Bird Eiland: die skoot in die anus – feit of stadslegende?

  • 7

In die omstrede boek Die seuns van Bird Eiland deur Mark Minnie en Chris Steyn word die bewering gekoester dat die oudminister van verdediging Magnus Malan ’n skoot met ’n wapen in ’n jong seun se anus afgevuur het. Die beseerde seun is toe met ’n weermaghelikopter van Birdeiland na ’n staatshospitaal in Port Elizabeth geneem waar hy ’n lewensreddende operasie ondergaan het. Hy het die vyf uur lange operasie oorleef en is ná ’n week ontslaan.

Sonder om die meriete van die breër bewerings van pedofilie teen Malan te ondersoek, ontstaan die vraag: Wat is die kans dat ’n jong seun wat met ’n militêre wapen in die anus geskiet word, dit hoegenaamd sal oorleef, en indien wel, dat hy ná ’n week ontslaan kan word?

By ballistiese verwonding is die kaliber uiteraard ’n belangrike faktor. Dit is ongelukkig nie duidelik in die boek watter kaliber wapen Malan in die seun se anus sou opgedruk en afgevuur het nie. Standaard-weermagwapens sluit R1-, R4- en R5-langloopwapens en die 9 mm- (Z88-) handwapen in, en hierdie artikel sal slegs na hierdie wapens as moontlike kandidate kyk. (R1 = 7,62 x 51 mm; R4 en R5 = 5,56 x 45 mm.)

Omdat dit later ter sprake kom en die relevansie daarvan uitgelig sal word, moet daar eers vlugtig gekyk word na die basiese werking van ammunisie en wapens. Daar gaan egter nie op fyn tegniese besonderhede ingegaan word nie, en die poging is bloot om ’n paar kernbeginsels te verduidelik en terminologie daar te stel.

’n Volle ronde (of patroon) bestaan uit ’n doppie met ’n koeëlpunt (“punt” of “projektiel”) wat stewig in die opening van die doppie vasgeklem is. In die basis van die doppie is daar ’n slagdoppie wat ’n klein hoeveelheid ontstekingmengsel bevat, en die spasie tussen die slagdoppie en die punt is met kruit gevul. Wanneer die slagpen teen die slagdoppie slaan nadat die sneller getrek is, steek die vonk wat die slagdoppie verskaf, die kruit in die doppie aan die brand. As gevolg van die skielike hitte wat geskep word tydens ontbranding, bou daar lugdruk in die doppie op en die punt word as gevolg van hierdie hoë druk wat uitlaat soek, teen hoë spoed uit die doppie en in die loop af na buite gedwing.

Omdat handwapens se doppies minder kruit bevat as die langer doppies van langloopwapens, is die druk wat daarin geskep word minder en trek die punte daarom stadiger as die punte van langloopwapens. Militêre langloopwapens se koeëls trek tussen 820 en 980 meter per sekonde en dié van handwapens, soos die 9 mm, in die omgewing van 350 meter per sekonde.

Koeëlpunte kan skerp, rondeneus of holpunt wees. Die kern is normaalweg lood wat met koper of koperallooi bedek is. Wanneer ’n punt ten volle bedek is, staan dit bekend as ’n skerppunt.

Langloopwapens, soos die R1-, R4- en R5-aanvalswapens, se punte mag volgens internasionale konvensie slegs skerppunt wees. Handwapens, soos die 9 mm, se punte is meestal rondeneus, maar kan ook holpunt wees. Laasgenoemde blom oop tydens impak, wat penetrasie verlaag, maar wat ’n hoër verwondingspotensiaal het as gevolg van die hoër weerstand wat dit bied (en ook omdat dit kan opbreek in fragmente op impak en/of tydens penetrasie).

Oor die algemeen vind verwonding plaas wanneer daar anatomiese versteuring van die kontinuïteit van weefsel is as gevolg van ’n krag wat daarop uitgeoefen word. Die omvang van ’n skietwond word bepaal deur die versteuring van weefselkontinuïteit, wat veroorsaak word deur die meganiese interaksie tussen die projektiel en die weefsels. Die kinetiese energie van die projektiel, wat afhang van die behaalde spoed en die massa van die projektiel, word oorgedra na die weefsel. Vir verwonding om plaas te vind, moet van of al die kinetiese energie van die projektiel na die weefsel oorgedra word (Saukko 2004).

