Belge, boeke, Bloemfontein en Nederlandse vrae oor feite

  • 0

Loop alle paaie na Bloemfontein? Is alle feite waar? Wat is mag? Op Dinsdag, 9 Julie 2019, het ’n interessante gesprek plaasgevind by SASNEV in Pinelands.

Geraldine Reymenants, die algemene verteenwoordiger van die Vlaamse regering in Suid-Afrika, was in gesprek met die Nederlandse skrywer Wytske Versteeg. Hulle is bygestaan deur Corneli van den Berg, die literatuurfeeskoördineerder vir die Vrystaat Kunstefees. 

Van links: Corneli van den Berg (literatuurfeeskoördineerder vir die Vrystaat Kunstefees); die Nederlandse skrywer Wytske Versteeg en Geraldine Reymenants (algemene verteenwoordiger van die Vlaamse regering in Suid-Afrika). (Foto: Julie Banier)

Versteeg is ’n politoloog, maar ook ’n skrywer.

Die gesprek oor haar navorsing was net so fassinerend as die gesprek oor haar fiksie.

As akademikus stel Versteeg veral belang in mag, en die manier waarop gewone mense feite en die wetenskap interpreteer. ’n Groot deel van haar navorsing, en ook haar PhD, het gehandel oor die manier waarop mense soms bang is om die wetenskap te vertrou.

Sy is egter na die Vrystaat Kunstefees genooi om oor haar skryfwerk te gesels, so Reymenants het ook Versteeg oor dié deel van haar lewe uitgevra; heel gereeld meng die temas wat sy in die akademie raaksien, met dit wat in haar skryfwerk opduik. 

Regs: Geraldine Reymenants; links bo: Corneli van den Berg; links onder: Wytske Versteeg (Foto’s: Izak de Vries)

Haar eerste werk, Dit is geen dakloze, is in 2008 deur Lemniscaat uitgegee. Hier het sy stories oor mense wat dakloos is, oorvertel ná gesprekke met hulle.

De wezenlozen volg in 2012 by Prometheus en Boy, haar grootste sukses tot nou, verskyn die jaar daarna ook by Prometheus. Boy is reeds in Deens, Duits en Engels vertaal.

In 2015 verskyn Quarantaine by Prometheus en in 2017 kom Grime  by Querido’s Uitgeverij.

Regdeur Versteeg se fiksie is daar vrae oor wat die werklikheid nou eintlik is en, soos in haar akademiese werk, is daar geen eenvoudige antwoorde in haar boeke nie.

Reymenants wou toe by Corneli van den Berg weet waarom die Vrystaat Kunstefees mense van oorsee nooi?

Die fees probeer baie hard om internasionaal wees, vertel Van den Berg. Kontak met Nederland en België is om verskeie redes belangrik vir Afrikaans, maar die Vrystaat Kunstefees het ook baie moeite gedoen om verskeie skrywers uit Afrika te laat kom. Die idee was om vir Suid-Afrikaanse skrywers ’n ware, internasionale platform te gee.

Die aand was waarskynlik te kort, want hoewel daar ná gesprek heelwat vrae was, het die gesprekke voortgeduur oor wyn en eetgoed.

Vir diegene wat nie die Vrystaat Kunstefees kan bywoon nie, was dit ’n goeie manier om iets van die fees te kon beleef, maar, helaas, om ook lus te raak om volgende jaar self te probeer gaan.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top