Bet-El deur Helena Hugo: ’n resensie

  • 2

Bet-El
Helena Hugo
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796320520

Sedert ek Mispa twee jaar gelede gelees en resenseer het, het Helena Hugo nog twee boeke die lig laat sien. Die eerste was Elim, die volgende hoofstuk in die lewens van die Bassons en Fullers. Toe Daniël Basson vir Anna Catharina die eerste keer soen, is dit op aanbeveling van sy neef Arnoldus. Dié het hom die raad gegee om ’n vrou te kies wat hom liefhet en die een te vergeet op wie hy so hopeloos beenaf is. Adrie het hom nie net seergemaak nie, sy het hom ook verneder.

Anna is van kleins af verlief op Daniël en sy verruil met plesier haar gemaklike lewe vir die harde bestaan van ’n boervrou op ’n afgeleë Karooplaas, sonder om selfs op hul troudag seker te wees dat Daniël haar net so volkome liefhet soos sy vir hom.

Onderlinge struwelinge is daar wel nog, tog lyk dit asof hierdie verbintenis ’n tydperk van vergifnis en versoening vir die Bassons van Mispa inlui.

Ek het nie Elim gelees nie, maar was bly dat dit wat ek in my resensie van Mispa as ’n stomp einde van ’n boek beskryf het, toe inderdaad ’n voortsetting ervaar het.

Nou is Bet-El aan die beurt: die derde een in hierdie reeks. Die boek het ’n stamboom voorin waarin die kinders, kleinkinders en ander nasate van die Basson-pioniers en Fuller-1820-setlaars uiteengesit word. Dis nuttig om terug te blaai daarheen as al die Willem Roedolfs, Anna Catherinas en Daniël Matthyse jou kop deurmekaar wil gooi.

Ons is weer in die laaste paar jaar voor die draai van die 20ste eeu op ’n afgeleë Karooplaas. Dié keer nie weer Mispa soos in die vorige romans nie, maar op die buurplaas, Elim.

Daniël, die oudste van Caroline en Willem wat ons so goed leer ken het in Mispa, met die gebreklike voete, is nou die hoofkarakter in hierdie boek. Sy hart is by Adrie, maar hy kies die goeie weg toe hy met Anna trou.

Anna vertel hoe die “donkerte haar medepligtige is: die hitte van die dag haar verskoning om haar voor hom uit te trek. Sy het vermoed dis hoe getroudes mekaar liefkoos. Dat dit so maklik kom, het sy nooit kon droom nie.”

Ek lees toevallig hierdie kommentaar van Irene Cornelissen na hierdie uittreksel op LitNet se “Eerste slukkie” raak: “As ek nie reeds Helena Hugo se boeke hoog op my leeslys gehad het nie, en dit my eerste kennismaking met haar werk was, sou ek nadat ek die uittreksel gelees het, die boek gaan koop het. Wie kan daar ophou en nie meer van die mense wil weet nie? Want Hugo se karakters is altyd mense – mense wat vir jou bekend is en oor wie se optrede jy begaan is. In hierdie gedeelte, gewis die mooiste beskrywing van ’n liefdestoneel wat ek nog in Afrikaans gelees het.”

Sela.

Want Anna is ’n goeie vrou vir hom, bring vir hom ’n gesin en is die sterk pilaar in sy lewe. Sy bemin haar man en gee elke boervrou wat in baie moeilike omstandighede ’n gesin versorg het met kapkarre en stofstrate en kerslig ’n gesig. ’n Gesig waarmee ek in 2018 kan identifiseer en waarvoor ek my hoed kan afhaal.

Die familieskeuring tussen broers en familielede wat in Mispa begin het, duur in hierdie boek voort, maar genadiglik is daar vergifnis en inkeer, hoewel nie sonder hartseer nie.

Meester Elie is weer daar, en hy is nou ook die steunpilaar vir Anna as sy op Mispa kom kuier wanneer Daniël Kimberley toe gaan om produkte op die mark te gaan verkoop. Hy vra Anna gereeld om vir die kinders op die serfyntjie te speel, terwyl hulle uit volle bors saamsing, en vir daardie kosbare minute val al die kommer oor haar man se onbeantwoorde liefde, die somberheid wat oor Mispa hang, weg.

Daar is weer geliefdes wat sterf en in die rooigrond van die plaas begrawe word, en daar is afguns op die rykes en tussen die rykes.

Anna, die verstandige, bly begeer dat haar man net moet sê hy het haar lief ... Dis uiteindelik die uitbreek van die oorlog wat haar wens laat waar word, maar terselfdertyd ook haar geliefdes van haar wegruk.

My kritiek op Mispa dat die krete na die hemel uit die donkerte wat Caroline omvou het, te erg geword het en die boek te lank gemaak het, is heeltemal vergete. Ek het Bet-El baie geniet en dis asof Helena Hugo haarself in hierdie familie se lief en leed ingeskryf én ingeleef het. Ek was jammer om die Bassons te groet.

Op daardie pynlike aand voor die mans oorlog toe vertrek, sit geliefdes wat mekaar dalk nooit weer sal sien nie, om ’n tafel en klou vas aan die nóú. Daar is samesyn en vrede terwyl die reën saggies begin uitsak. Hugo se beskrywing van die klam grond wat soos gebreekte brood ruik, is tegelyk hartseer en mooi.

Maar jy besef ook dat ongeag hoe groot die geloof, hul lewens onherroeplik gaan verander met die oorlog en dat die tweespalt tussen Boere- en Britse ondersteuners wat klaar deur die familie geskeur het, hulle almal onomkeerbaar geraak het.

Hugo skryf maklik. Met meer as 50 boeke op haar kerfstok, 40 jaar se skryf en regisseer van kleuterstories en jeugdramas, sepies vir die radio, en enkeldramas (waarvan drie met RSG/Sanlam-dramawedstryd eerste pryse bekroon is, en een, Swane, met ’n ATKV-veertjie) kom die woorde natuurlik.

Sy skryf die afgelope vyf jaar Christelike fiksie en in Bet-El is dit asof sy regtig die balans tussen storievertel en Christenskap vind. Die boek is aandoenlik en goeie leesstof, ongeag jou geloofsoortuiging.

Ek het in my resensie oor Mispa genoem dat die konteks – net voor die Anglo-Boereoorlog – my baie genot verskaf het, want dis ’n hoofstuk in Suid-Afrika se geskiedenis waaroor daar gerus meer fiksie geskryf kan word. Ek wonder opnuut weer oor ’n opvolg op Bet-El en of die Bassons in ’n volgende boek hul storie deur die oorlog gaan vertel. Dis die boek wat ek wil lees. Die menslike aspek van regte mense wat uitmekaar geskeur is deur ’n verbete stryd om grond en mag, want dis die drumpel waarop ons nou weer staan, 118 jaar later.

Foto van Helena Hugo: verskaf

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top