Die kinetiese energie (KE = 1/2MV²) van die projektiel vermeerder eksponensieel met ’n toename in spoed (velocity) en die graad van verwonding word daarom eerder deur die spoed as deur die massa van die projektiel bepaal.

Die skerpheid van die punt, asook die mate waartoe dit kan vervorm op impak, is ook faktore wat bepalend is in die resulterende verwonding, omdat dit die weerstandsdinamika en energie-oordrag bepaal.

Wanneer ’n koeëlpunt ’n liggaam binnedring, word dit deur die digtheid van weefsel gekonfronteer (daar is weerstand) en die normale simmetriese omwenteling van die projektiel om sy as word versteur – die punt begin wankel en kan selfs gat-oor-kop begin tuimel. Omdat daar nou groter oordrag van kinetiese energie na die weefsel is as gevolg van verhoogde weerstand, word die verwondingspotensiaal verhoog (Dada 2001).

By laerspoed-projektiele, bo die spoed van klank in lug, stuur die projektiel wat deur weefsel trek, ’n drukgolf voor die laserasiekanaal uit wat ongeveer gelyk is aan die spoed van klank in water (1 500 m/s). Hoewel hierdie golf kortstondig is, verhoog dit die druk in die weefsel rondom die wondkanaal tot ekstreme vlakke, op tot duisende kilopaskale. In weefsels soos die lewer kan hierdie skokgolf versteuring van weefsel in ’n wyer sone rondom die wondkanaal veroorsaak en kan dit verder gepropageer word in hol vloeistofbevattende vate en afgeleë vaskulêre skade aanrig (Saukko 2004).

By hoërspoed-projektiele word die molekules van die weefsel aanliggend tot die wondkanaal versnel en die weefsel word weggewerp vanaf die projektielbaan en skep dermate ’n tydelike holte rondom die projektielbaan. Die bewegende projektiel verplaas die weefsel in sy pad op ’n soortgelyke wyse as wat ’n bewegende boot water verplaas. Hoe groter die aanvanklike kinetiese energie en hoe meer energie die projektiel as gevolg van weerstand oordra, hoe groter is hierdie effek. Tydens hierdie proses, wat slegs ’n paar duisendstes van ’n sekonde duur, vind daar ’n reeks pulsasies en sametrekkings plaas voordat die skokgolf stop en ’n permanente holte (die wondkanaal) laat. Afhangende van die kaliber en dus die spoed van die projektiel kan die tydelike holte tot 11 keer die deursnee van die projektiel wees (De Maio 1998). Die druk in hierdie tydelike holte kan tot 200 maal die atmosferiese druk wees (Dada 2001).

Afgesien van die fisieke verwonding (laserasie en breking van weefsel) word onsuiwerhede in die wondkanaal ingesuig as gevolg van hierdie byna-vakuum (Saukko 2004).

Omdat daar soveel veranderlikes ter sprake is, is ballistiese verwonding moeilik om te voorspel, maar daar is geen rede hoekom ’n skoot in die anus minder ernstig hoef te wees as enige ander skoot nie. Die teendeel is waarskynlik eerder waar. Dink aan die mens as ’n vertikale kolom waarbinne die organe en strukture bo-op mekaar gepak is. Hoewel nie al die organe mekaar oorvleuel of van kant tot kant strek nie, as jy iemand van die anus af skiet en die punt trek losweg reglynig boontoe, is daar heelwat meer organe wat moontlik beseer kan word as wanneer jy iemand van die kant of van voor af in die lyf skiet.

Natuurlik hang die omvang van verwonding ook af van die hoek waarteen so ’n skoot gevuur sou word. Indien ’n betreklik reguit-opwaartse skoot vanaf die anus op hart se kant toe oorweeg word, het die projektiel die potensiaal om deur die rektum, dikderm, dunderm, maag, lewer, longe en hart te beweeg – afhangende van die trajek, nie noodwendig deur ál hierdie strukture nie, maar ’n goeie kombinasie hiervan is moontlik. Gegewe die weefselaard van die dermkanaal, wat betreklik minder weerstand bied (teenoor byvoorbeeld spierweefsel), en gegewe die penetrasiepotensiaal van die gemelde kalibers (wat skerppunt of rondeneus is en nie holpunt nie), kan verwag word dat die punt deur die diafragma tot in die borsholte sou kon trek.

