
Twee werklikhede: Die muur (foto deur ElasticComputeFarm Pixabay) en laekostebehuising (foto deur Izak de Vries)
Die N2 tussen Somerset-Wes en Kaapstad Internasionale Lughawe is nie net een van die besigste verkeersroetes in die Wes-Kaap nie, maar ook een van die gevaarlikstes.
Vir duisende motoriste wat dié pad daagliks gebruik, het dit ’n bron van konstante spanning geword: klippe wat uit die donkerte vlieg, bakstene wat windskerms verbrysel, skerp voorwerpe wat doelbewus op die teer geplaas word, pap wiele wat allesbehalwe toevallig voel, en die voortdurende vrees dat ’n noodgedwonge stilhouplek jou laaste kan wees.
Teen dié agtergrond het die Stad Kaapstad ’n omstrede besluit geneem: die goedkeuring van ’n begroting van sowat R115 miljoen vir die oprigting van ’n hoë veiligheidsmuur of skeidingstruktuur langs dele van die N2-korridor, veral naby woonbuurte tussen die lughawe en die Helderberg. Die doel, sê die Stad, is eenvoudig: om lewens te red.
Die N2 Edge Safety Project teiken die berugte 9 km lange “Hell run” tussen veral Somerset-Wes en die lughawe, waar klip- en baksteengooiery vanaf oorbrûe aan die orde van die dag is, ’n praktyk wat reeds mense se lewens geëis het, soos dié van die 69-jarige Leonie van der Westhuizen. Voeg hierby voetgangers wat hul lewens waag deur die snelweg oor te steek omdat daar geen veilige oorsteekpunte is nie, asook diere wat op onomheinde of vervalle stukke grond langs die pad wei.
Die gevolg is ’n snelweg waar ’n ongeskrewe reël onder motoriste geld: Kry jy ’n pap wiel, hou aan ry tot jy veilig is, al beskadig dit jou voertuig.
Maar is ’n muur werklik die antwoord?
Vir inwoners van Somerset-Wes en ander dele van die Helderberg is die gevaar op die N2 nie ’n abstrakte konsep nie. Dit is ’n daaglikse ervaring.
Volgens beskikbare inligting het wetstoepassers tussen November 2024 en November 2025 op meer as 2 200 misdaadverwante voorvalle langs die N2- en R300-korridors gereageer. Dit sluit in klipgooiery, rooftogte, skietvoorvalle en pogings om voertuie tot stilstand te dwing. En dit is slegs die gerapporteerde gevalle.
Die bynaam “Hell run” vir hierdie deel van die N2 is ’n skrikwekkende, maar veelseggende beskrywing van hoe gevaarlik die roete ervaar word, veral deur besoekers wat vanaf die lughawe ry.
Die Stad Kaapstad sê die projek is’n noodsaaklike ingryping. Die plan behels nie bloot ’n eenvoudige draadheining nie, maar ’n robuuste beton- of hoësekuriteitstruktuur, gekombineer met ander maatreëls, soos beter beligting, moontlik CCTV en beter beheer oor toegang tot die snelweg.
Die argument is dat fisiese skeiding tussen die snelweg en omliggende woongebiede die geleentheid vir aanvalle dramaties sal verminder – veral klipgooiery en die gedwonge stilhou van voertuie. Die Stad erken dat die N2 tegnies ’n nasionale pad onder Sanral is, maar voer aan dat hy nie kan wag terwyl mense se lewens in gevaar is nie.
Teenstanders van die projek sien dit egter anders. Kritici – onder wie politieke partye en gemeenskapsaktiviste – beskryf die muur as ’n simboliese “hok” wat armer gemeenskappe afsonder; ’n duur pleister oor ’n diep sosio-ekonomiese wond; en ’n poging om armoede en ongelykheid vir toeriste weg te steek eerder as om dit aan te spreek.
Hulle vra of die R115 miljoen nie beter bestee sou wees aan behuising, werkskepping, basiese dienste en infrastruktuur in die gemeenskappe langs die N2 nie. Is ’n muur nie bloot ’n erkenning dat die staat nie meer die vermoë het om orde en veiligheid doeltreffend te handhaaf nie?
