Basson Laubscher: "Ek weet nie hoe dit gebeur nie – it just kinda does"

  • 1

Basson Laubscher is al jare ’n bekende as wonderwerker-kitaarspeler op die plaaslike toneel. Sy band, Basson Laubscher and the Violent Free Peace, se eerste kortspeler is eersdaags beskikbaar. Hy beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Basson. Hoe’s dinge?

Dagsê Henry, dinge is heel goed jong, en daar?

Geluk met die vrystelling van jul eerste EP. Vermoedelik sal die meeste mense wat jou ken as iemand wat al vrek lank op die musiektoneel feature, vra: “Hoekom nou eers?” Ek wil ook weet!

Baie dankie, man, dis ’n goeie vraag! Die Free Peace het absoluut begin as ’n passie-projek, maar eintlik net ’n manier om die musiek wat my beïnvloed het te speel en fun te hê in die proses, so dit was nooit regtig ’n baie ernstige saak nie – dit was iets buite Zinkplaat wat ek geniet het, so ek het my tyd gevat en was deur baie band members en idees tot ek gevoel het dis reg so. Toe ek begin skryf op my eie, het dit my manier geraak om my eie musiek te kan doen, so dit het lank gevat om die regte vibe bymekaar te kry en ek wou nooit die musiek forseer nie, so als moes net eers in plek val.

Die snitte is moerse uiteenlopend in terme van die aanslag. Dit laat natuurlik die vraag ontstaan of “blues” enigsins ’n enkele genre moet wees, met soveel avenues wat daar is om te verken. Hoe het jy te werk gegaan met die skryf van die tunes, hoe jy elkeen in daai eie identiteit wou laat leef en op die ou end, watter tunes op die EP sou kom en watter uitgelaat sou word?

Ek het nog altyd ’n wye aanslag met musiek gehad en met my session-werk het ek die voorreg gehad om saam met baie kunstenaars te werk en te leer en te sien hoe hulle werk, so ek dink dit gaan sit als agter in jou kop, so as jy jou eie musiek begin skryf, dan kom dit deur, soms sonder dat jy dit agterkom! Maar ek het ook in ’n huis grootgeword waar als vanaf die Briels en Pavarotti tot Jimi Hendrix en Eric Clapton gespeel is, so dit was nog altyd so moeilik vir my om op een genre of sound te stick, haha. Dis ’n moeilike vraag daai, want ek dink blues is ’n feel, nie noodwendig ’n genre nie. Daar's blues in country, daar's blues in rock ’n roll, daar's blues in R&B – dis ’n sekere gevoel vir my, so dus sal ek sê als wat ek doen is blues based, maar nie noodwendig blues-musiek nie. Die beste manier wat ek dit kan opsom, is Willie Dixon wat gesê het: "The blues are the roots and the rest is the fruits." Ek dink nie enigiemand kan die skryfproses of formule vir seker neersit nie – dis anders vir almal, en vir my begin dit altyd eers met musiek. Ek sal sit met my kitaar en rondspeel tot iets uitkom wat ’n melodie of woorde inspireer en dan maar die pad volg soos hy hom vir my gee. Ek weet nie hoe dit gebeur nie – it just kinda does. Ek dink die besluit was om als wat ons live gespeel het op te sit. Daar was nog ’n paar wat nie vir my klaar was nie, so ons wou dit kort en kragtig hou met ons eerste EP, so was nie regtig ’n groot besluit wat sou op nie – dit was maar wat ons het en reg was, haha.

Die eerste snit, “Ramblin’ man”, is ’n vinnige, klipharde snit, in die soort blues-rock-styl wat deesdae nogal ’n herlewing het – ek dink aan die gewildheid van ouens soos die Black Cat Bones. Wat is dit aan hierdie element wat mense deesdae opgewonde maak, ook in terme van hoe dit vergeleke met ander “genres” evolve?

Man, dis moeilik om vas te pen. Ek dink blues-rock is besig met herlewing want daar's geen bullshit nie – dis rou emosie en passie en live; it's real; daar's geen tricks nie en ek dink mense soek weer dit met vandag se lewe, waar als op ’n rekenaar of selfoonskerm gebeur en als gefake kan word. Mense soek iets real – dis hoekom die live musiek scene in die geheel weer bietjie woema kry. Maar ja, die ding van blues is, you can't fake it – óf jy het dit óf jy het dit nie. Maar dis moeilik om te sê. Ek's seker ook die verkeerde ou om te vra, haha – jy moet die mense aan die ander kant van die verhoog vra!

In dieselfde asem: dis seker musikaal nogal ’n moeilike veld om jouself in te differensieer, met blues fans wat aan die een kant net wil sit en generiese, bekende tunes luister, maar aan die ander kant moet jy naam maak met ’n oorspronklike sound en oorspronklike tunes. Ervaar jy dit enigsins so, of hoe sou jy die verhouding tussen blues-musikant en blues-aanhanger beskryf, veral in Suid-Afrika?