Die borsholte word aan die onderkant van die longe afgesluit deur die diafragma, ’n koepelvormige muskulêre struktuur. Die diafragma onderhou die geslote spasie waarin die longe geleë is; wanneer die diafragma af beweeg, verminder die druk in die borsholte byvoorbeeld, wat die longe laat uitsit en lug die longe laat inbeweeg. Wanneer die diafragma beskadig word, word die geslote lugspasie se funksie belemmer en asemhaling word kompromitteer. Bykomend hiertoe kan groter druk in die abdominale holte as in die borsholte veroorsaak dat inhoud van die abdominale holte in die borsholte opgedruk word wanneer daar ’n defek in die diafragma ontstaan (Dada 2001).

By ’n skoot wat in die anus afgevuur word, is daar egter ’n belangrike faktor wat verwonding eksponensieel sal verhoog. Soos vroeër verduidelik, soos wat die kruit in die doppie ontbrand, word ’n skielike (en hoë) druk in die doppie en loop geskep wat die projektiel vorentoe en na buite stoot. Soos wat die patroon die loop verlaat, bars die warm, uitsettende lug en verbrandingsgasse met ’n skokgolfeffek by die loop uit. Met ’n loop in die anus opgedruk word hier skokgolf nie in die ope lug vrygestel nie, maar in ’n beknopte en digte spasie. Dit moet iewers heen gaan. Waarheen gaan dit in die lyf van ’n 14-jarige seun? Onthou, weerstand veroorsaak besering.

Daar is verskeie video’s op YouTube wat skote met handwapens in stadige aksie wys. Hier onder is ’n video uit “Super slow-motion video of bullets leaving a handgun” (Oregonia 2016). Hoewel ’n .40-kaliber gebruik is (wat ’n effe groter punt as die 9 mm het, maar stadiger trek), is die beginsel dieselfde. Geneem teen 25 000 rame per sekonde, is die gasvlambol selfs in hierdie superstadige aksie slegs oombliklik sigbaar. Teen 6 900 rame per sekonde kan die vlambol glad nie eens gesien word nie. Dit gee mens ’n idee van die oombliklike uitsetting van die gas en die omvang van die skokgolf wat in ‘n liggaam vrygestel sou word.

In die anus afgevuur, word ’n wesentlik anderse scenario gepresenteer as wanneer die skoot van buite die liggaam in die liggaam ingeskiet word, waar die gas in die ope lug dissipeer. In die anus afgevuur, word daar nie slegs tydelike en permanente holtes geskep wat reeds beserings veroorsaak nie, maar boonop word hierdie uitlaatgasse teen hoë druk en uitsetting in die wondkanaal ingejaag.

Waarskynlik die mees vernietigende verwonding sal veroorsaak word deur hidrostatiese druk wat deur hierdie gasskokgolf veroorsaak sal word. Weefselbeskadiging by skietwonde hang af van die waterinhoud en elastisiteit van die weefsel. Die liggaam bestaan uit ’n groot komponent water – elke sel van elke orgaan bevat water; so ook bloed, wat uit 92% water bestaan. Liggaamsvloeistowwe kan nie saamgepers word nie en word met die geringste druk verplaas. Hierdie hidrostatiese druk kan bloed in die hart en groter bloedvate verplaas, wat die druk in die bloedsomloopstelsel verhoog en kleiner bloedvate elders in die liggaam kan laat bars (Dada 2001). Tesame met die weefselbesering en -verplasing wat deur die punt veroorsaak word soos dit teen hoë spoed deur die weefsel baan, sal die gasskokgolf en die gepaardgaande hidrostatiese druk terselfdertyd vernietigende druk op organe, bloedvate, senuwees en ander strukture plaas.

Die liggaam sal in ’n hipovolemiese skoktoestand gaan as gevolg van bloedverlies. Onsuiwerhede en onverbrande kruitpartikels, sypelende liggaamsvloeistowwe, insluitende die bakteriegevulde inhoud van die verteringstelsel, word die liggaam ingewerp, wat infeksies en bloedvergiftiging tot gevolg kan hê. Lugembolismes kan ook ontstaan as lugborrels as gevolg van die gasontlading in die bloedstroom beland.

