Belydenis van ’n pornoverslaafde

  • 0

“Ek noem myself sommer Rootman, wat darem bietjie beter klink is as Rotman. Rotman was mos een van Sigmund Freud se proefkonyne, ook kwaai probleme met obsessies gehad, die man.”

 

“Waarom eerder Rootman?”

“Ek wil nie soos ’n vrot stuk k*k lyk, verskoon my taal, vir my familie en die samelewing daar buite nie. Hoekom? Wat’s fout daarmee? Almal kyk porno, die meeste skelm en tjoepstil daaroor.

“Ek het iewers gelees, maar kan nie onthou waar nie, dat dit is waar die gemors begin het. Met porno, daai woord. Pornografie is ’n iets wat jy aan ’n universiteit bestudeer. Porno is meer soos Post Toasties of iets. Sommer vir brekfis. Dit het ’n huishoudelike ding geword.”

“Maar waar hét dit begin?”

“Toe ek met Dora begin uitgaan het. Sê maar Dora. Ook een van Freud se konyne. Hy’t haar beskryf as ’n ’homoseksuele jong vrou’. Sy’t uiteindelik weggeloop van hom af. Nee wat, hy’t haar net onnodig getoken.

“Min of meer daai tyd het ek ’n groot flat screen gekry en dan’t ek porno daarop gewys. As ek en Dora begin vatterig raak op die bed, dan druk ek net ’n knoppie. Sy was verskriklik warm, die meisie. In alle opsigte. Ek sal dit nooit vergeet nie. As ek my hand so hier langs haar flank laat afsak het en dan binnetoe gegly het, so al om haar dy binnekant toe, dan was sy aan die brand. En dan kyk ons so bietjie wat gaan aan op my flat screen, en dan val ons weer weg. Perdry, al daai goed. Jy weet mos.

“Maar op ’n dag het dit begin draai en die snaakste ding is, ek het dit geweet. Ek kan nou nog sê: dit was agtuur daardie aand, daai maand van daai jaar. Natuurlik was sy nog warm, maar dit was nie meer ’n turn-on vir my nie. Jy kan maar sê sy’t afgeskakel geraak vir my. En daarom kan ek die tyd en die dag onthou, as jy weet wat ek bedoel.”

“Hoekom dink jy het dit so gebeur?”

“Frekwensie waarmee ek die goed begin kyk het. Ag, dis ook net helfte van storie. Ek het al baie daaroor gelees. Dis nou nie asof ek geblinddoek by ’n krans afloop soos die fool in die Tarotkaarte nie. Jy sien, krans. Bad luck. Noodlottig. En hoekom? Omdat die samelewing daar buite kamtig dink dis sleg? Ek loop eerder uit soos Freud se Dora. Gaan my nie onnodig laat token nie. Vir wat?”

“Vertel eers oor die frekwensie-ding.”

“My ma-hulle het na kerk oorgekom vir braaivleis. Nee, Ma moenie worry nie, ek maak dié slag alles. My tannie-hulle, almal. Daar was omtrent tien mense. Foutloos, alles. My sosaties. Alles. Net die trifle was nie my beste nie. Te soet. Maar ag, vir hulle was dit doodreg. Soetigheid is mos vertroosting as jy ouer word. Teen daai tyd was ek so verveeld ek kon skreeu. Toe glip ek weg kamer toe en druk die knoppie. Toe’t ek seker al vir so ’n maand of wat ADSL Broadband gehad. En dis natuurlik ook deel van die storie: dis deesdae so bleddie maklik beskikbaar en boonop gratis. Redtube, al daai plekke op die internet.

“Jy kan maar sê dit werk soos ’n tonic teen verveling. En toe kom ek agter, want ek hou myself die heeltyd dop, toe kom ek agter dat ek na werk en voor gym al begin kyk. En natuurlik na gym weer, want dan’t al daai endorfiene losgekom. En ’n vinnige enetjie voor ete, en na ete ’n lekker lang een vir spysvertering. F*k, soms word ek wakker wie weet hoe laat, en ek drukkie die knoppie en daar gaan ek weer. Die skerm is altyd so diepblou daai tyd van die nag. En so aan. Altyd meer en meer dikwels. En langer ente, as jy weet wat ek bedoel. Shame, het jy dit al gekyk?”

“Shym?”

“Nee, die movie. Die ou daarin is ook heeltemal weg met sy obsessie. Maar dit het alles niks gehelp nie.”

“Wat bedoel jy?”

“Ek bedoel al my gelesery, Freud, Shame, al daai goed het my miskien so bietjie insig gegee, maar daar’t dit opgehou. Teen daai tyd was dit soos Post Toasties, maar dan praat ek nou van ’n koskas vól Post Toasties.

“By die werk ook, as ek toilet toe gaan, dan’s ek op my iPhone, Tumblr, ken jy dit? Vinnig opeenvolgende beelde, stil of in aksie. Dan’s ek nou eers gelaaf, ek kan teruggaan na my lessenaar toe.”

“Wat het toe van Dora geword?”

“Dora was nooit simpel nie. Sy’t gou agtergekom ek vrywe nie meer haar flankies nie. As sy weer kyk, dan’s ek vasgenael op die skerm en besig met myself. ’Ek is lief vir jou, Rootman, verstaan jy dit? Verstáán jy dit? Jy moet hulp kry, vader weet ek kan jou nie help nie.’ Haar gesig rooi en sopnat van die seerkry. Sy trek aan, vat haar handsak, tandeborsel alles. Blok my op haar sel.”

“Hulp. Maar dié wil jy duidelik nie. En tog praat jy van ’n obsessie?”

“Skeiding van liefde en seks. En nog ’n stap verder: skeiding van seks en ’n lewende mens van bloed en vlees daar langs jou.”

“Ek weet nie of ek jou kan help nie.”

“Jy hoef nie. Ek weet wat gaan aan met myself en dis oukei, f*cksakes. Ek is versot op die nuwigheid, die novelty daarvan. Dopamien is die chem wat dan afgeskei word in my brein. Ek het dit nodig, nodiger as Post Toasties, enigiets. My brein is gewire, get it?”

“Jy kan ook jou brein opnuut anders wire. Die brein beskik oor ’n plastisiteit. Die brein kan vorm en ontvorm. Maar dié goed weet jy ook seker.”

“Ek loop nou eers. Ek is honger. Hier’s ’n lekker Griekse restaurant hier naby. Dankie vir die luister. Miskien kom ek eendag tot ander insigte. For now is ek eers orraait. Verskeie seksuele patologieë is bloot oordrywings van doodgewone menslike neigings, om nou maar weer vir Freud aan te haal.

“Koebaai eers.”

Lees Izak de Vries se LitNet Akademies-resensie-essay van Eben Venter se Wolf, wolf, waar die tema van pornografie ook beskou word.
Lees Jaco Barnard-Naudé se resensie van Wolf, wolf.
Lees Marius Crous se resensie van Wolf, wolf.


 

Sign up for LitNet’s free weekly newsletter. | Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief.


 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top