Begrawe buite Fampoux ... en in Lichtenburg

  • 1

Gebaseer op ’n ware verhaal

Net so na twaalf die middag klop die posman aan die deur van die Hammangesin van Lichtenburg. Johanna Hamman maak die deur oop en groet hom. Hy gee aan haar ʼn koevert wat van die telegramkantoor op die dorp kom. Johanna maak die koevert oop en die posman loop sonder om te groet. Hy weet dit is slegte nuus.

Johanna haal ʼn geelgekleurde blaadjie uit die koevert en begin lees:

Mnr. en mev. Hamman

Dit is vir ons ʼn moeilike taak om u in te lig dat u seun, Vic Hamman, op die 12de April 1917 gedurende die gevegte naby Fampoux gesneuwel het.

Beide sy Majesteit, George V, en die Eerste Minister, generaal Louis Botha, wil u graag inlig dat u seun se opoffering hoogs aangeskryf word en dat hy sy koning en sy land met eer gedien het. Ons hoop u is net so trots op hom as ons.

Ons wens u sterkte toe in hierdie moeilike tyd.

Sy stort net daar in die deur inmekaar. Haar man vind haar daar, snikkend. Hy vra haar nie wat fout is nie. Hy kan net raai. Hy neem die telegram uit haar hand en lees dit ook. “Wie de donner is Vic Hamman?” vra hy.

“Dit is die naam wat hy vir homself gekies het. Johannes, ons Wijnand is dood,” ryg sy die woorde deur die gesnik uit. Haar jongste seun is dood. Die appel van haar oog is nou ʼn gevalle soldaat iewers in Frankryk. Sy staan op en loop na die sitkamer waar haar seun se foto op die kaggelrak staan. Saggies streel sy die glas waardeur sy gelaat vertoon word. Toe die idee by haar opkom hoe swaar hy dalk moes ly, stort sy vir die tweede keer ineen en gee geen keer aan die pyn wat by haar hart uitstroom nie. Johannes het steeds by die deur gestaan. Hy wou nie voor sy vrou huil nie. Alhoewel hy en Wijnand nooit oor die weg gekom het nie, wou hy gehad het dat sy seun moes terugkom. Nou is dit onmoontlik. Dit is selfs onmoontlik om totsiens aan hom te sê.

Wijnand Hamman het sy naam opgegee as Vic Hamman toe hy vrywilliglik aangesluit het as Suid-Afrikaanse soldaat wat in Europa wou gaan veg. Hy het in Frankryk gearriveer in Julie van 1916. Drie maande later is hy tot die rang van onderkorporaal bevorder en moes hy saam met sy sersant, O’Donaghue, die troepe in sy veggroep in lyn hou.

Teen die oggend van die 9de April 1917 was Vic en sy veggroep net buite Arras. Die oggend se weer was koud en nat, maar daar was reeds tekens dat die lente op pad was. Vic kon dit sien, nie net in die natuur nie, maar ook aan die kleiner hoeveelheid whisky wat sy troepe elke nag gedrink het om warm te bly. Daardie oggend sit Vic, in ʼn nat en modderige loopgraaf, op ʼn houtbankie en maak sy bajonet skerp. Terwyl hy besig was, het een van sy makkers langs hom kom sit. Hubert Wilson was ʼn Durbaniet wat by die Durbanse hawe gewerk het toe hy besluit het om by die 2de Suid-Afrikaanse Infanterie Regiment aan te sluit. Hy was van die min Engelssprekende soldate wat met Vic kon gesels omdat hy Vic se taal tot ʼn mate geken het. Vic kon wel Engels vlot praat na twee jaar in die Transvaalse Skotse Regiment, waarin hy voor die oorlog diens gedoen het. Hy wou Wilson egter help om sy Afrikaans te verbeter sodat, wanneer hulle terug in Suid-Afrika was, Wilson beter met die Natalse Afrikaners oor die weg kon kom.

“Jy weet, Vic, ek mis die see,” het Wilson gesê.

“Seker ook die woeligheid van die hawe?” antwoord Vic.

“Net so. Ek verkies die geluid van nuwe inkomende skepe in plaas van hierdie ontploffings elke dag. As ek toe geweet het wat ek nou weet, sou ek nooit aangesluit het nie.”

“Ek sou,” antwoord Vic kortaf terug.

