Berta Smit (1926–1997)

  • 0

Gebore en getoë

Huiberta Johanna Maria (Berta) Smit is op 17 September 1926 op Hopefield in die Sandveld in die Kaapprovinsie gebore. Haar vader, Arnold, was daar skoolhoof. Haar ma, Johanna du Plessis, was ’n opgeleide verpleegster.

Selfs as kind het Berta onder die indruk van die aantrekkingskrag van die geskrewe woord gekom aangesien haar ma onder die skuilnaam Jeanne du Plessis kortverhale en kinderboeke geskryf het. Sy is ook in haar ouerhuis aan die letterkunde bekendgestel.

Berta was nie die tipiese dogtertjie wat met poppe gespeel het nie. Sy was ’n regte rabbedoe wat eerder boom geklim het en veral baie gelees het, het sy aan Danie Botha vertel (Die Burger, 31 Maart 1990). “Om die een of ander rede was ek vreeslik bang wanneer my ma my toonnaels wou knip. Sy moes dan vir my stories vertel wat sy self opgemaak het – hierdie stories, Skatterjan en Tedjon, is later te boek gestel. Vir my was skryf deel van my normale lewe – ek het altyd gesien dat my ma besig was om te skryf. Van kleindag af het ek gedink dat dit vanselfsprekend was dat ek ook eendag sou skryf. My eerste storie, ‘Eendag toe die son helder was’ het ek op sewejarige ouderdom in groot drukletters geskryf, en dit nogal geïllustreer ook.” Reeds op laerskool het gedigte en ander bydraes van haar in die skool se jaarblad verskyn.

Sy het verder aan Danie Botha vertel dat as sy aan haar kleinkinderdae gedink het, sy die opwindende reuk van ’n nuwe boek – so iets van gom en drukkersink – gekry het. “My pa was destyds skoolhoof op Hopefield en elke jaar – as ek reg onthou – het daar ’n stapel boeke van die Jagger Bequest vir die skoolbiblioteek aangekom. Pa het dit eers huis toe gebring sodat dit gestempel en gekatalogiseer kon word. Vir ons kinders was dit soos ekstra Kersfees. Pa het ons toegelaat om na dié boeke te kyk, dit te bevoel en te lees. En dan, saans aan tafel, het suster Regina (later lektrise in Engels aan die Universiteit van Stellenbosch) en broer Arnold (later predikant) met kleur en geur vertel wat hulle in hul Jagger-boeke gelees het. Aanvanklik was ek te klein, kon nog nie ordentlik lees nie. Toe maak ek maar my eie Jagger-stories op, net om te kan saampraat. Pa en Ma het my bedrieëry maar oogluikend toegelaat.”

In hulle huis was boeke lees en stories skryf en gedigte opsê ’n leefwyse. Behalwe haar ma wat geskryf het, is ’n vervolgverhaal van Regina toe sy in standerd nege rond was, in Die Huisvrou gepubliseer. “Pa loop in die gang af en sê stukke op uit Tennyson en Chaucer en – net om Ma se siel te versondig – van Jacob Cats se mees boertige en stuitige versies.”

Berta het in Klein koninkryk vertel dat Sondae in hulle ouerhuis op Hopefield ’n spesiale dag was – ’n dag waarop ’n mens anders aangetrek, geëet en gelees het. “Want dit was ’n feesdag. Christus het opgestaan! Selfs toe ek op ’n Saterdagmiddag met Daphne du Maurier se Rebecca begin het en die aand teen slapenstyd net mooi op die spannendste plek in die storie was, het ek dit Sondag opsygesit – en die aand wakker gebly tot twaalfuur sodat Maandag kon kom en ek verder kon lees. Ma het gesorg dat ons genoeg stigtelike boeke vir Sondag had: Amy Lefeuvre se romans en Martha Findlay Farquharson se Elsie-boeke en Fanny Eden en mev Oelofse. Ons had ’n spesiale rakkie daarvoor. Ek moet eerlik wees: die Sondagmiddag se lesery was nie altyd volledig tot stigting nie. Arnold sou by my en Regina se kamer inloer en met ’n gesig vol onheilige afwagting sê: Kom ons lees ’n Sondagboekie! Dan rig ons ons lekker saam op een bed in en vertaal vir Martha Findlay in letterlike Afrikaans en vir mev Oelofse in letterlike Engels. As Ma die geproes en gegiggel gehoor het, het sy haar maar doof gehou. Moontlik het sy gehoop iets van die stigting bly tog agter. En moontlik hét dit, wie weet.”

Berta het verder vertel dat sy een Sondagmiddag in die Sondagskoolklas onthou. Die predikant, ds Alheit, se vrou het vir hulle Sondagskool gegee. “Dit moet ’n warm dag gewees het, want mev Alheit het voor ons klas gestaan met die groen en geel Kindervriend as waaier voor haar warm gesig. Ons tien meisies was seker ook maar ’n bietjie lomerig met die reuk van warm sand en bloekombome swaar voor die spits kerkvensters. Kortaf, saaklik soos sy altyd was, het sy haar dié middag so op ’n ry af tot elkeen gerig. ‘Is jý bekeerd? ... Is jý bekeerd? ... Is jý bekeerd?’ Die een wysvinger beduie byna beskuldigend. In die ander hand waai en waai Die Kindervriend. Net twee het half verskrik gesê: ‘Ja, miesies Alheit.’ En die ander se oë vermy. Die Kindervriend het nog driftiger gefladder. ‘Tien jong maagde!’ het sy uitgeroep. ‘En net twee is wys.’ Die tien jong maagde het maar bedees na hul hande om die vaal katkisasieboeke gekyk. Maar die verontwaardiging het losgebars toe ons ná die Sondagskool deur die stofstrate onder die bloekombome terugstap huis toe. Watter reg het miesies Alheit om ’n mens so iets te vra? Ander mense het niks met jou godsdiens te doen nie. Dis private sake.

“Ek was kwaad en hartseer en magteloos tegelyk. Want is dit dan nie juis die dinge waaroor ’n mens móét praat nie. En wie het in elk geval groter reg om dit te doen as mev Alheit in die Sondagskool?

“Maar Elma en Rita en Bets het dit nou net nie so gesien nie. Hulle het, nog altyd verontwaardig en onoortuig, weggedraai koshuis toe en ek het onvergenoeg alleen aangestap, by die polisiestasie verby, by die skool verby, tot waar ons huis diep in agter die bome aan die rand van die dorp gelê het.

“Ek het ietwat troosteloos gewonder of ons dan so anders leef en dink as ander mense. Van kleindag af was een van ons groot prate in die huis immers oor godsdiens en die Bybel. Dit was ’n normale deel van ons lewe. Ek onthou toe die Afrikaanse Bybel in 1933 verskyn het, met watter gretigheid en erns ek ook begin lees het. Dit het maar sukkelend gegaan. Ek het dit reg van voor af gevat. I-n d-i-e b-e-g-i-n. In die begin. Later het ek by Ma verslag gedoen: Nee, dis mooi, maar ek begin darem nou ’n bietjie moeg word vir Adam. En nog later: Dit word nou interessanter. Adam het nou al ’n vrou.

“Ek onthou nog watter ergernis Pa met ons had saans by huisgodsdiens. Soos die gebruik was, moes ons ook ná die lees ‘onthou’. Die moeilikheid was net ons had so baie dinge wat ons wou onthou en wat ons nog wou vra ook, dat Pa uiteindelik die huisgodsdiens moes kortknip. Hy had immers nog werk om te doen.”

Die hoogtepunt van haar kinderjare was die somervakansies wat hulle op haar oupa se plaas in die Karoo deurgebring het.

Sy het haar skoolopleiding aan die Hoërskool Hopefield ontvang waar sy ook gematrikuleer het.

Verdere studie en werk

Na skool is Berta na die Universiteit Stellenbosch, waar sy ná haar BA-graad ook ’n MA-graad in Afrikaans-Nederlands en haar Sekondêre Onderwysdiploma behaal het. Van haar bydraes het gedurende haar universiteitsjare gereeld in Die Stellenbosse Student verskyn.

