
Die bekende bakens Koffiebus en Teebus (Skildery: Carin de la Harpe)
Berge
trap versigtig op die berge wat jy klim
hier onder aan sy voet
wees nederig en lig
soos ’n neerbuigspriet in eerbied
dog, durf hom aan met inspirasie
en as jou opslaanoog die hemel groet
brand tot offers as jy moet
teen die hellings van sy hange
wees baie bang
bly angsbehoede
vele gangers van vergange
sing hier hul laaste avondslied
hier waar sy regtervuis se kneukels
oor gladde rostrumrotse
sy kwota afgunsbloed vergiet
wanneer jy sy kruin bereik
wees moreel en stil
en daar waar wasemwolke
teen sy afgrondkranse pryk
daar ...
soos ’n palm in die wind
in sy uitsig oor die see
staan jy regop uit respek
tót die vlaghysing verstryk
onthou
berge het ook asems
klippe kry ook seer
ons is maar net padbouers
as soogsiele vermom
en hoog daar waar die wind waai
kerf ons kranse tot beton
Kommentaar
Pragtige gedig, Andries
Dankie, Driekie
Sjoe Andries dit is baie mooi vir my honger siel.
Bly ek kon van hulp wees Johan. Jou gedigte beteken ook baie vir my.
Die gedig is diep en kragtig en laat mens beslis dink.