Berna Ackerman (1935–2015)

  • 0

Sêgoed van Berna Ackerman

“Sonder om bedreig te wil klink, besef jy dat jou moedertaal maar één van elf amptelike tale is, en om die voortbestaan daarvan te verseker, rus daar enersyds ’n dure plig op die Afrikaanse skrywers om boeke te produseer maar ook op die leser om boeke te koop en te lees sodat die Afrikaanse boekebedryf lewenskragtig kan bly. Sodat daar vir ons kindskinders ook eendag leesstof in hul moedertaal sal wees.” (Volksblad, 8 Junie 1999)

“Hoekom word ons tog so ontroer deur die dinge wat ons self skryf? Seker maar omdat ’n mens moeilik afstand kry van die dinge wat jyself beleef het.” (Die Burger, 5 Augustus 2002)

Oor haar karakters: “Wanneer hulle die eerste keer selfstandig asemhaal, voel ek soos die kere toe ek met my swangerskappe die eerste keer lewe gevoel het.” (Die Burger, 5 Augustus 2002)

Raad aan aspirantskrywers: “Dagboeke. Ek het boeke en boeke volgeskryf. Dit leer jou waarneem en gevoelens uitdruk. Maar skryf gaan baie oor dissipline. En aanhou. Ek probeer elke dag skryf. Noudat ek afgetree het, hou ek die oggende oop daarvoor.” (Taalgenoot, Maart 2000)

Boodskap vir ouers en kinders: “Ouers is saam met die skool verantwoordelik vir hul kinders se opvoeding. Ons kinders moet geleer word wat respek en naasteliefde is. Hulle moenie hul eie identiteit verloor nie, maar tog ander se standpunte ook kan respekteer. Hulle moet werk vir hul taal en kultuur en nie hul Christenskap verloën nie. En die waarde van gebed leer besef.” (Taalgenoot, Maart 2000)

Oor die kriteria waarvolgens die ATKV-Prosaprys toegeken word: “Die prys is toegeken in die kategorie ‘gewilde Afrikaanse lektuur’ en die leesbaarheid en toeganklikheid van die voorgelegde werke was ’n belangrike kriterium. Sover my kennis strek, het die gewone leser en liefhebber van die Afrikaanse boek, ’n groot inspraak in die keuring gehad. Kategories stel ek dat die voortbestaan, nie slegs van die letterkunde nie, maar van kuns in die algemeen, afhanklik is van die ondersteuning van die ‘gewone’ mens, en dit is belangrik dat húlle smaak en voorkeure in ag geneem moet word.” (Algemene Kerkbode, 9 April 1999)

Hoe rym haar liefde vir musiek en haar skryfwerk? “Musiek en taal is nou verwant. Beide word deur middel van klank weergegee, in beide is konstruksie belangrik en deur middel van beide kan atmosfeer geskep word. My kennis en ervaring van musiek is vir my oneindig baie werd in my skryfwerk.” (Algemene Kerkbode, 9 April 1999)

“Ek het nog altyd belanggestel in die geskiedenis en het wyd navorsing oor 1939 gedoen (vir Liesbet Delport se oorlogboek). Ook wanneer ek klasgee, is die historiese konteks vir my baie belangrik. Geen gebeurtenis vind in ’n tydleegte plaas nie en daar is altyd ’n wisselwerking tussen wat gebeur en die geskiedkundige konteks.” (Die Burger, 25 Augustus 1999)

Verskil tussen musiek en skryf: “Musiek is ’n geweldige spanning. Dikwels het jy net een kans. As jy skryf, kan jy skaaf totdat iets nét reg is.” (Die Burger, 25 Augustus 1999)

“Vir my is skryfwerk soos tennis en klavier speel. Jy moet oefen en jy moet die taal kan hanteer, want dit is jou medium. Verder moet ’n mens baie kennis van ’n onderwerp dra – eerder te veel as te min.” (Die Burger, 25 Augustus 1999)

Gebore en getoë

Berna Barabra Ackerman is as ’n nooi Cloete in 1935 in Boksburg gebore. Toe Berna twee jaar oud was, het haar ouers Bloemfontein toe getrek, waar haar pa, Koos Cloete, van 1937 tot 1966 ’n proefleser by Die Volksblad was.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog was Berna se pa ’n Hitler-ondersteuner en lid van die Ossewabrandwag. Haar ma, wat niks wou weer van hierdie organisasie nie, wou nooit aan die jong Berna verduidelik wat “oorlog” is, of wat “interneer”, “aanrand” of “Heil Hitler” se betekenis is nie. En dit is tydens hierdie “geheimsinnige” dae wat die saadjie vir haar latere treffer Liesbet Delport se oorlogboek geplant is. Sy het haar gevoelens in ’n dagboek neergepen en troos by haar hond met die “oorlognaam” Mussolini, gesoek, het sy aan Adri Herbert (Volksblad, 11 Augustus 1998) vertel:  “Ek was nooit regtig kind nie. Toe ek drie jaar oud was, het die oorlog uitgebreek en toe ek agt geword het, het dit eers geëindig.”  

Sy kon baie goed onthou van die dag toe ’n vriend van haar pa hom by die huis opgesoek het met ’n pakkie geheime dokumente van die Ossewabrandwag. Omdat haar pa bang was vir ’n polisieklopjag, het hy dit onder die lêhen se nes in die agterplaas begrawe. Die polisie het egter nooit hulle opwagting gemaak nie en haar pa het later uit die Ossewabrandwag bedank. Hy was ’n proefleser by Volksblad voor die oorlog en het sy werk tydens die oorlog verloor en moes noodgedwonge by The Friend, ’n Engelse Bloemfonteinse koerant, gaan werk – “al moes hy daardeur sy siel en alles waaraan hy geglo het, verraai”, het sy aan Marietjie Beukes (Taalgenoot, Maart 2000) vertel. Hy is later aan nierversaking oorlede.