Berta het aan Romi van der Merwe in Rooi Rose van 21 April 1993 vertel: “Op universiteit kon ons nog oor poësie opgewonde raak. Ek was gereeld dronk van woorde. Ek onthou hoe ek, Jan Rabie en Gideon Joubert teen die Suidooster opgebeur het terwyl ons hardop Nederlandse gedigte vir mekaar voorgedra het. Ek weet nie of mense nog so geesdriftig raak nie. Die moderne neiging in letterkundestudie is meer wetenskaplik, formeel, koud en klinies.”

Sy het haar onderwysloopbaan by die Hoër Meisieskool Bloemhof op Stellenbosch begin, en het by die Anglikaanse Grahamstadse Opleidingskollege afgelos. Sy was ook onderwyseres in Port Elizabeth. Siekte het haar egter gedwing om by haar predikant-broer Arnold en hul ouers in die pastorie te gaan woon, voordat sy redaktrise van Naweekpos geword het, ’n pos wat sy vir tien jaar beklee het. By Naweekpos moes sy dikwels self vir kort- en vervolgverhale sorg.

Vanaf 1965 was Berta verbonde aan Tafelberg Uitgewers as redakteur en later hoof van die fiksie-afdeling. By Tafelberg was sy jare lank verantwoordelik vir manuskripte van bekende skrywers soos Elsa Joubert, Audrey Blignault, FA Venter en Anna M Louw. Al sou sy weer dieselfde beroep kies (“Dit is uitnemend bevredigend om ’n manuskrip uit die verf te sien lewendig word”), het sy in 1993 (Beeld, 9 Februarie 1993) erken dat dit nie ’n maklike taak is om ander se werk krities te beskou nie. “Jy kan nie vir ’n skrywer voorskryf nie, jy moet hom op die regte pad lei. As die kritici hom stenig, stel dit jou ook in ’n slegte lig.”

Ná ’n dekade by Tafelberg Uitgewers is Berta in 1975 na NG Kerk Uitgewers, waar sy in die beplanningsafdeling gewerk het. Hier het sy vir nege jaar gewerk. ’n Paar maande nadat sy by die NG Kerk Uitgewers weg is, het Berta ernstig siek geword en moes sy drie maande in die hospitaal deurbring. Nadat sy tuis aangesterk het, is sy vir ’n ruk terug na Tafelberg totdat sy in 1989 finaal die tuig neergelê het. Daarna het sy ’n vryskut-boekeredakteur geword.

Oor die toutrekkery tussen haar werk as uitgewer en haar beroep as skrywer het Berta aan Rachelle Greeff (De Kat, November 1993) gesê: “Omdat die uitgewer en die skrywer, saamgesnoer in één mens, ’n ongemaklike, byna onmoontlike kombinasie is. ‘Uneasy bedfellows’. As ek dit moet oor doen, doen ek dit weer. En tog, as jy heeldag besig is met ander mense se skryfwerk, dag lank boeke maak, is jy in die aand leeggetap. Ek het in my skrywers se skoene gaan staan en sy/haar styl van binne af probeer beleef. Met die gevolg dat ek dan geen eie styl het as ek vanaand by die huis kom nie.”

Oor haar beginsels, eties en literêr, as redakteur het Berta haar as volg teenoor Danie Botha uitgespreek: “Tafelberg het natuurlik sy beleid gehad oor wat eties aanvaarbaar is of nie. Wat nou nie beteken het dat jy streng volgens ’n vasgestelde, onbuigbare standpunt gewerk het nie. Elke manuskrip is op eie meriete beoordeel. ’n Konsalik sou byvoorbeeld anders benader word as, sê maar, Witwater se mense. Dit hang af binne watter klimaat ’n bepaalde teks geskryf is en vir wie dit uiteindelik bedoel is.

“Wanneer dit ’n ‘literêre’ werk was, moes ek my afvra of die obsene of gewaagde wat dalk daarin voorkom, binne die werklikheid van die spesifieke teks literêr verantwoord is. Dit is natuurlik nie altyd maklik te bepaal nie. Daarom het ek maar dikwels by die skrywers en literêre denkers uit die wêreldletterkunde gaan lig opsteek. Selfs by arme, droë George Eliot.

“Godslastering was natuurlik uit. Maar dit is ook nou maklik gesê. Ek moes my maar elke keer afvra presies wat onder godslastering verstaan word. Daar is so ’n dun draad tussen onheiligheid en ’n eerlike worsteling met ’n twyfel aan God. En op daardie dun draad moet ’n redakteur gevaarlik balanseer. ’n Mens moet ook versigtig wees om nie jou eie voorkeure of lewensbeskoulike ingesteldheid of literêre smaak sito-sito op ander af te druk nie. Dit het dus selfondersoek gekos. En raad vra. Ek onthou byvoorbeeld daar in die beginjare het ek en Tonie Roux met ’n drama van Bartho Smit gewerk. Presies waaroor die spesifieke insident in die teks gegaan het, onthou ek nou nie meer nie. Ek weet net voor my altyd versigtige oë het dit ’n rooi lig laat flikker. Ek het dit met Bartho bespreek. Hy het gesê dit was hoegenaamd nie sy bedoeling om godslasterlik te wees nie, maar goed, as ek twyfel, kom ons lê dit aan prof Johan Heyns voor. Dié liewe man was bereid om ook te lees. Hy het my ietwat dowwe rooi lig na groen laat oorskakel. Natuurlik is daar skrywers wat opsetlik kru en uitgesproke is en hul in die ongure verlekker. Maar dan gaan dit tog nie meer om die letterkunde nie.”

In 1964 het Berta haar debuut as skrywer gemaak. Uit my Sondag-dagboek is by Naweekpos in Kaapstad gepubliseer. Dit was ’n versameling dagstukke wat as rubriek in Naweekpos verskyn het.

Ook in 1964 het by Tafelberg Die vrou en die bees verskyn. In Die Burger van 15 (?) Desember 1969 het Audrey Blignault geskryf dat daar nog nie vantevore so ’n boek soos Die vrou en die bees in Afrikaans verskyn het nie en dat daar ook niks in die Afrikaanse literatuur is waarmee dit vergelyk kan word nie. “Om iets in die letterkunde te vind waarby dit aansluit, sou ’n mens na die simboliese verhale van die Duitse skrywer Franz Kafka moet gaan – daardie vreemde, aangrypende verhale waarin die skrywer, soos in ’n gefolterde droom, worstel met die belewenis van die mens se verlatenheid in ’n paradoksale en problematiese wêreld en sy ewig onblusbare verlange na God.

Die vrou en die bees is wesentlik ’n godsdienstige roman – ’n godsdienstige roman wat in ’n hoogs moderne vorm aangebied word. Dit is ’n surrealistiese allegorie, waarin die geestelik-religieuse ervaring van die mens in terme van die Gereformeerde geloof verbeeld word. Dit is die verhaal van ’n diep-innerlike belewenis wat gedra word deur die onmiskenbare krag van persoonlike oortuiging.

“In ’n wêreld van meedoënlose geweld en vernietiging, staan die mens alleen en weerloos met sy verskriklike vryheid om te kies tussen die Bose en die Absolute Waarheid. Die vrou en die bees is ’n simboliese voorstelling van één mens se konfrontasie met dié strydende magte.

“Die vrou, Maria, is ’n onderwyseres in die wiskunde – simbool van die mens wat deur sy eie denke ’n oplossing vir die probleme van die lewe probeer soek. Buite haar eie wil en besluite om, verskyn die Man op ’n dag in haar woonstel met die opdrag dat sy uit die lewe van die self moet gaan en deel moet word van die Gemeenskap van die Heiliges, wat gesimboliseer word deur ’n beskeie klein uitgewery waar sy moet gaan werk.

