Bleddie dokters

  • 6

Foto: Canva.com

Bleddie dokters

Boet het daardie jaar die hardste gebid ooit, toe die prostaatkanker hom gevat het.

Hy was nog altyd, as dit by geloofsake kom, ’n agterbanker. Letterlik en figuurlik. Geloofsake was nie hoog op sy agenda nie.

Maar kanker laat gryp jou na strooihalms. Ná sy operasie om die kwaadaardige klier te laat uithol, moes hy ook chemo kry om die bloed skoon te maak. Maar hy wou dubbel seker maak. Hy het sy spaargeld gevat en vliegtuig geklim Lagos toe. As TB Joshua ook nog vir jou bid, kan jy mos net rustiger slaap.

Boet het mooi gesond geword en was baie dankbaar. Die hele kanker-ding het hom diep geraak en hy het ywerig begin kyk na die groot TV-evangeliste op die betaalkanale. Gou het hy – sy stoere Hervormde grootwordjare ten spyt – ook sy hande lugwaarts gehef en amen gesê elke keer as die blink Amerikaanse messias sy gehoor die voorwaardes van voorspoed met groot selfvertroue laat verstaan. En die hallelujas het weerklink in sy sitkamer as nóg ’n ou sy goudbeslane vuis lugwaarts swaai en sy nuutste ontdekkings uit die skrifte bekendmaak. Sy vrou het meestal net haar oë hemelwaarts gerol en aangegaan met die kos.

Vir ’n jaar of twee was Boet baie gelowig. Die familie wat op Sondae kom melktert eet het, was gou skugter vir die groot geestelikheid. Hy het nie meer soos ’n Hervormer geklink nie. Eerder soos ’n pastoor van ’n Pinksterkerk. Hulle het begin wegbly toe hy bedekte prekies en stekies oor hulle wêreldsheid en sonde begin uitdeel. Wat te erg is, is te erg. En Boet het die taal mooi bemeester. Hy kon skielik die mooiste geestelike dinge sê.

Maar toe die kanker twee jaar later weer opslaan in al sy kliere en die dokter kopskuddend vir hom die nuus meedeel, was hy stom. Die taal het hom verlaat. Al wat hy kon sê is: “Wat dan nou dokter? Jy’t dan laas gesê ek is skoon?”

Terwyl hy tuis al swakker geword het, was sy TV af. Sy vrou het nog 7de Laan en die nuus gekyk, maar hy het net in sy uitskopstoel gesit-lê en min gepraat. Die amens en hallelujas het stil geraak.

Die predikant het ingeloer en mooi woorde gesê en gebid, maar Boet was moeg. Die dagga-olie wat hy ten duurste bekom het, het ook nie die ding gedoen nie.

Net voor die morfien hom, maande later, in sy laaste koma laat sink het, het hy vir sy vrou gesê: “Die bleddie dokters van vandag beteken ook maar niks.”

  • 6

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top