Die scene is definitief ’n moeilike een, maar dis nie net die blues nie – enige niche-scene in die algemeen sukkel met dieselfde dinge as ons. Die ding is getalle – die getalle is net te klein, so dit sal altyd moeilik wees, maar die mense wat dit wel ondersteun, is amazing, die hard fans wat regtig daar is vir die musiek, so dis ’n trade-off. Ek dink mense begin baie meer into originals kom. Daar is nog ’n element wat die ou songs wil hoor, maar ek dink die meeste van die gehoor is oop vir oorspronklike musiek. Ek sou sê die verhouding is goed.

Daar’s heelwat uitdagings verbonde aan musikant wees in Suid-Afrika – minder geld, minder venues, minder alles as sê maar in ‘Murica. Hoe ervaar jy dit oor die afgelope klomp jaar in terme van frustrasies wat net nie wil weggaan nie, maar ook hoe mens oor dit kom en die good fight aanhou fight?

Wel, nommer een: as jy dit vir enige ander redes as die passie en plesier van musiek maak en deel met mense doen, dan gaan jy nie lank hou nie. Dit is ’n interessante lewe en mense sien jou net op die verhoog en dink dit is ’n glamorous lewe. Hulle sien net die romantiese kant van die job, en ja, die twee ure op die verhoog is hemel, dis hoekom ons doen wat ons doen, maar dis die travel, die ure van verveeldheid in sound checks, die slaap op vloere, tafels, grond en nog ander oppervlakke wat niemand sien nie. Ek dink die enigste ding wat my nog afkry na tien jaar is die feit dat die kunstenaar hanteer word asof hy geen sê en reg het nie – jy moet net aanvaar wat die venue of festival vir jou sê, want daar's nog twintig ander bands wat dit sal doen, verniet. Ek's ’n musikant, dis my werk. Ja ek geniet dit, maar dis my werk en ek moet ook aan die lewe bly. Mense vergeet dit baie maklik. Hulle sal baie vinnig sê “kom speel”, maar as dit by die geld kom, is hulle baie moeilik om te betaal, dis maar al. Verder vat ek al die myle en oppervlakke met ’n smile.

Jy was jare lank ’n lid van die nou ontbinde Zinkplaat en het ook al saam met talle ander muso’s gespeel – deesdae is jy onder meer gereeld op stage saam met Valiant Swart. Hoe hou jy dit vir jouself interessant met al die verskillende vibes en watter soort “buite-die-comfort-zone” gigs gaan soek en geniet jy?

Ek kan nie vir iemand beskryf hoe belangrik dit is om saam met ander musikante te jam nie – ek kan nie sien hoe ek dieselfde musikant sou wees as ek nie session-werk gedoen het nie. Vir my het dit so baie van musiek geleer en hoe verskillende style eintlik inmekaar pas. En net om te sien hoe songs geskryf en gestructure word, het my baie geleer – dit was my musiekuniversiteit! Dit maak jou kop oop, laat jou op ander maniere dink – mens word nie in dieselfde patrone vasgevang nie, so ek sal sê die ouens by wie ek seker die meeste gesteel het, is Valiant Swart en ouens soos Rob Nagel van die Blues Broers, Albert Frost en nog talle meer. So ek love sulke gigs. Ek's besig om saam met Ann Jangle ook te werk, wat iets heeltemal anders is – baie donker folk-rock soos Nick Cave - en al die elemente smeer weer af as ek self skryf.

Soos gemeld is jy al lank op die toneel en het jy al meer gigs gespeel op meer plekke as wat jy seker kan onthou. Enige spesifieke hoogtepunte in hierdie opsig? En laagtepunte – plekke wat jy nie sommer weer sal besoek nie?

Sjoe, te veel om te noem, hahaha. Ek dink nou aan Rodriguez se "A Most Disgusting Song", hahaha. Daar was al bars met stripper poles en als in between! Maar gigs wat uitstaan is Zinkplaat se laaste gig – dit was net amazing. Eerste ‘Koppi saam met Valiant, en ja-nee, sjoe, nog vele meer.

Wat hou die nabye en verre toekoms vir Basson Laubscher and The Violent Free Peace in?

Man, ek wil baie graag oor die water na die VSA gaan, nog aan die einde van die jaar, maar verder as dit: toer en hopelik nog ’n volle album!

Wat is die sin van die lewe?

Fender stratocasters oopgedraai, hahaha, en ’n goeie glas rooiwyn.

- Basson Laubscher tree op by die US Woordfees. Klik hier vir meer besonderhede.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top