![]() |
In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
Gedurende die Desembervakansie in 1989 het 'n sekere mnr en mev Mayes van Gauteng heerlik vakansie gehou in die omstreke van Kaapstad. 'n Besoek aan Kommetjie het hulle só bekoor dat hulle 'n strandeiendom daar gekoop het. Hulle was albei verbonde aan die versekeringsbedryf in Gauteng en het uitgesien na 'n rustiger lewe nader aan hulle kinders, wat in die Kaap gewoon het. Hulle het aan 'n eiendomsagent opdrag gegee om vir hulle 'n geskikte besigheid wat in die mark was te soek, en toe die agent hulle in April 1990 skakel, was hul tjoef-tjaf in die Kaap om die moontlikheid deur te kyk. Dit was 'n kwekery en teekamer op 'n perseel in die omgewing van Noordhoek. Na 'n bietjie gekibbel het hulle die eiendom vir R950 000 gekoop. Die ooreenkoms is op 1 Junie 1990 gesluit en dáárvolgens sou hulle op 1 Oktober 1990 besit van hulle nuwe eiendom neem.
Toe hulle laat in September daardie jaar sak en pak in die Kaap aanland, moes hulle tot hulle ontsteltenis ontdek dat die pragtige eiendom wat hulle gekoop het en wat juis vir hulle só aantreklik was omdat dit so onbeboud en ongerep was, nou omring was van plakkershutte. Net waar jy kyk was daar mense. Oral in die bosse om hulle eiendom het die een na die ander plakkershut opgeskiet. Die geraas van soggens vroeg tot saans laat was onuitstaanbaar. Daar was mense wat dag en nag op tromme geslaan het en daar was 'n openbare luidsprekerstelsel wat om die beurt kerkdienste en diskomusiek uitgesaai het. Mense het tydig en ontydig by hulle aangeklop om te bedel of om die telefoon te gebruik; dronkenskap het hoogty gevier en daar is in 'n kort tydjie vyftien keer by hulle besigheid ingebreek. Boonop is die pragtige omgewing onherkenbaar bemors met plastieksakke en vullis, en as die suidoos gewaai het, was daar 'n onaangename reuk wat hulle lewens verder versuur het. Hulle besigheid het getaan en binne 'n kort tydjie het daar geen klante meer by hulle opgedaag nie.
Mnr en mev Mayes het 'n bietjie ondersoek begin instel en toe het hulle agtergekom dat die vorige eienaar op 22 Mei 1990 – nege dae voordat hulle die eiendom gekoop het – skriftelik deur 'n prokureursfirma in kennis gestel is dat die Kaapse Provinsiale Administrasie van voorneme was om in die omgewing van Noordhoek eiendom opsy te sit vir benutting deur plakkers. Een van die eiendomme wat in die brief van die prokureurs geïdentifiseer is, was die eiendom wat direk aan die eiendom wat mnr en mev Mayes uiteindelik gekoop het, gegrens het. Van hierdie brief het die verkoper geen woord aan mnr en mev Mayes gerep nie.
Mnr Mayes het daarna in die hooggeregshof in Kaapstad 'n eis om skadevergoeding van R550 000 ingestel en die saak is tussen 5 en 12 September 1991 deur regter Fagan verhoor. Die regsbasis vir die eis was bedrieglike nie-openbaarmaking van sekere belangrike inligting waaroor die eienaar van die eiendom by wie hulle gekoop het, beskik het, naamlik die inligting dat die Provinsiale Administrasie voornemens was om 'n plakkerskamp in daardie omgewing te vestig. Mnr Mayes het aangevoer dat daar op die verkoper 'n plig gerus het om daardie inligting aan hulle bekend te maak voordat hulle die koopkontrak geteken het. As hulle betyds van die komende plakkerskamp geweet het, sou hulle nooit die eiendom gekoop het nie.
Regter Fagan het die getuienis van verskeie mense deeglik oorweeg en uiteindelik beslis1 dat mnr Mayes bewys het dat daar 'n bedrieglike wanvoorstelling oor die eienskappe van die eiendom deur die verkoper was. Laasgenoemde het op 'n oneerlike en bedrieglike wyse uiters belangrike inligting oor die voorgenome plakkerskamp van mnr en mev Mayes weerhou. Regter Fagan moes vervolgens beslis watter bedrag skadevergoeding aan die ongelukkige egpaar Mayes toegeken moes word. Hy het beslis dat die skadevergoeding gebaseer moes word op die markwaarde van die eiendom. Die regte benadering, volgens regter Fagan, was om die verskil vas te stel tussen die markwaarde van die eiendom met die plakkerskamp reg daarlangs en die waarde daarvan sonder 'n plakkerskamp naby. Die verskil tussen hiérdie twee waardes moes bereken word soos op die datum van die verkoop van die eiendom, naamlik 1 Junie 1990. Na 'n ontleding van die getuienis van verskeie deskundiges, wat 'n ervare waardeerder ingesluit het, het die regter tot die gevolgtrekking gekom dat mnr Mayes se skade inderwaarheid méér beloop het as wat hy geëis het, naamlik R595 000. Omdat hy egter slegs R500 000 geëis het, was die regter meer as gewillig om hierdie bedrag aan skadevergoeding toe te staan. Les bes is die oneerlike verkoper ook swaar deur die hof gestraf, deurdat hy verplig is om mnr en mev Mayes se kostes op die hoër skaal soos tussen prokureur en kliënt te betaal.
Sedert dié uitspraak in 1992 gelewer is, is die Consumer Protection Act, Wet 68 van 2008 (daar is nie ‘n amptelike Afrikaanse teks nie) op die wetboek geplaas. Dit verleen aansienlik meer beskerming aan mense soos die Mayes wat die slagoffers van oneerlike swendelaars is.
1 Vgl. Mayes and another v Noord Hof 1992(4) SA 233 (CPD)
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


