Bleddie Romeo!

  • 2

Gert Visser is frustreerd en glad nie tevrede met homself nie. Hy sit voor sy rekenaar en kyk stip na die skerm. Sy studeerkamer se mure is omring deur boekrakke vol stowwerige regsboeke. Hy weet nie meer wat om verder te doen nie. Hy besef dat hy homself nou in ’n hoek ingeskryf het. Die opinie maak nie meer sin nie. Sy kliënte gaan moeilik en ontevrede wees. Hulle het baie geld betaal vir sy dienste. Die saak sal definitief hof toe gaan. Dit is so seker soos ’n All Black-drie in die laaste twintig minute van ’n rugbytoets. Ek sal ’n plan moet

Foto: Pixabay.com

“Gertman, jy moet my kom help om die was- en strykkamer uit te pak en skoon te maak. Jy het my belowe dat jy tydens die grendeltydperk sal help om ontslae te raak van al die gemors wat ons opgegaar het,” sê Annabel, sy tweede vrou. Sy is ’n besonderse mooi vrou. Mans staar gewoonlik oopmond na haar wanneer sy by ’n vertrek instap. Lang bruin hare, groot bruin oë en ’n pragtige olyfkleurige vel. Sy is nogal lank vir ’n vrou. Modellengte. Atleties gebou en elegant wanneer sy beweeg.

Gert, daarenteen, is nie juis iemand wat ’n groot indruk met die eerste oogopslag maak nie. Alhoewel hy medium lengte is, is hy op die ouderdom van vyf-en-vyftig’n skadu van die eertydse atleet en veelsydige sportman wat hom so gewild onder sy vriende gemaak het. Die baie ure agter sy lessenaar die afgelope twintig jaar het hul tol geëis. Hy probeer om elke tweede naweek ’n pot tennis saam met sy kollegas by die tennisklub in die Tuine te speel. Sy muurballoopbaan het egter onlangs tot ’n vinnige einde gekom toe hy sy linkerknieligamente geskeur het. Ten spyte van die goeie mediese behandeling kon hy nie weer tot sy eertydse glorie terugkeer nie. Dit is ooglopend duidelik ná ’n vlugtige bestudering van sy veltekstuur dat sy gereelde besoeke aan die naburige kroeg duidelik hul letsels gelaat het. Sy grys hare is kort geknip, maar yl bo-op sy groot kop.

Ná soveel jaar in die beroep is Gert ook nie meer lus vir hard werk nie. Hy glo aan die gesegde wat sê dat jy hard moet werk wanneer jy jonk is sodat jy rustig kan terugsit wanneer jy oud word. Dit was nou die tyd om terug te sit, reken hy. Hy het begin om nuwe stokperdjies te beoefen, soos om ’n motorfiets te koop toe hy vyftig word, met bye te boer na sy drie-en-vyftigste verjaardag en toe ewe skielik pak ’n visvang-gier hom onlangs beet. Gert kan nie eintlik sulke duur stokperdjies bekostig nie. Dit lei tot groot spanning tussen hom en sy vrou.

“Waar kry jy die geld om al hierdie stront te koop?” het sy dikwels ergerlik gevra.

Gert is skielik bewus van iemand wat in die deur van sy studeerkamer verskyn. Toe hy omkyk staan sy vrou met haar hande op haar heupe en gluur hom aan. “Het jy gehoor wat ek gevra het? Dit is nie nou die tyd om my te ignoreer nie.”

“Ek is nou daar, liefling. Ek maak net gou die eerste draft van hierdie opinie klaar ... sukkel al heeloggend daarmee. Gee my ’n halfuur, dan is ek by jou,” sê Gert. Hy sal eerder wil gaan visvang in die dammetjie net voor die huis. Dis so ’n mooi oggend.

Die dam is beskut van enige nuuskierige oë. Dit word omring deur bome en struike aan die huise se kant. Dit is nie juis ’n groot dam nie. Die water is troebel en driekwart bedek met ’n groen laag wat lyk soos mos wat dryf. Meeste van die damme op die baan is glo vol vis. Hulle geniet dit om op dié gholflandgoed te woon, nie te ver uit die stad nie.

Voordat Gert behoorlik met die visvangstokperdjie op dreef kon kom, het die grendeltydperk sy planne om te hengel heeltemal gefnuik. Hy besef egter gou dat die damme op die baan vir ander doeleindes as net balle insluk aangewend moet word. Ná ’n klompie navrae en ’n klandestiene verkenning, stel hy vas dat daar veral karpe in die damme rondswem.

