Blinde sambok en Meerkat Maantuig: Die aanpassing van boek na fliek

  • 0

Blinde sambok
Riana Scheepers

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624039808

Blinde sambok, ’n jeugverhaal deur Riana Scheepers, het in 2001 verskyn, en vroeër vanjaar was Meerkat Maantuig deur Hanneke Schutte, wat die draaiboek sowel as regie gedoen het, op ons fliekkringloop te sien. Die film vaar uitstekend – teen April 2018 was dit al gekies vir veertien filmfeeste wêreldwyd én het dit al ’n hand vol pryse ingepalm.

Mense kan oneindig stry oor boeke wat aangepas word vir film, met die grootste argument oor watter een beter was: die boek of die fliek. Die tweede gewildste argument gaan gewoonlik oor of die boek getrou nagevolg is, en of die storie verander is. Dié kan strek van “’n bietjie aangepas” tot “onherkenbaar verander” – laasgenoemde gewoonlik met groot verontwaardiging begroet deur teleurgestelde lesers.

Wat mense dikwels uit onkunde nie in ag neem nie, is dat die filmgegewe noodwendig aangepas moet word omdat die twee mediums, boek en fliek, so baie van mekaar verskil. ’n Skrywer het geen beperking wat betref dit wat hy wil uitbeeld nie – geen gevegstoneel of skare is te groot nie, geen wêreld is onmoontlik of geen monster te fantasties nie – terwyl koste gewoonlik die eerste beperking is waarteen filmmakers hulle vasloop (veral in ons piepklein plaaslike mark). ’n Ander belangrike beperking vir filmmakers is verteltyd: terwyl ’n boek se verteltyd (hoe lank dit neem om die boek te lees) baie ure kan wees, is dit vir ’n film skaars twee ure. Daarteenoor het die filmmaker die letterlike voordeel van “a picture is worth a thousand words”.

Vir my berus die sukses van die aanpassing op ’n verdere aspek: Hoe getrou het die film gebly aan die gees, eerder as die letter, van die boek? "In order to deliver the emotional truth in the story, you have to include some [my beklemtoning] of the literal truth," is ’n stelling van die gevierde Skotse jeugboekskrywer Theresa Breslin wat ’n mens met vrug kan toepas op die boek vs fliek-vraagstuk.

Hoe het Hanneke Schutte dit in Meerkat Maantuig hanteer?

Eerstens is daar die aanpassing van ruimte – ’n tipiese afwyking van ’n boek se “literal truth” wat geen afbreuk hoef te doen aan die “emotional truth” nie, maar wat groot winste vir die filmmaker kan bring. Scheepers se verhaal speel af op ’n plaas in die Sandspruit-omgewing in KwaZulu-Natal; daar is ysterkliprante, ’n rietbos by ’n dam, grasveld waar springhase gejag word en ’n windpomp (wat in die fliek transformeer tot die maantuigkonstruksie). Schutte plaas haar film in Magoebaskloof in Limpopo; ’n klam, digte woudomgewing wat sorg vir ’n magiese atmosfeer – en hier moet ’n mens veral die kinematografie deur Willie Nel noem, wat welverdiend in 2017 by die kykNET Silwerskermfees bekroon is.

Die volgende opvallende aanpassing is die ouderdom van die hoofkarakter, Gideonette de la Rey. Scheepers het ’n bekkige ek-verteller geskep wat pas ná haar geboorte begin kommentaar lewer op die stand van sake, en die storie eindig wanneer sy nege is. Schutte se Gideonette is dertien (puik vertolk deur die veertienjarige Anchen du Plessis, wat vroeër al beïndruk het as die jong Killer in Vaselinetjie) en die film speel af oor ’n klompie maande. Dis geldige en verstaanbare aanpassings, gegewe die enorme uitdaging wat kinderakteurs verteenwoordig, sowel as die kompleksiteit van ’n filmvertelling wat oor ’n lang tydperk strek.

’n Interessante uitvloeisel van bogenoemde is hoe Schutte die sentrale tema aangepas en eintlik ingekort het. Die boek-Gideonette word aanvanklik gedryf deur woede: "My volgende baklei sal teen my pa wees, het ek toe geweet ... Ek sal alles wees wat ’n seun kan wees, Pa, het ek besluit. Alles, én meer." Sy is ’n vreeslose karakter wat wild en gevaarlik saam met haar beste maat Bhubesi speel, en eers op agt, ná haar pa se dood en nadat sy van die vloek gehoor het, raak sy vir die eerste keer bang.

Die ouer fliek-Gideonette is heeltyd bang, soos aan die begin uitgebeeld word by die dorpskonsert met die monster waarteen haar pa haar moet beskerm (met dié Maurice Sendak-agtige figuur benut Schutte die visuele voordeel van film uitstekend). Ná haar pa se dood raak Gideonette toenemend obsessief en dra beenskutte en ’n valhelm om haar teen enige fratsongeluk te beskerm. Sy maak ook ’n lang lys van maniere waarop sy kan sterf wanneer die vloek van die Gideon de la Reys haar tref – ’n wrang-komiese toneel wat nogmaals Schutte se vaardigheid as draaiboekskrywer wys.

Waar sy radikaal afwyk van die boek, het spesifiek te doen met Bhubesi: Gideonette ontmoet hom vir die eerste keer as sy by haar grootouers gaan kuier, hy is doof en het terminale kanker (waarvan sy nie bewus is nie). Haar oupa bou vir Bhubesi die Meerkat Maantuig van die filmtitel – ’n kontrepsie waarin die bang Gideonette weier om te klim. Franklin D Roosevelt het gesê: “The only thing we have to fear is fear itself”, en dis rondom dié kern dat Schutte haar film bou.

Onder meer danksy die feit dat haar hoofkarakter ouer is, kan Schutte nog ’n bepalende aanpassing maak: Gideonette se predikant-pa dood homself weens sy stryd met depressie, terwyl hy in die boek ’n boer is wat weens weerlig sterf. Wanneer Bhubesi in die film doodgaan, herleef Gideonette die trauma en verlies van haar pa se dood, maar juis dit bring ook katarsis sodat sy haar vrees vir die lewe kan oorkom. Die boek lewer eweneens ’n bevredigende oplossing, maar op ’n heel ander manier, deurdat die hoofkarakter besef: "Ek is nie Gideon nie. Ek is Gideonette ... My ma is reg. Ons plaas het ’n vrou nodig." Gevolglik verloor sy haar vrees vir die vloek en maak sy ook vrede met die feit dat sy ’n meisie is, en só sluit die slot netjies aan by die begin.

Scheepers gebruik van die openingsin af die tegniek van magiese realisme en Schutte doen dieselfde, maar sy voer dit veel verder met die slottoneel – die lansering van die maantuig – wat suiwer magiese realisme is. Daardeur benut sy op briljante wyse die visuele voordeel van film en bewys sy haarself as ’n filmmaker wat kan waag én wen.

Lank lewe skrywers en hul verbeelding, en lank lewe filmmakers wat ons sinne betower!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top