Vergelykings met apartheid se skeidingsbeleid, en selfs met internasionale mure soos dié in Berlyn of Gaza, word dikwels emosioneel gebruik. Dit wys hoe diep die debat sny en hoe sterk die simboliek van ’n muur in Suid-Afrika se geskiedenis resoneer.
Een van die uitgesproke teenstanders is die ANC se Kaapstadse koukusleier, Ndithini Tyhido, wat die projek die “Suid-Afrikaanse Berlynse Muur” genoem het. Volgens hom is die doel daarvan om armoede uit sig te hou vir toeriste wat van en na Kaapstad Internasionale Lughawe reis. Die ANC het voorgestel dat die geld eerder in gemeenskapsgebaseerde misdaadvoorkoming belê word, soos verhoogde ondersteuning vir buurtwagte.
Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se kommissaris, Chris Nissen, meen ook die voorgenome besteding is erg misplaas. Hy voer aan dat fondse eerder vir behoorlike behuising, onderwys en die bou van brûe tussen gemeenskappe soos Nyanga en Crossroads aangewend moet word, eerder as vir nuwe hindernisse.
Verteenwoordigers van die GOOD Party, Siyabulela Mamkeli en Chad Davids, het die projek tydens ’n perskonferensie as moreel verward en swak bestuur beskryf.
Selfs onder ondersteuners van die plan is daar skeptisisme. Suid-Afrikaners het al gesien hoe baksteenmure, staalheinings en betonstrukture sistematies afgebreek en die materiaal gesteel word. Die vraag is nie net of die muur gebou kan word nie, maar of dit oor tyd beskerm, onderhou en doeltreffend beveilig kan word.
Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, se standpunt is dat dit nie regverdig is teenoor die honderde duisende daaglikse gebruikers van die N2 dat hulle aan die genade van ’n klein groep kriminele elemente oorgelaat word nie.
In ’n onlangse toespraak in die stadsraad het hy gesê die projek is ’n belangrike deel van ’n breër plan om veiligheid langs die N2 in die omgewing van die lughawe te verbeter.
“[Die huidige toestand] is nie regverdig teenoor die inwoners van Khayelitsha, Mitchells Plain, Blue Downs, Eersterivier, Mfuleni en Helderberg nie – en ook nie teenoor mense van naburige dorpe soos Stellenbosch en Theewaterskloof wat elke dag Kaapstad toe pendel nie. Letterlik honderde duisende mense gebruik daardie pad daagliks, en baie van hulle voel onveilig. Dit is húlle veiligheid waaroor ek diep omgee,” het Hill-Lewis gesê.
Kommentaar op Hill-Lewis se Facebook-plasing oor die voorgestelde versperring toon duidelike verdeeldheid, maar by die meerderheid van die mense wat daarop reageer, is die sentiment ten gunste van die muur baie sterk.
🚧 N2 Safety Project: Great to get support from residents along the N2 as we work to repair safety barriers, improve lighting and create new pedestrian crossings.
Thousands of residents from Mitchells Plain, Khayelitsha, Blue Downs, Eerste River, Mfuleni and the Helderberg use… pic.twitter.com/l7E4YL4VpL
— Geordin Hill-Lewis (@geordinhl) February 8, 2026
Die gunstige reaksies kom veral van mense wat sê hulle gebruik die N2 daagliks, en dat hulle al self klipgooiery, byna-ongelukke of misdade daar ervaar het, of bekommerd is oor kinders en diere op die pad; maar positiewe reaksies kom ook van mense in die omgewing waar die muur opgerig gaan word.
Die teenstanders is luidrugtiger en meer ideologies (dikwels met woorde soos apartheid, rassisme, wegsteek van armoede), maar hulle getalle lyk minder op die burgemeester se Facebook-blad. Baie van die kritiek kom eerder van politieke groepe, aktiviste of mense buite die onmiddellike gebied.