“Só kom sy te staan voor die Absolute Waarheid, wat die skryfster verpersoonlik in die gestalte van Christus. In die uitvoering van haar opdrag om verantwoordelikheid vir ’n medemens te aanvaar, en deels ook daartoe gedryf deur haar eie innerlike weerloosheid, bevind Maria haar in ’n regstreekse kragmeting met die Bose – die bestuurder van ’n verleidelike en ondergrawende klub – simbool van die mens se beheptheid met homself.

“In dié klub word die besoekers voor spieëls geplaas waarin elkeen net homself alleen kan sien. Wanneer die mense in hierdie klub met die Bose verstrengel word, is daar geen moontlikheid van ware gemeenskap of kommunikasie met mekaar nie. (...)

“Die makabere vindingrykheid en die grieselige, oplaaiende spanning waarmee Maria se besoek aan die klub beskryf word, is die oortuigendste bewys in dié boek van Berta Smit se vermoë as skryfster. Die bestuurder van die klub, só plousibel, só innemend, só geheel en outentiek as die vergestalting van die verdorwenheid in die mens, is die skepping van ’n sterk en oorspronklike verbeelding. (...)

“Berta Smit het met hierdie ongewone boek ’n nuwe rigting in die Afrikaanse roman ontgin. Die vrou en die bees is ’n deurbraak op die gebied van die religieuse prosa.”

Die verskyning van Berta Smit se Die vrou en die bees het Elize Botha (Vaderland, 18 Junie 1965) opnuut laat besef: "telkens weer, en veral, in ons Suid-Afrikaanse sestigerjare, maak die skrywer aanspraak op die eeue oue reg van die storieverteller om fantastiese dinge te laat gebeur, om sy verbeelding se grille, of hoogstens waarskynlikhede, in die plek te stel van ons nugtere, saaklike alledaagse waarnemings.

“Die leser dan, op soek na die ‘sleutel’ tot Die vrou en die bees, sal eerstens bereid moet wees om homself in die wêreld van die fantasie te verplaas, maar hy sal tog, by alle bereidheid, vind dat dit in sommige opsigte ’n moeilike toeganklike wêreld bly. Dit wil nie sê dat Berta Smit se taalgebruik, byvoorbeeld, ‘moeilik’ is nie. Sy skryf ’n helder, byna deursigtige Afrikaans, in ’n natuurlike, gemaklike trant. Maar dit word gou in die boek duidelik dat gebeurtenisse mekaar nie volgens ons alledaagse verwagting opvolg nie en dat daar ’n buitengewone verwikkeling van simbole in die boek bewerkstellig is. (...)

“Dat Christelike simbole ’n sterk vormgewende element in die boek is, is ongetwyfeld waar. Dit is herkenbaar as ’n verhaal van Christelike bekering, met die Man as Leidsman. Maar die vorm wat die verhaal aanneem, is veel meer die beklemmende en bevreemdende aaneenskakeling van episodes uit ’n droom. Op dié manier word die fantastiese dan ter sake gemaak.

“Hulle is tonele uit ’n klein drama wat gemaskerd gespeel word – ’n klemmende ver-uiterlikte voorstelling van ’n innerlike werklikheid waarin ’n mens poog om aan die Christelike opdrag te voldoen, maar waar sy weg deurkruis word met pynigende, soms spookagtige beelde van belewenisse wat die opdrag verduister en die mens vreemd stel teenoor sy eie bestaan.”

In Die Volksblad van 21 Januarie 1965 het Anna van Zyl geskryf dat die skryfster interessante filosofieë en teologiese gedagtes het. "Mens bemerk onder andere Augustinus se idee dat die mens homself geheel en al moet ontledig voordat die Heilige Gees plek in hom kan kry. Die gedagte hanteer die skryfster knap. Maria, die wiskundige, dus die mens van die rede, moet eers alles vergeet voor sy met haar taak om die Werk van die Heilige Gees te lees, kan begin.

“Maar te veel bly vaag, die goeie kristalliseer nie helder genoeg nie en mens voel geen werklike stryd aan nie, behalwe in die klub. Ek vind ook te veel kontradiksies, soos byvoorbeeld die vrou, as skepper van lewe wat gekies word as simbool van die goeie, die ewige lewe, terwyl Maria maagd bly met die suggestie dat sy nie sal trou en voortplant nie.”

Berta se volgende roman, Een plus een, is in 1967 deur Tafelberg uitgegee. Vir Audrey Blignault (Voorligter, Februarie 1968) was die roman merkwaardig: "Nie alleen omdat dit ’n nuwe omskepping van menslike ervaring tot taal is nie, maar ook omdat dit onteenseglik ’n nuwe omskepping van taal tot menslike ervaring is. Die menslike ervaring waaraan die skryfster in die roman gestalte gee, is die belangrikste van alle menslike ervarings: die mens se onvermydelike en onophoudelike soeke na die wesenlike sin en betekenis van die lewe, oor woorde heen, in die aangesig van twyfel en ten spyte van vergissing, onvolkomenheid en vrees. Die sentrale tema word saamgevat in die motto uit Deuteronomium waarmee die roman ingelui word: Julle het ’n stem van woorde gehoor, maar geen verskyning gesien nie.

“In die roman word die tema met onverskrokke eerlikheid, ja, eintlik met ’n soort skokkende hartstog ontgin en uitgebou: die geykte woord, die dooie beeld, veral op godsdienstige vlak moet ’n nuwe, visioenêre betekenis kry om die mens werklik te raak en sy lewe te verander. (...)

“Beslis ’n tema wat hoë eise aan ’n skrywer stel. Berta Smit se groot verdienste is dat sy in so ’n hoë mate juis aan die eise voldoen. Die roman word deurgaans op twee vlakke aangebied, die realistiese en die simboliese, twee vlakke wat egter deur besonder knap bouwerk tot ’n hegte eenheid saamgebind word.

“Op die realistiese vlak is dit die verhaal van die jong predikant, Karel de Witt, wat aan die begin van sy loopbaan op ’n plattelandse dorp staan. Hy is bewus van die visioen en sy verpligting om die visioen oor te dra, maar nog worstelend met sy eie soeke na sekerheid en waarheid en sterk bewus van sy onvermoë om aan die eise van sy roering te voldoen.

“Hy ly aan ’n chroniese veluitslag wat sy optrede in die openbaar en sy omgang met sy gemeentelede belemmer. Sy verhouding met Lila, die meisie wat hy lief het, bly weens sy innerlike onsekerheid, onbevredigend en sporadies. Sy vriend, Eli, student in die sielkunde, prikkel hom intellektueel, maar kan nie vir hom geestelik tot ’n stukrag wees nie omdat hy self nog ’n onvolledige persoonlikheid is.”

"Dan sterf Bella en Faan se seun, Thomas, in ’n motorongeluk en besef Karel dat hy hom sal moet begrawe. Hy sien egter nie kans daarvoor nie, maar Servaas, een van die ouderlinge, oortuig hom van waar sy plig as dienskneg van die Here lê. Hy begin besef dat die merk aan sy gesig onbenullig is en gee hom oor aan die Woord, die Woord breek deur sy verset en sy twyfel en hy ontdek in homself die vermoë om werklik kontak te maak met God en sy medemens. (...)

“So verloop die uiterlike verhaal in die roman, deurgaans boeiend, sterk beeldend en oortuigend gestel teen die vertroude kleindorpsagtergrond met sy saamhorige bevolking, sy onverwoorde spanning, ewig-menslike lotswisseling tussen klein plesier en groot verdriet, tussen die opstuwende lewe en die afsluitende dood. Maar wat ’n mens van die boek eintlik aangryp, ontroer en bybly, is die innerlike gang daarvan, die onontkombare krag van die simboliek daarin: die beeld wat die skryfster opbou, met soveel hartstogtelike toewyding opbou, van die mens se soeke na die visioen waardeur sy lewe sinvol word en hy die krag kry om te dra wat hy moet dra.

Een plus een, die titel, moet dui op die stadia in die geestelike groei wat die mens deurmaak solank hy deelgenoot is aan die lewe. (...)

