Beter dae

  • 0

Dit is deel van my plig om ’n leer te klim langs ’n besige pad naby Akasia en saad te pluk. Moenie te ver reik nie. Moenie bo hierdie sport staan nie. Plaas leer op gelyke en ferm oppervlak. Sluit altyd skarniere voor gebruik. Hou sporte skoon en droog. Dra betroubare skoene. Sentreer liggaam. Lees verdere instruksies.

Is elkeen sy eie leer en tegelyk die sport van ’n groter leer? Is die leer se waarborg ongeldig indien daar enige wysigings tot die leer aangebring word? Weier die vervaardiger enige aanspreeklikheid indien daar wel aan die leer gepeuter is? Gelei die leer elektrisiteit? Plukkers moet hulle klim ken en al ... 

Dit is ook deel van my plig om saadjies te behandel en te sorg dat Richard dit plant. In hierdie opsig is ek die leer wat Richard klim. Die saailinge en saad  gun ons almal ’n broodnodige mate van vryheid. Dit is ’n gawe wat ons vrylik onder mekaar deel. Soms wonder ek oor vryhede in die algemeen. Soms wonder ek hoekom Vanwykshoutsaad ’n beeld van slaap by my opwek.

Almal probeer seker ten alle tye hul beste. Ek op my leer 10:00 op ’n werksdag met Richard lank reeds afgelaai in die koppies tussen die kurkbosse. Die twee ouens wat hier in die parkie onder ’n ander boom lê. Jy, liewe leser, waar en wanneer ook al die lewe ons almal vry, gratis en verniet ontgaan. Sonder prys. Sonder opoffering. Ek dink nie so nie. Dink jy so? Miskien moet ons minder dink en meer doen. Wat van weldeurdagte dade? Of soeter slaap. Selfs voor ’n rekenaar.

Moenie lag nie, gorrel is ’n hoogs lonende kuns hier op Muguploeg. Vra die volk wat vir ewig saam konsert hou op ’n ander stel trappe. Veronderstel ek moet jou stem werf. Mooipraatjies maak. Jy moet ten minste my kan like op FB, kommentaar lewer oor my doen en late, my noodgedwonge SMS in ’n toestand oor jou lot, die verlede erken maar die toekoms ontken of mix en match it. Nou wat gaan ek jou maak dink en doen tot die beterskap van almal en alles? Jou vermaak in die vrye vertaling van die instruksies van ’n leer? Was dit die moeite werd? Het jy darem iets geleer? En terwyl ons so die irrasionele en ander goete verken, klink ’n leer met wiegies vir sporte en wolke vir komberse te enigmaties? 
  
Dit is deel van my plig om die opbrengste van ons arbeid te smous en die winste regmatig te verdeel. Ek waarborg die gehalte van die produk. Ek aanvaar alle aanspreeklikheid. Ek onderneem om enige wysigings aan die produk ter wille van verbetering deeglik te ondersoek en te implementeer indien nodig.

Klink seker alles soos ’n menigte op en af manies van ’n middelklas moroon. ’n Sorry Sakkie ontvang in die suburbs se sondes. Iets wat enige regdenkende mens eerder moet delete op die rekenaar. ’n Blatante onregmatige opkooksel van slange en lere? Dalk. Dalk nie. Nietemin is ek steeds bly ek trap uiteindelik verskeie kere op dieselfde woord in die geklim. Watter een? Die reg in onregmatige so reg voor Menseregtedag. En van sy ander nageslagte: gereg, geregtig en geregtigheid. Ek belowe op my eer as mooipraatjiemaker dat reg sal geskied. Niemand sal honger van oggendete, middagete en aandete wegloop nie. Die geboue agter ons sal nie kraak nie en die fietse voor ons nie pap wiele kry nie. Almal sal ’n komplimentêre skuimbad ontvang. Rêrig. Vertrou my. Nou waarvoor wag die regmakery so op die trant van woorde en die onwillekeurige behoefte om mekaar se skoenveters te knoop en lere te benut?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top