Kenners waarsku egter dat geen struktuur op sigself die spreekwoordelike silwer koeël is wat die probleem gaan oplos nie. Sonder sigbare polisiëring, vinnige reaksietye en volgehoue gemeenskapsamewerking kan selfs die duurste muur uiteindelik misluk.
Die kernvraag bly ongemaklik, maar noodsaaklik: Is die veiligheid van duisende daaglikse padgebruikers ondergeskik aan die reg op vrye beweging van mense wat die snelweg onwettig en lewensgevaarlik betree?
Vir die mense wat elke oggend werk toe ry, kinders skool toe neem of ’n vlug moet haal om ’n inkomste te verdien, voel die antwoord eenvoudig: Sonder veiligheid is daar geen werklike vryheid nie.
Die voorgestelde muur is beslis nie ’n oplossing vir Suid-Afrika se diep sosiale probleme nie. Dit gaan nie armoede uitwis of werkloosheid beëindig nie. Maar dit is ook nie bloot ’n daad van onverskilligheid nie. Dit is ’n noodmaatreël in ’n land waar langtermynoplossings stadig vorder en waar die staat dikwels reageer eers nadat bloed reeds gevloei het.
Soos Karel Schoeman in Na die geliefde land skryf, leef ons in ’n ruimte waar hoop en wanhoop dikwels naas mekaar bestaan. Die muur langs die N2 is dalk nie ’n teken van vooruitgang nie – maar dit is ’n eerlike aanduiding van hoe diep die krisis reeds sny.
En miskien is dit die werklik ontstellende waarheid: dat ons op die punt gekom het waar ’n muur, eerder as vertroue, ontwikkeling en veiligheid, as een van die min oorblywende opsies beskou word.

Verskaf deur Stad Kaapstad
Uiteindelik gaan die voorgestelde versperring nie oor ideologiese skeiding of historiese mure soos dié in Berlyn of die een tussen Israel en Palestina nie, maar oor ’n praktiese poging om lewens te red op ’n deel van een van Suid-Afrika se gevaarlikste snelweë.
Terwyl kritici dit tereg as simptoombehandeling beskou en pleit vir beter behuising, sportvelde en werkskepping, wys die meerderheid plaaslike stemme en daaglikse gebruikers van die N2 dat die onmiddellike nood werklik is: klipgooiery, vensters wat stukkend geslaan word, kinders en diere op die pad, en talle noodlottige ongelukke.
Of die muur die beste oplossing is, bly debatteerbaar, maar dit is duidelik dat die status quo nie volhoubaar is nie. Die ware toets sal wees of die Stad Kaapstad ná die bouwerk aanhou om die gemeenskappe daar te ondersteun, eerder as om hulle agter beton te laat verdwyn.


Kommentaar
Dit is maar 'n ope vraag of die muur sal help. Selfs die Berlynse muur kon nie mense keer om tog die lewensgevaarlike poging te waag om dit oor te steek nie. Maar dit sal sekerlik 'n effek hê. Nietemin, dit is 'n korttermynoplossing van 'n baie groter probleem. Die wig tussen ryk en arm in Suid-Afrika MOET eenvoudig nouer gemaak word, anders is daar geen toekoms vir Suid-Afrika nie.
Die tekort aan werksgeleenthedeis is as gevolg van die regering met sy wette en moet voor hul deur geplaas word. Die Wes-Kaap regering en Stad Kaapstad doen meer as hul deel om geleenthede te skep. Wat nie hier genoem word nie, is dat behoorlike en veilige voetgangeroorbrue veilig vir motoriste op voorkeur oorgangsplekke opgerig gaan word. Duursame materiaal wat nie in aanvraag vir informele behuising is nie sal ook gebruik word.
Toe Sanral gedurende die termyn van die ANC die huidige vervalle muur opgerig het, het geen haan daaroor gekraai of gemor nie. Die bohaai nou is pure politiekery. Sanral het volgens bewerings R400m vir die herstel van die huidige muur begroot - Stad Kaapstad gaan 'n beter een oprig vir R115m wat ook bydraes van publieke deelname insluit.
Die R115m - al word net een lewe gespaar - wie kan rerig daaroor kla?