“Hoe nou?”

“Dis maklik, Wilson. Ek wou nie my hele lewe in Lichtenburg bly nie”.

Wilson het Vic snaaks aangekyk. Hy het so pas eintlik vir Wilson vertel dat die Wes-Front beter vir hom is as sy geboortedorp. Vic het agtergekom dat Wilson hom verbaas aanstaar.

“Wat? Lichtenburg is nie Durban nie, Wilson. Gaan bly jy daar en dan sal jy sien hoe jou opinie ook sal verander.”

“Jy is vreemd, Vic,” is al wat Wilson kon sê terwyl hy ’n sigaret aansteek en ook vir Vic een aangee. Daar sit die twee troepe toe – hul rûe teen ʼn papnat loopgraafmuur, wagtend, soos almal, vir hul volgende bevele. Beide het geweet dit kon enige tyd kom. Die sleutel was om elke oomblik ten volle te geniet. Al kom die sersant met bevele wat jy nie wil hoor terwyl jy aan jou sigaret teug nie.

Sersant O’Donaghue, ook ʼn Durbaniet, het by die twee manne gestop en sy pyp aangesteek. Hy was ʼn veteraan van die Anglo-Boereoorlog, maar het nie sy Afrikanersoldate swak hanteer nie. Inteendeel, hy het maklik met Vic saamgewerk en hom net soos sy ander troepe hanteer.  

“Get your gear. We are moving out,” het O’Donaghue gesê toe hy sy pyp aangesteek het.

“Waarheen, Sersant?” het Vic gevra en sy sigaret doodgesmoor teen die muur.

“To a little town called Fampoux. We will be stationed on its eastern side. Spread the word.” Vic het opgestaan en so gemaak. Hy het al die manne onder sy beheer vertel en seker gemaak dat hulle gereed is om te beweeg.

Twintig minute later het almal onder leiding van O’Donaghue begin aanstap na hul nuwe buitepos by Fampoux. Niemand in die veggroep het al van die plek gehoor tot op daardie dag nie. Natuurlik het elkeen gehoop dat hul nuwe buitepos nog ʼn treetjie nader aan Duitsland was. Elkeen was steeds oortuig dat hulle binnekort die Keiser uit Berlyn sou wegjaag en die Duitsers sou dwing om oor te gee. Vic was een soldaat wat nie aan sulke lawwe praatjies deelgeneem het nie. Hy het nie enige haat teenoor die Duitse Keiser of die Duitsers gekoester nie. Hy wou net ʼn soldaat wees en nie die oorlog mis nie. Hy wou iets van homself maak en ʼn loopbaan in die Unie Verdedigingsmag was vir hom veel beter as die vervelige lewe van ʼn kaartjieknipper vir die Suid-Afrikaanse Spoorweë.

Teen die aand van die 10de April 1917 was Vic en sy makkers by hul beplande punt in Fampoux. Hulle was so naby aan die Duitse magte dat hulle kon hoor hoe hul vyand in die teenoorgestelde loopgraaf vir mekaar geroep het. Die Duitsers het geweet dat dit Suid-Afrikaners was wat so pas gearriveer het en een van hulle het Sarie Marais gesing om Vic en sy manne te verwelkom. Die woorde was natuurlik nie heeltemal korrek nie, maar met die wysie was daar geen fout nie. Toe die serenade klaar was, het Wilson “Vele Dank!” teruggeskree, tot groot genot van die Duitsers. Vic en die ander soldate het ook gegiggel. “Don’t fraternise with the enemy!” het O’Donaghue Wilson tereggewys, maar self geglimlag toe hy omdraai om sy pyp aan te steek.

O’Donaghue was besig om sy vuurhoutjies in sy boonste sak te bêre toe Vic by hom aansluit. O’Donague het na Vic gekyk. Hy kon steeds nie verstaan waarom hierdie seun uit die Wes-Transvaal saam met die Britte wou veg nie. Het hyself en ander Britse soldate nie Afrikaners soos Vic se lewe minder as twintig jaar gelede ʼn lewende hel gemaak nie? O’Donaghue het self gesien hoeveel kruise daar by die verskillende konsentrasiekampe gestaan het na die oorlog. En tog, hier staan hy, ’n Brit, vandag saam met ʼn Afrikaner-onderkorporaal wat hy met sy lewe vertrou.

