Blasjan en die blou kitaar deur Koos Kombuis

  • 0

Blasjan en die blou kitaar
Koos Kombuis
Uitgewer: Penguin
ISBN: 9781485900481

Sebastian Taljaard (oftewel Basjan) is ’n plaaskind van die Karoo. Weens sy ongewone blonde hare, blou oë en blas vel as gevolg van gemengde ouers, doop die boelies by sy nuwe skool hom Blasjan. Hy sukkel om by die stadslewe aan te pas nadat sy pa gesterf het. Hillbrow lyk skrikwekkend en vol misdaad ná ’n sorgvrye grootword op ’n plaas.

Ook pas hy nie by sy swart, wit of selfs bruin klasmaats in nie. Sy jong lewensverhaal volg ’n pad van verdrukking en beproewing en ’n stryd teen boelies en dwelmafhanklikes. Hy vind vertroosting in musiek deur kitaar te speel, ’n band te begin, en aan ’n talentkompetisie deel te neem.

Koos Kombuis, oftewel André le Roux du Toit, is reeds ’n ervare, gevestigde en waardeerde skrywer in ons land en met dié skrywe oor ’n jong kind se beproewings as een van die kleure in ons reënboognasie, is dit ’n riem onder die hart om Basjan se verhaal te lees. Kombuis se gemaklike, vloeiende skryfstyl lees lekker en is ontspannend. Sommer van die eerste hoofstuk af is ’n mens reeds verdiep in Basjan se storie en is dit maklik om sy emosies te volg deur sy daaglikse gebeure en stryd op skool. Uiteindelik styg Blasjan bo alles uit en hy word sterker, voel gelukkiger en kry heelwat meer selfvertroue. Dis ’n goeie boek vir jongmense wat ook vorme van boelie/verwerping en so meer ervaar.

Blasjan en die blou kitaar is werklik aangenaam om te lees!

***

André is in 1954 in Kaapstad gebore. Hy het reeds op skool die bynaam Koos gekry. Sy ma was ’n onderwyseres en sy pa ’n maatskaplike werker. Kinder- en skooljare was in Riversdal, Paarl, Wellington, Kuruman en Bellville en uiteindelik Stellenbosch.

Koos vertel: “Skool was vir my baie boring, veral omdat ek myself al op drie leer lees het – van die agterkante van cereal-bokse af. Voor die ouderdom van tien het ek reeds ’n dosyn romans getik op my pa se Underwood-tikmasjien, maar ek kon nog steeds nie my eie skoenveters vasmaak nie. My onderwysers het vas geglo ek is baie dom. In ’n sin was hulle reg, want hoewel ek lief was vir lees en vir musiek, het ek geen ambisie gehad om ’n akademiese loopbaan te volg nie.”

Ná skool is hy weermag toe, al was hy “useless met ’n geweer”. Sy vriende is agterna Stellenbosch-universiteit toe en hy het begin rondswerf van die een werk na die ander. Hierdie jare was baie donker en rigtingloos en hy het sy hand aan alles probeer: hoenders braai by KFC, pizzas maak, polisse verkoop, brande blus, klerk speel in die staatsdiens en sulke goed. “Bennie-Fritz, die verhaleredakteur van Huisgenoot, het tot my redding gekom: vir twee jaar lank het ek op vryskutbasis vir Huisgenoot stories geskryf. My kortverhale het gelei na groter sukses en ek het ’n hele paar boeke (romans, kortverhale en gedigte) gepubliseer.”

Hy het ook ’n kitaar gekoop en begin liedjies skryf en in die laat tagtigerjare sy eerste plaat, Ver in die Ou Kalahari, uitgegee. In 1986 het Koos, Johannes Kerkorrel en Bernoldus Niemand die veelbesproke Voëlvry-toer aangepak.

Kommersiële sukses het eers in 1994 gekom met die uitreik van Elke boemelaar se droom deur Gallo Music. Vandag het Koos al meer as tien CD’s uitgereik. “In my hart wou ek egter steeds eerder skrywer as musikant wees en in 2000 voltooi ek my outobiografie (Seks en drugs en boeremusiek). Ek skryf ook rubrieke en kortverhale vir verskeie publikasies.”

Koos Kombuis woon in die Wes-Kaap saam met sy vrou en twee kinders.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top