Mimi Coertse se jong operageselskap, the Bel Canto Ensemble, tree Sondag 1 September om 16:00 by die Atterbury-Teater in Lynnwoodweg, Pretoria op. Die program is saamgestel om aan die smaak van sowel puriste as die algemene publiek te voldoen. 'n Verskeidenheid van veelsydige arias tot ligte klassieke werke sal uitgevoer word.
Soliste wat op lentedagkonsert gaan optree, is Tanya Tait (koleratuur-sopraan), Loveline Madumo (sopraan), Jonathan Watkins (kontratenoor), Khotso Tsekeletsa (tenoor), Dikgang Mantoro (bariton) en Mziyanda Zita (bas). Die soliste gaan deur Engeli le Roux begelei word. Die konsert word met Mimi Coertse se spelleiding aangebied maar sy tree nie self op nie.
Me. Coertse en Neels Hansen (kostuumontwerper) se oorspronklike visie vir opera in Suid-Afrika het in 1999 begin toe TRUK Opera sy deure moes sluit. Gedurende die afgelope 12 jaar het Mimi en Neels 'n merkwaardige impak op opera en ontluikende operasangers se lewens gehad.
Bel Canto Ensemble is in September 2012 deur Mimi Coertse, Loveline Madumo en Jonathan Watkins gestig. Hul doelwit is om geleenthede daar te stel vir klassieke en operasangers om hul talente verder te ontwikkel deur blootstelling tydens optredes. Bel Canto Ensemble beywer hulle om opera vir alle Suid-Afrikaners toeganklik te maak.
Kaartjies kos R150.00 en R130.00. Daar is nie spesiale pryse vir seniors en studente nie. Vir besprekings en navrae skakel 012 471 1700.