“’n Heel besondere verdienste van die skryfster is dat sy simboliek gebruik wat bekend, selfs oorbekend, is aan haar lesers – die simboliek van die Christelike kerk, maar dit dan so gebruik dat dit werklik nuut word en trefkrag kry wat sterk tot die leser spreek. (...) Hierdie tweede roman laat geen twyfel dat Berta Smit ’n skeppende kunstenaar van werklike formaat is nie.”

In Die Huisgenoot (23 Februarie 1968) was die gedagte wat George Louw veral van Een plus een oorgehou het, een van stryd: "die mens se ewige stryd met God, die menslike natuur (rasionalisties, ongelowig, sondig) teenoor God se gadeslaan van “ons glip en gly”. Louw sluit sy bespreking as volg af: In Een plus een het Berta Smit ’n baie ‘lastige’ tema baie knap behandel. Ek moet beken ek het die boek begin lees met die vrees dat dit dalk temerig of ‘prekerig’ kon word. Dit is nie die geval nie.

“Teenoor die erns waarmee die stryd van die hoofkarakter uitgebeeld word, kom die ligte spot met die kleinburgerlike gemeentelede van die dorpie as ’n welkome korrektief. (...) Een plus een is ’n besliste vooruitgang op Berta Smit se eerste roman.”

In 1969 het die Afrikaanse Studentevereniging van Stellenbosch ’n leierskursus gehou waartydens Berta (Die Burger, 19 Julie 1969)’n referaat gelewer het. In hierdie referaat het sy onder andere gesê dat om sekere eietydse tendense in die Afrikaanse roman as volksvreemd te bestempel asof dit iets is wat soos die Hongkong-griep van oorsee af hierheen oorgewaai het, is om nie die universaliteit van ’n tydgees te begryp nie. “Daar bestaan vandag ’n situasie waarin daar veel gemaak word van ’n vervreemding tussen die volk en die meer esoteriese skrywer. In sekere kringe word daar baie sterk die kreet gehoor van letterkunde vir die volk. En as die skrywer dan nie tot die volk spreek nie, word hy maar alte dikwels uitgekryt as dekadent en volksvreemd. Die belangrikste feit dat elke tydperk sy eie tydgees en klimaat het, word egter misgekyk. Die gees van die twintigste eeu verskil van dié van die negentiende eeu. Die letterkunde word gebore uit die gees van die bepaalde tyd waarin dit sy bestaan vind. Om dus te verwag dat die skrywer van ons tyd moet skryf soos die skrywers van ’n vroeër tydperk is onsinnig.

“Daarbenewens is dit ook ’n misvatting om te beweer dat alle letterkunde noodwendig vir alle mense bevatlik moet wees. Dit is ’n suiwer sosialistiese medium waardeur alles en almal gelyk gemaak word sodat alle individualiteit en uniekheid verlore gaan.”

Die gebeurtenis wat regstreeks aanleiding gegee het tot Berta se derde roman, Die man met die kitaar, wat in 1971 gepubliseer is, was die aardbewing van 1969 in Tulbagh en omstreke. “Die aardbewing het by my ’n eienaardige gevoel van ekstase gewek, ’n bewustheid van ’n bomenslike mag wat praat. Wat my skryfwerk betref, kon ek aan niks anders dink nie.”

Berta was ten tyde van die aardbewing besig met ’n ander idee vir ’n boek. Dit sou ’n soort allegoriese werk wees, min of meer in die aard van Die vrou met die bees. Ná die skudding kon sy glad nie meer haar aandag daarby bepaal nie. “Net soos ek begin skryf, kom die aardbewing by my op. Dit het my aangespreek, wou eenvoudig in die boek inkom. Uiteindelik het ek ’n begin gemaak – nie alleen wat die onderwerp betref nie, maar ook my benadering en styl het ’n hele verandering ondergaan. Die nuwe boek is meer realisties en meer op mensbeelding toegespits as my vorige twee romans.”

Na die publikasie van Die man met die kitaar het André P Brink in Rapport (21 November 1971) geskryf: "Dit is struktureel gesproke ’n boeiende werk, maar dit bereik nie dieselfde hoogtepunte as haar eerste werk, Die vrou en die bees, nie. Die bundel het egter ’n hegter sluitende eenheid en ’n veel natuurliker en meer noodwendige vorm van verwikkeldheid as Een plus een.

“Die gegewe is eenvoudig: ’n aardskok in die Boland veroorsaak ’n trilling in die Kaapse huis van prof Carl Prins en momenteel ontwrig dit die gewone ordelike verloop van die huishouding. Hul dogtertjie is erg ontstel deur die skok, hardloop naderhand terug van haar kleuterskool en bly histeries soek na haar pa; haar ma is genoodsaak om die professor te bel en te vra dat hy huis toe kom. Hy willig in: teen etenstyd sal hy weer tuis wees, sal alles dalk weer ‘onder beheer’ wees.

“Maar net skynbaar. Die trillinge van die skok sal nog lank – dalk vir altyd – deur die lede van die gesin beweeg. Soos die bars teen die muur, sal ’n bars in die gewete, ’n bars in die onderbewuste, hulle bybly. Want wat die skok eintlik vermag, was om minstens drie lede van die gesin bewus te maak van ander, subtieler barste wat deur hul lewe beweeg.

“Die roman bestaan uit vier afdelings, beurtelings vertel deur die adolessente seun Carl-Hendrik en deur ’n derdepersoonsverteller wat hom toespits op die gemoedslewe van die moeder, Nan.

“Vanweë die perspektiefhantering is daar uiteraard ’n meer onmiddellike betrokkenheid met die belewenis van die seun: hy, die ‘outsider’ is die boek se ‘insider’, die ‘man met die kitaar’, die mees konsekwente verwerper van die stelsel waardeur die ander se lewe georden word.

“Hy het sy universiteitskursus laat vaar, het die uiterlike van ’n hippie, en bly ’n ‘soeker na ’n skat’: iets sinvols, waardeur hy in aanraking kan bly met die pragtige naïewe geloof van sy oupa, iets waardeur sy ‘gesprek met God’ ononderbroke mag voortduur. Geen wonder dat hy in die gewóne dimensie ook ’n hakkelaar is nie: sy stem word net vrygestel as hy buite die gewone redelike orde beweeg. In sy dimensie is verhoudinge omgekeer: ’n aardbewing wat ander verskrik, is vir hom die gevolg van die kitaarman se lied, iets kreatiefs, iets wat verstarde dinge oopbreek en afbreek om die wêreld te hernuwe. Daarom: iets van ’n Christus.

“Juis hierin skiet die figuur egter te kort: wat daar in die bestek van die boek oor hom gegee word, bly ’n vae, verwarde mengsel van tradisionalisme en verwarde, adolessente romantiek.”

Brink het sy bespreking afgesluit met: “En ofskoon die roman om tegniese redes interessant is, is die geheel ’n teleurstelling. Dit is nie ’n veelsnarige kitaar nie, maar ’n ramkie met één snaar.”

Heleen de Villiers het in Die Burger (6 Desember 1972) geskryf dat Die man met die kitaar om die ervaring van die goddelike by drie geslagte Afrikaners gaan, hoewel die klem op die jonger geslag val, in wie die toekoms van ’n nuwe eeu reeds begin oopgaan.

“Die vraag is net in hoeverre die skryfster die boeiende en aktuele gegewe van Die man met die kitaar werklik vir haar lesers ten volle toeganklik maak. Die boek laat ’n mens na één maal se lees met ’n sekere gevoel van teleurstelling. Die pragtige poëtiese hoogte van die eerste deel word nie in die latere gedeeltes weer bereik nie. Waar Carl-Hendrik vol lewe en diepte is, oortuig die vader en moeder minder. En die kongresgaande tantes is soms byna ’n karikatuur. Daar is ’n sekere gebrek aan balans in die bou, en die belangstelling verslap na die einde toe. Die slot skyn met die eerste oogopslag geen sin te hê nie. Miskien is die gedagte van alles wat eenders bly en tog verander het en tog dieselfde bly, te opsetlik?