Berna se ma was ’n “fyn gevoelsmens”, maar het terselfdertyd nie enige nonsens van kinders verduur nie en het vinnig enige geite uit ’n kind geslaan. Berna skryf in Volksblad (29 Augustus 2007) oor haar ma se slag met kosmaak: “Ma het uit ’n geslag koskokers gekom en sy het die gawe gehad om sonder omhaal, doodgewone bestanddele in ’n koninklike gereg te omskep. Die groot kombuis (in die huis in Steynstraat in Bloemfontein) met die donker houtplafon was die ‘laboratorium’ waar sy haar kulinêre eksperimente uitgevoer het met ’n groen Moffat-stoof, potte en panne, ’n Fillery-drukkoker en die Praktiese kookboek van mevrou Van Tulleken wat op die kitchen dresser gestaan het. Nie dat sy haar vreeslik aan die Van Tulleken-boek gesteur het nie. (...)

“Geen kos het ooit weer naby my ma se kos gekom nie. Ek het al baie gedink aan ma se filosofie oor kos. Sy het nie veel aan vitamiene gesteur nie. Sy het geglo dat as daar rooi en geel en groen kos op die bord is, dit in alles voorsien wat ons groeiende lywe nodig gehad had.”

“Sy het geglo dat die huis op ’n trietsige wintersdag na kos moes ruik om die kilte te verdryf. Ma was nie ’n demonstratiewe mens wat heeldag soentjies en drukkies uitgedeel het nie. Die kos wat sy ons voorgesit het, was deel van haar liefde vir ons – ’n bewys van hoeveel sy vir ons omgegee het.”

Berna het haar liefde vir musiek by haar ma wat ’n baie fyn aanvoeling vir musiek gehad het, geërf. Sy het vroeg-vroeg vir die jong Berna allerhande liedjies geleer en sy was skaars agt jaar oud toe sy met musieklesse begin het. Klavierspeel was nooit vir Berna ’n straf nie en sy het as kind en jongmens lang tye voor die klavier deurgbering omdat sy dit so geniet het. (Kerkbode, 9 April 1999)

Terselfdertyd was die huis waarin sy grootgeword het, ook ’n plek van woorde en beide haar ma en pa se aanvoeling vir taal was sterk. Sy het ook van vroeg af ’n dagboek gehad en stelwerk was die één ding wat vir haar op skool baie lekker was. (Die Burger, 25 Augustus 1999)

Sy ontvang haar skoolopleiding aan die Laer- en Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein.

Verdere studie en werk

Na skool is Berna na die Universiteit van die Vrystaat, waar sy die grade BMus, MMus en ook haar doktorsgraad in musiek behaal. Haar verhandeling vir haar M-graad het oor die kerslied gehandel en sy het gewerk aan ’n boek oor die geskiedenis van die kerslied.

Sy beklee verskeie onderwysposte aan die Hoërskool Sentraal, Hoërskool Eunice en Hoër Meisieskool Oranje en was ook dosent in klavieronderrig aan die Bloemfonteinse Onderwyskollege. In 1981 word sy aangestel as dosent in harmonie, kontrapunt en komposisie aan die Musiekdepartement van die Universiteit van die Vrystaat.

Sy was ook lid van die kommissie wat die bundel Sing onder mekaar in opdrag van die Sinode van die NG Kerk in 1988 saamgestel het. Oor wat hierdie werk vir Berna beteken het, vertel sy aan Kerkbode (9 April 1999): “Die kerklied bestaan nie net uit musiek nie, maar ook uit ’n teks, wat weer taal impliseer. Dit was vir my ’n wonderlike ondervinding om as musikus saam met teoloë en letterkundiges te werk, en sodoende ook met hulle uitgangspunte vertroud te kon raak. (...) Die toevoeging van Sing onder mekaar en die Jeugsangbundel het die bestaande kerkliedereskat aansienlik verryk en die NG Kerk in lyn gebring het met wat in Christelike kerke wêreldwyd gesing word. Ek dink nie dat Christene altyd besef watter voorreg dit is om hulle deur middel van hierdie wonderlike liedere te kan verenig met miljoene mede-Christene oor die lengte en breedte van die aarde nie.”

Berna is met Hansie Ackerman getroud en hulle het twee dogters, Doralize en Corli. Hansie was in die Weermag en het die grond baie lief gehad. Dit was dus verstaanbaar dat hulle nogal lank geboer het.

Berna begin vroeg al skryf – aanvanklik net as ’n stokperdjie. Etlike kortverhale, sowel as twee vervolgverhale, word in Sarie gepubliseer. Die vervolgverhale word albei in 1981 in boekvorm deur Tafelberg Uitgewers as romans uitgegee onder die titels Halfsuiwer-mossie en Seuntjie met ’n vlek.

