Die DA het sy prokureurs opdrag gegee om voort te gaan om voor te berei vir hofaksie oor beide die proses wat gelei het tot die aanvaarding van die Bela-wetsontwerp wat Vrydag deur president Cyril Ramaphosa onderteken is en die inhoud daarvan.
Ramaphosa het ondanks sterk teenkanting van twee van sy koalisievennote in die RNE voortgegaan om die omstrede wet Vrydag by die Uniegebou in Pretoria te onderteken.
President Cyril Ramaphosa signs the Basic Education Laws Amendment (BELA) Bill into law. The #BELABill aims to strengthen governance within South Africa's education sector. pic.twitter.com/PBg8vXJXmv
— South African Government (@GovernmentZA) September 13, 2024
Hy het egter ’n olyftakkie uitgehou na die teenstanders van die Bela-wet en besluit om die implementeringsdatum vir klousules 4 en 5 van die wetsontwerp met drie maande uit te stel.
Dit sal die partye volgens hom tyd gee om oor hierdie kwessies te beraadslaag en voorstelle te maak oor hoe die verskillende sienings geakkommodeer kan word.
“Indien die partye nie oor ’n benadering kan ooreenkom nie, sal ons voortgaan met die implementering van hierdie dele van die wetsontwerp,” het Ramaphosa gesê.
AfriForum, Solidariteit en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) beskou dit as ’n taktiese deurbraak, terwyl die DA meen dit is ’n bedekte dreigement van Ramaphosa om met die hele wetsontwerp voort te gaan indien daar nie binne drie maande ’n ooreenkoms bereik word nie.
Die drie organisasies in die AfriForumstal sê in ’n verklaring hulle beskou dit as ’n oorwinning vir die Afrikaanse gemeenskappe dat Ramaphosa besluit het om artikels 4 en 5 oop te maak vir verdere gesprekvoering en die artikels derhalwe nie dadelik geïmplementeer sal word nie. Hulle sê dit dien as ’n bewys dat openbare druk sukses kán behaal.
Steenhuisen sê egter die DA verwerp hierdie vermeende dreigement deur die President.
Hy sê dit beteken dat indien daar nie ’n ooreenkoms is nie, die ANC sal voortgaan met die implementering van die klousules wat provinsiale departemente bemagtig om skoolbeheerliggame oor die kwessie van die taalbeleid van skole te ignoreer.
Steenhuisen sê in sy verklaring Ramaphosa se benadering is strydig met die gees van die verklaring van voorneme wat die grondslag van die RNE gevorm het, wat vereis dat die deelnemende partye “voldoende konsensus” oor verdelende kwessies moet bereik.
⚖️ The DA will challenge both the process and substance of the BELA Act on constitutional grounds. The DA rejects President Ramaphosa's plan to allow provincial departments to over-ride school governing bodies on language policies.
Read more here: https://t.co/fzhTB5fXnN pic.twitter.com/noiwOuB9G6
— Democratic Alliance (@Our_DA) September 13, 2024
“Daar kan kwalik ’n meer verdelende kwessie in Suid-Afrika wees as die reg op moedertaalonderrig in skole waar hierdie reg al vir dekades gevestig is,” het Steenhuisen gesê.
Afrikaansmediumskole maak minder as 5% van die land se skole uit. Die DA-leier sê as Ramaphosa ernstig is om ’n oplossing te soek wat die grondwetlike reg op moedertaalonderrig sal beskerm, hulle die aankondiging van ’n vertraging van drie maande in die implementering van klousules 4 en 5 verwelkom.
“As dit net ’n vertragingstaktiek is om opposisie te ontlont voordat die klousules op ’n later stadium in werking gestel word, sal ons voortgaan om hierdie wetsontwerp te beveg met alles wat ons het, insluitend in die howe.”
Pieter Groenewald, die leier van die VF Plus, wat ook deel is van die RNE, het in sy reaksie gesê sy party verwelkom die besluit dat die wet se omstrede artikels nie dadelik geïmplementeer sal word nie.
Hy sê in die konsultasieproses oor die volgende drie maande sal hy as deel van die RNE sy invloed gebruik om die gewraakte bepalings reg te stel in die belang van almal wat moedertaalonderrig wil beskerm.
Die VF Plus sê hulle sal in die komende gesprekke alles in hul vermoë doen om die uitvoering van die gewraakte gedeeltes te beperk.
Die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube (DA), sal daarna die verantwoordelikheid hê om seker te maak dat regulasies wat ingevolge die wet uitgevaardig word, só geskryf word dat dit die beleid met betrekking tot skole se taalbeleid en inmenging in die bestuursake van skole regstel, het Groenewald gesê.
Ramaphosa het in sy toespraak tydens die ondertekening van die wet gesê dat die besluit om die implementeringsdatum vir klousules 4 en 5 met drie maande uit te stel, geneem is in die gees van samewerking en betekenisvolle betrokkenheid.
Hy het gesê wat ook al die meningsverskille, soek almal ’n beter, meer doeltreffende, meer regverdige onderwysstelsel wat die kinders van Suid-Afrika die beste sal dien.
“Ons stem almal saam oor die behoefte aan ’n gemeenskaplike raamwerk vir samewerking as regering, as skoolbeheerliggame en as ouers. Vir ons onderwysstelsel om vir almal te werk, moet ons beter, slimmer en op ’n meer samewerkende manier werk,” het Ramaphosa gesê.

