
Boekomslag: Tafelberg/Jonathan Ball
Biltong en Dior
Louise Jansen van Vuuren
Tafelberg
SKU: 9780624095231
In 1971 tree ek aan op die kampus van die Universiteit Stellenbosch om mens te word. Binne enkele maande het ek ’n crush op die dosent wat vir ons inlei in die geheimenisse van Afrikaanse en Nederlandse poësie. Riëtte Buhr. Buite my bereik, maar ek kon my oë nie van haar af hou nie.
Op ’n afstand sien ek haar vriendekring raak. Melvyn Minnaar, Philip Zietsman en Louis Jansen van Vuuren. Die lewende vergestalting van beaula. Melvyn en Philip was legendes onder die Afr-Ndl-studente.
Louis Jansen van Vuuren was ’n kunsstudent, getroud met Mary-Lynne, en pa van Blou. Hy was skouspelagtig. ’n Kakebeen wat vandag nog suggereer dat hy dalk iewers van die ou Vrystaatse adel in sy bloedlyn het, ’n Steyn, Horak, Fischer, Fichardt of Wessels. Selfs Joggie Jansen. Blou oë, mooier amper as dié van Pinelands se fameuse Hoffman-susters.
Ek sal nou nie sê dat ek verstand gekry het op Stellenbosch nie. Ek het wel aandagafleibaar geword, en vergeet van Riëtte Buhr. Melvyn en Phillip het ek op ’n afstand bly ken, en Louis Jansen van Vuuren kon niemand ignoreer nie. Deur sy Troy Truter-fase in die apartheidregime se wurgjare was Louis heroïes in ’n sin wat min mense hom dit ooit kon nadoen, al had dit ’n Nommer Asseblief-moment in die denouement.
Daarna sy skilderhoogvlugte en sy Franse jare aan die sy van sy genoot, Hardy Olivier, en sy onverwagse ontluiking as digter van formaat. Die Franse jare is deeglik genotuleer deur ander. Riana Scheepers, Lanie van Reenen en Anet Pienaar-Vosloo is daardeur besiel.
Louis is ’n boorling van Middelburg, Mpumalanga (pre-1994 Oos-Transvaal). Die dorp waarvandaan Peter van Noordt en my niggie Zuni Lombard kom. Wyle prof JP Smuts het ’n konneksie met Middelburg, soos ook my Schumann- en Breytenbach-voorsate. Middelburg se mense verskil heelwat van dié van die buurdorp, Witbank. As jy dit nie geweet het nie, kan ek jou ’n brief gee en sommer ook al die familiekonneksies verduidelik.
Hul lewens verloop dikwels onverwags anders as dié van gewone sterflinge. Louis s’n is ’n uitstekende voorbeeld. Ons het reeds ’n goeie idee daarvan gekry in Amper Frans: ʼn lewe van fanfare en faux pas (2020). Biltong en Dior is ’n voortsetting daarvan, hoewel dit sommige sake weer ophaal.
Dit verskil is dat Biltong en Dior ’n flambojante vermenging is van herinnering en durende feite. Soos in Amper Frans flirteer hy dikwels met een onderwerp terwyl ’n ander aan bod is. Sy woordeskat is kleurryk en flleurig, maar die kern daarvan is geneig om te herhaal. Soos spuwende fonteine. ’n Ander herhalende hebbelikheid is om dikwels net noemname te gebruik van mense wat, in die mate waarin hulle erg interessant is, vanne behoort te hê. Baie van Louis se anekdotes wil mens oorvertel, en dán maak vanne saak.
Biltong en Dior is die soort boek wat saampraat met Peter Mayle se A year in Province. Jy is in vervoering oor die plekke en gewoontes wat hy beskryf. Terwyl jy lees, begin jy in die kantlyne van die boek aantekeninge maak, want dit word ’n soort Baedeker vir ’n besoek aan Frankryk. Mense wat reeds tyd in Frankryk deurgebring het, sal die boek met effe ander oë lees.
Louis se vertelling het ’n Suid-Afrikaanse klankie, want in die verbygaan word die name genoem van vriende uit die sonnige Suide, mense wat bes moontlik nooit in Suid-Afrika paaie met hom en Hardy sou gekruis het nie, maar in Frankryk ontwikkel daar nuwe vriendskappe.
.........
Hoekom ek Biltong en Dior dadelik sou aanbeveel, is oor die resepte en oor die uiters nuttige lys van besiens- en besoekwaardige plekke in Parys en elders.
........
Hoekom ek Biltong en Dior dadelik sou aanbeveel, is oor die resepte en oor die uiters nuttige lys van besiens- en besoekwaardige plekke in Parys en elders. Sommige van die resepte is oud en taamlik bekend, soos dié vir Franse uiesop. Die resep dateer terug na die 18de eeu, toe koning Lodewyk XV dit tydens ’n jagtog geskep het.
