Besoek aan Binnelandse Sake

  • 0

Almal weet watse frustrasie dit is om die plek te besoek en hoeveel ure dit jou neem om iets uitgerig te kry, en daarom ook was ek baie bly toe ek verneem hier is ’n tak in ’n voorstad wat mens kan besoek wat in ’n besigheidskompleks geleë is.

’n Familielid besoek die plek toe anderdag om aansoek te doen vir ’n paspoort.

Weke later ry ek saam nadat ’n kennisgewing ontvang is dat die paspoort nou beskikbaar is vir ontvangsneming.

Vroegoggend, verbasend min mense wat daar binne sit en wag om gehelp te word. Die stuk of 4 amptenare is in verskillende fases van koffie maak, in handsak rondgrawe, selfoon inprop sodat die battery kan herlaai en met mekaar gesels. Uiteindelik is dit ons beurt, die kennisgewing word vertoon, daar word rondgevroetel en na ’n ruk skarrel dit af in die gang, na seker 10 minute kom dit terug met ’n kartondoos, binne in is ’n klomp bondels paspoorte, elke bondel met ’n rekkie bymekaar gehou. Ons word in kennis gestel dat dit dalk ’n lang ruk kan duur, want sy moet deur al die bondels werk op soek na die paspoort. Nadat sy begin om deur ’n bondel te werk merk ons op dat daar ’n strokie met ’n alfabetiese letter op elk van die bondels aangebring is en vra die vraag of die letter nie ’n aanduiding is dat alle vanne wat met daardie letter begin, in daardie spesifieke bondel sal wees nie, en wys na die spesifieke bondel waarop die spesifieke letter voorkom, sodat sy daardeur kan werk, en kan jy dit nou glo, die paspoort waarna gesoek word kom toe in daardie bondel voor. Na nog 5 minute se gewag voordat die register waarin geteken moet word vir ontvangs-erkenning, gevind is, is ons daar weg.

Nou verstaan ek nog beter hoekom die land in sy moer in is.

Pieter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top