Begrafnisbrief (2)

  • 0

Een bossie geel rose as dit rosetyd in Bloemfontein of die Kaap is. Julle het my min genoeg blomme gegee toe ek geleef het, moenie nou opmaak daarvoor nie. Mens pluk in elk geval nie blomme nie; blomme skree. Ek kan nie verstaan dat bloemiste nie heeldag met moffies oor hulle ore loop nie. Hoor hulle dan nie hoe die blomme skree nie?

Aangesien daar nie ʼn oop grafgat gaan wees met rooigrondwalle om oor te struikel of groot klonte geelwit of swart potklei en gekreukelde groen Astro-turf nie, sal ek genadiglik die aaklige medium-grootte deurskynende koepels met die geel en wit en pers kransie plastiekblomme vryspring.

Doen dan liewers die wit heliumballon-ding ... julle almal, familie, vriende (en vyande.) Hou vir my ʼn regte skrywers-"wake", by ons favourite pub of iemand se huis, nadat alles bruikbaar gebruik is en die res wat in elk geval niks werd is nie, stilweg veras is, soos ek gesê het. Die hart en die longe is daarmee heen, maar my niere en lewer en oë makeer niks. Dan kan iemand anders darem weer leef en aartappels en room eet en ordentlik sien. Sit met julle arms op die tafel of die toonbank, speel pool of gesels, hou ʼn paartie, drink rooibostee of Wellingtons of KWV of Smirnoff Spin (Dirk!) en eet kaaskoek en praat oor die goed en die sleg en die komiese en die weird, (want ek was weird!) van my lewe.

Lees van my gedigte en die beste stukke uit my boeke vir mekaar voor. Onthou al die lag en die saamwees en die vreugde. Yvette en Buksie, met julle pragtige stemme, julle wou nooit saam met my gesing het of vir my sing toe ek nog geleef het nie; sing asseblief nou vir my, ek sal julle hoor en rejoice daarin. Yvette, jy sing "Via Dolorosa". Buksie kan "Amazing Grace" sing en Lienkie Troskie en Elsa Telle of iemand saam met haar "Tell Him". Lucas, as jy daardie tyd in die Kaap is, sing vir Buks "Droomvrou", want dit is wat hy my noem.

As almal klaar gekuier het en die laaste woord gespreek is, vat ʼn wit ballon vol helium by Buks by die deur, en stap dan uit. Gaan staan iewers stil, dink ʼn laaste oomblik oor my, oor wat ons vir mekaar beteken het, en as jy enige negatiewe gedagtes het, repent. Ek het jou lankal vergewe vir alles wat jy uit jaloesie en hebsug aan my gedoen het. As ek gelukkig is, sal dit is ʼn koelerige, grys, half bewolkte dag wees, soos ek daarvan hou. Sodra jy gereed is om totsiens te sê, vir ewig afskeid te neem, groet my en los die ballon.

Laat gaan my mooi wit ballon. Dit sal reguit opgaan hemel toe, soos my siel. Kyk dit agterna tot dit in die hemelruim verdwyn en moenie dan weer verder treur nie. Leef vorentoe. Doen jou ding. Leef asof elke dag ʼn bonus en ʼn blessing is, want dit is. Ek het elke dag van die laaste deel van my lewe pyn in my lyf en bene en borskas gehad. Pyn waarvoor medisyne en pille naderhand nie meer gehelp het nie. Ek het dit die laaste ruk nie eens meer vir julle gesê nie, want mense is nie geïnteresseerd in ander se pyn nie, solank hulle dit nie self voel nie. Maar selfs dit het my laat besef dat daar lewe is, dat daar nog stories is om te skryf en te vertel, dat daar half-en-half (helfte Tab en helfte water) is om te drink, en dat Dad se spaghetti lekker is.

(Vervolg)

Leandré Hanekom

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top