Betaling “ter volle en finale vereffening” – toe nié

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

'n Argitek het vir sy kliënt, 'n welvarende sakeman, 'n woonstelgebou ontwerp wat die kliënt van plan was om op sy tuisdorp op te rig.

Die argitek se rekening vir die sketsplanne en werkstekeninge het ietsie meer as R19 000 beloop. Die sakeman was nie tevrede met die rekening nie en het dit bestry. Hy was van mening dat die argitek nie op meer as R5 040 geregtig was nie en het 'n tjek vir dié bedrag aan die argitek gestuur.

Die argitek het sy prokureur gaan raadpleeg en dié het die sakeman se tjek vir hom teruggestuur en hom meegedeel dat 'n dagvaarding binnekort op hom bestel sou word. As gevolg van 'n fout in die prokureur se kantoor is die bedrag wat in die dagvaarding geëis is, aangegee as R5 040 pleks van die oorspronklike bedrag van net meer as R19 000. Die dagvaarding is behoorlik by die hof uitgereik en op die sakeman bestel.

Die sakeman het daarna 'n bankgewaarborgde tjek vir R5 040 en ook die koste van die dagvaarding bekom en die tjek by die prokureurskantoor gaan inbetaal. Agterop het hy geskryf: "In volle en finale vereffening vir professionele dienste gelewer deur BS Argitekte aan G gedurende 1980".

Die sakeman kon nie met die prokureur self praat nie – hy was met vakansie – maar wel met sy sekretaresse. Sy het 'n kwitansie uitgereik waarop sy geskryf het: "Ter volle en finale vereffening". Die tjek is op die prokureur se trustrekening inbetaal.

Toe die prokureur sy fout agterkom, het hy 'n kennisgewing aan die sakeman gestuur waarvolgens hy die saak teruggetrek en aangebied het om die sakeman se verspilde koste te betaal. Hy het ook die bedrag van die tjek wat by sy kantoor inbetaal is, teruggestuur – maar die sakeman wou dit nie aanvaar nie.

Die prokureur het daarna 'n nuwe dagvaarding uitgereik vir die korrekte bedrag, naamlik net meer as R19 000. Die sakeman het die saak verdedig en aangevoer dat hy ter skikking van die dispuut tussen hom en die argitek reeds vantevore die bedrag van R5 040 plus koste ter volle en finale vereffening aan die argitek se volmagtigde prokureur betaal het. Hy het aangevoer dat die prokureur, deur sy sekretaresse, die bedrag ter skikking van die dispuut aanvaar het toe dit op sy trustrekening inbetaal is.

Die hooggeregshof het die sakeman gelyk gegee en die argitek se eis van die hand gewys.

Die argitek het geappelleer, en op 27 September 1985 het appèlregter Botha die hof se uitspraak gelewer.1

Die hof het beslis dat die sakeman geen aanbod van die argitek dat die skuld slegs R5 040 sou beloop, aanvaar het toe hy daardie bedrag inbetaal het nie. Die dagvaarding vir die mindere bedrag kon nie as so 'n aanbod vertolk word nie, en die sakeman het geweet wat die werklike bedrag was wat die argitek geëis het.

Wat die sakeman gedoen het, was om 'n téénaanbod te maak dat hy die mindere bedrag sou betaal ter volle en finale vereffening van die argitek se dienste. So ‘n teenaanbod is 'n skikkingsaanbod, en as die argitek dit sou aanvaar, sou hy geen verdere eis teen die sakeman gehad het nie. Die prokureur se sekretaresse het egter geen magtiging van die argitek gehad om die saak te skik nie en daarom kon sy ook nie die sakeman se skikkingsaanbod namens die argitek aanvaar nie. Die sakeman se verweer is dus verwerp en hy is gelas om die argitek se volle rekening van R19 000 te betaal. Hy was ook verantwoordelik vir die argitek se toe al aansienlike regskoste.

Die les is dat 'n betaling sogenaamd ter volle en finale vereffening van 'n rekening ook nie altyd die laaste woord is nie.

1     Blackie Swart Argitekte v Van Heerden  1986(1) 249 (A)

 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

                                                    
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top