Die binnekant van die lyf, veral die abdominale holte, sal ’n totale gemors wees.

*

Fatale skote deur selfs loskruitpatrone (blanks) as gevolg van die gemelde effek van die gasontlading is goed gedokumenteer.

In ’n akademiese artikel deur Perdekamp ea (2014) word die selfmoordgeval beskryf van ’n kontakskoot met ’n .45-kaliber-loskruitpatroon in die bors:

Autopsy revealed an oversized powder cavity, multiple fractures of the anterior thoracic wall as well as ruptures of the heart, the aorta, the left hepatic lobe and the diaphragm. In total, the zone of mechanical destruction had a diameter of approx 15 cm. As there was no exit wound and no bullet lodged in the body, the injury was caused exclusively by the inrushing combustion gases of the propellant (black powder) comparable with the gas jet of a blank cartridge gun.

Afgesien van die beserings (ruptures) aan die hart, aorta, lewer en diafragma, het die gasontlading selfs frakture van die ribbebene veroorsaak. (Die .45-kaliber se punt is effe groter as dié van die 9 mm, maar trek stadiger.) Selfs al was ’n punt nie ter sprake nie, wys dit ook dat verwonding nie slegs in ’n dun, sentrale baan plaasvind nie.

In ’n akademiese artikel deur Buyuk ea (2009) word twee selfmoordgevalle beskryf waar die wapens – met loskruitpatrone gelaai – teen die temporale area van die skedel gedruk is.

There was no foreign body on radiological examination and there was no trajectory of a bullet inside the brain. In both cases the wound was at the right temporal region and there was defect at temporal bone. There was circular soot around this bone defect. The injury of the brain tissue was localized at the level of the defect but there was widespread subarachnoidal bleeding.

Hierdie artikel toon aan hoe die gasontlading vanuit ’n loskruitpatroon selfs skedelbeen kan breek.

Daar is minstens twee aangetekende gevalle van akteurs wat op die stel deur loskruitpatrone doodgeskiet is. Johann Ofner is noodlottig in die bors geskiet gedurende die maak van ’n musiekvideo, en Jon-Erik Hexum het toe daar vertragings op die stel was, rondgespeel met ’n wapen wat met ’n loskruitpatroon gelaai was en dit speels teen sy kop gedruk en die sneller getrek. ’n Beenfragment het sy brein binnegeskiet en hy het kort daarna gesterf (Retroist 2018; Phillips 2017).

Hier is ’n video wat wys hoe ’n loskruitpatroon van buite op ’n plastiekbotteltjie geskiet word, en hoe die bottel as gevolg van die gasontlading bars. Let op die ingangs- en uitgangsdefekte aan weerskante van die bottel – asof dit met ’n punt geskiet is. Dit wys nie slegs die vernietigende effek van die warm gas wat gekonsentreerd (byna soos ’n blaasvlam) by die loop uitstroom nie, maar dit wys ook die vernietigende effek van die uitsetting van die gas soos dit die bottel laat bars (Brown 2015).

Ter verdere verduideliking volg hier ’n paar skermskote uit die video, met onderskrifte.

Bo: Die wapen word teen die bottel gedruk voordat die sneller getrek word.

 Bo: Oomblikke nadat die sneller getrek is. Let op dat ván die gas buite die bottel ontlaai word en daarom minder druk in die bottel sou veroorsaak – maar let ook op die oranje gasvlam in die bottel. Daar is geen duidelike eenstemmigheid oor die temperatuur van hierdie tipe gasvlam nie, maar verskeie bronne meld dat die temperatuur van die kruit sowat 1 800o C kan bereik wanneer dit in die doppie ontbrand. Dit gebeur natuurlik in ’n breukdeel van ’n sekonde en daar is vinnige energieverlies, maar dit kan aanvaar word dat die gas wat die loop verlaat, steeds siedend warm is. Op wapenforums word gemeld dat die temperatuur van die punt 100–300o C is wanneer dit die loop verlaat.