’n Kortverhaal, “Die Donderdagtestament van Daan Delport”, is opgeneem in die bundel Om lief te hê – ’n keur van liefdesverhale wat in Sarie verskyn het. Sedert haar aftrede as musiekdosent bly Berna besig met haar skryfwerk in die vorm van musiekresensies vir Die Volksblad, programaantekeninge vir die Odeion Strykkwartet en die destydse Sukovs, en artikels van musiekwetenskaplike aard. Sy stig MUSACK, ’n uitgewery vir musiekboeke, en publiseer onder meer Luister na ... (’n gids vir musiekbeluistering) en ’nVyfpuntplan vir vierstemmige harmonie. ’n Derde oplaag van dié publikasie is uitgegee en dit is ook in Engels vertaal.

Halfstuiwer-mossie is die storie van Trudie Bressler, wat ’n jong ma en weduwee is. Haar seuntjie van vier is ’n bloeier. Hy en sy ma bly by sy ouma van vaderskant. Trudie gee musiek aan ’n skool buite die stad op ’n plekkie genaamd Boegoebron. Sy besef baie vinnig dat sy nie baie welkom by die skool is nie en dat die voorsitter van die skoolkomitee, Karl Venter, die een is wat die lewe vir haar moeilik maak. Hy wil hê sy dogter Esther en die aantreklike skoolhoof Gerhard Coetzee moet trou en hy wil ook die musiekpos vir sy houvrou, Tess Vermeulen, hê.

Eleanor Baker (Oggendblad, 7 Augustus 1981) het die verhaal beskryf as “’n teer verhaal van ’n moeder se liefde vir haar kwesbare kind en vir die man wat sy moet verwerp omdat sy die kiem van die bloeiersiekte in haar ronddra. Die karakters is wel baie eensydig geteken, maar dit is ’n verhaal wat die leser enduit sal boei.”

Die basiese gegewe in Berna se tweede boek, Seuntjie met die vlek, is dieselfde as die eerste. Hier gaan dit ook oor ’n seuntjie wat ’n fisieke probleem het en ’n ma wat hom oorbeskerm. Die vierjarige Robbie in Seuntjie met die vlek het ’n baie lelike geboortemerk op sy gesig en sy ma is só fyngevoelig daaroor dat dit die kind se persoonlikheid negatief beïnvloed. Dinkie Enslin, sy ma, wil hom glad nie kleuterskool toe stuur nie, terwyl sy pa, Anton, nie met haar saamstem nie. 

Tydens ’n besoek van die kleuterskool aan ’n melkfabriek beland Robbie, deur ’n sameloop van omstandighede, in die kombi van meneer Brummer. Hy is nie bewus van die seuntjie in sy motor nie en toe hy op die plaas kom, neem sy vrou aan dat Robbie haar kind is. Die gesin se kind is oorlede en die ma het aan erge depressie gely. Intussen het die res van die dorp aangeneem dat Robbie in die vloedwater verdrink het en Sally, die vrou wat Robbie onwetend na die verkeerde kombi geneem het, is weg. Sy het eers ’n paar dae later verneem dat Robbie vermis is en kon darem op haar siekbed aan ’n verpleegster vertel waar Robbie is.

EB (Eleanor Baker) (Oggendblad, 16 Oktober 1981) skryf as volg oor Seuntjie met die vlek: “Die ingewikkelde situasie veroorsaak dat ’n mens nie die boek kan neersit voordat hy deurgelees is nie. ’n Gebrek is egter dat Dinkie teen die einde tot nuwe insigte omtrent Anton kom, maar geen insig in haarself bekom nie. Verder gaan karakters darem alte maklik dood net om die spanning langer vol te hou of om ’n situasie op te los.”

Sewentien jaar het verbygegaan voordat Berna se volgende boek gepubliseer is. En dit is onmiddellik ’n wenner. Liesbet Delport se oorlogboek is in 1998 deur Tafelberg uitgegee en in 1999 met die ATKV-Prosaprys bekroon.

Berna ontvang die ATKV-Prosaprys die jaar na al die omstredenheid toe die ATKV ’n spesiale toekenning van Madelein van Biljon weerhou het nadat sy gesê het sy is nie ’n Christen nie. Hierop reageer Berna as volg: “Ek was verlede jaar (1998) baie ontsteld oor die wyse waarop die toekenning van Madelein van Biljon weerhou is en ek dink dat dit die beeld van die ATKV sowel as Christene in die breë geskaad het. Ek het baie waardering vir die groot werk wat die ATKV in belang van die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur doen, en dit is vir my ’n besondere eer dat die Liesbet-boek gekwalifiseer het vir die prys.” (Kerkbode, 9 April 1999)

Liesbet Delport se oorlogboek was ook op die kortlys vir die M-Net-Boekprys vir 1999. Oor die toekenningsaand wat Berna in die MTN Sundome in North Riding bygewoon het, vertel sy in die rubriek “Stop van Myne” in Die Volksblad (8 Junie 1999): “Maar gelukkig, gelukkig sien jy die beskeie bruin deurtjie met die kennisgewing: M-Net Bookprize so tussen die plekke van vermaak. Dit voel of jy deur die nou poort ingaan om in die reusagtige banketsaal te kom. Jy sluk ’n slag want voor jou oë ontplooi ’n stuk multikultuur soos ’n kleurige kaleidoskoop. Die reënboogkleure van die bont servette laat die tafels soos blombeddings lyk. Swart aandpakke word dowwe kolle tussen die Madiba-hemde en kaftans, die etniese rokke en blink sari’s in skakerings van kersierooi, poublou, kanariegeel en kikoejoegroen. (En jy was nogal bang dat jou grys fluweelnommertjie te flashy vir die geleentheid sou wees!)

