Begrafnisbrief (1)

  • 0

Liefste kinders, Buksie en Karen, Yvette, Dirk, en Buks, my geliefde man

Buksie, jy het gesê jy en Yvette sal alles hanteer. Dankie daarvoor.

Hulle sê as mens vrede wil hê in ʼn land moet jy regmaak vir oorlog. Daarom die brief, sodat my siel kan rus as ek weet dat alles gereël is, en ook omdat ek tog wil bly leef. Hoe lank weet ek nie. Dalk 64, soos vriendin Laura Rautenbach, dalk 80 soos die Bybel sê, dalk gaan ek uit saam met die volgende donkermaan, met die galopslae van my stukkende hart in my ore. Ek is nou 60 jaar en vier maande oud, Februarie 2009.

Dood is tog immers net die Bardo, die sagte grys tonnel met die Wit Lig daar voor, en hierdie keer gaan ek deur, ek hoef nie weer om te draai soos laas om nog te kom werk nie.

Eerstens - julle weet ek wil hê dat alles wat bruikbaar is, soos my oë en niere, moet gaan om iemand anders se lewenskwaliteit te verbeter. Sorg dus asseblief dat dit so vinnig as moontlik gedoen word terwyl die goeters nog bruikbaar is. As daar iets is wat gebruik kan word, bygesê, want ek dink 70 is cut off date vir meeste goed. Die res wat oorbly moet julle laat veras, privaat, nadat julle ʼn dienlike "wake" gehou het, en die as (wat in elk geval ʼn konglomeraat sal wees van almal wat daardie dag veras is en nie net my gebeente nie) kan julle iewers in die see waar dit mooi is en die koue wind waai, gaan oorboord gooi. Vat een van die Waterfront se bote en sê vir die skipper julle wil die Ma gaan drop, hy moet ʼn plek soek waar die water heldergroen of turkooisblou soos jou oë is, Buksie, en die wit skuimperde saam met my sal gaan. Sorg net dat die boksie sink en nie float nie, want met my luck sal ek seker iewers op die China mainland uitspoel en as eksotiese condiment op een of ander hondevleisgereg gebruik word!

Nou let wel: Dit was vir my ʼn groot skok dat Oupa Dad se as sommer deur AVBOB iewers gedump gaan word, en dat daar nie ʼn seremonie of ʼn urn in ʼn nissie is nie. Verassing is in elk geval al half seremonieloos, en die wake is ʼn goeie idee, veral die balloon-ding. Ek het so ʼn bohaai opgeslop oor Oupa Dad se as dumping dat jy, Dirk, gesê het jy sal sorg dat ek by Bloubergstrand gedump word. Toe sê Yvette ja, maar dan gaan die gety uit en die seemeeue hol daar rond en pik die as. Toe sê ek kak met julle, julle sorg dat die kissie as op ʼn bootjie kom en die diepsee ingestuur word. Toe sê Yvette nottehel, die water by Blouberg is heeltemal te koud, sy gaan nie in die water in nie. Toe wil ek tjank en toe sê Dirk toemaar Ma, hy sal die water aandurf en sorg dat dit uitgaan saam met die gety. Sit dan verdomp klippe daarby, sodat dit omtip en sink met die eerste groot golf - hoe dom kan julle wees? Maar dan, soos ek vanaand voel, julle is Hanekoms. Dit verklaar baie.

Na 56 boeke kan ek myself seker ʼn skrywer noem. Daarom ʼn skrywerskis, soos Stephen le Roux (Etienne Leroux) s'n. Dof-gepoleerde SA Pine, met dik, stewige tou-handvatsels. Skoon en eenvoudig. Nie ʼn opgesmukte peperdure blink ding van pressed wood met ʼn mahogany veneer en met handvatsels wat voorgee om silwer te wees en julle hande onder stukkend sny nie.

(Vervolg)

Leandré Hanekom

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top