Bo: Die bottel het aan sy bokant heeltemal oopgebars. Hoewel die patroon nie ’n punt in gehad het nie, het die warm gas steeds regdeur die bottel geskiet.

Bo: Daar is selfs ’n uitgangsdefek soos wat die gekonsentreerde, warm gas deur die bottel geskiet het.

Die volgende video is spesiaal vir die doel van hierdie artikel geneem, by City Guns in Kaapstad, uitgevoer deur Alan Marthezé, ‘n wapenkenner en -instrukteur. Dit moet duidelik gemeld word dat die vooropstelling nié is dat die waterbottels die liggaam ten volle simuleer nie. Daar is natuurlik heelwat verskille tussen die twee scenario’s. Die bottel se plastiekwand is harder en minder elasties as die sagte weefsel van byvoorbeeld die derms. Hoewel die liggaam uit baie water bestaan, is die watervolume en -digtheid in die bottels disproporsioneel hoër. Maar aan die ander kant is die 5 liter-bottel groter as die abdominale holte (en het daarom meer spasie om inkomende lug of gas te akkommodeer), en die wapen steek nie in die bottel in soos wat dit in die anus vasgeklem sou word en meer gas binne sou hou nie. Die primêre doel is eerder om ’n basiese idee te gee van die effek van die gasontlading in water in ’n beperkte spasie (dus die effek van hidrostatiese druk) en dan sekondêr om te wys hoe ’n 9 mm deur 52 cm watermassa skiet.

Ter verdere bespreking volg hier ’n paar skermskote uit die video, met onderskrifte.

Bo: Die wapen word teen die dop van die bottel gedruk en nie in die bottel in nie. Dit is bloot om praktiese redes gedoen, maar as gevolg daarvan sal nie ál die gas in die bottel ontlaai nie.

Bo: Die water word as gevolg van die beweging van die punt deur water én as gevolg van die ingejaagde en uitsettende druk teen hoë spoed en gefragmenteerd in ’n breukdeel van ’n sekonde meters ver gewerp.

Bo: Die oopgebarste 5 liter-bottel oomblikke nadat die punt daardeur is. Let op die water op die paneel agter teen die muur.

Bo: Die boonste gedeelte van die bottel het heeltemal oopgebars.

Bo: Die onderkant van die bottel, wat nogal besonder hard is (maar relatief tot byvoorbeeld glas elasties is), het stervormig gebars.

Bo: Die tweede bottel wys ’n groot defek (middel onder) en ’n lang skeur in die middelste gedeelte daarvan.

Bo: Selfs die derde botteltjie wys duidelike defekte. Hierdie bottel is gedefekteer nadat die punt reeds deur sowat 45 cm digte watermassa beweeg het.

Om te herhaal: Hoewel hierdie uitkomste op plastiekbottels nie getrou vergelykbaar is met die meer elastiese weefsel en ander dinamika van die liggaam nie, illustreer dit wel die geweldige krag van die gasuitsetting, en ook die penetrasievermoë van ’n 9 mm-punt. Die punt het met gemak deur al drie bottels getrek en al drie beskadig. ’n Baie belangrike punt om in ag te neem is dat hierdie die effek van ’n 9 mm-skoot illustreer. Hoewel die punte van langloopwapens kleiner is, trek dit bykans drie maal vinniger en is die gasontlading veel meer omdat daar meer kruit in die doppie ontbrand; die kleiner punt met hoër spoed sal ook groter potensiële kinetiese energie en penetrasiepotensiaal hê, en daarom sal die resultate van ’n langloopwapen van ’n soortgelyke toets (en in die liggaam beskou), veel meer katastrofies wees.

*

As ’n skoot in die liggaam van ’n seun beskou word, is daar natuurlik baie verwondingspermutasies, afhangend van die hoek en die pad van die punt – byvoorbeeld ’n skoot met ’n trajek na agter kon in die werwelkolom eindig; ’n trajek na die kante kon selfs die bekken gefragmenteer het. ’n Skoot na voor sou die liggaam bes moontlik tussen die pubisgebied en naeltjie verlaat het en ’n oop uitgangswond gelaat het. In alle gevalle sou daar interne verwonding wees wat sinergisties verhoog sou wees deur die effek van die gasskokgolf binne die liggaam. Indien die projektiel nie die liggaam verlaat het nie, is daar natuurlik nog die verwydering van die projektiel ook, wat, gegewe ’n skoot reg na bo in die borsholte kon eindig. Dink jou die operasie en hersteltyd in so ’n geval in.