“En daar word in tale gespreek – Venda, Tsonga, Sotho, Nguni, Engels, met hier en daar ’n brokkie Afrikaans. Jy eet Canadian Salmon/Kanadese salm/Nhlampfi ya le Khanada van die spyskaart af en drink Coffee/Koffie/Kofi terwyl Shaluzamax Collective musiek maak met die titel Meeting at the crossroads. En ’n kruispad is dit voorwaar! Klawerbord, kitaar, slagwerk, saxofoon, trompet en stemme kruis mekaar in ’n magtige kakofonie van klank. Jy voel naderhand hoe jou buise van Eustachius finaal ingee en dink aan ’n ander prysuitdeling waar André Howard die gaste vermaak het met ’n innige vertolking van Heimwee. En hier op die vooraand van die 1999-verkiesing besef jy dat jy jou oor, die buise van Eustachius ten spyt, op ’n ander frekwensie en desibeltelling sal moet instel.

“Nou die toekennings. Dit is lofwaardig dat M-Net in ’n tyd waarin boeke in gedrang kom as gevolg van elektroniese media soos die TV en internet, en waarin uitgewers sukkel om finansieel die mas op te kom, ’n kompetisie borg vir boeke in die kategorieë Venda, Tsonga, Sotho, die Nguni-tale, Afrikaans en Engels. Reeds by die uitstalling wat die dinee voorafgaan, bemerk jy, naas die bekende uitgewers soos Human & Rousseau, Tafelberg, Van Schaik en Juta, minder bekende name soos Vivlia, Random House, NAM en Bard. Die wenner in die Afrikaanse kategorie, Op soek na Generaal Mannetjies Mentz van Christoffel Coetzee met die Anglo-Boereoorlog as agtergrond, word ’n bekende baken waaraan jy vashou, terwyl boeke soos The Tikieline Yuppie van Mehlaleng Mosotho, Umlimandlela van Ncedile Saule en Ditlabonyane Ke Ditlaboima van Jacobus Ramokokobadi Lesibana Rafapa vir jou die soeklig op ’n ander sy van ons geskakeerde samelewing laat val. Luister jy na die voorlesings uit dié boeke, is dit duidelik dat die letsels van apartheid en die struggle nog nie heeltemal verdwyn het nie.

“Dat daar wel ’n ander struggle is, een van eksistensie, een vir bestaansreg in ’n bestel waar regstellende aksie die wagwoord is, maar waar ’n mens uiteindelik op grond van sy bekwaamheid en verdienste vir hom ’n pad sal moet oopveg. Dat die pen in hierdie verband magtiger is as die swaard of die AK47.

“Jy ry huis toe met ’n gevoel van trots dat jy deel is van die Reënboognasie en ’n aandeel het aan die Suid-Afrikaanse boek. Maar, sonder om bedreig te wil klink, besef jy dat jou moedertaal maar één van 11 amptelike tale is, en om die voortbestaan daarvan te verseker, rus daar enersyds ’n dure verpligting op die Afrikaanse skrywers om boeke te produseer, maar ook op die leser om boeke te koop en te lees sodat die Afrikaanse boekebedryf lewenskragtig kan bly. Sodat daar vir ons kindskinders ook eendag leesstof in hul moedertaal sal wees.” 

Berna vertel in 1999 aan Riekie Human (Die Burger, 25 Augustus 1999) dat die grootste oomblik in haar skryfloopbaan tot op daardie stadium was die aand toe sy in die Kasteel gestaan en die ATKV-prys ontvang het. “Dit was so ’n wonderlike, soel aand in Kaapstad. EK het dit glad nie verwag nie. Ek ontdek juis nou die dag ’n brief wat ek aan iemand gestuur het met die woorde: ‘My ou manuskrippie het ek afgestuur Kaap toe, sal nou nie juis ’n prys of toekenning daarvoor ontvang nie.’ Maar vandag weet ek, as ek nie daai boek geskryf het nie, sou ek nie my kop eendag kon neerlê nie. Dit was ín my.”

In Volksblad van 11 Augustus 1998 het Berna aan Adri Herbert vertel dat toe die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, sy as ’n kleuterdogtertjie nagmerries gekry het van al die grootmensstories oor bomme en verwoesting, Vyftig jaar later het sy besluit om die verhaal van Liesbet Delport te vertel wat halfpad uit feite en halfpad uit fiksie bestaan.

Liesbet en die Delports se storie het lank in Berna gebroei. Sy wou van altyd af oor haar mense skryf en dit was in 1989, nog half beneweld van narkose ná ’n operasie, dat die verhaal eensklaps sy bestaan gekry het en die storie se vorm sy beslag gekry het. “Ek het omvattend navorsing gedoen vir die boek. Ek glo jy moet iets ken om daaroor te skryf,” het sy aan Marietjie Beukes in Taalgenoot van Maart 2000 gesê.

Sy het ou Huisgenote gebruik om inligting te kry oor resepte en modes van die 1930’s en 1940’s. Sy het daarin geslaag die huis waar sy grootgeword het, Steynstraat 30 in Westdene, Bloemfontein, tot op ’n tiekie te beskryf sodat die taal- en leefwêreld van daardie tyd voor die leser se geestesoog lewe. En hoewel sy nie heeltemal Liesbet is nie, het sy dit openlik gestel dat sy van haar eie belewenisse op Liesbet oorgeplaas het: “Baie van die pa se woorde is sinne wat my eie pa net so gesê het.”