O’Donaghue het Vic aangesê om die manne te waarsku dat die bevele om aan te val enige oomblik aangestuur kan word. Al waarvoor die bevelvoerders gewag het, was om al die voorraad vir die beplande aanval te ontvang en onder die soldate te verdeel. Elkeen moes maar ʼn plekkie kry om te lê en probeer om soveel slaap as moontlik in te kry. Vic het die boodskap aan sy makkers oorgedra en elkeen se tyd om as brandwag te staan, uitgewerk. Toe elkeen ʼn sluk van die enigste whiskybottel in die groep geneem het, sien Vic hoe ene Parker die enigste holte in die loopgraaf vir homself toeëien. Parker was ʼn jong soldaat uit Pietermaritzburg se geweste en nie gewoond daaraan om onder die sterre te slaap nie.

Die son was nog nie behoorlik op nie toe hulle die eerste skoot hoor. Dadelik het almal opgespring en gekyk waarvandaan die skoot gekom het. Almal was op, behalwe Parker. Dié het nog op sy rug bly lê, sonder sy helm, in die holte waar Vic hom laas gesien het. Vic het homself vir Parker vervies. Die jongman was darem al twee weke in Vic se veggroep en moes al gewoond gewees het aan die klank van ʼn skoot wat afgaan.

“Ag nee, man! Parker, lig jouself uit daardie gat, man!” het Vic uitgeroep en Parker aan die skouer gepluk, maar niks het gebeur nie. Hy vervies homself toe behoorlik en tel die jongman aan die kraag uit die holte op. Dis toe dat hy sien dat Parker deur ʼn skoot in die kop getref is. Sy dooie oë het teen die kant van die oogbank gerol en bloed het stadig uit sy mond en neus gevloei. Vir ʼn oomblik het Vic geskok gestaan. Dit is toe dat die tweede skoot die stilte deurboor, Vic net-net mis en Parker ’n tweede keer in die kop tref.

Vic het Parker se liggaam laat val en homself agtertoe geslinger na waar sy makkers hom agter die naaste draai kon terugtrek.

“Sniper!” het Wilson geroep en probeer kyk waar die vabond moontlik kon wees. Hulle het geweet dat die skerpskutter nie weer ʼn skoot sou afvuur om sy posisie weg te gee nie. Die beste skut onder die manne was Charlie Warren van Ladysmith. Hy het reg langs Wilson gaan staan om te probeer kyk waarvandaan hy die skoot, so om die draai van die loopgraaf, kon afvuur om die skerpskutter te dood. Oorkant die loopgraaf se wal, het Warren drie bome sien staan. Die bome was verniel, maar het steeds tot ʼn mate beskerming gebied aan enigiemand wat dit sou waag om van daar af te skiet.

Warren het Wilson gevra om op sy knieë te staan sodat hy die loop van sy geweer op sy skouer kon rus. Dit sou Warren genoeg ruimte gee om sy loop te lig en die skerpskutter te soek. So gevra en so gedaan. Warren het stelselmatig deur die takke begin soek om te sien of hy nie die skerpskutter kon opmerk nie. Daar was nie enige blare aan die bome oor nie, maar die stamme was so dik dat ’n mens maklik agter dit kon wegkruip. Al wat Warren moes sien, is ʼn voet wat uitsteek of ʼn vinnige beweging wat die skerpskutter sou verraai.

Warren het nie lank gewag nie. Deur sy geweer se teleskoop het hy gesien hoe ʼn hand vinnig iets in ’n geweer laai en die skerpskutter links om die boom sou draai om die volgende skoot te neem. Warren was reg vir hom. ʼn Sekonde later het hy sy kans geneem en ʼn skoot afgevuur. Die skerpskutter het agteroor geval en nie weer opgestaan nie. Die manne het Warren juigend en prysend op die skouer geklop. Vic en Warren het saam afgesit na waar die skerpskutter geval het en Vic het die lyk vinnig tot binne-in die loopgraaf getrek. Gelukkig het geen Duitser die kans waargeneem om Vic te skiet toe hy die skerpskutter se lyk gaan haal het nie.

O’Donaghue het by die plek aangekom net toe Vic die lyk begin ondersoek het. Warren se skoot het die skerpskutter in die kop getref. Hy is op slag dood. Vic het die gesneuwelde skerpskutter se sigarette uitgehaal en dit in sy eie sak gesteek. Die skerpskutter se aansteker het hy vir O’Donaghue gegooi.