Dit is ook belangrik om na die gekombineerde en sinergistiese effekte van verwonding te kyk. Mens kan dalk een besering oorleef, maar twee of drie saam skep ’n eksponensiële probleem. ’n Gewonde persoon kan byvoorbeeld dalk nog ’n lae bloeddruk as gevolg van ’n gebreekte bloedsomloopstelsel en gepaardgaande bloedverlies hanteer, maar wanneer daar boonop belemmerde asemhaling en dus belemmerde suurstofopname is, word suurstofvoorsiening na onder meer die hartspiere en spiere wat nodig is vir asemhaling, in ’n groter mate verlaag – wat nou die hartklop én asemhaling vertraag en gevolglik suurstofopname en -voorsiening verder verlaag. So word ’n destruktiewe kringloop geskep waar organe se funksionaliteit algaande afneem en weefsel selfs kan afsterf as gevolg van suurstofgebrek. As gevolg van die gekompromitteerde omloopstelsel waar teenliggame nie soos normaalweg versprei en afgelewer word nie, verloor die liggaam sy vermoë om infeksies te hanteer. So vind daar ’n destruktiewe domino-effek plaas. Die moontlike sekondêre en tersiêre komplikasies is te veel om hier verder te bespreek.

Mens sou graag na slegs die mediese feite wou kyk, maar in die patologie is daar ’n sêding: “Seldom say never; seldom say always.” Daar is uitsonderings. Mense stap soms uit gru-ongelukke weg sonder ’n skrapie. Die groter storie (soos dit op hierdie beweerde voorval betrekking het) moet egter ook holisties en rasioneel in oënskou geneem word.

Hier is ’n 14-jarige ter sprake, nie ’n tawwe grootmens nie, en as hy op Birdeiland, wat 52 km van Port Elizabeth geleë is, beseer is, sou dit, self per helikopter, minstens 40 minute geneem het van besering tot operasie. Die beserings en bloeding sou intern gewees het en dit is nie asof hulle ’n tou om ’n bloeiende been of arm kon draai om die bloeding te stop nie. Volgens die enigmatiese verpleegster wat die storie aan Minnie oorvertel het, is die seun ná die operasie die saal ingestoot met slegs ’n drup aan – geen lewensbystandsmasjiene of intensiewe sorg nie. Die verpleegster word nie gevra om na hom te kyk nie, en slegs een matrone mag na hom omsien. Ná ’n skoot wat op die heel minste, en uiters konserwatief beskou, sy rektum en klein- en groot ingewande baie ernstig sou beseer het, word hy ná ’n week ontslaan?

’n Vraag wat hierby gevra moet word: As John Wiley en Dave Allen op instruksie van Magnus Malan vermoor is (een op ’n ope strand en die ander in sy huis waar sy vrou in die omgewing was) om hul monde toe te hou, soos wat in die boek geïnsinueer word, hoekom hierdie seun goedsmoeds hospitaal toe vat – wat baie aandag sou trek en waar vrae gevra kon word, en hy alles kon uitblaker? En dan word hy boonop ontslaan. Hoekom hom dan nie maar op pad van Birdeiland eerder stil-stil in die see gooi nie? Laat raak hom eerder weg as om hom hospitaal toe te neem waar hy kan praat. Dit sou bloot dom wees en maak geen sin nie.

*

Skrywersnota: Nadat die artikel geskryf is, is dit op kort kennis voor spertyd aan dr Leon Wagner, ’n forensiese patoloog in Bloemfontein, gestuur. Dr Wagner is ook ’n wapenversamelaar (wat sy eie ammunisie herlaai) en waarskynlik die land se voorste kenner oor ballistiese verwonding. Hier volg ’n ruweg verbatim opsomming van sy bykomende kommentaar:

Dit moet beklemtoon word dat ’n skoot afgevuur in die anus van enige persoon geweldige implikasies/komplikasies het. As gekyk word na die anatomie van die anus en dan veral na die hoek van die anus-rektum, sal die projektiel se verloop en as nie beperk word tot die dermkanaal nie.