In ’n onderhoud in die Algemene Kerkbode van 9 April 1999 het Berna aan Mariette Cloete-Hofer gesê: “Die boodskap wat ek deur middel van die karakters probeer weergee het, daarop neerkom dat ons as Afrikaners (en dit geld ook vir die ander taalgroepe) nie ons identiteit moet prysgee nie, maar tog wel mekaar se standpunt moet respekteer.”

Oor Liesbet Delport se oorlogboek het Henriette Grové in Beeld van 22 Februarie 1999 as volg geskryf: “Die verhaal betrek die leser met die intrap by die Tweede Wêreldoorlog en die verhaaltyd van die boek word ook vroeg al uitgesproke aan die duur van die oorlog verbind: September 1939 tot 8 Maart 1945. Dis ’n stryd wat die hele groot wêreld raak, maar ook die klein wêreld van die Delport-gesin van Steynstraat 30, Bloemfontein, en die nog kleiner wêreldjie van Liesbet, wat van alles wat sy hoor, so min begryp en waarvan sy tog in haar dagboeke probeer getuienis aflê. Wêrelde wat mekaar op ’n vreemde wyse weerspieël.” (...)

“Daar is ’n byna krampagtige opnoem van dinge soos die klem wat op feitlikhede gelê word in ’n poging om tyd en plek tot werklikheid te dwing. Dit is immers op daardie plek, in daardie tyd en onder daardie omstandighede dat Liesbet haar kwelvrae stel: ‘Pa, wat is oorlog?’, ‘Ma, wat is die rooi eed?’, ‘Pa, wat beteken aansluit?’, ‘Wat is die ander tyd?’. En as die babaseuntjie sterf: ‘Is dít dood? Wat is dood?’”

“Soveel woorde wat soveel vreemde begrippe moet dek. En waar die kind nie begryp nie, dien die vrae om die narratiewe gang van die verhaal te steun en sin te gee aan die kind se dagboekie: ’n reduksie van lotsbepalende gebeurtenisse tot ’n aantal naïewe frases in die onbeholpe skriftuur van ’n sesjarige. Ons het hier ’n duidelike outeursgreep wat maklik presieus, selfs sentimenteel sou kon aandoen. Tog is dit nie die geval nie. Skrywers gebruik slenters en sette, wettig en onwettig, in ’n byna onbegonne poging om die bont blerrie spul wat ons die werklikheid noem, nuut en sinvol te maak, want woorde en hulle sprekers word ook maar onherroeplik oud.”

“Daarom Liesbet en haar aantekeninkies. Dit staan in so ’n skrynende jukstaposisie teenoor die gruwel van die oorlog dat dit ’n soort konfrontasie word tussen skepsel en feit – ’n byna eksistensiële belewing. Een bedenking tog in dié verband. Daar is nie juis ontwikkeling in die sinne van die kind nie. En sy groei darem van ses na twaalf. Vitterig? Skools miskien? Maar die boek aksentueer uur en feit so sterk dat die leser gekondisioneer raak om waarheidsgetrouheid voorop te stel.”

Vir Joan Hambidge (Die Burger, 28 Oktober 1998) is “die jong kind-as-waarnemer een van die verruklikste subgenres in die vertelkuns. Liesbet Delport se Oorlogboek vertel die verhaal van ’n jong kind se waarnemings in die Tweede Wêreldoorlog. Sy is ’n laerskoolkind, maar hou reeds ’n dagboek oor al háár gewaarwordinge, vrese en naïewe interpretasies. Die verhaal beklemtoon in welke mate vrees ’n mens se lewe kan verander. As ’n jong kind byvoorbeeld nou ’n dagboek sou hou, sou ’n mens waarskynlik oor ’n paar jaar die skokkende paranoïese kondisie van hierdie land na behore kon registreer.”

“Hierdie is ’n vaardige roman. Dit lewer verslag van ’n familie se reaksie op die oorlog, die onderlinge spanninge wat dít tot gevolg het, en hoe mense se daaglikse lewens geraak is: die vader, ’n proefleser by Die Volksblad, verloor tydelik sy werk. ’n Huwelik moet op ’n kleiner skaal plaasvind. Maar dit is veral Liesbet se emosies wat ’n mens interesseer. Dit is immers haar perspektief, en in geleerde terme vind ons ook hier ’n verslag van oedipalisering. In hierdie kort bestek verander nie net haar liggaam nie, maar word sy gekonfronteer met die beperkinge van grootmense en die dood.”

“Die sensitiewe kind se emosies word baie raak beskryf. Soos by JM Coetzee se Boyhood het ’n mens natuurlik altyd twee vertellers in so ’n jeugdokument: die kind en daaroorheen die ouer, ontnugterde grootmens wat saampraat. (Miskien is die kind se waarnemings by Ackerman soms net te gesofistikeerd maar dit is ’n klein beswaar. (...)

“Ook die ontwikkeling in die dagboek verdien vermelding. En daar is ander lieflike vinjette wat ’n mens altyd sal bybly: die ongedurige pa wat nie die kind se ontsteltenis by sy werk kan hanteer nie. En die jong kind wat die politieke spanning tussen haar pa en Jack kan aanvoel al kan sy nie presies die verloop van die oorlog begryp nie.”

“Die skryfster sinkopeer die historiese verloop goed met die persoonlike ontwikkeling van die kind. Dit is ’n boek wat ’n mens gerus kan saamlees met die kinderpsigoanalis, Alice Miller se The untouched Key – Tracing Childhood Trauma in Creativity and Destructiveness (Virago, 1990). In hierdie openbarende studie wys Miller daarop hoe traumatiese ervarings die kind se psige kan verander. Sy maak onder meer analises van Picasso en Hitler as voorbeelde van twee uiterste gevalle. Ook die psige van die skryfster sou ’n mens kon analiseer volgens etlike sleutels wat Miller verskaf in haar opwindende studie.