“Maar by die her- en herlees wat ’n vereiste lyk vir ’n fynproewerswerk soos dié, is dit juis weer die struktuur in terme van taal en beeld wat opval. Die tegniek van verwysing en kruisverwysing, terugflits of wegflits, simbole wat een in die ander oorvloei, word meesterlik gehanteer. Die ‘storie’ word ’n soort innerlik-visuele musiek me temas wat opklink, terugklink, in ander steeds kombinasies en variasies, soos lig wat oor water speel.”

Anna van Zyl (Volksblad, Februarie 1972) se afleiding was dat Die man met die kitaar ’n besondere boek is vanweë sy "poëtiese skoonheid en Berta Smit se stilistiese vermoëns. Die hele opset van die roman tref as iets uniek in Afrikaans."

Die Transvaler se resensent (13 Desember 1971) het geskryf dat die roman ’n bewys is van die volgehoue artistieke groei van Berta Smit – ’n boeiende toevoeging tot haar waardevolle oeuvre, en beslis die beduidendste roman wat tot dusver die afgelope jaar (1971) in Afrikaans verskyn het, gemeet aan watter woordkunstige norme ook al.

Twee-en-twintig jaar was Berta se pen droog, totdat sy in 1993 die letterkundige wêreld met ’n slag getref het met Juffrou Sophia vlug vorentoe wat in 1994 met die Andrew Murray-prys vir algemene godsdienstige publikasies bekroon is. Die beoordelaars was Lina Spies, Hennie Duvenhage en André Strydom. Volgens hulle word in die roman op ’n besondere manier gestalte gegee aan die Christelik-gereformeerde lewensbeskouing. “Nie net is die roman uiters aktueel nie, maar dit word vanweë Berta Smit se ongedwonge en natuurlike verteltrant, haar fyn stilistiese vermoë en die beelding van intense emosie, ’n wonderlike leeservaring.”

Tydens die oorhandiging van die Andrew Murray-prys het Berta in haar toespraak gesê dat die kerk en die letterkunde na mekaar moet luister. “Dit is nodig dat die kerk in die poorte van Sodom moet sit en die evangelie verkondig. Die kerk moet kan sê dat hy hom kwel oor die sondige wêreld. Maar dis ook gevaarlik in die poort van Sodom. Die kerk kan net maklik veroordelend staan en nie goed luister na die noodroep – ‘Red ons, ons vergaan’ – wat uit Sodom kom nie. Dit is nodig dat ’n skrywer in alle eerlikheid moet kan praat oor die sedeloosheid en die verrotting in die samelewing. Die gevaar is egter dat ’n skrywer so verstrengel kan raak in die boosheid dat hy hom daarin verlustig. Dan word die werk pornografies, uitsigloos en godslasterlik – en dan is dit nie meer letterkunde nie.” (Kerkbode, 6 Mei 1994)

Berta het aan Una Nieuwoudt (Beeld, 12 Mei 1994) vertel dat sy gedink het dat die lang stilte so voortbestem was. “Ek sou nie dié roman twintig jaar terug kon skryf nie. Ná my siekte was ek darem nie heeltemal so swak soos juffrou Sophia nie, maar ek het naby daaraan gekom. Dit was ook eers nadat sy in 1989 finaal afgetree het dat sy weer ernstig begin skryf het, en minder as ’n jaar daarna het Juffrou Sophia vlug vorentoe stadig maar seker lyf begin kry.

“By Tafelberg het ek heeltyd met ander skrywers se manuskripte gewerk. Ek het baie ander foute, maar as ek ’n manuskrip lees, doen ek dit met geesdrif. Ek glo as jy met ’n skrywer se manuskrip werk, moet jy in sý skoene kan klim en dinge deur sy oë kan sien. So was ek heeldag Anna M Louw, Elsa Joubert of wie ook al. En vanaand wanneer ek by die huis kom, het ek geen styl van my eie nie en sukkel ek my dood om in Berta Smit se skoene terug te klim.

“Die interessantste van alles is dat wanneer ek wou skryf ek eers my kop moes skoonmaak. Al manier was om Marguerite Duras se romans te lees. Ek kan dit nou nog nie verklaar nie, maar haar styl het my gestimuleer om te skryf.

“My eerste twee romans was baie allegories-simbolies – dit was sinnebeeldig van die werklikheid. Toe Een plus Een verskyn het, was Edith Raidt nog aan die Universiteit van Kaapstad verbonde. Sy het my op ’n dag voorgekeer en gesê dis alles goed en wel, maar daar’s iets wat sy nie verstaan nie. As ek iets het om te sê, waarom sê ek dit dan nie?

“Ek het algaande besef dat ek nie op my ou, duistere trant kon voortgaan nie – ek wou by die waarheid en die werklikheid uitkom. Maar dit was ook ’n probleem. Ek het myself afgevra hoe ’n mens die Christelike lewensbeskouing realisties en oortuigend kan uitbeeld sonder om van vroomheid beskuldig te word. Iets in die Christelike tema het aan my bly vreet en ek móés dit eenvoudig verwoord.”

Sy kon egter nie aan die skryf kom nie en dít wat sy probeer skryf het, wou nie lekker werk nie. Ná haar siekte het sy vir ’n ruk niks geskryf nie totdat daar weer ’n storie in haar begin broei het. En toe kom 2 Februarie 1990 en FW de Klerk se toespraak wat Suid-Afrika verander het. “Tóé kry die ding nou régtig koers. Ek dink toe by myself goed, as jy dan nie ’n Christelike roman kan skryf nie, skryf ’n storie oor ’n vrou wat ’n Christelike roman wil skryf, maar nie kan nie.”

Só het juffrou Sophia toe die bul by die horings gepak en begin skryf, maar anders as Berta wat haar op papier verewig het, kon juffrou Sophia nie haar roman klaarmaak nie. Sy het teenoor Nieuwoudt erken dat dat daar wel ooreenkomste tussen haar en juffrou Sophia is, maar "juffrou Sophia het onafhanklik van my tot ’n karakter uit eie reg gegroei”.

Berta het Juffrou Sophia vlug vorentoe as volg beskryf: "’n Moderne verhaal wat in vandag se tye afspeel met heelwat terugflitse om perspektief te gee. Juffrou Sophia is ’n bejaarde oudonderwyseres wat in ’n woonstel woon. Sy het ernstig siek geword en die verhaal begin waar sy in die waakeenheid lê. Die Staatspresident se historiese aankondiging van 2 Februarie 1990 vind plaas terwyl sy in die hospitaal lê. Terug by die huis lees sy oor die groepe in die land wat mekaar nie kan vind nie. Dit lei tot selfondersoek en sy vra haarself die vraag: 'Wie is ek? Wat beteken my Afrikanerskap en my Christenskap vir my?'

"Met terugflitse word haar agtergrond uitgebeeld. Sy het grootgeword met die idee jy is ’n Afrikaner en die land behoort aan die Afrikaner en die Nasionale Party en hulle is die mense wat reg is – die res is verkeerd. Sy is ook ’n baie gelowige mens. Haar Christenskap beteken vir haar baie, maar sy was nie gelukkig oor die gesindhede in die land nie. Met terugflitse het ek probeer om perspektief op die geskiedenis te gee sover dit juffrou Sophia se ontwikkeling as mens betref."

Berta het verder aan Delene Pienaar in Die Kerkbode (2 Julie 1993) vertel: “Juffrou Sophia praat haar ouers se denkwyse nog na. Sy wil nie erken dat sy in haar diepste wese so kwaad is dat sy kan moor nie. Nou laat ek ’n stem praat, en die stem vreet aan haar. Gooi dinge voor haar, skram weg, probeer mooi praat, maar dan loop dit op, en dit is waar die titel vandaan kom – dat sy uit daardie vasgekeerdheid ontvlug. Sy is vasgekeer in haar woonstel, vasgekeer in haar lojaliteite teenoor haar ouers en die Nasionale Party, vasgekeer deur haar verlede en dan vlug sy vorentoe in die ruimte van die genade van God in. Dan kom haar vergifnis.”

