Bittereinder: "Wat’s ’n treffer?"

  • 0

Die elektro-rap-groep Bittereinder se nuwe album, Skerm, is pas uitgereik. Jaco van der Merwe, voorsanger van die groep, beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Jaco. Wat gaan aan?

Dagsê Henry, long time no see. Not. Baie geluk weer eens met jou wonderlike debuutroman. Hierdie kant is dinge effens besig, maar dis alles dinge wat ek verheug is om te doen, so dis goed. Ons “maatjie van Rotterdam”, Tim Beumers, is ook in die land; sien uit vir twee lekker album launch shows saam met hom in Potch en Pretoria.

Geluk met die vrystelling van Skerm. Hoe is die ontvangs daarvan tot dusver deur die aanhangers, media en so aan? En belangriker, hoe voel julle oor die album, noudat hy daar buite is?

Dit voel of hy nog nie heeltemal in almal se bereik is nie. Ek dink die CD gaan in die winkels wees binne die volgende twee weke. Maar dinge lyk heel belowend op iTunes, en daar’s ’n hele paar oorsese mense wat ook belangstelling toon. Ons voel dat hierdie ons beste werk sover is, en dis seker ’n redelik belangrike ding om te voel op hierdie punt. Dit was moeiliker om by daai creative middle ground uit te kom as met die vorige twee albums – ons het baie baklei. Maar die musiek is juis sterker omdat ons deeglik baklei het.

Dit voel of Bittereinder met elke nuwe vrystelling ’n effens ander koers inslaan. Hoe het julle hierdie album – in terme van liriekskepping, musiekskepping en ook die uiteindelike saamstel en opneem daarvan – anders benader as die voriges? Was daar spesifieke nuwe elemente aan die proses, en hoe het dit bygedra tot die album?

Ons het ons skryf- en mix-proses baie gestreamline. Omdat ons in ons eie studio’s werk, het dit voorheen beteken dat ons partykeer weke lank aan een basdrom se klank sou timmer, en dis natuurlik ’n blessing and a curse. Hierdie keer het Louis 90% van die beats gemaak, ons het ons gunstelinge uitgekies (ook ’n nuwe ding – gewoonlik het ons nie “ekstra” opsies gehad nie), dit na Peach toe gevat, hulle twee het strukture uitgekerf, en vir die eerste keer ooit het ek oor voorafbepaalde strukture my lirieke geskryf, met (minimale) ruimte vir verandering. Toe het ons al drie bietjie post-produce, met Peach aan die helm. Hy’t dit ook gemix, en Dave Cooley het dit in Los Angeles gemaster. So die skryfproses was ’n vars uitdaging, en ek dink die musiek klink heel anders en meer afgerond as enigiets wat ons al uitgebring het.

’n Donkerder streep loop deur hierdie album as by jul vorige vrystellings. Wat het daartoe gelei, en hoe dui dit op waar Bittereinder nou as band is en waar die onderskeie lede in hul lewens is?

Ja-nee, dis maar donker tye. Het jy dit in die musiek self ook opgetel, wonder ek, of net in die lirieke? Dit kom seker maar saam met die ontnugtering van ouderdom, ek weet nie. Ek pleit “Death of the author” vir sulke vrae, maar dit klink self ook so morbied!

Wanneer ’n band soveel bereik soos Bittereinder in ’n relatief kort tyd bereik het, is die druk natuurlik daar om die treffers te laat vloei. Het julle in enige stadium daardie druk ervaar, en hoe het julle dit verwerk? Of hoe werk die proses in Bittereinder om liedere te keur en gereed te kry vir ’n nuwe album?

Wat’s ’n treffer? Gelukkig het ons drie in punk en metal en conscious-rap bands grootgeword, so dis vir ons eintlik onmoontlik om ooit ’n fully commercial mindset aan te neem. Dis juis hoekom ons altyd ’n medium-sized band sal bly (sien Ons Klyntji van 2011), en ons is doodgelukkig daarmee. Dit sal nooit vir ons sieldodend word om ons songs te sing nie. Ons glo (dalk heel naively) die musiek beteken nog iets.

Dit is interessant dat daar ook veel meer Engelse lirieke op Skerm verskyn as op die vorige albums. Jy het natuurlik jare lank in Engels gekletsrym voor Bittereinder se ontstaan – was die skryf van meer Engelse lirieke vir Bittereinder ’n natuurlike uitvloeisel, of wou julle jul reikwydte bietjie verhoog, of hoe het dié koersverandering gebeur? Is dit ’n aanduiding dat die tweede “i” dalk eendag uit die band se naam gaan val?