Die drukgolwe voor die projektiel se omvang asook volume kan nie deur die anale dermkanaal geabsorbeer word nie – gekyk na die anatomie asook die hidrouliese effekte en die tempo van uitsetting/uitrekking. Bloedvate kan geredelik drukking hanteer – binne perke natuurlik – maar is baie meer kwesbaar vir uitrekking. En hier word veral na die kapillêre bed verwys. Dus is uitrekking én perforasie van die dermkanaal onvermydelik. Die trajek – met of sonder defleksie – wat geredelik in die omringende bekkengordel kan plaasvind – sal beskadiging van hetsy groter bloedvate en senuwees onvermydelik maak. Die meganiese beskadiging van bloedvate sal baie spoedig tot hipovolemiese skok lei. As die bekken se senuwees wat deur die sakrale foramina die bekkenholte binnedring, beskadig word, is aspekte soos blaasinkontinensie, anale inkontinensie en parese van ledemate op die tafel. Afhangende van die trajek, moet die blaas, niere, ureters en die parasimpatiese plexi-senuwees ook in gedagte gehou word.

Die groter probleem is infeksie. Bykans 60% van die kolon-inhoud is mikro organismes. Enige beskadiging van die dermwand óf die bloedvoorsiening van die dermwand (afsterf van dermwand weens inkorting van kapillêre bloedvloei van die dermwand met gevolglike lekkasies) sal onvermydelik tot infeksie lei. So ’n anale skietwond moet gesien word as ’n chirurgiese noodgeval.

Die feit dat dié seun ná ’n week ontslaan word? Die omvang van die ballistiese skade – en ek verwys nog die heeltyd na ’n handwapen – is sodanig dat die pasiënt besonder gelukkig geag moet word om ná 7 dae al uit ’n chirurgiese intensiewe sorgeenheid na ’n hoësorg oorgeplaas te word. Ontslag is nie eers op die agenda nie.

Die bewering dat die seun in die anus met enige vuurwapen (en dit sluit ’n windbuks in) geskiet is, is onversoenbaar met die mediese asook ballistiese effekte en komplikasies wat onvermydelik is en wat opvallend ontbreek in die beweringe wat gemaak is.

Dr Wagner meld dat met die beperkte tyd tot sy beskikking, hierdie slegs enkele bykomende aspekte is wat hy kon aanraak en dat hy oor die breër mediese aspekte baie meer sou kon uitwei.

*

 

Thomas Mollett voltooi vanjaar sy meestersgraad in biomediese forensiese wetenskap aan die Universiteit van Kaapstad. Hierdie artikel is onafhanklik in sy persoonlike hoedanigheid geskryf en verteenwoordig nie die mening van die universiteit of enige departement of afdeling daarvan nie.

 

 Bronnelys

Brown, D. 2015. How harmful is a blank bullet? [Video]. Beskikbaar: https://www.youtube.com/watch?v=BXwPxSB7txk [2019, 13 Mei].

Buyuk, Y, S Cagdir, A Avsar, GU Duman, DO Melez en F Sahin. 2009. Fatal cranial shot by blank cartridge gun: Two suicide cases. Journal of Forensic Science. Beskikbaar: https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pubmed/19573850 [2019, 13 Mei].

Dada, MA en DJ McQuoid-Mason. 2001. Introduction to Medico-Legal Practice. Johannesburg: Butterworths.

Di Maio, VJM en SE Dana. 1998. Handbook of Forensic Pathology. Austen, VSA: Landes Bioscience.

Perdekamp, M, M Glardon, BP Kneubuehl, L Bielefeld ea. 2015. Fatal contact shot to the chest caused by the gas jet from a muzzle-loading pistol discharging only black powder and no bullet: Case study and experimental simulation of the wounding effect. International Journal of Legal Medicine. Beskikbaar: https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pubmed/25119685 [2019, 13 Mei].

Phillips, S en C Adams. 2017. Blank round claim in music video death. Courier Mail. Beskikbaar: https://www.couriermail.com.au/news/queensland/music-video-shooting-victim-posted-prophetic-video-to-instagram/news-story/0d84beec94985f4180b6903d8390d054 [2019, 13 Mei].