Liesbet Delport se Oorlogboek is ’n hoogs leesbare roman. ’n Mens wonder of Berna Ackerman nie dalk iets oor die konsentrasiekampe vir ons wil skryf nie? Haar goeie insig in die geskiedenis en fyn waarneming van klein besonderhede behoort haar goed te pas te kom. Die roman moes baie navorsing gekos het; klaarblyklik uit die subtiele draad wat regdeur die verhaal vleg. Maar die werklike fokus is die uitwerking van verwoesting op die psige van die mens. En hoe dit ’n litteken maak.”

Marina le Roux (Insig Boekeseksie, Februarie 1999) meen dat Liesbet se dagboek ’n pragtige oorlogsroman word wat deurleef is en ontroer. “Van die leser word egter verwag om skeptisisme op te hef en die besinnende, volwasse verteller te aanvaar saam met die naïewe kinderskryfster wat jou so meesterlik meevoer en laat deel in al haar reaksies op die oorlogsgebeure. Dis sy, hierdie kind op die periferie van die volwassenes en volwassenheid, wat ons telkens herinner, soos Kallie Magistraat in Schoeman se Verliesfontein: ‘Kyk na my; luister na my. Ek het ook eens gelewe.’

“Die leser het begrip vir Liesbet se isolasie en verwarring, vir haar geslotenheid wat dien as ’n verdedigingsmeganisme teen haar kwesbaarheid, maar ook vir haar innigheid en fyn waarnemingsvermoë. Die afwisseling tussen ’n volwasse eksterne verteller en ’n belewende, ongesofistikeerde ek-verteller, verplaas Liesbet se storie vanuit die verlede na die hede.”

“Die verhaal is stewig ingebed in ’n uiters realisties-historiese basis, sonder om dit op te dis as ’n verromantiseerde geskiedenishandboek. Historiese detail word heeltemal natuurlik en onopsigtelik ingeweef deur middel van interessante tegnieke (...). Soms, maar werklik net soms, word die leser verdwaas deur die oordaad van die historiese mosaïek (...). Maar dit is die sterk karakters en die genuanseerde karakterbeelding wat van hierdie dagboek ’n knap (jeug) roman maak. (...)

Liesbet Delport se oorlogboek word geraam deur ’n verhelderende proloog en ’n epiloog wat die storie van Steynstraat se mense in ons tyd plaas. Daar is egter selde ’n gevoel van emosionele manipulering aan die kant van die skrywer. Simpatie en soms selfs innige bewoënheid word geaktiveer deur eerlike meelewing. Die sirkulêre slot is sober en sensitief en ontroerend soos ’n Bybelteks in sy strakke eenvoud: ‘Alles het ’n bepaalde uur ... ’n tyd vir oorlog en ’n tyd vir vrede.’”

Leana Lategan (Volksblad, 4 Januarie 1999) beskryf Liesbet Delport se oorlogboek as ’n baie besonderse teks. “Dit mag ’n jong kind as hoofkarakter hê, maar is vir ’n wye spektrum lesers bedoel en is een van die mees sensitiewe tekste waarin gesinslede se onbegrip vir mekaar as onderliggende tema ter sprake kom.”

Net na die publikasie van Liesbet Delport se oorlogboek was Berna al klaar besig met navorsing vir haar nuwe boek – hierdie keer het dit oor nieroorplanting gegaan. Sy vertel aan Die Algemene Kerkbode in April 1999 dat sy alreeds baie navorsing gedoen het en onderhoude gevoer het met mense wat sulke operasies gehad het, en haar karakters het teen daardie al begin “asemhaal”. “Die groot kwessie is om die tegniese data te verwerk dat die voltooide produk nie klink soos ’n anatomie-diktaat nie, maar ’n verhaal oor iets wat gebeur met ’n mens van vlees en bloed, en wat sy lewe, asook dié van sy naasbestaandes, ten nouste raak.”

Die roman, Met ’n ompad, verskyn in 2002 en Berna het baie geput uit haar eerstehandse ervaring met haar broerskinders wat albei self nieroorplantings gehad het. Behalwe dat daar raakpunte met haar broerskinders is, het sy ook haar stof geput uit haar pa se afsterwe weens nierversaking en haar eie man se afsterwe. “Maar die roman is allermins ’n jeremiade rondom die dramas van ’n gesin waar die dogter nierversaking kry en op ’n skenker-nier wag. Ek glo ’n mens moet jou leser voortdurend hoop gee,” het sy aan Elize Parker (Die Burger, 5 Augustus 2002) vertel.

Aan Elize Parker het sy vertel dat sy regtig hard moes dink hoe sy die onverteerbare inligting gaan aanbied en in die verhaal inweef. “Dit is waar skryf se uitdaging vir my lê: Om met feitelike gegewens ’n nuwe wêreld te skep. Net soos haar hoofkarakter in die roman, Tina, rondom al haar lewenskrisisse letterlik met ’n ompad ’n plan moes maak, het Berna dié tegniese en mediese inligting in die roman via e-posbriewe tussen die ouers weergegee. Enige roman met ’n mediese tema voel ek moet ’n realistiese en geloofwaardige noot hê.”

