jammerte as nood – so het sy later erken – koop fluks, selfs ware wat sy nie nodig het nie. Vroegwaan hoop verniet vir albasters en ’n klimtol. Sy pa skryf ’n tjek uit en sit dit in die blinde se hand, wat dit in sy binnebaadjiesak sit.

“Dankie, oom. Dankie, tannie. Mooi loop, Vroegwaan,” groet die blinde ou.

“Ons ry nou Noupoort se kant toe,” sê die bestuurder van die kar.

Die ou wat kon sien, het gesê hy en sy maat is handelsreisigers. Vroegwaan leer ’n nuwe woord.

“Wat is ’n handelsreisigers, Pa?”

“Hulle is travellaars, Vroegwaan. Hulle ry van plaas tot plaas en verkoop hulle goed.”

“O. Slaap hulle snags in die kar, Pa?”

“Nee, hulle slaap in hotelle.” Dit klink na ’n lekker werk. Miskien word ek ook ’n travellaar as ek groot is.

Sondagmiddag kom ’n plaasboervriend van Vroegwaan se pa kuier. Hy vertel van die roomkleur stasiewa wat hy langs die pad teëgekom het. Die kar het van voor af gekom en anderkant die hek gestop. Hy het omtrent terselfdertyd aan die duskant stilgehou en beduie dat die stasiewa eerste deur die hek mag ry. ’n Man met netjiese klere aan het uit die passasierskant van die kar geklim, flink hek toe gestap, die hek van die hekpaal losgemaak en dit oopgestoot. Pa se vriend het deurgery, terwyl die vreemde man die hek oophou en hom vriendelik groet. Die stasiewa het deurgery en die man het die hek behendig agter die stasiewa toegemaak. Vroegwaan en sy pa se monde hang oop. Hulle kan nie glo wat hulle hoor nie. Die ou wat die hek oopgemaak het, was dan veronderstel om blind te wees.

 

Jôn en Jakop loop langs mekaar en gesels. Elkeen dra twee emmers melk. ’n Halfuur voor brekfis, Saterdag.

Vroegwaan, die een wat vroeg opstaan, het vanoggend in die winterkoue beeskraal toe gegaan en ’n koei gemelk. Sy duimspiere is lam van die melkery. Hy spook om sy emmer te dra. Dis vrek swaar. Hy loop ’n paar treë agter Jôn en Jakop. Vroegwaan is baie geheg aan hulle. Toe hy sy verstand gekry het, was hulle reeds op die plaas. Die twee werkers melk elke oggend. Dis hoekom hulle so maklik elkeen twee koeie gemelk kry. Vroegwaan benut sy kans om Saterdagoggende te help melk. Dis lekker om dit te doen. Hy hou van die reuk van vars melk. Ook die louwarm straaltjies melk wat hy in sy mond spuit. Die beesmis ruik pure plaas.

In die melkkamer gooi die twee manne die melk deur ’n wit doek wat oor ’n emmer gespan is om vuiligheid op te vang. Sodra ’n emmer vol is, gooi een van hulle melk in die bak van die roomafskeier. Vroegwaan kry sy beurt om die slinger van die afskeier te draai. Hy hou van die sagte singgeluid wat dit maak en verwonder hom aan die dun straaltjie room wat in ’n aparte houertjie loop. ’n Halwe emmer melk word afgeroom vir Vroegwaan se pa. Hy drink net afgeroomde melk.

Jôn en Jakop gooi hulle melkrantsoene vir die dag in kleiner emmers en loop fluit-fluit na hulle strooise toe. Vroegwaan weet hulle en hulle gesinne gaan weldra warm mieliepap met melk en bruinsuiker eet. Vroegwaan se maag gor van die honger. Saam met Pa en Ma aan die brekfistafel smul hy aan die mieliepap, boerewors en sous en drink ’n glas volroommelk.

Na brekfis sit hulle drie op die rooi voorstoep en drink bossiestee. ’n Bruin kar kom aangery en stop buite die werf. “Maar Pa, dis mos die travellaars se kar daai.”

“Lyk beslis so, ja. Ek wonder wat hulle hier op ’n Saterdag soek. Smouse doen mos nie oor naweke besigheid nie.”

Pa en Vroegwaan stap nader. Eers klim die twee bekende smouse uit die kar. Twee vreemde mans, geklee in swart pakke, wit hemde, dasse en blink swart skoene, klim by die agterdeure uit.

“Jissie, Pa, lyk my hulle dink Saterdag is Sondag. Van wanneer af trek diakens pakke op ’n Saterdag aan?” Pa haal sy skouers op.

“Dag, neefs,” groet Pa. “Kom maar binne. Ongelukkig het julle brekfis gemis.”

Net soos met die travellaars se laaste besoek, lei die bestuurder van die stasiewa sy maat aan die elmboog huis se kant toe. Die diakens, elkeen met ’n Bybel en ’n swart boek onder die arm, stap agterna, met Vroegwaan kort op hulle hakke. Pa gaan sonkamer toe en sit in sy wiegstoel. Die vier stuks vly hulself op gemakstoele neer.

Vroegwaan se ma kom binne en vra: “Kan ek vir julle koffie, bossiestee of Ceylon-tee bring? Water dalk?”

“Nee, dankie, mevrou. Ons verkies melk, as daar is?” vra ’n diaken. Die res knik.

“Maar alte seker.” Ma bring ’n skinkbord met glase en ’n groot beker melk.

“Ekskuus, mevrou,” sê die travellaar wat die stasiewa bestuur het. “Het oom enigiets nodig van wat ons laas gebring het?”

