
Vincent Oliphant (foto: Naomi Bruwer)
Die skote
is die bloedige interpunksie
in 'n gewonde verhaal.
‘n Ma
koester die kop van haar kind
soos 'n kosbare, gekraakte kruik
waaruit die lewe lek.
Sy sien die smeking in sy oë,
sy hoor die horting van sy asem,
sy sien die rukking van sy strot,
sy hoor die stottering van sy tong,
wat spartel in die bloed.
Dan ruk haar gesig
hemelwaarts
en haar kreet skeur die lug
soos 'n wanhoopskleed
keer op keer op keer.


Kommentaar
Vincent, met al die bendegeweld tans in die Kaap en al die onskuldige kinders wat in die spervuur beland, raak jou gedig my ongelooflik. Hoeveel onskuldige kinders moet nog so sterf in hul ma se arms? DANKIE
Dankie Vincent, vir jou bydrae tot Afrikaans!
Hartroerend! Gevoelig geskryf. Welgedaan, Vincent!