Berig die koerant oor verwaarloosde bejaardes?

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

In Spruyt teen Dagbreek Pers1 – ’n uitspraak van regter Kuper van 23 April 1958 – lees ons van ’n artikel in die destydse Dagbreek en Sondagnuus wat gelei het tot ’n lasteraksie teen die uitgewers en eienaars van dié Sondagkoerant. Dit het gehandel oor oumense in ouetehuise wat glo deur hul kinders afgeskeep is. Gedeeltes van die artikel lees soos volg (en jy kan gerus die styl vergelyk met dié van vandag se joernaliste):

In eensaamheid, met harte vol heimwee, bring hulle hul skemerdae deur. Al waarop hulle gedagtes teer, is herinneringe – herinneringe aan die dae toe hulle hul hande deurgewerk het om hulle kroos kos, klere en opvoeding te gee.

En bitterheid. Want daardie selfde kinders sien hulle nooit meer nie, of uiters selde. Daardie laaste groet toe hulle by die inrigting afgelaai is, het in baie gevalle “vaarwel” beteken.

Vandag gebeur dit alte dikwels dat familiebetrekkinge hulle van alle verantwoordelikheid onthef beskou die dag wanneer hulle die bejaarde aan die sorg van ’n ouetehuis toevertrou het.

En daarom verbaas dit nie dat die prewelwoorde wat die meeste gehoor word uit die monde van hierdie tehuise se inwoners, is: “God slaap nie!”

Onder die hofie "Hartbrekend" gaan die artikel verder:

Met trane in sy dofblou oë het ’n gryse 69-jarige wat met krukke na Dagbreek se kantore geloop het die afgelope week vertel van sy ervarings in twee Randse ouetehuise.

Hy was ’n jaar lank daar. Die verskriklikste, hartbrekendste toneel, vertel hy, is die bejaarde vroue – meeste bo 80 jaar – wat in hulle rystoele voortdurend kla dat hulle na hulle kinders verlang.

“Heimwee,” het die oubaas gesê, “is die ongeneeslike siekte van die oue van dae.”

Naas die artikel was daar ’n foto van ’n bejaarde man met ’n dik swart kruis deur die boonste helfte van sy gesig – klaarblyklik sodat hy nie herken kon word nie. Die opskrif bokant die foto was net een woord: "Stiefkind?" Die onderskrif het gelui:

Hy word by ’n ouetehuis afgelaai ... Sal sy kinders hom weer besoek of is dit “vaarwel” en sal hy ’n “stiefkind” van die samelewing word en sy laaste asem uitblaas met ’n grief in sy hart?

Die foto was dié van ’n sekere mnr Adam Spruyt, wie se seun só deur die berig ontstel is dat hy ’n aksie om skadevergoeding weens laster teen die uitgewers en eienaars van Dagbreek en Sondagnuus ingestel het. Sy eis het £1 000 (R2 000) beloop. Destyds was dit ’n aansienlike bedrag.

In sy dagvaarding het mnr Spruyt jr onder meer aangevoer dat die artikel, sáám met die onderskrif, beteken het dat hy hom van alle verantwoordelikheid teenoor sy vader onthef het, ondanks die feit dat sy vader sy hande deurgewerk het om vir hom kos, klere en ’n opvoeding te gee; dat hy die Tien Gebooie nie nakom nie (in die besonder, dat hy ’n persoon is wat sy vader nie eer nie); dat hy ’n persoon is wat deur die samelewing verafsku behoort te word, en dies meer.

Dit is duidelik dat mnr Spruyt jr goed die swernoot in was vir die koerant.

Regter Kuper – ’n gesiene leier van die destydse Joodse gemeenskap – het in ’n uitspraak in byna foutlose Afrikaans die feite voor die hof deeglik ontleed en tot die slotsom gekom dat die artikel nie lasterlik is nie. Mnr Spruyt sr is deur die koerant beskrywe as ’n persoon wat pas tevore by ’n ouetehuis begin woon het, en die vraag is bloot in die onderskrif gestel of sy kinders hóm ook sou verwaarloos, soos ander kinders met hulle ouers gedoen het.

"Dit is nie die soort vraag wat ’n bepaalde antwoord veronderstel nie; die vraag mag met ’ja’ of ’nee’ beantwoord word," het die regter beslis, en vervolg:

In alle geval is die nie-lasterlike betekenis net so aanneemlik as die lasterlike betekenis en is die woorde van LORD ESHER … ook van toepassing in die huidige geding, naamlik:

“It seems to me to be unreasonable that, where there are a number of good interpretations, the only bad one should be seized upon to give a defamatory sense to the document.”

Die regter het absolusie van die instansie gelas. Dit beteken dat, aan die einde van mnr Spruyt jr se eis, daar nie ’n sterk genoeg saak was waarop die koerantgroep moes antwoord nie. Mnr Spruyt jr se eis is dus met koste van die hand gewys.

Terloops: dit was dieselfde regter Kuper wat minder as vyf jaar later – en wel gedurende die aand van 8 Maart 1963 – deur ’n sluipmoordenaar deur die sitkamervenster van sy huis in Johannesburg geskiet is. Hy is twee weke later aan ’n ernstige kopwond oorlede sonder dat hy sy bewussyn herwin het. Dit herinner, vreemd genoeg, aan die sluipmoord 32 jaar later op ’n ander Suid-Afrikaanse godsdienstige leier: prof Johan Heyns, wat gedurende die aand van 5 November 1995 óók deur die sitkamervenster van sy woonhuis deur ’n sluipmoordenaar in die kop geskiet is.

Beide sluipmoorde is tot vandag toe nog onopgelos.


1 Vgl Spruyt v Dagbreek Pers Bpk 1958(4) SA 243 (WPA)

             

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

                                                    

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top