“Nee, dankie,” sê Ma en maak haar uit die voete.

Die besoekers lê weg aan die melk en begin met Pa oor godsdienssake praat. Die diakens hamer op die swart boek se waarde – dat dit deel van die Bybel moet word.

Pa frons. “Wat vir ’n boek is dit en waarom moet dit kwansuis saam met die Bybel gelees word? Ek glo die Bybel is volledig.”

En so praat hulle oor en weer, die kant toe en daai kant toe. Vroegwaan hoor iets van hormone ... Hmm, wat’s dit? Nee, hêng, hier moet ek wegkom, besluit Vroegwaan en gaan kombuis toe. Nie lank nie, of Pa kom binne en vra nog ’n beker melk. Vroegwaan maak die yskas oop en gooi die beker vol. Pa loop terug sonkamer toe met ’n glasbeker vol melk.

“Ma,” kla Vroegwaan. “Die ooms is besig om al ons melk op te drink. Ek dink hulle pratery ontstel Pa. As hulle teen hierdie pas aanhou melk drink, is alles teen middagete op. Maak asseblief tee, dan neem ek dit na Pa toe. En sommer ’n glas water ook. Sy mond is teen dié tyd seker al kurkdroog van praat.”

“Tsk-tsk!” klap Ma se tong in die spens. “Wie dink die mense is hulle dat hulle sommer so ongenooid hier opdaag? Hulle mors ons tyd. Ek hoop Pa knip die gepraat kort sodat hulle kan padgee.”

Vroegwaan neem ’n skinkbord met Pa se tee, suiker en ’n glas koue water sonkamer toe.Die diakens hou aan met hulle stories. Pa byt so op sy tande dat sy kakebeenspiere bult, maar die manne merk nie op dat Pa se geduld breekpunt nader nie. Nog ’n slag drink die besoekers melk.

Wraggies, so voor op die wa, dink Vroegwaan.

“Seun,” vra Blindemol. “Neem my asseblief toilet toe. Ek het ’n groot nood.”

Vroegwaan trek Blindemol uit sy stoel en lei hom aan die arm longdrop toe.

“Het julle nie ’n spoeltoilet nie?”

“Nee, meneer,” jok Vroegwaan. Hy maak die longdropdeur oop. Blindemol loop met klein skuifelpassies na binne, draai om, trek sy broek en onderbroek tot op sy enkels af en kry sy sit.

“Daar’s toiletpapier aan meneer se regterkant.”

Vroegwaan sluit die deur aan die buitekant en gaan huis toe om gemmerkoekies te eet en Oros-koeldrank te drink.

“Seun, seun!” roep Blindemol. “Ek is klaar. Sluit oop die deur!”

Vroegwaan het pas by die agterdeur uitgestap. Hy hoor Blindemol se hulpkrete. Laat die ou skelm in sy eie vet braai. Ek gaan nog ’n rukkie wag, besluit hy. Blindemol ruk aan die deur en probeer dit oopskop.

Vroegwaan sluit die deur oop. “Is dit nou nodig om die deur te probeer afbreek? Hè, meneer?”

“Wat gaan aan met jou, jou klein niksnut?!”

“Ek laat nie toe dat jy so met my praat nie. Kom hier.” Vroegwaan lei Blindemol sonkamer toe, waar sy maat, die diakens en Pa rondstaan.

Pa neem Vroegwaan eenkant en fluister in sy oor: “Moet niks sê nie. Kom net saam. Die mense het my vandag te vêr gedryf.” Vroegwaan knik, glimlag en vryf sy hande teen mekaar. Pa wag Blindemol by die kar in.

“Meneer, onthou jy ná julle laas hier weg is, dat jou vriend voor ’n hek op die pad na Noupoort gestop het?”

“Ja, oom?”

“Iemand in ’n bakkie het anderkant die hek gewag dat julle eerste deurry. Stem jy saam?”

“Dis reg, oom.” Blindemol se gesig word bleek en hy gaan aan’t bewe.

“My buurman sê jy het ewe rats uit die kar gespring en hek toe gedraf. Jy het dit sonder sukkel oop- en toegemaak.”

“Ag, vergewe my asseblief dat ek oom-hulle so bedrieg het. Dis waar – ek kan sien.” Pa mik met sy regterhand en swaai sy arm na Blindemol se kop. Sy palm vlieg rakelings oor sy kop – aspris – net om hom skrik op die lyf te jaag. Blindemol koes en keer wild met sy arms vir die volgende hou. Die skarminkel maak die passasiersdeur oop, spring in en klap die deur toe. Sy maat trek so vinnig weg dat die bande tol en die gruisklippers spat.

“So ja, julle swerkaters, vir julle sien ek nooit weer nie,” sê Pa die kar agterna en lag uit sy maag.

“Die ergste van alles is dat al ons melk op is,” kla Vroegwaan.

“Jy sal nie glo watter twak het die diakens kwytgeraak en hoe hulle met my gestry het nie. Dit was erger as toe die ou wat laas hier te verkope aangekom het, ’n stel Encyclopaedia Britannica aan my wou afsmeer. Ek was lanklaas so kwaad soos vandag.”

“Toemaar, Pa, môre melk ons dat dit bars, koue of te nie.”

Pa vryf sy seun se hare deurmekaar en sê goedig: “Vroegwaan, gaan melk gerus môreoggend saam met Jôn en Jakop. Ma sal sorg dat Elsie vir jou brekfis maak. En jy hoef nie saam kerk toe te gaan nie.”

“Jippiee, baie dankie, Pa!”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top