Juffrou Sophia vlug vorentoe is deur Queillerie uitgegee. Berta het hierdie besluit van haar só verduidelik: “My vorige romans was by Tafelberg uitgegee. NG Kerk Uitgewers het ek nie oorweeg nie, ek dink nie dit is hulle mark waarvoor ek geskryf het nie. Ek wou mense aanspreek wat nie-kerklik en nie-gelowiges is. In ’n sin het ek hulle voor my gehad toe ek geskryf het. Ek het eendag in Insig geblaai en lees toe daar dat Hettie Scholtz van HAUM-Literêr haar eie uitgewery in die Kaap gaan begin en sy woon op Somerset-Wes, ’n klipgooi hiervandaan. Toe klop ’n hand op my skouer en sê: dis jou uitgewer!

“Ek het ’n tegniek gebruik wat bietjie vreemd is. ’n Groot uitgewery sou nie die saak met my kon bespreek om my weer in rat te kry nie. Hettie Scholtz het dit gedoen. Haar entoesiasme is baie aansteeklik. Ek raak so teë vir mense wat nie geesdriftig kan raak nie. Dit is wat vir my so wonderlik is van Hettie Scholtz. Sy is so. En dit spoor jou aan.”

Ernie Venter het in Volksblad (4 Oktober 1993) geskryf dat Berta Smit met Juffrou Sophia ’n roman geskryf het wat hom met elke herlees daarvan meer en meer beïndruk het. “Die sensitiewe en genuanseerde wyse waarop die hoofkarakter se psigiese prosesse en fisieke kragteloosheid taalgestalte verkry, bied ’n boeiende en aangrypende blik op die mens in ’n eksistensiële krisis. Daarbenewens aktiveer die inbedding van fiksie-binne-fiksie in die vertelstruktuur van die roman ’n interessante spel van ooreenkoms en relativering tussen die verskillende betekenisvlakke wat so tot stand kom. Hierdie faset van die vertelling demonstreer by implikasie die onomstootlike waarheid dat selfs die mees realistiese verhaal in die eerste en laaste plek ’n taalkonstruksie is. Ek kan maar net hoop dat hierdie geslaagde en selfs indrukwekkende roman die ontvangs onder die algemene leserspubliek sal kry wat dit verdien.”

In Beeld (16 Augustus 1993) het Gretel Wybenga geskryf: “’n Buurvrou van juffrou Sophia ontdek dat sy weer begin skryf het, en sê: ‘A! Dan skryf jy weer? Ek is bly. Dit was hoog tyd. Wanneer het daar laas iets van jou verskyn? Dis járe, is dit nie?’ Só moes ons ook die stem van Berta Smit ontbeer sedert die 
verskyning van Die man met die kitaar in 1971. Dié stem was te lank stil. (...)

“Veral aanvanklik beweeg die roman vir my te stadig en talm dit ook te langdurig op dieselfde spanningsvlak. Iets van ’n innerlike noodwendigheid ontbreek ook, waarskynlik omdat die argumentasie te sterk leun op aanhalings en projeksies van juffrou Sophia. Tog is dit uitsonderlik in Suid-Afrika en in die wêreld om in ’n literêre werk so bewustelik en positief om te gaan met Christenskap, en boonop so 'n sterk roman die lig te laat sien. Juffrou Sophia se wens vir haar roman is om ’n ‘boodskap van hoop’ te bring, ‘’n droom vir die toekoms ’n nuwe pad vorentoe’ (151), en dit is wat Berta Smit se roman word: ’n onderskraging van die geloof in hierdie benoude dae. 

“Die buurvrou se woorde waarmee die resensie afgesit het, bevat ook ’n stukkie humoristiese en ironiese kommentaar op juffrou Sophia se roman, wat nou ten besluit ’n dubbele ironie en dubbeld snaaks word omdat dit vreemd wáár is van Smit se roman: ‘Dis tyd dat ons weer letterkunde kry waarvoor ’n mens jou nie hoef te skaam nie. Die moderne beheptheid met seks en geweld ... daar is niks meer wat mooi en verheffend is nie ...’ (88).”

Chris van der Merwe het die resensie in Die Burger van 24 Augustus 1993 geskryf: “Juffrou Sophia handel oor ’n ou vrou wat ’n groot operasie ondergaan het, en nou in haar woonstel aansterk. Sy is afgetakel en eensaam, met ’n lewe vol skynbare onbenullighede waaruit geen sin te maak is nie. Boonop word sy gekwel deur die politieke onrus om sin te gee aan haar onopwindende bestaan, en om hoop te bring aan ’n verskeurde land.

“Daar vind ’n paar belangrike ontwikkelinge in juffrou Sophia plaas. Sentraal is die ontwikkeling van haar verhouding met haar bediende Mavis. Juffrou Sophia leer om nie neer te kyk op haar bediende nie, en Mavis laat vaar dan haar afstandelikheid. Aan die einde slaan hulle vir die eerste keer werklik ag op mekaar en ander se lyding. Op ’n mikroskaal word die oplossing van die land se probleme hier geïllustreer, met die liefde wat die afgronde van die verlede oorbrug.

“Net so belangrik, maar minder opvallend aangebied, is die ontwikkeling in juffrou Sophia van bedekking tot konfrontasie van die werklikheid. Daar is aanduidings (byvoorbeeld bladsye 88-89) dat haar verdwene buurvrou Issa meer as ’n buurvrou vir haar was; dat daar, in elk geval in juffrou Sophia se hart, ’n erotiese verhouding met Issa was, maar hierdie erotiese verlange steek juffrou Sophia weg onder ’n dekmantel van Christelike besorgdheid.

“Daar is ’n tweede verband tussen Issa en juffrou Sophia; Issa is nie net haar verbode beminde nie, maar ook ’n parallelle karakter, deels deur juffrou Sophia se verbeelding geskep, op wie sy haar heimlike probleme projekteer. Albei het deel gehad aan 'n verbode verhouding; albei het skuld om te bely; albei het 'n sombere jeug gehad - Issa verdruk deur twee onmenslike tantes, en juffrou Sophia onderdruk deur haar strenge moeder. Ten slotte word die opvoeders en jeugomgewing van juffrou Sophia heeltemal verstrengel met dié van Issa (bladsye 227, 229).

“Niks wat in die roman gebeur, staan los van juffrou Sophia nie. Sy is die een wat alles waarneem; alles word deur haar gevorm en omvorm; en op ’n manier is ál die karakters gestaltes van haar vrese, skuldgevoelens en verlangens. So ook is Christoff, die broer van Issa, die simbool van wat sy graag wil wees. Hy is die ware Christen, besorg oor sy sondige suster; hy is ook die sterke wat kan los breek uit die knellende opvoeding deur sy tantes. Die woede waarmee hy die tantes konfronteer, is ook die woede van juffrou Sophia oor haar streng ouers; en die bevryding wat hy vind wanneer hy die tantes berispe oor hul liefdeloosheid teenoor Issa, is die woede wat juffrou Sophia graag tot uiting sou wou bring teenoor haar moeder.

“Die beskrywing van hierdie konfrontasie tussen Christoff en sy tantes is duidelik nóg een van die verbeeldingsvlugte van juffrou Sophia, en wanneer klaar van die konfrontasie vertel is, is dit asof juffrou Sophia deur die vertelling op ’n indirekte wyse bevryding gevind het. Die waarheid van haar eie woede is gekonfronteer en tot uiting gebring, en nou kan sy ’n slot van ware versoening skryf – ’n verbeeldingsvlug waarin sy ‘vorentoe vlug’ en haar lewe weergee soos wat sy dit graag sou wou hê.

