
Foto: Canva
Begrafnisbriefie
Soos Ingrid Jonker en Anne Frank
Te mooi vir hierdie wêreld
Te diep
My begrafnisbriefie sal dit nie sê nie
Ek wil skree in die leemtes en dit hoor eggo,
Ek wil elke spasie en elke niksseggende leesteken vul met wonde wat die wêreld laat uitbloei,
help uitbloei
Jy sal nie verstaan nie,
ek sal, Ingrid en Anne en die ander siele wat moeiteloos misverstaan word,
deur ’n wêreld wat leeg gebore is,
voel dit.
Tot ons laaste asem.
My begrafnisbriefie sal dit nie sê nie
Ek wil pleisters plak op almal se wonde terwyl myne gaap vir die maan
Ek wil almal se stukkende siele heelmaak
terwyl myne smag na vrede
Ek wil almal se chaos stilmaak,
terwyl die oorlog woed in al my woorde.