Die karakters in Met ’n ompad het ’n lewe van hul eie. “Die ma is nie ’n supervrou nie, maar in haar is die kiem vir oorlewing. Hul huis is nie juis direk uit Garden and Home nie. Dan is daar die Franse horingspeler, Clemens, wat haar ondersteun op sy manier wanneer haar man in Ethiopië gaan werk. Ek moes net eenvoudig musiek inbring. Ek is so ingestel op klank wanneer ek skryf. Daar is ook nie enige literêre truuks in die roman nie, want ek is nie in staat om ’n geleerde boek te skryf nie. Ek skryf basiese boeke.”

Die tienertaal in die roman is nogal oortuigend en sy het dit reggekry deurdat sy na haar vriendinne se tieners se gesprekke geluister het.

Wanneer sy geskryf het, het sy nie altyd net op haar navorsing en eie ervarings staatgemaak nie, want toeval het ook ’n rol te speel gehad wanneer sy geskryf het. ’n Vriendin van haar het op ’n dag kom kuier met ’n stapeltjie interessante briewe uit Ethiopië en dit is daar waar Tina, die hoofkarakter, se man, Roy, sy beslag gekry. Een van Berna se dogters het een maal met ’n bos geel tulpe by die huis aangekom en so het die blomme deel van die boek geword. Haar eie kat, Krisjan, is die nierlyer, Anja, se kat en Herr Schmidt, Clemens se Franse horing, het ontstaan uit ’n herinnering aan een van Berna se musiekkollegas: “Ek weet self nie hoe al die dinge gebeur nie. Eintlik sien ek niks raak wanneer ek skryf nie.”

Waar die verhaal eintlik draai om Anja, wat op 13-jarige ouderdom ’n nieroorplanting moes ondergaan, wou Berna ook fokus op die menigte gebeure wat inwerk op ’n gesin wat deur so ’n siekte ingesluk word. “Dit is wat ek eintlik wou skets – die spanninge en dinamika in so ’n gesin.” (Volksblad, 10 Junie 2002)

Vir Gretel Wybenga (Beeld, 19 Augustus 2002) het die roman ’n besliste Christelike basis, maar gelukkig word dit nooit prekerig of opdringerig nie. “Dit is ’n heel natuurlike onderdeel van Tina se bestaan, ook weerspieël daarin dat haar gebede nooit apart gekursiveer of in aanhalingstekens geplaas word nie. Dit is gewoon deel van die vertelteks, soos dit deel van haar lewe is.

“Ook die titel hou verband met Tina se geloof: om te kan glo dat God weet wat Hy doen met hierdie ompad wat Hy haar, soos die Israeliete van ouds, deur die wildernis laat loop – die wildernis van veral Anja se siekte, maar sekondêr, ook die wildernis van onsekerheid oor haar huweliksverhouding. Sydelings is dit ook ’n verwysing na die pad wat Roy bou wat nooit klaar kom nie en hom van sy gesin vervreem.

Met ’n ompad is vaardig geskryf en ’n baie toeganklike roman. Dit sal ook terapeutiese waarde hê vir mense in soortgelyke situasies.”

Leana Lategan (Volksblad, 9 September 2002) skryf: “Ackerman het verhaalmatig hier ’n kundige en besonder goed-georkestreerde teks geskryf. Die proloog waarin die leser saam met die vertellende hoofkarakter, Tina, die dood van haar pa in haar kinderjare (her-)beleef, stem as ’t ware die res van die verhaal: Met ’n onverbiddelike deursettingsvermoë begelei sy haar meisiekind deur ’n byna twee jaar lange geveg om lewe na uiteindelike beterskap.”

“Dat sy in die proses noodwendig haar seun, Theo, emosioneel afskeep, ’n nogal stugge verhouding met haar ma moet afsluit en oënskynlik buite hoop kommunikatief van haar man, Roy, verwyder raak, is almal scenario’s wat die boek ’n dig geweefde teks maak. Die skrywer werk onder meer met die vraag na ‘realiteit’; die realiteit van siekte te midde van eise van ’n daaglikse bestaan en die mens se vermoë om op ’n persoonlike vlak na emosionele volwassenheid te groei.”

“Ackerman se unieke styl om die besonder emosionele aangeleenthede met ’n soort onbewoë realisme te klee, dwing die leser om kort-kort rekenskap van sy of haar eie ervaring te gee. (...) Met ’n ompad is ’n boek oor geloof en volharding; oor menslike ondersteuningstelsels wat feilbaar is; en genade en begrip wat van onverwagse oorde kom. En as ’n mens alles bymekaar sit en sien met hoeveel liefde Ackerman dit geskryf het, is dit, om Theo se woorde te gebruik, ’n ‘mighty nice boek’.”

Elize Parker (Die Burger, 9 September 2002)  skryf: “Net soos in Liesbet Delport se oorlogboek word die kind se emosies ook in Met ’n ompad sensitief verwoord, maar dié roman slaag in hierdie opsig beter as die eerste een, omdat Anja se waarnemings nie te gesofistikeerd is nie. Die gemaklike tienertaal gee haar gesprekke ’n eie kleur.”

“In ’n minder vaardige skrywer se hand kon die dikwels swaarwigtige verhaalgegewens maklik sentimenteel of melodramaties aangebied gewees het. Ackerman slaag egter deurgaans daarin om ten spyte van die tegniese detail die leser se aandag te boei en in beheer van die emosionele intensiteit van die verhaal te bly. Sy help ook haar lesers op ’n gemaklike manier om ’n greep op die siekte se werklikhede te kry. Karakters verval gelukkig nie in ’n jammerlike tranedal nie. Haar sterkste punt is dat sy ’n verhaal gemaklik en vlot kan vertel sonder literêre truuks.