“Die pynlike woede, gevolg deur versoening en omgee vir ander, is die pad van kruisiging en opstanding wat juffrou Sophia beleef. Die temas van sterwe en nuwe lewe, van konfrontasie en genesing, van woede en versoening, is sentraal in die roman, en verbind juffrou Sophia se onbenullige lotgevalle met die dramatiese veranderinge in die land.

“Ons het lank gewag vir hierdie roman van Berta Smit, maar dit was die wag werd. Sommige lesers sal miskien op die boek reageer soos die ongelowige karakter Ria op die sienings van juffrou Sophia reageer, geïrriteer deur die beheptheid met God en Kerk. Maar vir my is die roman ’n kragtoer, met die verstommende verbinding van die banale en die verhewene, met al die brokstukkies wat ’n komplekse eenheid vorm, waarin die verband tussen al die skynbaar verbandlose gesuggereer word; en met ál die klein gebeurtenisse wat tog uitloop op ’n kragtige klimaks van die verbeelding. Dis ’n boek wat my in vervoering het, sodat ek begin te allitereer: Bravo Berta, dis 'n bakgat boek.”

Vir Tom Gouws (Insig, Augustus 1993) het die roman baie stadig beweeg, “baie in die trae gang van Karel Schoeman se ’n Ander land. Maar Smit se fyn stilistiese vermoë, haar beheersde hand in die beelding van intense momente, veral dan ’n bewustheid om nie die hand te oorspeel nie, haar sin vir detail, en dan ook haar natuurlike vertelgang, maak dit op die duur ’n baie besondere leeservaring.”

In Vrye Weekblad (19 Augustus-1 September 1993) het Gerrit Olivier geskryf dat Berta Smit van hierdie “arme, sieklike, hulpelose ou vrou” (190) ’n onvergeetlike karakter gemaak het. “’n Mens mag dalk kla dat die slot, net soos ’n paar ander gedeeltes van die boek, net té literêr ingeklee is: ‘vergewe ons ons sondes soos ons hulle vergewe wat teen ons gesondig het. Pa Ma kan julle my hoor Issa Charlene hoor kom terug liewe kind my kinders kom’ (252). Maar op weg na dié verlossende einde is daar veel om te geniet in hierdie intelligente en plek-plek werklik aangrypende boek.”

Vir Johannes Bruwer (De Kat, Oktober 1993) het die boek geboei "deur die wisselwerking van fiksie en Suid-Afrikaanse werklikheid, tussen fiktiewe karakter en werklike skrywer, en tussen die boek en die leser se eie ervaring van die ideologiese vertwyfeling van ’n ouer geslag Afrikaners. Sommige kan dit straks outyds en oormatig filosofies vind, maar die intimiteit waarmee dit jou by die skrywer as medemens betrek, is ’n sonderlinge ervaring. Dat ’n skrywer soos Berta Smit so ’n sinryke gedaanteverwisseling kan ondergaan, bring vir ’n mens ook op nie-literêre vlak hoop dat die fundamentele vernuwing van waardes wat nodig is om ideologiese groepe saam te snoer vir die geboorte van ’n werklik ‘nuwe’ Suid-Afrika, wel moontlik is.”

As Berta drie wense kon kry, sou sy:

  •  “wens ek dat ek ’n gesonder mens was, omdat my siekte vir my stremmend is, veral in my skryfwerk;
  •  “wens dat ek meer geloof gehad het – ek wil so graag ’n voorbidder wees dat ek vir my land en my kerk kan bid. Natuurlik bid ek, maar my gebed is altyd: ‘Here ek glo, kom my ongeloof te hulp!’ Ek sou graag ’n beter mens, ’n beter gelowige wou wees;
  •  “laastens sou ek graag, as dié dag kom, met waardigheid wou sterf.”

Berta het aan Romi van der Merwe (Rooi Rose, 21 April 1993) vertel van haar papegaai wat homself Gaatjie Piet gedoop het. “Hy het homself gedoop en skandes veroorsaak wanneer hy Sondag se radiopreek op ’n Maandagoggend naboots. Ek moes gereeld Mozart en Bach op die klavier speel om hom stil te kry en saans wou hy nie gaan slaap voor hy altyd dieselfde storie end-uit gehoor het nie.”

In 1994 het André le Roux (Die Burger, 18 Mei 1994) aan Berta gevra wat dit aan die lewe is wat sy op daardie tydstip die meeste geniet. Haar antwoord: “Ek geniet aardse dinge, soos om nou hier (in die Mount Nelson-hotel) met ’n glasie whisky te sit, en daardie vroutjie speel klavier. En ek kan dronk word van ’n mooi herfsdag. Maar ek kan net so opgewonde raak oor ’n stuk teologie wat vir my die waarheid laat oopgaan.”

Vanaf die middel-1980’s het Berta op Stellenbosch in ’n woonstel gewoon. Sy en haar suster het twee aangrensende woonstelle gekoop en Berta het haar kombuis in ’n studeerkamer omskep. Sy het haar maaltye saam met Regina en Francis Muller, hulle huishulp, geniet. Na ’n paar beroertes in 1993 het Berta se gesondheid aansienlik versleg – juis omdat sy nooit besonder sterk was nie.

Op 19 Februarie 1997 is Berta Smit in die ouderdom van 70 op Stellenbosch oorlede nadat sy die vorige week breinbloeding opgedoen het.

Huldeblyke

  • Danie van Niekerk: "Berta se groot bydrae tot die Afrikaanse letterkunde was as boekeredakteur, veral in die jare toe sy by Tafelberg was – eers as fiksiehoof, later redaksiehoof. Met haar klein gestalte, groot verstand en verbasende geheue (uit Shakespeare, Eliot, Van Wyk Louw) het sy tientalle boeke 'gevorm'. Ek het haar ons knapste boekingenieur genoem. Sy kon ’n manuskrip vat, vrot kolle wegsny, hoofstukke omruil, ’n nuwe slot voorstel, dalk ook ’n nuwe eerste bladsy, soos niemand anders nie. En dan net die regte titel: Kroniek van Perdepoort was haar ingewing. Foute het sy soms gemaak, maar haar oordeel was meestal foutloos. Boonop het sy ’n skool uitgewers en boekeredakteurs opgelei of minstens sterk beïnvloed. ’n Klein mensie van aansienlike formaat." (Beeld, 5 Maart 1997)
  • Izak de Villiers: "Mej Smit was ’n agter-die-skerms-mens: ’n vaardige romanskrywer, ’n geoefende joernalis en bowenal ’n besonderse uitgewer. Sy het ’n hele paar Hertzogprys-wennende manuskripte persklaar gemaak en kon feitlik oombliklik tot die wese van ’n teks deurdring. In haar 'hantering' van skrywers en digters, meestal nie ’n maklike spesie nie, het sy talle vriende gemaak. Wanneer ’n manuskrip haar aangegryp het, het sy dag en nag daarmee gesit totdat dit in die fynste besonderhede persklaar was. Dis hierdie 'stil' werk wat waarskynlik haar grootste bydrae tot die Afrikaanse literatuur was. Sy het nooit die werklike gróót roman geskryf nie, hoewel Juffrou Sophia ’n hoogs verdienstelike roman is. Miskien was haar besondere puntenerigheid as uitgewer en haar hantering van ander se manuskripte asof dit haar eie was, eerder ’n hindernis in haar skrywersloopbaan. Nogtans het sy ’n naam in die Afrikaanse letterkunde geword, een wat veral die Christelike gedagte in haar werk uitgedra het, en een waarmee rekening gehou moet word. Haar vriende en talle kennisse sal haar mis." (Rapport, 23 Februarie 1997)
  • Izak de Villiers op LitNet: "Min mense het geweet dat Berta ’n absolute kenner van Calvyn se werk was. Soms het dit vir my geklink asof sy die hele Institusie ingesluk het. Sy het my ook gewys op ’n Franse boek, Die sosiale gewete van Calvyn, maar ek kon nie Frans lees nie en sy het my kortliks vertel dat Calvyn ’n sosiale hervormer soos min was, en alles behalwe verkramp, soos hy en sy volgelinge vandag voorgestel word. Haar belesenheid in die teologie het my verbaas, iets wat my later ook by Sheila Cussons sou verstom – maar natuurlik twee uiteenlopende paaie. Albei van hulle sou aan ’n Teologiese Seminarium kon gaan klasgee en 85% van die proffies daar die loef afsteek. Hulle kennis was immer deurlééfde kennis. As Berta die dag lus was vir ontspan, kon sy ’n bottel Cabernet seermaak. En nog een. Dan het sy Duits gepraat soos ’n Duitser en Heine en Schiller en Goethe én stukke Calvyn aangehaal, maar sonder om ’n woord verkeerd te sê en sonder om haar maniere of hoflikheid prys te gee. ’n Hele paar van my vriende kon hul alkohol vát.

