Beheer- en toesiggeveg oor 'n kind

  • 3

 

Bron: www.animadvert.co.uk

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Regter King van die Hooggeregshof in Kaapstad begin sy interessante uitspraak van vroeg in 1994 in McCall v McCall deur daarop te wys dat Amerikaanse paartjies wat skei, die gebruik het om vir hulle vriende 'n groetekaartjie te stuur met die woorde "The war is over, we are divorced." Ongelukkig, het die regter opgemerk, was mnr en mev McCall se oorlog nie verby nie, hoewel hulle reeds in Februarie 1992 geskei is. Die voortgesette oorlog het gegaan oor die beheer en toesig oor een van die egpaar se minderjarige kinders, 'n seun met die naam Rowan.

Die skikkingsakte tussen die partye wat tydens die egskeiding 'n bevel van die hof gemaak is, het bepaal dat mev McCall beheer en toesig oor albei kinders, dit wil sê ook oor Rowan, sou kry. Rowan was op daardie stadium 12 jaar oud.

Mnr McCall het daarna 'n aansoek na die hooggeregshof in Kaapstad gebring vir 'n wysiging van die skikkingsakte ingevolge waarvan beheer en toesig oor Rowan aan hóm toegeken moes word. Hierdie aansoek is hand en tand deur mev McCall beveg. Dit het tot gevolg gehad dat 18 verhoordae tussen 2 Junie en 9 Desember 1993 in beslag geneem is, terwyl 'n 19de verhoordag op 14 Januarie 1994 plaasgevind het toe die regter sy uitspraak lewer.1

Regter King het beslis dat die las op mnr McCall gerus het om te bewys dat die skikkingsakte gewysig moes word sodat hý voortaan beheer en toesig oor Rowan sou hê. Die hof het beslis dat dit nie soseer belangrik is wat mnr McCall wou hê of wat mev McCall wou hê nie, maar wat in die beste belang van Rowan sou wees. Die hof moes dus besluit wie van die twee ouers beter in staat sou wees om Rowan se fisieke, morele, emosionele en geestelike welsyn te bevorder. Om oor hierdie punte klarigheid te kry was daar volgens die hof sekere kriteria waarvan ek net enkeles noem: die liefde, toegeneentheid en ander emosionele bande wat daar tussen die ouer en die betrokke kind bestaan en die ouer se aanpasbaarheid by die kind; die ouer se vermoë om met die kind te kommunikeer; die vermoë van die ouer om aan die kind die leiding te bied wat hy benodig; die vermoë van die ouer om in die kind se basiese fisiese behoeftes te voorsien, soos sy voeding, kleding, behuising en ander materiële behoeftes;  en die vermoë van die ouer om in die kind se opvoedkundige en godsdienstige behoeftes te voorsien. Verder word daar ook gekyk na die gesondheidstoestand van die ouer en sy of haar morele lewe. 'n Belangrike faktor is die vraag of, as daar meerdere kinders is, dit wenslik is dat hulle bymekaar gehou moet word by één ouer. 'n Ander faktor is ook die wenslikheid dat 'n pa byvoorbeeld beheer en toesig oor 'n seun kry en 'n ma beheer en toesig oor 'n dogter.

Nadat die regter al hierdie kriteria genoem het, het hy uit sy pad gegaan om daarop te wys dat, volgens alle sielkundige en maatskaplike getuienis wat in hierdie saak van die McCalls aangebied is, albei ouers uitnemend geskik was om beheer en toesig oor die kinders te hê. Hulle was op daardie stadium albei onderwysers en hulle het afsonderlik omtrent aan al die kriteria beantwoord wat die hof gestel het.

Dit lyk asof die hof hom uiteindelik laat lei het deur wat Rowan self vir die regter in sy kamers meegedeel het, naamlik dat hy albei sy ouers lief het, maar dat hy sou verkies om liewers by sy pa te wees. Hy het sy pa as 'n rolmodel beskou en omdat sy pa ook, soos hy, 'n buitelugliefhebber was, het hy baie goed met sy pa geïdentifiseer. By sy ma was dit nie so lekker nie, want dit was meestal net “vrouensgeselskap” en sy het hom ook nie aldag lekker verstaan nie.

Normaalweg laat 'n regter hom nie danig lei oor wat die kind self wil hê nie, want daar is altyd 'n gevaar dat 'n kind deur een van die stryende ouers gemanipuleer en beïnvloed kan word. Maar in hierdie geval het die regter beslis dat Rowan, ten spyte daarvan dat hy maar 12 jaar oud was, 'n intelligente, opregte en eerlike kind was en dat hy 'n graad van rypheid en intellektuele ontwikkeling getoon het wat die regter oortuig het dat hy in staat was om 'n goeie begrip te hê van wat self vir hom die belangrikste is. Dít was waarskynlik die deurslaggewende faktor in hierdie saak en uiteindelik het die regter beslis dat beheer en toesig oor Rowan aan mnr McCall toegewys moes word.

Toe moes die regter oor koste besluit, want soos ek reeds gesê het, het hierdie saak amper 20 hofdae in beslag geneem. Ek wil liewers nie eers raai wat die regskoste beloop het nie. Die regter het beslis dat daar eintlik nie 'n wenner of verloorder in die saak was nie en daarom het hy gelas dat elke party sy eie koste moet betaal – na my mening ‘n billike uitkoms.

Mnr McCall het dus beheer en toesig oor Rowan verkry, maar nóg was dit nie die einde van die geveg tussen die partye nie, want op daardie stadium kon hulle nog nie ooreenkom oor wat mev McCall se toegangsregte tot Rowan sou wees nie. Miskien het hulle die aspek te gou geskik toe die advokate en prokureurs se rekenings begin kom het ...

1     Vgl McCall v McCall  1994(3) SA 201 (CPD).

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

                                                    

  • 3

Kommentaar

  • Adri Du Preez

    Goeie dag. Ek wil graag weet wat is die verskil tussen volle toesig en beheer, en, aleen voogdyskap?
    Daar was tydens my skeisaak 'n bevel gemaak dat ek terug moet keer hof toe met 'n aansoek vir aleen-voogdyskap maar op my skeibrief staan dat my dogter in my volle toesig en beheer geplaas is?

  • Heila Bessenger

    Goeiedag. Wil net weet, 'n vriendin van my se ma het haar kind weg laat vat, maar nou is haar ma oorlede. Hoe kan sy maak dat hul nie haar kind vir haar broers gee nie? Sltwee broers is ongetroud.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top