Maar dis wanneer hy afwyk van die oorbekende tradisies dat die resepte in die boek vir my op sy lekkerste is. Sy weergawe van cassoulet is een wat wegdeins van die vleistradisie. Heiligskennis? Louis gebruik veganwors of tofu, terwyl die tradisie vra vir varkvleis (Toulouse-wors, pork belly of skouer). In sekere streke word die varkvleis aangevul met eend-confit en ’n verskeidenheid pluimvee. Die groenteaftreksel wat Louis gebruik, is in die plek van ’n aftreksel wat begin by lank gebakte murgbene van bees se kind.
Die ding met ’n goeie resep is dat dit moet kan reis. Die uiesop reis al drie eeue lank; die cassoulet het baie voorgangers en sal nuwe bekeerlinge skep. Louis s’n sal, te oordeel na sy resep, ’n unieke trefkrag hê.
........
Die ding met ’n goeie resep is dat dit moet kan reis. Die uiesop reis al drie eeue lank; die cassoulet het baie voorgangers en sal nuwe bekeerlinge skep. Louis s’n sal, te oordeel na sy resep, ’n unieke trefkrag hê.
.........
Wiehahn van Schalkwyk se biltongresep, wat deur die Franse slagter Thierry Guillemin gebruik word, tot die sielevreugde van al die Suid-Afrikaners in die Boussac-omgewing, is ’n resep wat die wêreld vol sal kan reis. Dit is ’n taamlike lang proses, maar nie ingewikkeld nie. Ek twyfel nie in die eetbaarheid van die resultate nie!
Vir die smulpaap wat ter plaatse wil roekeloos raak met Louis Jansen van Vuuren se begeleidende hand, is daar ’n gebakte-camembert-resep aan die einde van ’n hoofstuk met wonderlike anekdotes rondom die onderwerp van kaas. Lateraan is daar aanwysings oor hoe mens ’n croque-monseur aanmekaarsit, asook een vir ’n pampoenkerrie, wat albei eersdaags ter huise aangedurf sal word.
Algaande ontstaan die indruk by mens dat Louis eintlik té veel anekdotes en stories het (maar nie almal is in Boussac gelokaliseer nie), byvoorbeeld wanneer hy oor bouers en verwers praat. Die vertelling sprei Wes-Kaap toe; later maak hy by die Anglo-Boereoorlog en Middelburg ’n draai. Sy beskrywing van sy en Hardy se EkoPlek op Riebeek-Kasteel is fassinerend, en ‘n teenhanger vir die Weskus-woning wat hy in Amper Frans beskryf.
Straks verby halfpad in die boek kom Louis se groot liefde terdeë aan bod: Parys. Voornemende besoekers aan Parys kan met hierdie boek in die hand vir hulself baie moeite en vermoeienis bespaar. Lees dit stip – alles wat jy nodig het om te weet van die essensie van die stad is hier te lese.
Vir diegene wat daaraan dink om ’n paar weke in ’n airbnb te gaan bly, is hier ook inligting oor kosgebruike, en hoe ’n plek soos Parys jou kos vanoor die wêreld laat inhark. As jou sakke diep is, is jy onder ’n morele verpligting om Louis se truffelbobotie met roosmaryn en pekanneute te maak. Ek sê maar net.
Terwyl mens bladsy vir bladsy inspirasie vir uitstappies, etes en lewenstyl vind, is daar een fout wat genoem moet word, anders gaan baie mense ’n dag in die Père Lachaise-begraafplaas mors op soek na die graf van Breyten Breytenbach. Die digter is nié daar begrawe soos Louis sê nie. Hy is wel daar veras, maar sal nog elders ’n rusplek vind. (Ek wou ook ’n eiertjie lê oor Louis se windskewe opvatting oor boules en pétanque, maar hierdie is nie ’n vitterige resensie nie, en daarom laat ek dit maar daar.)
Die gedeeltes oor Riebeek-Kasteel het nie vir my dieselfde anderwêreldse sjarme as die wye draaie wat Louis in Frankryk gooi nie. Die hoofstuk wat onmisbaar is, is nommer 25, waarin hy uit sy swart boekie ’n lys opstel van plekke in Parys wat mens eenvoudig móét besoek. Dit is die hoofstuk wat Louis se grootste geskenk aan die leser is. Elke lys moet opgevolg word as jy ooit die kans kry. Veral die lys van die passages.
Dis ’n sterk afsluitingshoofstuk. Jy hunker intens as jy die boek toevou.
En nou wonder ek: Wat het van Riëtte Buhr geword?


Kommentaar
Dankie, Kerneels. Jammer oor Breytenbach - is onder die indruk dat sy as steeds by die Père Lachaise is. Ek laat jou weet van Riëtte!