“Daar, Sersant. Nou hoef jy nie meer te sukkel met nat vuurhoutjies nie.” O’Donaghue het sy kop geknik en teruggeglimlag. Vic het ʼn klein boekie uit die skerpskutter se baadjiesak gehaal. Hy het dit oopgemaak en verbaas na die Afrikaanse woorde op die eerste bladsy gestaar. Verslae het hy na O’Donaghue opgekyk.

“What is it, Vic?” het die sersant gevra. Op die eerste bladsy het die man se naam gestaan.  

“Dit het behoort aan Heinrich Raubenheimer. Hy is van Heilbron in die Vrystaat” het Vic verbaas teruggeantwoord.

O’Donaghue het geweet dat daar Duitse afstammelinge van Suid-Afrika was wat by die Duitse magte in Suidwes-Afrika aangesluit het. Na sy kort verduideliking het O’Donaghue Warren beveel om die twee gesneuwelde soldate aan die medici te gaan oorhandig. Hy het Vic een kant toe geroep en hom vertel dat die kanse goed was dat hulle die volgende dag sou aanval. Vic moes die manne besig hou. Die aanvalsplan sou teen laatmiddag bekend wees.

’n Aandete van aartappels en boeliebief, en ekstra sigarette, is aan die soldate opgedis, wat aan hulle die versekering gegee het dat hulle die volgende dag sou veg. Terwyl elkeen gesit en geëet het, kon hulle hoor hoe O’Donaghue luidkeels beswaar maak teen die aanvalsplan. Wat presies hy geskree het, kon hulle nie hoor nie, maar dit was duidelik dat die sersant sy humeur heeltemal verloor het. Oomblikke later het hy by die ingang van die luitenant se kwartiere uitgebars en verder van hulle af weggestap. Hy het sy pyp opgesteek en dit op sy eie gestaan en rook. Vic kon sien sy manne was bekommerd. Al die onrus in die luitenant se kwartiere het hulle laat besef dat hul kans op oorlewing maar skraal was. Vic het hulle die belofte gegee dat hy met die sersant sou gaan praat. Hy het sy bord neergesit en na die sersant geloop.

Sersant O’Donaghue het byna geskrik toe Vic by hom aankom, so diep versonke was hy in sy eie gedagtes.

“Wat gaan aan, Sersant?” wou Vic weet. Die sersant kon Vic nie in die oë kyk nie. Hy het diep asemgehaal en die gebrande tabak uit sy pyp op die loopgraaf se modderige oppervlakte uitgegooi.

“You see those scorched tobacco leaves in the mud?”  

“Ja,” antwoord Vic.

“We will be like that tomorrow.” Vic en O’Donaghue het vir ʼn oomblik doodstil gestaan, voordat die sersant die stilte gebreek het en verder aan Vic gesê het: “Tell the men that they should be ready by 05:00.” O’Donaghue het niks verder gesê nie, maar by die loopgraaf afgeloop.

Vic het die instruksies aan sy troepe oorgedra. Die aanvalsplan was eenvoudig: Om vyfuur sou elke soldaat met ’n leer oor die loopgraaf se muur klim en oor die laagte tussen die loopgrawe van die Duitsers en hul eie loopgraaf beweeg. Enige Duitse soldaat wat kop bo die loopgraaf uitsteek, moes hulle doodskiet. Hulle moes ook weet dat daar doringdraad gespan was en dat die Duitsers direk oorkant hulle ten minste twee masjiengewere tot hul beskikking gehad het.

Vic se troepe kon nie maklik aan die slaap raak nie. Die troepe wat iets vir hul geliefdes wou sê, het hul briewe gedurende die aand geskryf en aan die kommunikasie-offisier in die luitenant se kwartiere oorhandig. Vic het aan niemand geskryf nie.

