"birdsmoke": ’n gedig

  • 3

Breyten Breytenbach (foto: voorsien)

Met hierdie gedig lewer Breyten Breytenbach kommentaar op die onlangsverskene gedig deur Benno Barnard, soos vertaal deur Daniel Hugo (die skakel na die gedig waarop kommentaar gelewer word, verskyn hier onder).


birdsmoke 

« for you (I) say ’I’ 
and put it to light 
and put it to flight
to bring it to writing 
the way the soul 
 folds into a bird-like 
origami of fire » 

*

bou vir my ’n hut in jou hart 
van riete 
                 en dek dit met palmietgras uit die rivierbedding 
verweef met die welriekende blare 
van kruie uit jou fynbostuin –

bou vir my ’n skuiling in jou hart
met ’n kers in ’n blaker om die heenkomspad 
aan te dui 
                  wanneer ek terugkom 
                  van my dodereis 

laat die kers omval 
en die kaia aan die brand steek 
sodat die vlamme my vlerke verteer 
en alles lekker ruik 
wanneer ek weer tuiskom 
van die dodereis 
om veras te word in jou hart 

het ek al vir jou gesê 
jou hart is ’n nessie 
vir die bergswael?

miskien is dit beter om dit nie te weet nie 

is dit dan waar 
soos ek dit op my hurke gewaar
die kere wat ek oor kon vaar 
na Anderland waar die dooies 
                                    en die gode woon 
teen die hange van hoë pieke ...
en jy dag en nag ’n vlek was 
gebrand in my netvlies 
om die streep te trek 
deur hand-bo-die-oë-se-soek 
na skrywe 
                  se rook – 

dat jy die boodskappervoëltjie is 
om my na anderkant te vergesel 
om vir die gode te vertel 
hier kom ’n sterfling 
met sy vel reismerke 
en die hand vol vere 
om te verhaal van hemel en hel
                  op aarde – 

en dat hy om asiel gaan vra 
vir die siel waarna hy gesoek het 
                  in gedigte 
in die aandgesigte van lewe en van dood? 

miskien is dit beter om nie te weet nie

*

neem die as nou 
en plaas dit in ’n bootjie van papier 

laat die vel beteken wees 
met die sonvlugte van voëls 

en wag dan vir digte mis 
wat skuur oor die land en alles uitvee 

voor jy dit van wal stuur 
met ’n afskeidsgroet se vaar wel  

om die skier vlug van die voël 
se patrone van volbranding nie te vergeet 
met ander woorde: skryf jy dit alles 
op en neer hiér en hiér en hier 

(8.2.2020)

*

maar hoe gee ek voor 
jou vingers het nie my verste vlugte vergesel 
na die verborge vasteland van bevryding nie? 
hoe moet ek maak om verlangewoorde 
op die wind te vergeet? 

my verloofde: 
                  sal ons ten spyte van die seer 
tog nog vlerke vleg 
om ons begeerte na vervoering 
verder te neem in die niet? 

sal jy ooit weer jou vrouwees voldoende 
                  aan my en aan jou 
kan toevertrou in die vou-intieme huid 
van onthou hoe dit          is 
                                                was 
                                                      moet wees 
om verlei te word tot volkomendheid? 

Lees ook:

Vogelgedichten / Voëlgedigte deur Benno Barnard, vertaal deur Daniel Hugo

 

  • 3

Kommentaar

  • Johan van der Merwe

    Wow Breyten, jy is die meester na wie ek hunker op die pad van woorde, draai, omdraai, verdraai om my hart te stuur, na sin in hierdie lewe, waar so min van is hierdie laaste jare. Saluut, grootman jou woorde word my vlerke waarmee ek ook graag wil vlieg, al is dit net 'n entjie, om weer waardigheid en respek raak te vlieg...

  • DIE WINTER VAN MY TERUGVLUG

    in my letter van papier gevou
    sal jy my siel in vlug gewaar
    waar dit brandend op die terugtog
    as 'n houer as vertoon
    en jy sal my in volle glorie
    sien as blikkantien
    soos siele straatlangs rol
    al klaterend opsoek na
    asiel in 'n eenkantland
    aan hul beloof
    maak jy solank
    die nisse vol

  • Hanneke Jordaan

    Jy bly ons meesterdigter - met digkunsvlerke van 'n arend vlieg jy immer met ons siele na nuwe literêre hoogtes!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top