“Sy huiwer nie om aktuele kwessies deel van haar verhaallyn te maak nie: die pa verloor sy werk as gevolg van rasionalisasie, daar is ’n moratorium op nieroorplantings, Tina se motor word gesteel, en staatshospitale ondervind kontantvloeiprobleme.”

“Die ontwikkelende vriendskap tussen Tina en haar loseerder, Clemens, sorg vir ’n paar mooi vinjette. Dit is hy wat vir haar toebroodjies in die hospitaal aandra, haar seun leer tuinmaak, deurgaans met sy musiekoefeninge sorg vir salf vir haar seer siel en met sy begrip vir haar omstandighede effe meer as net nog ’n klankbord word. Ná ’n terloopse aanraking deur Clemens dink sy byvoorbeeld: ‘Ek kom terug in die huis. Gaan staan voor die spieël in die gang. Sien die blos op my wange. Die oë wat vandag weer behoorlik groen is. Koester my ’n oomblik lank in die weelde om na al die maande van oorstuurde, verwaarloosde ma-van-’n siek-kind weer soos ’n vrou te voel’ (bl 173).

Met ’n ompad is ontspanningsleesstof op ’n hoë vlak wat stimulerend vir ’n nadenkende leser is en selfherkennend deur elke ouer gelees sal word.” 

Oor die rol wat God en haar geloof in haar lewe speel, is ononderhandelbaar. Haar Christenskap sal sy nooit versaak nie en sy kan nie sonder haar gebed nie. Haar liefde vir haar medemens is baie noodsaaklik – “’n loutering en ’n geleentheid om te groei”, het sy aan Marietjie Beukes (Taalgenoot, Maart 2000) vertel.  

Aan Mariette Cloete-Hofer (Kerkbode) het sy dit onomwonde gestel: “Oor God se plek in my lewe kan ek baie sê, maar ek volstaan by die woorde van die Psalmis: ‘Here, U is my lewe, U sorg vir my./ Wat ek ontvang, kom alles van U af.’”

Op 10 Augustus 2015 is Berna Ackerman aan lewerkanker in Bloemfontein oorlede. Sy is ’n week vroeër met kanker gediagnoseer nadat sy vir ’n rukkie nie lekker gevoel het nie. Sy word oorleef deur haar twee dogters, Dora en Corlia, en twee kleindogters.

Haar dogter, Dora, het gesê: “My ma het baie mense deur haar musiek, skryfwerk en betrokkenheid by die kerk geraak. Ons sien dit nou in die reaksie wat ons met die tyding van haar dood ontvang. Haar oudstudente is getuienis van die invloed wat sy op hulle gehad het. Corlia het gesê sy is bly oor die verskil wat haar ma in mense se lewe kon maak.” (Ruan Bruwer, Volksblad, 11 Augustus 2015)

In ’n huldeblyk in Volksblad van 18 Augustus 2015 skryf Leana Lategan dat vir Berna se vriende, kollegas, studente en lesers was sy ’n “Bloemfonteinse skrywer” al het sy haar wortels in Boksburg gehad. Selfs in haar eerste twee boeke het sy al “aktuele kwessies gebruik soos die verwikkelde sosiale en emosionele situasies van kinders wat met ’n fisieke rem moet leef: die lewe van ’n bloeier, die seuntjie met ’n onooglike geboortemerk, of ’n tienermeisie wat op ’n skenkernier wag.

“Kenmerkend van die romans is die geloofwaardigheid waarmee die fiktiewe storielyn met feite aangevul word, sonder dat die verhale swaarwigtig of uitsigloos word. Die Christelike perspektief waaruit sy skryf word nooit patroniserend nie maar bevestig slegs die potensiële innerlike krag van mense wat in hul geloof geanker is. Haar onwrikbare vertroue in die ‘gewone mens’, en die wyse waarop hulle na mekaar uitreik, vorm in al vier haar boeke die hooftema.”

“Dis alledaagse waarhede en situasies wat met nugterheid en empatie deurgewerk word: sosiale verwerping, sieklike heb- en selfsug, rasionalisering, terminale siektes, vereensaming, enkelouerskap. Kitsoplossings bestaan nie in die realiteit nie, en ook nie in Berna se verhale nie.”

“Die ATKV se prosaprys (1998) vir Liesbet Delport se Oorlogboek was vir Ackerman die hoogtepunt in haar skryfloopbaan. Dit is ’n boek wat steeds op eie stoom voortleef. Is dit omdat Liesbet se drome ook Berna s’n was? Of gewoon omdat die stem van die ware storieverteller nooit stil word nie?”

Publikasies

Publikasie

Halfstuiwer-mossie

Publikasiedatum

  • 1981
  • 1999 (grootdruk)

ISBN

  • 0624015920 (hb)
  • 1869040740 (hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen    

 

Publikasie

Seuntjie met die vlek

Publikasiedatum

  •  1981
  •  2000

ISBN

  •  0624016544 (hb)
  •  1869044258 (hb)

Uitgewers

  •  Kaapstad: Tafelberg
  •  Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Liesbet Delport se Oorlogboek

Publikasiedatum

  • 1998
  • 1999

ISBN

0624037029 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

ATKV-Prosaprys 1999

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Met ’n ompad

Publikasiedatum

2002

ISBN

0624040887 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Berna Ackerman op die internet

Artikels deur Berna Ackerman op die internet

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

  • Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top