Dis definitief een van die dinge waaroor ons baklei het! En om eerlik te wees was en is dit meestal my idee. Ek skryf en dink nog steeds meer en beter in Engels as in Afrikaans, en het vir nege jaar in Engels geskryf en gesing en gerap voor ek in 2007 my eerste Afrikaanse rympies geskryf het, so vir my is dit regtig ’n natuurlike ding. Dis iets wat ek wou probeer, ’n nuwe kreatiewe uitdaging. Dis eintlik effens amusing hoe emosioneel mens kan raak oor taal. Bittereinder was en is grotendeels my eie diep geestelike versoening met my moedertaal en dalk selfs op ’n groter vlak met “my mense”, maar ek voel nie om in Engels te rap is vir my enigsins ’n hensopper move nie.

Heelwat gaskunstenaars maak ’n draai op die album – onder meer is Tim Beumers (soos jy al genoem het) en HemelBesem betrokke. Hoe besluit julle met ’n spesifieke snit dat hierdie een goed sal werk vir ’n gaskunstenaar, en hoe besluit julle wie julle in so ’n geval nader? Wat dra hierdie bydraes by tot die groter geheel van die album?

Die interessante ding van Skerm is eintlik juis hoe min collabs daar op is: net drie (in vergelyking met die 15 gaskunstenaars op die eerste twee albums). Ons het net met Tim Beumers (die enigste kunstenaar wat op al drie albums saamwerk), Tumi Molekane en HemelBesem gewerk, drie usual suspects. Ek is definitief die skudligste wat samewerkings betref – ek kan myself nie keer nie – as ek iemand iets mooi of interessant hoor speel, begin ek dadelik dink hoe ons saam ’n deuntjie sou kon approach. Maar hierdie keer het ons besluit om die drie Bittereinder-stemme meer kans te gee om te rap en te sing – daar’s baie meer sing-along choruses en melody-driven songs as voorheen.

Bittereinder is bekend vir die ongelooflike live vertonings wat die band bied, veral op groot verhoë soos Oppikoppi. Dit sluit aan by ’n vroeëre vraag: Hoe maak ’n mens as die skare se verwagting is dat hulle keer op keer verras en weggeblaas gaan word? Met ander woorde, hoe gaan julle te werk om daardie verrassingselement warm te hou? En wat geniet jy die meeste van die live shows?

Louis dink die heeltyd aan cool nuwe wardrobe en live visual idees, en ons raak natuurlik self verveeld om te veel keer een spesifieke ding te doen live. Hy verras my en Peach gereeld met wat hy opdroom en dan in werklikheid laat verander. Die nuwe astronaut suits vir die Skerm launches is awesome, inspired deur die “Rymtevaarder”-snit. Live shows gaan maar oor connection. Ek geniet main stage shows voor 20 000 mense net soveel soos akoestiese shows by die boonste bar, om Oppikoppi nou as voorbeeld te gebruik. As daar mense is wat connect met wat jy doen op ’n verhoog, en jy kan dit in die lug voel, dan is dit magic.

Jy het self onlangs saam met die grafiese kunstenaar Gerhard van Wyk ’n geïllustreerde digbundel, To form trees when they are young, saamgestel en vrygestel. Wat was die proses en opbou daaragter? Hoe bou dit vir jou uit aan hoe jy jouself as kunstenaar buite Bittereinder ook sien? Wat is die nut van daardie diversiteit en verskillende avenues vir jou?

Baie vrae, laat ek alles in een klap probeer moker. Ek skryf graag, ek geniet dit om woorde op verskillende maniere en in verskillende vorme te gebruik, ek het diep connect met Charles Simic se bundel The World Doesn’t End, en besluit om vir ’n jaar lank ook sulke kort prose poems te skep. My vriend Gerhard was dadelik game om te illustreer, en die hele proses het toe so 20 maande geneem. Ons is moer happy met die eindresultaat – dis so lekker om iets authentically art-driven te maak met geen expectations of pressure nie ...

Bittereinder is nou al ’n paar jaar aan die gang. Wat beplan julle vir die nabye en verre toekoms, vir die onderskeie lede en vir die verdere groei van die groep?

Ons kap dit eintlik maar ’n maand op ’n slag. Ons beplan definitief ’n derde Nederlandse toer in 2015 en ’n klomp nuwe video’s, but we don’t have a five-year plan exactly. Dis miskien deel van hoekom ons ’n medium-sized-thing is!

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top