Bergplek: ’n Tweeluik

  • 1

’n speldekussing woorde vir die berg

fynbos staan sorgvuldig in gestik
gietvorms vir wolke lê gestrooi tussen klip
warrelend wit waai die berg se gordyne
vog maak van roesblare groen medisyne
die sand word weldra ’n koffierige grint
lag smelt soos suiker, daar's melk op die wind
die pas neem ons deur ’n landskap wat droom
asem maak van ons soute en stoom
heeltyd speel as klankbaan hier buite
sang uit die klip, klink applous uit die kluite
lang riete skilder stadig, die middag verkleur
terwyl die berg wind tot musiek bekeer
(21 Mei 2018)

notasie

die berg lê en dagdroom op die naat van sy rug
klippies kyk uit kolkgate uit ’n verweerde rotsgesig
bruin, groen en blou is die dag se palet
wolke dans stadig ’n bergballet
in ’n skaduryke dal kom ’n melodie los
op die ingerygde planke van ’n xilofoonbos
’n hele orkes vorder tot aan die einde van ’n plaat
sand knars op teer, dis die ruising wat so maak
(30 Mei 2018)

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top