Ek het onlangs oor Julian Müller se boek, Om te mag twyfel, geskryf (SêNet, 3.06.2011; ook 9.06.2011). Sedertdien is ’n bundel met opstelle, Hier staan ek, deur Griffel Media gepubliseer. Daarin kom onder andere vyf predikante met hulle religieuse twyfel vorendag (Rapport, 23.10.2011, p 13). Dit moet moeilik wees om aanvaarbaar as predikant te funksioneer as twyfel en daarna ongeloof jou religieuse grondslag wegkalwe. Om te twyfel, om (binne perke) onseker te wees, om nie-dogmaties te wees, om jou eie standpunt as voorlopig te beskou, kan egter heilsaam wees. Tereg word skeptisisme van bv wetenskaplikes en filosowe verwag, al is dit in die praktyk by sommige van hulle glad te dikwels afwesig. Dogmatisme is by orators, bv teoloë en politici, aan die orde van die dag, al vind daar deurlopende verandering plaas in die standpunt wat hulle moet stel. So ’n indiwidu maak sy eie oortuigings ondergeskik aan dié van die kerk of party, anders sou hy gevaar loop om sy materiële voorspoed in te boet. In die konteks waarin sulke orators optree, moet hulle liefs oortuig van hulle saak klink, anders verloor hulle aanhang.
Baie mense is traag om self te dink. Dit is makliker om andere se idees onkrities oor te neem. Die meeste mense is swak ingelig, sonder dat hulle dit besef. Dit laat ruimte vir die aanvaarding van onwaarhede wat van geslag tot geslag oorgedra word. Afvallige predikante het hulle al dikwels op ’n populêre halwe waarheid oor Martin Luther beroep: "The words, 'Here I stand; I can do no other' were only added in later versions of the speech" (Derek Wilson, Out of the storm: The life and legacy of Martin Luther' London: Pimlico, 2008, p 170). Daar is ’n soortgelyke gewilde onwaarheid oor Galileo Galilei: "According to legend, as he was being escorted away, his fate sealed, Galileo whispered: 'And yet it does move.' Although this is probably no more than a myth, such a comment would certainly have been in character" (Michael White, Galileo antichrist; a biography, London: Phoenix, 2009, p 224). Daar word graag voorgegee dat spoedig na Luther sy stellings aan die kerkdeur vasgespyker het, die Hervorming gevolg het, terwyl hy toe glad nie ’n breuk met die Katolieke Kerk begeer het nie. ’n Soortgelyke voorbeeld: Jesus het nie gepreek om ’n ander geloof as Juda?sme te vestig nie. Paulus is die eintlike grondlegger van die christelike kerk, wat eerder sekulêres as Jode aangetrek het.
Een van die boeke waarna Müller verwys, is Peter L Berger en Anton C Zijderveld se In Praise of Doubt; How to have Convictions without becoming a Fanatic (New York: HarperOne, 2009, 179p). Berger is ’n Amerikaanse sosioloog en Zijderveld is ’n Nederlander wat sowel sosioloog as filosoof is. Na aanleiding van die tradisionele fundamentalisme in bv teologiese geledere en die relativisme in bv post-modernisme, soek die outeurs na ’n middelweg waar twyfel heilsaam kan wees. "All versions of relativism exaggerate the difficulties of ascertaining truth" (p 63). Relativisme as sodanig kan egter ook gedekonstrueer en met konstruktivisme vervang word. Twyfel kan absolute sekerheid vernietig, maar daar kan genoeg van die subjek se oortuigings oorbly dat hy nie standpuntloos in geestelike chaos verval nie. Soos dit in die boek se newetitel gestel word: ’n mens kan oortuigings hê sonder om fanaties te wees. ’n Kritiese ingesteldheid en ’n gesonde skeut skeptisisme is wenslik. Die moderne Westerse wysbegeerte het met René Descartes ’n aanvang geneem deur "elevating doubt to a basic methodological principle" (p 53).
Die outeurs beklemtoon die rol wat die mens se rede, dus rasionaliteit, en die produkte daarvan, bv wetenskaplike kennis, gespeel het om die houvas van religieuse fundamentalisme te breek. Nie dat dit oral suksesvol was nie. Islamitiese fundamentalisme hou steeds groot gevare in. Aan die een kant is daar die sigbare sekularisasie (verwêreldliking) in veral Europa. Globaal word dit ook by intellektueles, bv wetenskaplikes, "cognitive minorities" (p 79), aangetref. Aan die ander kant is daar die wisselende mate van irrasionaliteit by religieuses dwarsoor die wêreld. "The true believer is everywhere ... shaping the world in his own image" (p 95). Johannes Calvyn was "a true believer if there ever was one" (p 97). Maar die aanhangers van sciëntisme kan net so fundamentalisties wees: Die "fanatic belief in the omnipotence of the (mainly natural) sciences and their technological applications" (p 102). Die hedendaagse wêreld word deur pluraliteit gekenmerk. Om vrede en vooruitgang te bevorder, is dit wenslik dat mense minder selfversekerd is en meer oor die geldigheid van hulle oortuigings twyfel. Opvoeding en inligtingstelsels (bv die massamedia) kan hierin ’n positiewe rol speel.
’n Mens se lewens- en wêreldbeskouing kan as ’n boom voorgestel word. Die stam is die kern, maar die takke sprei in baie rigtings. Aan die takke kan verander (bv gesnoei) word sonder om die stam te ontwortel en te verplant. Die bereidwilligheid tot aanpassing kan verbeeld word as verandering in die voorgrond terwyl die agtergrond behoue bly. "Modernity greatly enlarges the foreground as against the background. Another way of saying this is: Modernity tends to deinstitutionalize" (p 17). In die Weste hoef ons nie meer Rooms-Katoliek te wees nie. "Chosen religion is less stable (weaker, if you will) than taken-for-granted religion. In addition, it may be more superficial ... but it need not be" (p 18). Die Rooms-Katolieke Kerk het op sy beurt "more accommodating to the wishes of the laity" geword (p 20). Wat nodig is, is groter verdraagsaamheid teenoor andersdenkendes.
Vervolg ...
Johannes Comestor

