Dirk, jy is die kurator van my literêre erfenis, en Ouma Toek s'n, ad infinitum. Vat my boeke en vertaal dit, of laat dit herdruk, of doen daarmee wat jy wil, kyk na al die halfgeskrewe stories op die rekenaar, myne en Ouma Toek s'n, skryf dit klaar as jy wil, deel die geld tussen julle en kyk na Dad. Sorg vir hom as hy oud is want hy is ʼn goeie mens wat ten spyte van die foute wat hy gemaak het soos ons almal maar foute maak, alles wat hy het vir julle gegee het sonder om eerste aan homself te dink. Hy kan nie alleen bly nie. As hy weer wil trou, sorg julle dat hy ʼn baie goeie vrou met mooi bene kry wat sag en intelligent is, nie iemand wat sy siel sal versmoor en op hom sal skree nie. Ek sal wilde bliksemstrale uit die kamers van die Noordewind in die vierde hemel organiseer as sy hom enigsins grief gee ...
The show ain't over till the fat lady sings. Die volgende jaar, as jy, my liewe kind, my man, my vriendinne en my kennisse, by ʼn bos geel rose verbyloop, staan ʼn oomblik stil, buk vorentoe, ruik die soetgeurige aroma wat jou saggies omwelf, en luister. Iewers, in een of ander hemelse koor, sal jy ʼn dik ou alt in ʼn agterste ry hoor, met ʼn boodskap vir jou ... "You are Awesome in this Place, Mighty God ..."
Ek dog ek sê maar net. Love you all.
Joy en Blessings,
Mamma
Leandré Hanekom