Retroist. 2018. The tragic death of Jon-Eric Hexum. The Retroist. Beskikbaar: https://www.retroist.com/2018/11/13/death-jon-eric-hexum/ [2019, 13 Mei].

Saukko, P en B Knight. 2004. Knight’s Forensic Pathology. 3de uitgawe. Londen: Hodder-Arnold.

The Oregonia. 2016. Super slow-motion video of bullets leaving a handgun. [Video]. Beskikbaar: https://www.youtube.com/watch?v=HElQk2wEY5w [2019, 13 Mei].

  • 7

Kommentaar

  • Die artikel vat die waarheid agter hierdie geskietery mooi saam. Dit sou fisies onmoontlik gewees het om sonder ernstige inwendige skade so 'n voorval te kon oorleef. My eerlike opinie is dat hierdie boek saamgeflans is uit 'n magdom waarskynlike onwaarhede. Dit is bloot deel van elke Jan Rap en sy maat se geskrewe pogings om die eertydse regering in 'n al hoe slegter lig te probeer stel. Intussen kan die skrywer hom of haar, al hande wassende, beroem daarop dat hulle nie deel van hierdie regime was nie en alles bloot van buite af aanskou het. Foeitog.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Goeie redenasie. Die skrywer laat na dat anus groot konsentrasie bloedvate bevat, wat selfs aambei-operasie lewensgevaarlik maak. Na bewering was loop in anus gedruk voor skoot afgetrek was. Die korrel voor op sluitstuk sou anus uitgeruk het.

  • Uitstekende artikel Thomas. Ek het op mediese gronde reeds sterk twyfel gehad oor die waarheid van die verhaal. Jou beskrywing van die ballistiese aspekte bevestig my twyfel.

  • Avatar
    Sonja Vorster

    Very interesting Thomas. Well explained in a manner that a lay person can understand the logic and clarify the many questions around these allegations against a highly respected man. I read the book and was left unconvinced with every page I turned. Thank you for your article. I have become one of your biggest fan's from the first book. You are a seeker of the truth. Facts. Substantiated by science, logic, and not using science to twist the truth as it has become the norm in many cases. You do not forget that the victim can no longer speak and that the person with blood on their hands are not the victim. You already are, in my opinion, a force to be reckoned with by any defense team attempting to get a murderer off the hook.

  • Avatar
    Chris Carstens

    Toe hierdie "voorval" genoem is in van die koerantartikels oor die boek, het ek dadelik geweet dat niks wat in hierdie boek genoem word, verder vertrou kan word nie. Jou gesonde verstand sê alreeds dat so 'n besering verreikende gevolge sou hê. En iets waaroor ek steeds wonder: wáár is al die slagoffers?

  • Avatar
    Tom McLachlan

    Ek het geen begeerte om dié prulboek te lees nie, maar wat ek al in sekondêre bronne gelees het, is genoeg om my te laat gril as ek die boek in 'n winkel sien.
    Afgesien van die medies-fisiologiese inligting wat Mollett verstrek en wat bewys dat iemand so 'n anus-skoot baie moeilik sal oorleef, vra hy in sy slotparagraaf (net voor die skrywersnota) die baie geldige vraag waarom die betrokkenes die kans sou waag om die seun na 'n hospitaal te laat neem as die kanse dan groot is dat iemand sal "uitpraat". Dit sluit aan by ander vrae wat ook gevra kan word:
    — Hoe groot is die kanse dat daar op een bepaalde tyd gelyktydig verskeie kabinetslede en senior NP-lede sal wees wat so 'n "ongewone" voorliefde vir seuns sal hê?
    — Selfs al was daar toevallig so 'n klompie gelyktydig, hoe groot is die kanse dat hulle so 'n enigsins afwykende (vir die tyd) voorliefde aan mekaar sal uitblaker?
    — Hoe groot is die kanse dat al die buitestanders (vlieëniers, vlugbeheerbeamptes, helikopterwerktuigkundiges, diegene wat die heli's beskikbaar moes stel en ander militêre personeel, mediese personeel, en ... om nie te praat van die seuns self nie) nooit enigiets teenoor enigiemand anders laat val het nie? So 'n sappige stukkie inligting sou immers êrens gerugte laat ontstaan het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top