Vic het twee ure lank diep geslaap. Om vieruur was hy wakker en besonder rustig en kalm. Hy het elke soldaat individueel en saggies wakkergemaak en seker gemaak hulle is reg om oor die loopgraaf te klim. Met die lere teen die muur stewig opgerig, het elkeen kans gekry om sy laaste sigaret aan te steek terwyl hulle na Vic se laaste woorde van bemoediging geluister het. Hy het geëindig met: “Sien julle weer hier wanneer die koffie reg is!” Die manne het senuweeagtig gegiggel, maar dadelik stil geword toe sersant O’Donaghue sy opwagting gemaak het. Hy het niks gesê nie omdat hy geweet het Vic het alles gesê wat die manne moes weet. Elkeen het nou net gewag vir die fluitjie om af te gaan.

Presies op die uur is die fluitjie geblaas. Soos een man het die soldate geskree en die eerstes het die lere uitgeklim. Binne oomblikke was die eerstes op die rand. Die tweedes en derdes was op hul hakke. Dit het vir ’n oomblik gelyk na ʼn goeie begin, totdat die eerste soldate van die rand tot op die loopgraaf se grondvlak geval het. Die Duitsers was nie onkant gevang nie. Hulle het die aanval verwag en toe hulle die eerste soldate gesien het, het hulle begin om elkeen wat oor die rand klim, dood te skiet. Op die derde trap is Vic deur ʼn gewonde soldaat van die leer afgestamp. Dit was Wilson. Hy was noodlottig gewond. Oomblikke later het hy gesterf. Vic het sy geweer gegryp en weer begin klim. O’Donaghue was net agter hom. Beide het dit reggekry om tot op die rand te kom en die eerste skote wat op hulle gemik is, te ontduik. Hulle het Warren plat op die grond sien lê, die draadknipper steeds stewig in sy hand. Hy het ten minste daarin geslaag om die doringdraad te knip voordat hy doodgeskiet is. O’Donaghue en Vic het met byna elke tree ʼn skoot afgevuur in die rigting van die Duitse loopgrawe. Dit was moeilik om tegelykertyd vinnig te beweeg, te mik en te vuur.

Op ’n stadium het Vic omgekyk en probeer om sy manne en sy sersant te soek. Hy kon niemand sien nie. Dit is toe dat hy gevoel het hoe iets sy enkel gryp. Dit was O’Donaghue. Hy het gewond langs Vic gelê het en om hulp geprewel. Vic het afgebuk en die sersant probeer optel. O’Donaghue se hele buik was oopgeskiet en hy kon nie opstaan nie. Vic het sy geweer neergegooi en probeer om O’Donaghue op sy skouers te tel. Dit was die laaste oomblik wat hy enige krag in sy lyf gevoel het.

Hy het op sy knieë neergeval. Hy kon voel hoe sy bloed warm uit sy borskas en oor sy vel vloei. Hy het O’Donaghue ook laat val. Hy het stadig afgekyk na sy wond en na waar sy sersant nou morsdood gelê het. Toe het hy net voor hom uitgestaar. Hy het geweet sy tyd het gekom. Hy het nou verstaan waarom sy sersant die vorige dag so kwaad was. O’Donaghue het geweet dat die Suid-Afrikaners as kanonvoer gebruik sou word, of liewers, as teikens vir die masjiengewere. Oomblikke later het Vic se kop agteroor geruk en hy het gehoor hoe iets in sy nek breek. Hy het agteroor geval. Leweloos. Vic Hamman is vir die tweede keer geskiet; hierdie keer in sy kop. O’ Donaghue, Vic en elke troep wat onder hulle gedien het, was dood. Elkeen deur Duitse vuurkrag binne vyf minute verniel en vermorsel.

ʼn Maand later het Skotse soldate die oorskot van Vic en sy manne buite Fampoux begrawe. Kort na die sluiting van die Verdrag van Versailles kry Johanna Hamman weer ʼn brief, hierdie keer van die Britse Grafkommissie.

Soos u in kennis gestel is, Vic Hamman het gesneuwel en is begrawe by Fampoux. Hy sal in die Browne Copse-begraafplaas herbegrawe word waar u en u geliefdes eer aan hom sal kan betuig. Laat ons net weet indien u iets spesiaals op sy grafsteen wil laat graveer voordat dit opgerig word.

Om onbekende redes het Johanna egter ʼn ander plan gemaak om Vic te herdenk en oor hom te rou. In Lichtenburg se begraafplaas het sy vir Vic – of Wijnand vir haar – ʼn vollengte graf laat uitlê waar ’n mens dit vandag steeds kan sien.

Foto's met vergunning van die skrywer.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top