Beeste in Standerton en apartheidslaster

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Vandeesweek twee ligte sketse uit die jare sewentig se hofverslae.

Die eerste een is die saak van Rautenbach teen Fourie1 wat op 11 Junie 1976 in die hooggeregshof in Pretoria verhoor is. Mnr Rautenbach het 'n eis van R606 teen ds Fourie ingestel vir skade wat aan mnr Rautenbach se Mercedes aangerig is toe hy een aand in die hartjie van Standerton in 'n trop beeste wat aan ds Fourie behoort het, vasgery het. R606 in 1976 is vandag straks ver meer as R20 000, sou ek raai.

Die dominee het sy trop van ongeveer 45 beeste laat aanjaag van een plaas in die distrik van Standerton na ‘n ander. Onvermydelik moes die 45 Frieslanderbeeste deur die dorp beweeg. Weens omstandighede is die reis vertraag en teen agtuur die aand was die trop aan't beweeg in 'n straat in die hartjie van Standerton. Dit was reeds donker en dit het boonop liggies gereën. Mnr Rautenbach het teen so 40 km per uur om 'n draai gekom en toe hy weer mooi kyk, was die spul beeste hier voor hom en kon hy nie betyds stop nie. Daar was 'n dispuut of daar voldoende waarskuwings was, want volgens mnr Rautenbach het net één van die beeswagters 'n flitslig gehad, wat hy kort voor die botsing so effentjies heen en weer geswaai het, terwyl ds Fourie van mening was dat daar minstens twee wagters met ligte was.

Eintlik wou mnr Rautenbach nie teen sy dominee prosedeer nie, maar aangesien sy motor verseker was, was dit sy versekeraars wat die dominee in die hof gegryp het. Die landdros van Standerton voor wie die saak aanvanklik gedien het, het mnr Rautenbach se eis skoon van die tafel af gevee. Hy het beslis dat die boer nie bewys het dat ds Fourie nalatig was toe hy die beeste ná donker deur die dorp laat aanjaag het nie. Teen dié beslissing het die versekeringsmaatskappy in mnr Rautenbach se naam geappelleer en op appèl het die hooggeregshof in Pretoria baie kritiek teen die landdros se uitspraak gehad. Die hof was van mening dat die landdros die feite nie behoorlik oorweeg het nie en ten minste moes bevind het dat ds Fourie 50% nalatig was en die boer wat die skade gely het, self 50%. Gevolglik is die dominee beveel om R303 van die R606 se skade aan die Mercedes aan mnr Rautenbach se versekeringsmaatskappy te betaal.

Hierdie saak is 'n goeie illustrasie van hoe die Wet op die Verdeling van Skadevergoeding werk. As 'n eiser self nalatig was, kan hy nie met sy volle eisbedrag slaag nie en moet dié gedeelte van die skade wat deur sy eie nalatigheid veroorsaak is, van die eisbedrag afgetrek word - presies soos wat in hierdie saak gebeur het.

Die ander saak uit die jare sewentig grens aan die absurde. Taljaard teen Rosendorff & Venter2 is 'n lastersaak wat voor die hooggeregshof in Bloemfontein gedien het. Taljaard, 'n blanke vrou, het van die prokureursfirma Rosendorff & Venter 'n bedrag van R4 000 aan skadevergoeding geëis vir lasterlike en onware bewerings wat die prokureursfirma in verband met haar sou gepubliseer het. R4 000 in 1970 is vandag ver meer as R100 000 werd, wil ek myself wysmaak.

Die prokureursfirma het naamlik per abuis in 'n dagvaarding wat hulle teen mev Taljaard uitgereik het in opdrag van een van hulle kliënte, die bewering gemaak dat sy 'n nieblanke vrou is. Sy het aangevoer dat dié onwaarheid haar eer en waardigheid gekrenk het. Mev Taljaard was veral gebelgd oor die moontlikheid dat daar 'n dagvaarding in die hofrekord opgeneem kon word waarin sy as 'n nieblanke beskryf is. Sy het glo dae lank oor dié “aantasting van haar rassestatus” geween.

In sy uitspraak van 11 Junie 1970 merk regter Hofmeyer op dat dit moeilik is om te oordeel hoe eg mev Taljaard se verdriet was. Die regter het bygevoeg: "Die moontlikheid dat sy die leed wat haar aangedoen is, in retrospek heelwat aangedik het, kan nie uitgesluit word nie." Die regter was tevrede dat daar nie publikasie van die foutiewe inligting was nie. Selfs die balju wat die dagvaarding by mev Taljaard gaan aflewer het, kon nie lateraan onthou het dat dit hom opgeval het dat sy daarin as 'n nieblanke persoon beskryf is nie.

Boonop kon mev Taljaard nie bewys dat die tikster van die prokureursfirma wat die dagvaarding getik het, opsetlik die fout gemaak het deur haar as 'n nieblanke te beskryf nie. Regter Hofmeyer was ook nie tevrede dat die blote beskrywing van 'n blanke persoon as 'n nieblanke in sigself lasterlik was nie – ‘n skerpsinnige waarneming vir daardie tydsgewrig.

Vandag verwonder 'n mens jou daaroor dat daar 'n tyd in ons geskiedenis was dat mense só erg oor hulle rassestatus gevoel het dat hulle duisende rande aan regskoste sou betaal het net om dit te beskerm. Smaak my dié hebbelikheid steek deesdae wéér sy aaklige kop uit – met dié verskil: die skoen is nou aan die ander voet ...

1  1977(4) SA 276 (T)

2  Taljaard v S+A Rosendorff & Venter 1970(4) SA 48 (T)

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

                                                    

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top