    "Sy het soms van my kerkdienste bygewoon en agterna my preek bespreek. Ek het altyd by myself gedink: Dalk het elke predikant ’n Berta Smit nodig om hom te weerhou van soetsappighede of teologiese swymelary én terselfdertyd sy voete op die grond te hou. Ek en Berta het ’n hele paar boeke en bundels saam geprakseer: sy met die manuskrip en ek wat wag op die ja of nee én natuurlik die nodige en tersaaklike opmerkings en verbeterings. Daar was nooit sprake van ’n buite-keurder nie. Sy en Danie van Niekerk, vandag nog ’n vriend van my, het besluit en klaar. Ek weet nie eintlik van swak boeke wat hulle uitgegee het nie."

  •  Marzanne Leroux-Van der Boon: "Sy is só klein, het ek verwonderd gedink toe ek haar die eerste keer sien – ’n kersvlam wat in ’n oomblik uitgewaai kan word. Maar reeds in ons eerste gesprek het ek agtergekom dat dit ’n hewige wind sou moet wees om so iets reg te kry. Berta het met hartstog gelewe. Ons het saam aan twee van my manuskripte gewerk en ek het gou groot respek vir haar redigering gekry. Vir haar eerlikheid en haar menslikheid. (...) Ek en my man Bob was Kaap-uit toe Juffrou Sophia vlug vorentoe verskyn het. Daar ver het ek die boek sonder neersit gelees. Totaal ontdaan het ek haar opgebel. Sy het my emosionele lofrede uitgeluister en al wat sy na die gebruiklike oomblik van swye gesê het, was 'My gollie!' Hoe lief het ons haar gehad! Op aarde is die hartstogtelike vlammetjie uitgeblus. Deur geen hewige wind nie. Haar Vader self het dit uitgeblaas. Heel sag. Hy het die kleinste lammetjie opgetel en haar in sy arms huis toe geneem." (Kerkbode, 7 Maart 1997)
  • Danie Botha: "Daar is altyd mense wat ’n lewenslange positiewe invloed op jou het. In my geval is dit Berta Smit. Sy was my mentor by Tafelberg Uitgewers vanaf die winter van 1972, en daarom was sy lank Juffrou Berta vir my. (...) As uitgewer, skrywer en mens is sy sekerlik met erns en Christelikheid verbind. Maar dis iets ander as vroomheid. Baie gou in ons saamwerktyd het sy daarteen betoog. Ja, sy het streng etiese norme gehad wat beslis ’n rol gespeel het in haar beoordeling van ’n literêre werk en in haar redigering. Maar hierdie etiese beginsels het sy deurdink; sy was oortuig van die wysheid daarvan, en kon skrywers en kollegas daartoe oorreed. Sy het jou veredelend beïnvloed. En tussendeur altyd haar gevatte opmerkings, literêre aanhalings, satiriese waarnemings, ironiserings en verlossende lag. (...) En nou is dit die finale afskeid van Juffrou Berta. Ek wil haar aanhaal uit die Tafelberg-herinneringsbundel In ons goeie boekies waar sy vertel van haar eerste afskeid van Tafelberg toe sy NG Kerk Uitgewers toe is (ons was bevoorreg om haar vir ’n tweede termyn terug te kry): “En toe ons ou klompie vir oulaas ... bymekaarkom om tot siens te sê, was ek al bra week van gemoed. Ek moes my toevlug neem tot die poësie – waarmee elke menslike ontroering besweer kan word.

Ach, niet de dood alleen is afscheid van het leven,
maar elke droom, die sterft, maakt ons verkleumd en oud,
en hij, die eenzaam is en met het leed vertrouwd,
weet, dat geen enkle God wat heen is weer kan geven ...
" (Insig, Maart 1997)

  • Charles Fryer: "Dit is Hennie Aucamp wat haar bydrae as redakteur die beste opgesom het: 'She had the perfect pitch. Sy kon op die plek doodsekuur oordeel met haar ongelooflike aanvoeling en kontrole.' Dit is haar geloofsvertroue wat ’n mens die langste sal onthou. 'Sonder geloof het die lewe vir my geen sin nie,' het sy meermale bely. Sy het ook gesê: 'Hoe ouer ek word, hoe meer word ek my bewus van die trane van Christus. Hoe hy ons so graag wil help, maar ons wil nie.' Die brose figuurtjie in die bruin leerbaadjie het skielik uit ons midde verdwyn en ’n ondeurgrondelike stilte gelaat. Maar as jy mooi luister, kan jy haar donker stem nog hoor: 'Mag jou klere altyd wit wees en die olie op jou hoof nooit ontbreek nie.' " (Beeld, 28 Februarie 1997)

Publikasies

Publikasies:

Publikasie

Uit my Sondag-dagboek

Publikasiedatum

1964

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Naweekpos

Literêre vorm

Godsdienstige publikasie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  •   

 

Publikasie

Die vrou en die bees

Publikasiedatum

  • 1964
  • 1973

ISBN

0624003884 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  •   

 

Publikasie

Een plus een

Publikasiedatum

  • 1967
  • 1969
  • 1982
  • 1983

ISBN

0624018156 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  •   

 

Publikasie

Die man met die kitaar

Publikasiedatum

1971

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  •   

 

Publikasie

3 Bybelhoorspele: SJ Pretorius, Anna M Louw, Berta Smit. Byeengebring en van ’n inleiding voorsien deur Leendert Dekker

Publikasiedatum

1972

ISBN

0624000885 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Hoorspel

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  •   

 

Publikasie

Die roman as metode van kommunikasie

Publikasiedatum

1986

ISBN

(hb)

Uitgewers

Stellenbosch: B Smit

Literêre vorm

MA-tesis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  •   

 

Publikasie

Juffrou Sophia vlug vorentoe

Publikasiedatum

1993

ISBN

1874901155 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Queillerie

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Andrew Murray-prys 1994

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 Berta Smit as samesteller

  •  Blignault, Audrey: Oulap se rooi: 32 essays tot lof van blydskap.Ingelei deur Berta Smit. Kaapstad: Tafelberg, 1988 [ISBN 0790624026952 (hb)]
  •  ’n Boek van bevryding: uit die Heilige Skrif. Saamgestel deur Berta Smit. Kaapstad: Tafelberg, 1970
  •  ’n Boek van dankbaarheid: uit die Heilige Skrif. Saamgestel deur Berta Smit. Kaapstad: Tafelberg, 1970

Berta Smit as vertaler

  •  Baillie, John: Ons oë na die berge: gebede vir die praktiese lewe. Kaapstad: Naweekpos, 1955
  •  Booth, Catherine: Liefde en verlowing. Stellenbosch: CSV, 1948
  •  Burnham, George: Die wêreld is sy preekstoel: die verhaal van dr Billy Graham. Kaapstad: Naweekpos, 1957
  •  Lester, Andrew: Om my bejaarde ouers beter te begryp. Kaapstad: Lux Verbi, 1987
  •  Price, Eugenia: Die verskil is Christus. Kaapstad: NG Kerk Uitgewers, 1978

Artikels oor Berta Smit op die internet

Artikels deur Berta Smit op die internet

 

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top