Nou toe nou. Hy  gaan gou vir vroulief ’n bietjie hand bysit en dan uitglip om ’n paar gooie te maak. Hoekom nie, hy verdien dit. Hy spook al die hele oggend voor die rekenaar sonder enige werklike vordering.

Sy vrou loer weer by die deur in. “Gertman, ek het reeds ’n bietjie skoongemaak in die waskamer. Jy kan solank al die swaar goed uitdra. Wanneer jy klaar is, kom maak my  wakker. Ek gaan ’n bietjie skuins lê in die boonste slaapkamer. Dis lekker koel daar bo hierdie tyd van die dag.”

Dis nou vir jou lekker. Soos gewoonlik moet hy al die harde werk doen, op kantoor en selfs nou by die huis.

Gert besef dadelik dat hy nou moet vinnig speel as hy sy visvanglus wil blus. Gelukkig is die dam vlak voor hul huis geleë, aan die gholfbaan se kant. Hy haas hom onmiddellik na die stoorkamer. Binne ’n oogwink het hy die visstok en hengeltoerusting byderhand. Hy is slaggereed vir dié avontuur. Hy sluit saggies en versigtig die stoorkamer se buitedeur oop. Sonder om te veel geraas te maak, sluip hy met die smal gangetjie langs die huis af in die rigting van die buitehek. Suutjies sluit hy die hek oop en kies versigtig sy plek langs die dam. Hy berei die aas haastig voor. Hy is nou reg vir aksie. Hy staan gereed en maak die eerste gooi.

Hy is verlig toe die aas en sinker die damwater, dertig meter voor hom, met ’n groot plons tref. Nou kan hy terugsit en ontspan, al is dit net vir ’n kort tydjie. Hier is baie vis in die dam. Hy behoort ’n vinnige byt te kry.

Skielik gebeur drie dinge kort na mekaar. Sy visstok word byna uit sy hand geruk. Dit moet ’n  helse byt wees. Dit voel soos ’n grote ... sal ’n baie mooi foto wees. Hy reageer dadelik en kap terug, katrol die lyn vinnig in, maar nie te vinnig nie. (Advies wat hy onlangs ontvang het; anders verloor hy die vis.)

“Daar is iemand op die boonste balkon!” skree iemand skielik uit die bloute. “Vir wat kyk daai man deur die kamervenster! Uitvaagsel!” Die gebulder kom van sy buurman se huis af, dink Gert. Hy erken nie eintlik die stem nie, maar aanvaar dat dit die nuwe buurman moet wees. Hulle bly al bykans ’n maand langs mekaar, maar het nog nie behoorlik kennis gemaak nie.

Gert slinger die visstok neer terwyl die vis nog spartel om los te kom. Hy hardloop na die buitehek en soos ’n wafferse losskakel versnel hy met die smal gangetjie af en deur die stoorkamer. In die voorportaal van die huis, aan die onderpunt van die trappe wat na bo lei, kyk hy beangs op. Hy hyg soos ’n uitgespoelde drenkeling, heeltemal uitasem. Sjoe, hy’s onfiks!

“Anna!” skree hy, “is jy orraait? Daar is iemand op die balkon!” Hy hoor niks nie en storm dadelik boontoe. Hy merk op dat die slaapkamerdeur toe is. Hy probeer die deurknop oopdraai. Die deur is gesluit. “Anna, is jy daar? Is jy oukei? Antwoord tog om hemelsnaam!”

Skielik draai die sleutel in die slot en die volgende oomblik staan sy voor hom, asvaal geskrik en op die punt om in mekaar te sak, vermoedelik as gevolg van die skok.

“Ekke … ekke ... het opgekyk en toe sien ek ’n vreemde man wat deur die venster na my staar. Hy het beduie dat ek die skuifdeur moet oopmaak. Ek het nie mooi gehoor wat hy gesê het nie, maar dit het geklink asof hy gevra het dat Ronel dit moet oopmaak.”

Toe martel iemand die deurklokkie, gevolg deur ’n harde stamp aan die voordeur.

Gert draai vinnig om en strompel met die trappe af na die voordeur. Met een beweging sluit en ruk hy die voordeur oop.

Voor hom staan ’n man wat lyk asof hy ’n spook gesien het. “Ek is bitter jammer om te pla, meneer,” sê hy, “maar ek het sopas gehoor dat daar ’n man op jou balkon is wat na Ronel soek. Ons is julle nuwe bure. Ons het onlangs hier ingetrek. My vrou het nou net aan my erken dat sy ’n verhouding met die man op julle balkon het. Moet asseblief nie sekuriteit bel nie. Ek sal damn seker maak dat julle nooit weer daai man en my vrou te siene kry nie. Bleddie Romeo!”

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top